Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Goor oor verloor
09 Januarie 2019
skool, studie, studeer, swot, eksamen

Jy hoef net ná ’n rugbywedstryd, boonop een waarin ’n span ’n nederlaag gely het, op sosiale media ’n draai te gaan maak om te sien hoe baie van ons nie ’n verloor kan vat nie. Dis altyd die ref se skuld óf die coach moes nie daai speler vir die posisie gekies het nie óf dit is transformasie se skuld. Dan neem baie ondersteuners hulle sommer voor om hul span se trui uit te brand omdat hulle “so sleg is”.

Dis maar net ’n paar voorbeelde van hoe verloor die slegste in sommige mense kan uitbring.

Maar as volwassenes nie ’n verloor kan vat nie, wat nog te sê van ons kinders wat nog moet leer dinge gaan nie altyd uitwerk soos wat hulle wil hê nie en dat verloor deel van die lewe is?

buite homself

Marina Williams (29) van Port Elizabeth in die Oos-Kaap vertel haar seun, Keenan (9), kan dit glad nie hanteer om nie tops te wees nie. “Hy skree, gooi tantrums en huil soos ’n baba as hy verloor, nie die beste in die klas doen nie, as hy ’n fout maak of as hy enigiets verkeerd doen. Dis amper onmoontlik om hom uit dié bad mood te kry as hy eers daarin is. Hy is ook vreeslik krities op homself en gooi maklik tou op wanneer hy iets nie regkry nie.”

Volgens haar sal Keenan sommer die hele bord van die tafel af smyt as hy begin verloor wanneer hulle bordspeletjies speel. Selfs net die moontlikheid van nie wen nie, dryf hom teen die mure uit. Wanneer hy wen, is hy die oulikste, dierbaarste seuntjie, vol grappies en soentjies. Marina het al alles probeer, maar sy weet nie hoe om haar kind te help nie.

Nadia du Toit, ’n kliniese sielkundige van Family Focus Therapy Centre in Bloemfontein, verduidelik ’n slegte verloorder is een wat sal skree, stry, huil en die “onregverdige” reëls blameer of met ’n ander rede vorendag kom oor hoekom hulle nie die pyp kon rook nie. Hulle blameer eksterne faktore en vind dit amper onmoontlik om te erken iemand anders was net beter. Dis nie noodwendig ’n slegte ding om tot ’n mate kompeterend te wees nie, maar dit kan vinnig buite beheer raak.

Volgens Nadia vermy ons vanuit ’n neurosielkundige perspektief dit ten alle koste om te verloor omdat dit ’n stresrespons veroorsaak. “Navorsing toon dat individue wat verloor se brein-aktiwiteit merkwaardig dieselfde lyk as dié van iemand wat in erge pyn verkeer. Jy ervaar dus verloor op dieselfde manier as wat jy sou as jy in ’n lamppaal vasloop.”

Vanuit ’n kognitiewe gedragsterapie (KGT)-perspektief is sterk negatiewe emosies en ontoepaslike gedrag die resultaat van problematiese denke. “Wanneer denke irrasioneel is, lei dit maklik tot emosies wat intens en oorweldigend is, wat weer verkeerde gedrag veroorsaak,” verduidelik

Nadia.

Jy ervaar dus verloor op dieselfde manier as wat jy sou as jy in 'n lamppaal vasloop
Nadia du Toit

voordele

Maar as dit vir niemand lekker is om te verloor nie, hoekom moet ’n mens ’n goeie verloorder wees?

Renée Small, ook ’n kliniese sielkun­dige van Family Focus Therapy Centre, meen die voordele van verloor is net so groot as dié van wen. “Dit leer ons om verantwoordelikheid te neem vir ons eie toekoms, gee ons die geleentheid om meer te leer oor ons tekortkominge asook om op te staan en weer te probeer,” verduidelik sy.

Wanneer kinders aangemoedig word om verloor as ’n leerervaring te sien, word hulle die geleentheid gegee om ’n positiewe karakter, motivering, selfvertroue en onafhanklikheid op te bou. “Dis normaal om teleurgesteld, hartseer of selfs kwaad te wees wanneer jy verloor, maar die vermoë om hierdie emosies op ’n gesonde manier te hanteer, onderskei jou van ’n slegte verloorder.”

’n Goeie verloorder beskou nie oorwinning as die einddoel nie, maar is eerder trots op die manier hoe hulle gespeel het, ongeag of hulle gewen of verloor het.

“Ek is in die onderwys omdat ek lief is vir kinders, maar jong, die ouers kan ’n mens teen die mure uitdryf!” sê Elsabe Claassens (48), onderwyser van Somerset-Wes in die Wes-Kaap. Sy vertel sy het al baie gesien hoe deftige ma’s langs die netbalveld in skreeuende monsters verander en niks wat enigiemand vir hulle sê, kan hulle laat kalmeer nie, inteendeel, dis net soos olie op die vuur.

“As húlle nie eens verloor kan hanteer nie, hoe staan hul kinders enigsins ’n kans?” wonder sy.

Victor Jansen (33), ’n pa van Cloetesville op Stellenbosch, stem egter nie saam met Elsabe nie. “Hoekom sal jy jou kind laat deelneem aan iets as jy nie wil hê hulle moet wen of die beste wees nie? As jy nie wen nie, doen jy nie jou bes nie,” sê hy. Hy voel as ouer is dit sy plig om sy kinders wenners te maak en dat dit nie sonder ’n bietjie druk kan geskied nie.

Maar Nadia waarsku kinders is geneig om volwassenes se reaksies op hul eie, asook hul kinders, se oorwinning of nederlaag dop te hou. Volgens haar leer ouers se gedrag hul kinders wat hulle nie noodwendig net op die sportveld gaan openbaar nie, maar in elke ander aspek van hul lewe.

“Om tydens ’n wedstryd op jou kind te skree, gaan nie die uitwerking hê wat jy soek nie. Inteendeel, jy gaan jou kind verneder en seermaak tot so ’n mate dat dit vir hulle amper onmoontlik gaan wees om hul beste te gee, maak nie saak hoe hard hulle probeer nie,” waarsku Nadia. “Fokus eerder op dit wat jou kind reg gedoen het en die poging om hul beste te probeer.”

Sy sê ook dis vir klein lyfies baie moeilik om groot emosies te verwerk. “Gesels met jou kind oor hierdie emosies en laat hulle toe om dit te ervaar op ’n aanvaarbare wyse. Deur jou kind coping vaardighede te leer, help jy hulle om in beheer te bly,” voeg Nadia by.

Verder is dit baie belangrik om nie jou kind altyd te laat wen nie. “Ons is geneig om kinders te laat wen in speletjies net om die mini-ineenstorting te vermy wat saam met verloor kom. Dit skep egter ’n verdraaide perspektief dat jou kind altyd kan wen en steel die leergeleentheid van hoe om teleurstelling te hanteer,” waarsku Renée.

Wenke vir onnies

Daar is raad vir ouers en leerders wat slegte verloorders is.

Renée gee ’n paar maniere om hierdie moeilike situasies te hanteer:

  • Stel perke en reëls: Jy is die afrigter of onderwyser en dit is jóú span of klaskamer. Neem leiding deur perke te stel. Kommunikeer hierdie reëls sommer vroeg-vroeg aan die ouers en leerders en maak die gevolge duidelik indien dit nie gerespekteer word nie. Hoewel WhatsApp-groepe baie gerieflik is in die organisering van ’n span, kan dit maklik negatiwiteit uitlok wat buite beheer raak. Stuur eerder broadcasting-boodskappe.
  • Wees professioneel en kalm: Herinner kinders aan die reëls en gee hulle die geleentheid om iewers af te koel indien nodig. Vermy argumente met ouers. Bied aan dat julle ’n afspraak skeduleer waarby relevante senior personeel betrokke is om die saak verder te bespreek. Bly kalm en probeer om nie verdedigend op te tree nie.
  • Koester goeie sportmanskapwaardes: Neem altyd in ag dat jy ook ’n rolmodel vir die leerders is. Fokus meer op die genot, harde werk en deursettingsvermoë as op die oorwinning.
  • Onderrig die hantering van emosies: Onthou jou leerders is geregtig om gevoelens van teleurstelling, hartseer en kwaad te ervaar wanneer hulle verloor. Maak hulle bewus van dit wat hulle tans ervaar en gee dit ’n naam. Verduidelik wat is aanvaarbare gedrag.

Meer oor:  Onderwysers  |  Ouers  |  Kuier  |  Opvoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.