Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Grapjasse: Nuwe talent wat SA laat lag
28 Junie 2019


Suid-Afrika se komediante kan met die bestes in die wêreld meeding en met Trevor Noah as ons grootste uitvoerproduk, is dit bewys dat hierdie bedryf maar nog net opgewarm het. Daar is hope talent in die land wat reeds besig is om op hul manier die kollig te steel.

Kuier het met vier van die land se opkomende komediante gaan gesels om te hoor wat dié grapjasse se neusvoue laat kreukel. Hulle het dit egter nie lag-lag tot op die verhoog gemaak nie. Dié vier is dit eens: om in dié bedryf te oorleef, moet jou liefde om mense te laat lag, harde werk en passie jou dryfkrag wees.

Rezah Forbes

Die “new kid on the comedy block” van Schaapkraal in Kaapstad het mense aan die praat. Ons het Rezah (20) op Emo Adams se nuwe show, Maak my famous, leer ken. Rezah vermaak graag die gehoor met grappies oor sy omstandighede en waarvandaan hy kom.

“My gunstelinggrap vir nou gaan oor my skuif van Surrey Estate na Schaapkraal. Die probleem wat ek in Surrey Estate gehad het, is dat ek te veel Indiese vriende met reguit hare gehad het en ek het onseker gevoel oor my krullerige hare – wat net een kant toe lê en glad nie beweeg nie. Come hell or high water!” Rezah is oorspronklik van Hanover Park op die Kaapse Vlakte.

“Sjoe, ek was ’n stout kind en het sommer baie in die moeilikheid beland,” sê hy. “Ek was die storieverteller onder my vriende wat altyd karakters in flieks nagemaak het. En dis waar my liefde vir storievertelling, maar ook vir komedie gebore is. Toe ek op laerskool was, was ek deel van die konsert aan die einde van die jaar en moes comedy vir sowat 500 mense doen. Die mense se reaksie en gelag het my stomgeslaan en dis toe ek geweet het dat standup comedy my ding is.”

Hy vertel dis nogal moeilik om ’n loopbaan as professionele komediant te bou, veral as jy nuut in die bedryf is. “Om in die komediebedryf suksesvol te wees, moet jy altyd relevant en vars bly. Jy moet byhou met die nuutste giere en tiere. Jy moet werk insit om bo te bly.” Rezah sê hoewel hy nog nie ’n spesifieke teikenmark het nie, waardeer hy die ondersteuning wat hy ontvang. “Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir my inhou nie!”

Dillan Oliphant

Dillan (29) van Eldoradopark in Johannesburg, sê hoewel al sy grappies hom altyd in stukke het, is daar ’n gunsteling wat elke keer werk. “Die polisiehelikopter was eendag in my buurt opsoek na ’n gesteelde motor. Nie lank daarna nie is hulle weg net om ’n ruk later terug te keer opsoek na ’n gesteelde helikopter!”

Dié grapjas wat steeds in Johannesburg bly, sê hy is sy ouers se enigste kind en meen die voordeel daarvan is wanneer sy ouers sterf, hy alles erf. “Ek moes een keer ’n toespraak doen in die klas. Ek het ’n Chris Rock-monoloog gedoen en my klasmaats kon hul lag nie hou nie en het regdeur my toespraak gelag. Dit was vir my die beslissende oomblik. Ek het geweet ek wou niks anders doen as om mense te laat lag nie.”

Hy sê toe hy die eerste keer by ’n komedieklub optree en in dieselfde maand ’n komediekompetisie daar gewen het, het hy geweet hy het sy roeping gevind. “Ek het altyd geweet ek het ’n liefde vir lag en dat ek ander ook gelukkiger maak op daai manier.” Oor die bedryf sê hy: “Elke dag is ’n leerproses. Jy moet elke keer jou beste gee. Komedie is moeiliker as wat dit lyk, maar dis ook waarom ek so lief is daarvoor. As jy al die harde werk gedoen het en jy kom uiteindelik op daai verhoog om jou ding te doen en die mense geniet jou vertoning, dís wanneer alles die moeite werd voel.”

Die Amerikaner David Scott het in 2013 die langste stand-up comedy show deur ’n individu gedoen. Dit was 40 ure en 8 minute lank!

Virgil Prins

Dié gebore Oos-Kapenaar sê hy het nie ’n gunstelinggrappie nie, maar daar is een waarvoor hy nooit moeg raak om te vertel nie. “In Johannesburg is daar baie mense jong, maar in die Noord-Kaap, spesifiek Kuruman, is daar maar bitter min mense. Daar is net een man en sy naam is Kuru!” Virgil (30) lag hartlik vir sy grap en sê: “Daar is maar min dinge so lekker soos komedie – dis soos kos vir die siel!”

Sy komedie-loopbaan het op Rhodes-universiteit begin waar hy regte en bestuur geswot het. “Ek het op kampus ’n poster vir ’n improv-groep gesien. Ek het die oudisies bygewoon en was gekies.” Hy moes egter sy studies voltooi voordat hy aan komedie as ’n beroep kon dink. Geleenthede was egter min. “Ek het sak en pak Johannesburg toe getrek, sonder ’n plan. Deur die dag was ek ’n call centre agent en saans het ek by klubs opgetree.”

Dit was nie maklik nie, maar hy doen dit enige dag weer. Oor die lewe in die bedryf, sê hy: “Jou passie moet jou dryfkrag wees. Dis maklik om te sê jy wil jou drome volg, maar om die nodige stappe te volg om dit wel te bewaarheid is ’n heel ander storie. Sonder passie is dit maklik om net weg te stap van iets af, maar opgee is nooit ’n opsie nie.”

Lindy Johnson

Lindy (25) van die Paarl meen om ’n gunstelinggrap te kies, is soos om vir die wêreld te sê wie eintlik jou gunstelingkind is – jy doen dit eenvoudig nie! Sy is ook een van die opkomende komediante wat op Trevor Noah se TV show NationWild gefeature het. Oor haar kinderjare vertel sy: “Ek was baie geterg omdat ek groter as die ander was, maar dit het my help vorm as komediant.”

Maar sy het gedink as sy mense net kan laat lag, sal hulle sommer van haar hou en nie terg nie. “My plan het ongelukkig nie so goed gewerk nie,” sê sy laggend. Sy het steeds hard gewerk om komediant te word. “Ek het die eerste keer komedie gedoen by ’n talentkompetisie op universiteit. Ek het tweede gekom, maar was tevrede daarmee omdat Beyoncé Knowles tweede in haar talentkompetisie was, en ek en sy is mos basies twins!”

Lindy dink vroue geniet die meeste haar persoonlikheid en grappies. “Vroue is lief vir my. Ek dink dis omdat ek so lief is vir hulle! Ek verstaan vroue beter en vertel stories uit ’n vrou se perspektief en ervaringe.”

Meer oor:  Kuier  |  Komediante  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.