Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gestremdheid stop nie ingenieur
2 Oktober 2019

Al is albei haar bene afgesit, leef sy met oorgawe en bewys sy haarself elke dag in ’n bedryf wat deur mans oorheers word. 

Michelle op die perseel waar sy tans werk.

Klim ’n mens saam met Michelle Marco die amper 90 trappies vanaf Lionstraat na die boonste ingang van die Bo-Kaapse konstruksieterrein waarop sy tans werk, sou jy nooit kon raai dat sy ’n double amputee (albei haar bene is afgesit) is nie. ’n Mens sukkel om by dié 29-jarige te hou, al moet sy met twee prosteses oor die weg kom.

Die enigste teken dat iets anders is, is haar voete wat effens na binne draai. Daarna volg ’n staptog van die een verdieping na die ander tussen bourommel deur – plek-plek boonop in die donkerte – voordat ons uiteindelik by ’n stil plekkie kom waar ons kan gesels. Danksy die manier waarop sy grootgemaak is, glo sy dat niks onmoontlik is nie.

En net vir die rekord: Sy meet daagliks haar treë by die werk, wat op ’n normale dag tussen 7 000 en 8 000 is. Dat daar probleme met haar bene was, is eers ná haar geboorte ontdek, vertel Michelle, wat in Mitchells Plain grootgeword het en deesdae in Kuilsrivier woon. “My fibulas (kuitbene) – wat basies die voet toelaat om te draai – het glad nie ontwikkel nie. Dit het beteken dat my bene en voete aaneen gegroei het met my tone wat reguit ondertoe gewys het.” Die dokters het besluit dit sou die beste wees as albei haar bene onder die knieë geamputeer word sodat daar stompies vir prosteses kon wees. Kort ná Michelle se eerste verjaardag het sy dus reeds haar eerste prosteses gekry.

Ywerig om uit te styg

Só lyk haar prosteses.

Sy is haar ouers inniglik dankbaar vir die manier waarop hulle haar grootgemaak het. Dat hulle haar deurentyd dieselfde as haar drie susters behandel het, glo sy het daartoe gelei dat sy vandag ’n goed ontwikkelde vrou is wat nie huiwer om haar stempel in ’n oorwegend manlike beroep af te druk nie. “My ouers het my toegelaat om vry te wees,” sê Michelle, wat alles gedoen het, van boomklim tot touspring. Dokters het gemeen dat sy eerder ’n skool vir gestremdes moes bywoon.

“My ouers het daarteen vasgeskop omdat daar mentally niks verkeerd is met my nie.” Sy was dus in ’n hoofstroomskool en het op laerskool netbal en tafeltennis gespeel. Sy het uiteindelik aan Rocklands Sekondêr gematrikuleer en was onder dié skool se toppresteerders. Die akademie het maklik vir haar gekom, vertel sy. Maar daar was geen illusies oor tersiêre opleiding nie. Pa Christopher (54), ’n opsigter by die Desire of All Nations Christian Church in Ottery, en ma Marie (52), ’n tuisbly-ouer, het finansieel swaargetrek.

“Ons het geweet daar was nie geld vir naskoolse opleiding nie.” Tog wou sy uitstyg en nie soos so baie meisies van haar omgewing in ’n retail store opeindig nie. Sy het gehoop om haar deur middel van beurse en ’n studentelening as chartered accountant te bekwaam. In graad 10 het die organisasie Go for Gold oor haar pad gekom en Michelle het besef dis haar kans om iets van haar lewe te maak.

Nadat Go for Gold ’n voorlegging oor die konstruksiebedryf by haar skool gedoen het, het Michelle besluit om van chartered accountant na quantity surveyor oor te slaan. Sy het ook by Go for Gold se program aangesluit. Dit het beteken dat sy ná skool tutoring in wiskunde, wetenskap, rekenaarwetenskap en lewensoriëntering begin ontvang het.

As ’n tweede fase van die program is Michelle ná matriek vir ’n jaar as student by WBHO, ’n maatskappyvennoot, geplaas. In dié tyd as algemene werker op ’n konstruksieterrein het sy besef dat siviele ingenieurswese eintlik haar beroep is. “Ek is iemand wat nie net my brein moet besig hou nie, maar ook moet aanhou beweeg. Ek kan nie heeldag voor ’n PC sit nie.”

Fase drie was tersiêre opleiding, en Michelle se droom is bewaarheid toe WBHO haar geborg het vir ’n graad aan CPUT. Nadat sy in 2013 gegradueer het, is sy as site engineer by WBHO aangestel. Sedert 2016 werk sy by Prime Point Properties – tans as een van drie site managers op ’n perseel waar ’n groot woonstelblok opgerig word. “Ek love dit,” sê sy op haar vriendelike en entoesiastiese manier. “Dis uitdagend, maar terselfdertyd opwindend. Ek hou van konstruksie omdat niks ooit dieselfde is nie. Jy het daagliks met verskillende persoonlikhede te doen en jy werk ook op verskillende persele.”

Ek voel my gestremdheid is nie as ’n swakheid aan my gegee nie, maar om aan mense te wys niks is onmoontlik nie.

Uitdagings

Wat is haar grootste werkuitdagings? “Soms sukkel ek met mans wat glo dat ’n vrou nie veronderstel is om in hierdie bedryf te werk nie en nie genoeg kennis hiervan het nie. Ek weet genoeg om die werk te kan doen.

En ek leer elke dag.” Tog pla dit haar as mans negatief reageer wanneer sy nie dadelik ’n antwoord op iets kan verskaf nie. Sy weier egter om by argumente betrek te word. Soms is haar gestremdheid ook ’n uitdaging. “Ek loop baie rond om seker te maak dat dinge reg gedoen is. Wanneer ek uitermate baie geloop het, is ek teen die einde van die dag uitgeput. Ek sit veral strain op my linkerbeen,” sê sy. “Wanneer ek dan by die huis kom, haal ek die prostese af om die been ’n bietjie te laat rus.”

Michelle probeer proaktief optree deur by die werk toe klere te dra. “Jeans is my normale werkdrag, maar met die res probeer ek verhinder dat mans op ’n seksuele manier na my kyk of kommentaar lewer.”

Mans vra gereeld haar telefoonnommer, maar sy het geleer om dit ook soos ander ongemaklike situasies te hanteer. “Ek is eintlik ’n introvert en aan die begin van my loopbaan was dit vir my baie, baie moeilik om vir myself op te staan. Ek sou vra dat mense iets doen pleks daarvan om ’n opdrag te gee. Daarom is ek aanvanklik nie ernstig opgeneem nie en het mans my partykeer blatant geïgnoreer.”

Haar base moes haar dus soms reprimand oor werk wat nie gedoen is nie. Deesdae gebeur dit nie. As ’n man weier om haar gesag te aanvaar, sal sy haar deadline en die werk wat gedoen moet word vir hom uitspel, en dan byvoeg dat sy sý baas gaan kontak indien die werk nie betyds gedoen word nie. Of sy sal met haar direkte hoof gaan praat sodat hy die ander hoof kan kontak. “Geleidelik het ek ook meer vertroue in my werk gekry en op hierdie manier het hulle respek vir my begin kry.” Weg van die werk hou sy daarvan om tyd alleen deur te bring.

“Ek is ’n gebore romantikus en baie lief vir liefdesverhale.” Sy stap graag, maar eintlik is haar hoofprioriteit om tyd te maak vir haar familie. “Hulle is my fondament. Sonder hulle sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie.” Een langtermyndoelwit is om mense te inspireer. “Ek geniet public speaking, maar het dit die laaste jare weens werkverpligtinge nie baie gedoen nie. Ek wil mense laat besef dat hul situasie nie noodwendig so erg is as wat hulle dink nie en dat hulle dit moet waardeer dat hulle in die oggend kan opstaan en loop. Ek voel my gestremdheid is nie as ’n swakheid aan my gegee nie, maar om aan mense te wys niks is onmoontlik nie en dat hulle die lewe net ’n bietjie meer moet waardeer.”

Foto’s: Jackie Pienaar-Brink

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.