Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Omstrede studie: Universiteit vra verskoning
15 Mei 2019
x

Omstrede navorsing oor bruin vroue het skokgolwe deur die land gestuur. Kuier het gaan ondersoek instel.

Bruin vroue is dom. Nee, dis nie ’n stelling uit die apartheidsdae nie, maar eerder die bevinding van ’n onlangse studie oor die denkvermoë van bruin vroue. Die resultate het skokgolwe deur die land gestuur, en tot pyn en woede in gemeenskappe gelei.

Mense het geëis dat die studie, wat in ’n Britse vaktydskrif gepubliseer is, summier onttrek word, hoewel sommige kenners waarsku dat dit moontlik op akademiese sensuur sou neerkom. Teen druktyd het die einste tydskrif se redakteurs en uitgewers aangekondig hulle onttrek die artikel.

Volgens hulle het hulle met die skrywers geskakel en laasgenoemde het saamgestem met hul besluit om dit te onttrek.

 Navorsers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch het bevind bruin vroue in Suid-Afrika het ’n “lae kognitiewe werking”, wat glo met “lae onderwysvlakke en ’n ongesonde leefstyl en gedrag” saamval.

Navorsers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch het bevind bruin vroue in Suid-Afrika het ’n “lae kognitiewe werking”, wat glo met “lae onderwysvlakke en ’n ongesonde leefstyl en gedrag” saamval.

Die studie plaas opnuut die gebruik van rasseklassifikasie in akademiese navorsing onder die vergrootglas – veral in Suid-Afrika met sy brose demokrasie en pynvolle verlede. Tot Maties se senaat het sy eie universiteitsbase in ’n brief vasgevat oor die gebruik van stigmatisering en rasgebaseerde kategorieë in wetenskap en navorsing. Rasgebaseerde navorsing is egter wêreldwyd aan die orde van die dag.

Só, byvoorbeeld, weet ons dat swart vroue in Suid-Afrika se kanse om van servikale kanker te sterf ses keer groter is as wit vroue. En dat bruin vroue, naas Indiërs, die grootste genetiese risiko vir diabetes het.

Veroorsaak pyn

Maar die navorsing oor bruin vroue se intellek het seergemaak, sê Anastasia de Vries, ’n dosent by die Universiteit van Wes-Kaapland en skrywer. Anastasia sê sy is sedert die bekendmaking van die omstrede studie skielik so bang dat die land nie genoeg doen nie, dat ons hulle (haar studente) nie kan pantser teen die pyn van ontnugtering buite ons vestingmure nie.“

Dat daar steeds só na hulle gekyk sal word. Ek sien hulle in die klas. Onse eerstejaars van alle kleure en agtergronde, hoe hulle gelykes is, en my hart wil nie ophou huil vir wanneer hulle ons verlaat en in hul raskassies ingedwing word nie.”

Volgens ’n samevatting van die studie is die verband tussen “jong, middelklas bruin vroue” se denkvermoë, ouderdom en onderrig ondersoek. Net 60 vroue tussen 18 en 64 jaar is gepols, en ook aan die hand van hul ouderdomme en onderwysvlakke onderverdeel. Die bevindings het egter alle bruin vroue se denkvermoë onder verdenking geplaas.

Dit sê onder meer: “Jong tot middeljarige bruin vroue wys lae kognitiewe werking en dit word aansienlik deur die onderwysvlak beïnvloed.” Ook, bruin vroue raak glo dommer namate hulle ouer raak “met lae tellings vir verwerkingspoed wat reeds by jong volwassenes waargeneem word”.

Ook, bruin vroue raak glo dommer namate hulle ouer raak “met lae tellings vir verwerkingspoed wat reeds by jong volwassenes waargeneem word”.

PsySSA, die Sielkundevereniging van Suid-Afrika se afdeling vir navorsing en metodologie, het die studie uitmekaargetrek. “Ons is diep ontstel deur en baie sterk gekant teen die praktyk om rasseklassifikasie in wetenskaplike navorsing te misbruik, asook die voortgehoue rassisme, stigma en diskriminasie in ons gemeenskap. Die belangrikste voorskrif van navorsing is die beskerming van deelnemers deur die kern etiese waardes van outonomie, vertroulikheid en geregtigheid.”

Volgens PsySSA erken die navorsers aan die einde van hul artikel die is studie beperk deur die klein steekproefgrootte van 60 vroue, steekproefprosedure en ’n veralgemening na die breër bruin bevolking van Suid-Afrika. “Maar dan gaan hulle voort deur te sê die studie gee nuwe en waardevolle insig in die kognitiewe vermoë van bruin vroue. Dit is verstommend.”

Anastasia sê as ’n akademikus het sy ’n verantwoordelikheid teenoor haar studente sowel as die integriteit van haar navorsing. “Die Here help ons wat die mag het om kennis en betekenis te skep, maar in ons taak en plig steeds die ongelyke magsverhoudings in stand hou.

Wat my die meeste ontstel, is die gebrek aan ’n kritiese bewustheid van wat rasseklassifikasie aan mense gedoen het; die argeloosheid waarmee die navorsers bruin vroue opnuut aan bespotting uitgelewer het. En nee, dit het niks daarmee te doen dat ons as homogeen (dieselfde) beskryf is nie. Dit het alles daarmee te doen dat ons weer verhotnot is. Alles.” 

Staan saam daarteen

Prof. Barbara Boswell, ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad, sê sy was verras, geskok en woedend toe sy van die studie gehoor het. “Dit was so duidelik rassisties. Dit het stereotipes van ‘bruin’ vroue gelys en voortgegaan uit die veronderstelling dat die stereotipes geldig was, en boonop die moeite werd om genoem en selfs wetenskaplik ondersoek te word. Behalwe dat dit rassisties, wetenskaplik swak bedink en swak uitgevoer is, het die navorsing my ook aanstoot gegee as ’n lid van die demografiese groep wat hulle ondersoek.”

Prof. Boswell en dr. Zimitri Erasmus van die Universiteit van die Witwatersrand, Shanel Johannes van die Universiteit van Kaapstad, Shaheed Mahomed van SA History Online en prof. Kopano Ratele van die Unisa het gevra dat die studie onttrek word en byna 9 000 mense het hul aanlynpetisie ondersteun.

Hoewel ras beslis ’n rol speel in navorsing, het prof. Boswell ook die studie as ’n uitklophou ervaar. “Die navorsers het met stereotipes van bruin vroue gewerk wat reeds in hul gedagtes verskans is, soos dat bruin vroue geneig is om vetsugtig te wees en ’n lae kognitiewe funksionering het. Hulle het toe bewyse gesoek om hul skewe persepsies te bevestig.”

In ander studies waar ras ’n rol speel, byvoorbeeld oor Alzheimer se siekte, is velkleur nie die bepalende faktor nie, maar eerder eugenetika (die studie van die verbetering van die genetiese gehalte van ’n spesie).

In ander studies waar ras ’n rol speel, byvoorbeeld oor Alzheimer se siekte, is velkleur nie die bepalende faktor nie, maar eerder eugenetika (die studie van die verbetering van die genetiese gehalte van ’n spesie).

Prof. Boswell sê: “Daar is ook die vraag waarom die navorsing belangrik is, wat elke navorser moet kan beantwoord. Watter bydrae lewer dit aan die lewens van diegene wat deelgeneem het en die groter samelewing? Die studie stel geen oplossings of intervensies voor vir die probleem wat vermoedelik ‘ontdek’ is nie. Dit produseer net slegte wetenskap en maak dan ’n aantal rassistiese aannames oor bruin vroue.”

Volgens dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder by die Noordwes-universiteit, was geen ander rassegroep as bruin mense al so baie die teiken van stereotipes en wanopvattings nie. “As jy 60 vroue kies en jy ekstrapoleer daai data na ’n samelewing toe, soek jy vir groot moeilikheid. Daar is groot fout met die metodologie wat gevolg is.

Die stereotipering van bruin mense gaan al vir baie jare só aan. As jy historiese stereotipes gebruik, moet jy baie versigtig wees. Ek dink nie die mense wat dié ding geskryf het, het die politieke ervaring om te kon weet hoe maklik jy rassisties kan wees selfs wanneer jy met die wetenskap omgaan nie.”

Maar die politieke kommentator Christo van der Rheede sê hoewel die studie rooi ligte by hom laat flikker, bied dit stof tot nadenke. “Ons het groot probleme in bruin gemeenskappe. Lae kognitiewe funksionering het ’n groot impak op skolastiese prestasie. En ons sien dit in sekere bruin gemeenskappe waar swak skoolprestasie aanleiding gee tot vroeë skoolverlating en ook laat toetrede tot hoër onderwys. Daar moet dringend intervensies geloods word om dit aan te spreek.”

Die stereotipering van bruin mense gaan al vir baie jare só aan. As jy historiese stereotipes gebruik, moet jy baie versigtig wees.

Christo erken Suid-Afrika sit nog met die nalatenskap van apartheid se rasseklassifisering. “As ons ’n bepaalde tendens binne ’n bepaalde gemeenskap moet navors, word ons gedwing om dieselfde uitgediende kategorieë te gebruik. Dit is ’n probleem, want alle bruin vroue is nie dieselfde nie. Dit maak meer sin om studies af te baken en eerder na bepaalde gemeenskappe te verwys, soos werkerklasvroue in die Boland.”

In ’n brief aan die Matie-senaat skryf prof. Aslam Fataar, Leslie Swartz en Usuf Chikte hulle is bekommerd dat die navorsingsvoorstel “etiese klaring” van die universiteit gekry het. “Ons verwerp die voortsetting van koloniale en apartheidsnavorsingsdenke wat afleidings tussen ras of etnisiteit en spesifieke eienskappe of aanlegte van ’n groep mense maak. Die gebruik hiervan impliseer die universiteit se institusionele kultuur, beleide en strategieë.”

Skrywers nog stil

Teen druktyd het die betrokke US-navorsers, Sharné Nieuwoudt, Kasha Dickie, Carla Coetsee, Louise Engelbrecht en Elmarie Terblanche, nie op spesifieke navrae van Kuier gereageer nie.

Kuier wou onder meer by hulle weet wie die 60 vroue is waarop die navorsing gebaseer is, en of hulle nou berou dat hulle nie ook presterende bruin vroue by die studie betrek het nie. Daar is ook nie sekerheid of hulle die nalatenskap van apartheid op bruin vroue in aanmerking geneem het nie.

Intussen het prof. Eugene Cloete, vise-rektor van navorsing, innovasie en nagraadse studies by Maties, ná die wye kritiek op die studie in ’n persverklaring “onvoorwaardelik om verskoning” gevra en aangedui dat die saak “deeglik” ondersoek gaan word. “Ons vra onvoorwaardelik om verskoning vir die pyn en lyding wat dit meegebring het. Ons het ook empatie met personeel, studente en alumni wat weens hul verbintenis met ons instelling kritiek moes verduur.”  

Kuier verneem wel betroubaar dat van die betrokke navorsers voet by stuk hou, en glo dat mense nie daarop kan kommentaar lewer sonder dat hulle die volledige studie gelees het nie. Hulle is ook “emosioneel oorweldig” deur die kritiek uit alle oorde van die land.  

Meer oor:  Kuier  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.