Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Goeiemôre Dr. Robot
5 September 2018

Die vordering van tegnologie kan nie gekeer word nie en oral sien ons tekens van vooruitgang rondom ons. Só het toestelle soos TV’s en selfone oor die afgelope dekade al hoe kleiner, maar beter geword. Hulle spog byvoorbeeld met hoër definisie wat beelde skerper en meer realisties laat lyk. Dit wil lyk of ontwikkeling in die mediese veld haastig in dieselfde rigting op pad is en kenners voorspel dat besoeke aan huisdokters oor twintig jaar iets van die verlede gaan wees, want jy gaan som­mer jou selfoon vir diagnose gebruik.

Namate al hoe meer robtte en kunsmatige intelligensie (AI) in die mediese veld gebruik word, sal mense vinniger en meer akkuraat gediagnoseer en behandel kan word.

Die operasiesaal van die nabye toekoms gaan beslis anders daarna uitsien. Daar word reeds al hoe meer met behulp van robotte geopereer. Daar is reeds vyf da Vinci-masjiene in Suid-Afrika wat deur robotikaspesialiste soos dr. Conray Moolman van die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad vir chirurgie gebruik word. Twee van die masjiene is in Kaapstad terwyl Pretoria, Johannesburg en die Oos-Kaap elk een het.

Moolman spesialiseer in die verwydering van kwaadaardige weefsel in nier- en prostaatkankerpasiënte. Volgens hom kom daar ook heel moontlik ’n tyd wanneer robotte alleen sekere operasies sal kan uitvoer (sonder ’n dokter in die vertrek, maar een wat op ’n skerm die operasie dophou vir noodgevalle). Moolman voorspel ook dat robotte binnekort dokters sal kan waarsku voordat hulle ’n fout maak, soos as hulle byvoorbeeld te naby aan ’n orgaan met die skalpel beweeg.

Volgens Moolman het hy eers net op die tradisionele manier geopereer, maar in 2013 robotte begin inspan om minimaal indringend te wees (met ander woorde kleiner snydings te maak). Hy moes in België opgelei word en het toe verder by Groote Schuur-hospitaal onder die toesig van ’n senior spesialis geoefen voordat hy self met die masjien kon opereer. Hy word nou as een van die beste spesialiste in die land beskou en het al meer as 200 operasies met behulp van robotte gedoen.

foto’s: gallo images/getty images

VINNIGER

“Operasies met die da Vinci-robot is minimaal indringend, so pasiënte het baie min letsels en hul hersteltyd is vinniger. Daar is ook oor die algemeen minder pyn, minder risiko van bloedverlies en ’n verminderde infeksierisiko,” sê Moolman.

“Anders as met tradisionele chirurgie, kan pasiënte al die volgende dag huis toe gaan as daar geen komplikasies is nie.” Hy verduidelik dat die da Vinci-stelsel hoë-definisie driedimensionele beelde (met ’n vergroting wat 10 keer groter is as wat die menslike oog kan sien) kan wys wat dit vir chirurge moontlik maak om senuwees en weefsels te sien.

Die da Vinci-robot het twee dele, die toring en die konsole. Die toring is die deel van die masjien wat tydens ’n chirurgiese prosedure oor die pasiënt geplaas word. Hierdie gedeelte van die robot bestaan uit vier arms, waarvan drie klein chirurgiese instrumente bevat en die ander een ’n hoë definisie 3D-kamera. Die arms op die toring word beheer deur ’n rekenaarstelsel wat die chirurg se handbewegings in die liggaam naboots.

Medici hoop ook om tegnologiese ontwikkelings in genetiese toetsing te gebruik sodat siektes soos kanker vin­niger opgespoor en individueel behandel kan word.

Popo Maja, ’n woordvoerder vir die nasionale gesondheidsdepartement, sê baie staatsdokters gaan oorsee om meer kennis op te doen oor ontwikkelings in die mediese veld en om genetiese toetsing te bevorder.

Kenners hoop masjiene sal binne die volgende 20 jaar presies elke mens se individuele selle kan ondersoek en kan sê vir watter toestande jy die vatbaarste is. Op dié manier sal siektes verhoed word, nog lank voor jy siek word.

Volgens Popo is daar egter min wat op die oomblik in Suid-Afrika op hierdie gebied gedoen kan word. Die tegnologie is duur en daar moet nog baie navorsing gedoen word voordat dit op pasiënte getoets kan word. Ongelukkig is daar tans ook nie sulke gevorderde robotte in staatshospitale nie, maar die department beoog om teen volgende jaar masjiene aan te skaf en dit kan ’n duur storie raak as in ag geneem word dat dokters ook opgelei moet word om dit te gebruik.

Maar nie alle tegnologiese ontwikkelings beteken meer koste vir pasiënte nie.

Bernhard Vogt, bestuurder van CAD House 3D Design wat in samewerking met Enable Community Foundation en 3D life prints gedrukte ledemate aan mense verskaf, sê 3D-drukkers is vinnig besig om die mediese omgewing te verander en kostes vir die verbruiker te sny.

LINKS: ’n Voorbeeld van ’n chirurgiese robot. Sulke robotte word reeds gebruik om chirurge te help om senuwees beter te kan sien.

PRINT LEDEMATE

Voorheen moes baie mense byvoorbeeld sonder kunsledemate oor die weg kom. Masjiene soos die 3D-drukker gee mense soos dié meer opsies. Kunsledemate kos gewoonlik duisende rande, terwyl ’n 3D-gedrukte een ’n paar honderd rand kos. Afhangende van die grootte en soort ledemaat, kan iemand binne 48 uur ’n nuwe arm of been hê!

Deesdae word 3D-gedrukte organe ook gebruik sodat dokters voor ’n operasie op die replika kan oefen en beplan voordat hulle opereer. Die 3D-replika is baie meer akkuraat as een wat vanaf die pasiënt se X-strale gemaak word. Bernhard sê in die toekoms sal ’n masjien selfs eendag organe vir oorplanting kan druk.

“Dit is waarheen ons op pad is en daar word baie navorsing oorsee gedoen. Tans help ons ook baie mense deur ons samewerking met verskeie organisasies om ledemate vir behoeftiges te maak,” sê hy.

Al hoe meer mediese apps word ook ontwikkel. Só byvoorbeeld kan die gratis Be Skin Smart app mense nou ook help om hul kanse om velkanker te ontwikkel, te verminder. Die app sê wanneer jy sonskerm moet aansmeer en is veral gemik op mense wat lang ure buite is. Dit gebruik jou persoonlike inligting en die SPF-sterkte van die sonskerm wat jy gebruik, om te bepaal hoe gereeld dit aangesmeer moet word. ’n Alarm gaan af wanneer jy weer moet sonskerm aansmeer.

Volgens Christine Prinsloo, ’n woordvoerder van Meda Pharma wat die app ontwikkel het, is die app al vir meer as drie jaar beskikbaar.

“Dit was vir ons belangrik om mense bewus te maak van die belangrikheid van velsorg om velkanker te verhoed. Dit is veral belangrik vir kinders,” sê sy.

“’n Kind wat net twee keer rooi brand in die son, het ’n groter kans om velkanker ná die ouderdom van 40 te ontwikkel. Die meeste mense het hul foon by hulle wanneer hulle met vakansie en op die strand is. Die app is dusiets wat almal maklik kan gebruik en ouers kan hulself en elk van hul kinders daarop laai.”

Nes dié app is daar ook verskeie ander apps wat ontwikkel is om mense se houding teenoor hul gesondheid te verander.

Die Japanese speletjiereus Nintendo het in 2016 die gewilde Pokémon Go app bekendgestel wat miljoene mense aan die gons gehad het. Dis steeds baie gewild en gebruik jou selfoon se GPS om by te hou met jou bewegings. Die doel van die speletjie is om verskillende Pokémon te vang en eiers uit te broei. Pokémon verskyn op verskillende plekke en om hulle te vang, moet jy aanhou beweeg.

Om jou eiers uit te broei om nuwe Pokémon te kry, moet jy vir 2 km, 5 km of 10 km beweeg, maar nooit meer as omtrent 20 km per uur nie.

Die resultaat was dat spelers baie meer aktief begin raak het en die app is as ’n goeie voorbeeld voorgehou van hoe tegnologie kinders kan help om fiks te bly en hul fyner en groter motoriese vaardighede kan ontwikkel.

Dr. Lauren van Niekerk, ’n Kaapse gedragsielkundige, sê enigiets (soos Pokémon) wat kinders beloon om fisiek aktief te wees, is goed.

“Navorsing bewys dat kinders wie se motoriese vaardighede toepaslik vir hul ouderdom ontwikkel is, beter leer en konsentreer. Daar is ook ’n groter kans dat hulle aan sport sal deelneem, wat natuurlik baie help om toestande soos suikersiekte te verhoed,” sê sy.

Daar is nog baie ander ontwikkelings aan die gang in die mediese bedryf. Die belangrikste is om by te hou en nou al te begin spaar, want dit sal nie altyd goedkoop wees nie.

• Vir meer tegnologiese ontwikkelings, besoek www.futurehealthindex.com.

Anders as met tradisionele chirurgie, kan pasiënte al die volgende dag huis toe gaan as daar geen komplikasies is nie.
Conray Moolman

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.