Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
G’n bang vir belasting
11 Julie 2018


Elke jaar wanneer die belastingseisoen begin, lyk dit asof mense van hul kop af raak. Dis dan lang lyne wat om die SARS-geboue loop en oor en weer gehardloop om als gedoen te kry voor die deadline. Dis chaos.

Maar dit hoef nie ’n stryd te wees om jou tax te doen nie. As jy die proses verstaan, jou vorm eerlik invul en nie uitstaande belastingopgawes het nie, is die stryd al halfpad gewen.

Plus dis soms die moeite werd, want daar is sekere goed wat jy van jou belasting kan “aftrek” soos mediese fondskrediete en aftreefondsbydraes.

En as jy gelukkig is en al jou bewyse hou, kan jy boonop nog geldjies by SARS eis as jy te veel belasting betaal het. Wanneer dit by belasting kom, maak mense baie algemene foute wat hulle op die ou end duur te staan kom. Dit is eerstens belangrik om te onthou dat die belastingjaar waarvoor jy inligting moet verklaar, elke jaar vanaf 1 Maart tot die einde van die volgende Februarie strek.

Die deadline om jou opgawe deur die pos of ’n SARS-tak in te handig, is 21 September 2018 en vir eFiling 31 Oktober 2018. Cherie Carstens is bemarkingskoördineerder by The South African Institute of Tax Professionals (SAIT). Sy sê dit is noodsaaklik om die belastingproses te verstaan.

“Ek hoor dikwels mense sê hulle hoef nie tax in te dien nie, want hul werkgewer trek dit vir hulle af. Dit is net gedeeltelik waar,” sê sy. “Jou werkgewer is wetlik verplig om uit te werk hoeveel belasting daar op jou verdienste gehef moet word volgens die SARS PAYE (pay as you earn)-skaal. Die werkgewer werk werkers se belasting uit, verklaar dit aan SARS en betaal elke maand daardie gedeelte (jou salarisafgetrekking) aan SARS.

Wanneer jy jou belastingvorm invul (die ITR12-vorm), moet jy vir SARS van ál jou inkomste vertel, selfs inkomste wat nie van jou primêre werkgewer af kom nie. Hierdie inligting word dan gebruik om ’n assessering te doen waar hulle kyk of jy te veel of te min belasting betaal het. As jou werkgewer meer afgetrek het as wat nodig is, sal SARS jou refund. As te min afgetrek is, sal jy moet inbetaal.”

Ek hoor dikwels dat mense sê hulle hoef nie tax in te dien nie, want hul werkgewer trek dit vir hulle af. Dit is net gedeeltelik waar.

Om ’n opgawe in te vul, kan nogal tricky wees vir sommige mense. Cherie sê as jy ook onseker is oor hoe om jou vorm in te vul of jy wil graag vir iets eis, maar weet nie presies wat om te doen nie, moet jy liewer ’n geregistreerde belastingkonsultant of rekenmeester nader. Enigiemand wat jou met jou opgawe help en jou ’n fooi daarvoor vra, moet ’n praktyknommer hê en by SARS geregistreer wees. Jy kan daardie nommer by SARS (op hul webtuiste of by ’n kantoor) verifieer of een van die beheerliggame, soos SAIT, kontak.

Daar is baie skelms wat ander mense wil inloop en só kan jy ’n klomp geld verloor. Dit het ’n paar jaar terug gebeur dat sogenaamde belastingkonsultante met staatswerknemers saamgesweer het om belastingopgawes namens die werknemers te doen. Miljoene rande se vals eise is op dié manier ingedien. Die swendelaars is deur polisie se spesiale ondersoekeenheid, die Valke, vasgetrek. ’n Gevaarteken dat iemand moontlik nie ’n geregistreerde praktisyn is nie, is as sy advertensie sommer op ’n flyer teen ’n boom of muur by ’n winkelsentrum vasgeplak is.

Melissa Jansen (27) van Pretoria is ’n vryskut- grafiese kunstenaar. Sy werk van haar huis af en besoek dikwels kliënte. Hiervoor gebruik sy haar eie motor. Die eerste jaar vandat sy vir haarself werk, was sy “bietjie dom” oor belasting en sy het haar vorm ingevul soos sy normaalweg gedoen het toe sy nog vir ’n baas gewerk het. Sy het haar inkomste verklaar, asook haar mediese uitgawes.

Toe het sy nog nie weer ’n pensioenfonds gehad nie en kon dit nie eis nie. Maar sy het nie besef sy kan vir sekere goed soos haar vervoer, selfoon, en werkspasie eis nie en het ’n geleentheid gemis om sowat R15 000 terug te eis. “Dit is mos goed wat ek gebruik om my te help om ’n inkomste te kry. Ek was sommer stupid. Maar die jaar daarna het ek ’n professionele vrou gekry om my te help. Sy het uitgewys dat ek selfs vir elektrisiteitsverbruik kan eis! Dit kan baie tricky raak en ek het besluit om die tax maar liewer aan haar oor te laat. Nou weet ek dat ek elke kwitansie en elke rekening moet hou. Ek het ’n spesiale lêer net vir my slippies.”

Vermy dié foute

Jy hou nie al jou ondersteunende dokumente nie:

Die wet sê belastingbetalers moet álle ondersteunende dokumente wat hulle gebruik het om die ITR12-vorm in te vul vir vyf jaar hou.

Dit beteken jy moet jou IRP5 (die salarissertifikaat wat jy van jou werkgewer ontvang het), jou mediesefondssertifikate en kwitansies van dokters of medisyne wat jy gebruik het, pensioen- en ander aftreefondsbydraes hou, asook IT3b-sertifikate van die bank wat wys hoeveel rente jy verdien het, en reislog-boeke.

Die reël is: Gee SARS liewer te veel inligting as te min. En hou alle bewyse net vir ingeval.

Jy vra nie vir hulp nie:

SARS het ’n nasionale inbelsentrum waar konsultante gretig is om jou te help (0800 007 277).

’n Geregistreerde beheerliggaam soos SAIT kan jou help om ’n geregistreerde belastingpraktisyn in jou area te vind wat jou kan bystaan.

Jy staan in ’n lang ry by jou SARS-kantoor:

Registrasie vir eFiling is maklik en gerieflik. Daar is geen rede waarom jy jou SARS-kantoor moet besoek nie, tensy hulle jou vra om in te kom om iets te verifieer

Jy handig nie jou opgawe betyds in nie:

Jy kan ’n boete tussen R250 – R16 000 per maand opgelê word as jou opgawe nie teen die deadline ingehandig is nie. Die bedrag hang af van jou belasbare inkomste en sal gehef word vir elke maand wat jy laat is.

Die beste manier om ophoping van die boete te keer, is om jou opgawe so gou moontlik in te dien as jy laat is. As jy nie met die boete saamstem nie, moet jy steeds jou opgawe indien en daarna kan jy beswaar aanteken. Jy kan ’n versoek indien vir kwytskelding van die boetes waarin jy SARS vra om die boetes terug te trek. Jy sal egter moet bewys dat jy nie veronderstel was om ’n opgawe in te dien nie voordat SARS jou versoek sal oorweeg.

Oppas vir scams

Jayden Grey (33), ’n laerskoolonderwyser van Vereeniging, was twee jaar gelede amper slagoffer van ’n phishing scam tydens tax-seisoen.

Jayden sê daar is niks moeilik omtrent sy opgawe nie en hy doen dit sommer met eFiling, dan kan hy ook omtrent dadelik sien wat hy skuld of wat SARS hom skuld. Twee dae nadat hy sy opgawe ingedien het, het hy ’n e-pos gekry vanaf ’n adres refunds@sars.co.za.

“Dit het vir my heel legit gelyk. Dit het ’n SARS banner gehad en als. Volgens die e-pos het SARS my geld geskuld. Ek moes op ’n skakel klik waar ek dan my bankbesonderhede moes invul sodat die geld uitbetaal kon word. Dis was ’n lekker bedrag van R20 000 en ek het nogal die geld nodig gehad! Maar ek was verbaas omdat SARS reeds laat weet het hulle skuld my sowat R450.”

Jayden het eers met sy vrou oor die e-pos gesels. Sy het ook gedink dit is vreemd en het gesê dit is wys om eers die belastingkantoor te kontak voordat hy sy besonderhede invul. “SARS het gesê ek kan bly wees ek het nié die vorm op die skakel geklik en ingevul nie, want dit is ’n scam en ek sou moontlik al my geld verloor het.”

Kry hier hulp:

www.sars.gov.za;

www.taxtim.com;

www.thesait.org.za


Die artikel verskyn in die 11 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Belasting  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.