Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Goedhartig: Kaapse engel sorg vir medemens
6 Augustus 2020


Van swaarkry en pyn kan jy dié 28-jarige vrou van Eureka Estate in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte niks vertel nie. Inteendeel sy is al deur meer hartseer en pyn in haar 28 jaar op aarde as wat die meeste mense in hul leeftyd ervaar.

Maar in plaas van om op ’n hopie te gaan sit en jammer te voel vir haarself, bring sy lig in ander se lewens. Danya Goosen (28), die stigter van die liefdadigheidsorganisasie Lotus Street Foundation, se lewe was beslis nie maklik nie, maar dit is haar vermoë om te lag deur die seer en steeds te gee aan behoeftige gemeenskappe wat haar storie so besonders maak.

Sy glo as jy geanker bly in jou geloof en jou probleme aan God gee, dit baie meer gaan vat as net ’n paar stampe en stote om jou van die pad af te gooi.

Deur diep waters

Danya Goosen

Die eerste ding wat ’n mens opval van dié vrou is haar klokhelder laggie. En sy lag maklik. “Ek is een van daai mense wat altyd ’n positiewe punt soek in iets negatief. Ek sê nie ek is nie hartseer nie – daar is tye waar ek myself aan die slaap huil – maar dit gaan nie my uiteinde wees nie,” sê sy.

Hoewel 2020 kaalvuis onder ons ingeklim het, moes Danya veel meer trotseer. Danya se ma, Fried (66), is ’n week ná die inperking aangekondig is, met breinkanker gediagnoseer. Net twee maande later, nadat Danya met dié nuus vrede gemaak het en noodgedwonge haar werk as ’n accounting administrator moes los, het sy ook ’n miskraam gehad.

Sy was nog besig om dié seer te verwerk toe haar pa twee weke daarna sterf weens die gevreesde Covid-19. Sy en haar suster, Jolene Hokoma (45), het ook positief getoets vir Covid-19. “Dis ’n seer wat ek nie kan be-skryf nie. Om deur so baie goed op een slag te gaan, kan ’n mens knak. Maar ek glo dat ek met dié deel van my storie iemand anders se lewe ’n bietjie beter kan maak.”

Ten spyte van al dié hartseer het sy besluit om steeds voort te gaan met liefdadigheidswerk in die hoop dat sy ook ander se lewens kan verander. Haar liefde vir mense en liefdadigheidswerk het al kleintyd in haar ouerhuis begin. “Die mense sou altyd na my ouers kom om hulle hospitaal toe te ry as daar ’n noodgeval is. As iemand gesukkel het om die pot aan die kook te hou, sou my ouers vir hulle ’n sakkie pak. En my pa was ’n kontrakteur wat werk geskep het vir tieners wat nie elders werk kon kry nie as gevolg van hul kriminele rekord of gebrek aan matrieksertifikaat.”

Danya sê sy het altyd protected gevoel. “Kyk, ek was die babatjie en het twee ouer broers en ’n suster. So as hulle my nie beskerm het nie, het my ouers. Daar was altyd ’n tipe van safety net om my.” Sy het “in die hartjie van die ghetto” grootgeword en bly steeds in Elsiesrivier. “Enige kind wat op die Kaapse Vlakte grootgeraak het, kan jou vertel dat gun-skote vir ons amper normaal was. Steeds is. Dit word deel van jou menswees en jy kom op ’n punt waar jy amper nie eens daarvoor skrik nie, maar dan begin ervaar jy die lewe daarbuite en jy besef dat dit nie normaal is. Jy besef dat dit nie reg is nie.”

Danya wou altyd bo haar omstandighede uitstyg, maar toe sy op 16 swanger word met haar eerste kind, het dit vir haar gevoel of dié droom aan skerwe spat. “Ek was baie geboelie deur onderwysers en kinders met my swangerskap, maar ek moes deurdruk. Al was my geestestoestand geaffekteer.” Sy het ná haar swangerskap met depressie gesukkel. “Ek moes alleen man staan vir my kind en moes skool los om vir my kind te voorsien.”

Sy het by Checkers as kassier begin werk en het saans skoolgegaan. “Daar was nou ’n kind ook waaraan ek moes dink en dis hoekom opgee nie ’n opsie was nie.”

Danya en Marvin by antie Rosie in Langebaan.

Reik altyd uit

Omdat sy weet hoe moeilik dit is om ’n kind alleen groot te maak, was haar eerste passion project gebaseer op jong ma’s in hospitale se maternity en antenatale sale. “Daar is baie jong meisies wat kraam sonder ondersteuning of die nodige goedjies om hulle deur hul bevalling te dra. Die care packs bevat goed soos sanitêre doekies, waslappe, seep, tandepasta en onderklere. Net om aan hulle meer dignity te gee. Deur iets so klein aan hulle te gee, laat jy hulle besef daar is iemand wat omgee en dat hulle nie moet opgee nie.”

Dis ook uit dié projek wat die Lotus Street Foundation, wat Danya saam met haar kêrel, Marvin Levendal (38), begin het, gebore is. Die missie van die organisasie is om innoverende sosiale veranderings te bring deur onderwys, kuns en tegnologie te bevorder. “Ons glo dis die dryfkrag agter opheffing, bemagtiging en verskaffing van broodnodige verligting in minderbevoorregte gemeenskappe in die Wes-Kaap, veral die Kaapse Vlakte.

Die naam Lotus stam van die Lotusblom. Selfs as die wortels van die Lotusblom in die vuilste water begrawe is, blom die Lotus steeds die mooiste. Maak nie saak waar dit geplant is nie en dit is dieselfde met ons gemeenskappe.”

Die Foundation bestaan uit verskeie projekte soos Danya’s Care Pack Drive (care packs vir tienermeisies wat geboorte skenk); Beyond Being Bullied (’n anti-bullying campaign); en die Covid-19 Relief (hulle versprei kospakkies regoor die Wes-Kaap). Die Lotus Street Foundation het al meer as 22 gemeenskappe insluitend Elsiesrivier, Mitchells Plain, Kraaifontein, Kuilsrivier, Paarl, Saron en Langebaan gehelp. Dis ook juis in Langebaan waar Danya vir antie Rosie, die dryfkrag agter Roses for Rosie, ontmoet het.

Danya se ouers, Frieda en Daniel.

“Ons het eendag in Langebaan kospakkies afgelewer toe ons by ’n huis kom waar daar net mure was – geen vensters of ’n dak nie, net mure. Ek kon nie anders om daar in te gaan nie en toe ontmoet ek vir antie Rosie.” Antie Rosie het sowat drie jaar gelede alles verloor toe haar huis afgebrand het. Die brand is deur ’n kortsluiting veroorsaak. “Daar is een kamer wat nie afgebrand het nie en dis waarin die antie en haar dogter bly. Dit het my so baie gepla dat die vrou al vir drie jaar in sulke haglike omstandighede bly. Ek moes iets doen.”

Die Roses for Rosie-projek is toe gestig. “Die Lotus Street Foundation het ’n fondsinsameling begin om vir die antie ’n huis te bou. Ek beoog om teen einde Desember met die bouery te begin, maar gaan mense se hulp makeer. Al gee elkeen net ’n R1 of ’n R10 – elke bietjie help. Ek wéét ons gaan van die projek ’n sukses maak.”

Tussendeur sorg Danya vir haar ma wat bedleênd is. En hoe hou sy kop bo water met alles wat in haar eie lewe aangaan en die nood in ons gemeenskappe? “Daar is mense daarbuite wat deur baie erger dinge as jy gaan. Moenie jouself verloor nie en reik altyd uit na iemand anders. Daai bietjie wat jy gee, mag dalk meer as genoeg wees vir die volgende persoon. Deur te gee, versprei jy ’n bietjie lig en geluk en in die donker tye kan ons almal doen met ’n bietjie geluk.”

* Foto’s: Deidre Mackenna en Verskaf

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.