Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Grooming in skole: Sekspeste wat kinders pla
8 Januarie 2020
Só het die Huisgenoot berig oor Fiona Viotti, gewe
Só het die Huisgenoot berig oor Fiona Viotti, gewese onderwyser by Bishops, se seksskandaal.

Seks en skool klink net nie of dit in dieselfde sin hoort nie, maar ons lewe in ’n tyd waar kinders nêrens meer veilig is nie, nie eens by die skool nie. Aan die een kant is dit ’n feit soos ’n koei dat kinders deesdae al hoe vroeër seksueel aktief raak, maar aan die ander, gevaarliker, kant kom al hoe meer voorvalle aan die lig van onderwysers wat hul posisie met leerders misbruik om hulle seksueel uit te buit.

Só is die spogskool Bishops in die Kaap laat verlede jaar geruk deur ’n seksskandaal toe dit aan die lig gekom het dat ’n vroulike onderwyser seksuele dade met seuns gepleeg het. Fiona Viotti, die voormalige geskiedenisonderwyser, het egter vinnig bedank toe haar verhouding met ’n 18-jarige leerder aan die lig kom en daarom kon tugstappe nie teen haar geneem word nie.

Die skool se ondersoek het egter bevind dat Viotti tussen 2013 en 2019 skuldig was aan seksuele wangedrag waarby minstens vyf leerders betrokke was. ’n Mens kan nie alle onderwysers oor dieselfde kam skeer nie, maar ná al die skokkende berigte die laaste ruk, is skool beslis nie die veilige hawe wat baie dink nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SACE) is meer as 700 klagtes verlede jaar teen onderwysers ingedien. Die klagtes wissel van viktimisasie, teistering, alkoholmisbruik, afwesigheid en bedrog tot seksuele misdade soos verkragting, onsedelike aanranding en seksuele misbruik.

Volgens die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is daar vir die boekjaar 2018 – 2019 altesaam 26 klagtes van seksuele wangedrag teen onnies in dié provinsie ingedien. Dié skokkende syfers span soos ’n yskoue hand om jou keel en laat tergende vrae ontstaan – as jou kind dan nie by die skool veilig is nie, waar is sy?

As jy ’n verandering in jou kind sien – praat met hom of haar en vat hul woord. Baie oortreders gaan in ’n spesifieke werk omdat hulle weet dit gaan hulle toegang gee tot kinders.

Op Worcester het ’n voormalige onderwyser (35) aan die Sekondêre Skool Worcester op 13 November verlede jaar in die hof verskyn op aanklagte van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie. Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder by die WKOD, is die departement bewus van die saak, maar het dié onderwyser ook uit sy pos by die skool bedank nog voor enige dissiplinêre stappe gedoen kon word.

In ’n ander voorval is ’n bekende skoolhoof van ’n hoërskool in die Breedevallei in 2018 ontslaan omdat hy glo seksueel by ’n leerder aangelê het. Die skoolhoof is gedurende ’n interne ondersoek skuldig bevind aan seksuele wangedrag en vir die onvanpaste uitsprake wat hy teenoor ’n minderjarige gemaak het.

Volgens die Worcester Standard het die voorvalle tydens saamrygeleenthede gebeur. Hy het ook verskeie boodskappe aan die kind gestuur. Dié publikasie berig dat die leerder haar eie lewe probeer neem het.

Grooming

In baie van die bogenoemde sake speel “sexual grooming” ’n groot rol. Edith Kriel, ’n Kaapse maatskaplike werker wat al vir die afgelope 24 jaar met getraumatiseerde kinders werk, sê sexual grooming vind plaas wanneer iemand ’n kind opvoed, bekendstel of voorberei om seksuele dade met hulle uit te voer.

“Kinders is gewoonlik nie bewus daarvan dat hulle gegroom word vir seksuele dade nie, omdat die ‘groomer’ gereeld die kind goed behandel. In die meeste gevalle is die kind bang om wangedrag aan te meld, omdat die grooming waarskynlik oor ’n tydperk plaasgevind het en die kind se familie dikwels teen daardie tyd vertroud is met die groomer en hom met die kind vertrou. Maar dit is ’n misdaad en moet aangemeld word.”

Volgens Edith is dit eintlik baie makliker vir onderwysers om kinders seksueel te groom, omdat hulle baie meer toegang het tot kinders. “Hul taktieke verskil natuurlik van dié van opportunistiese seksuele oortreders. Onderwysers is in magsposisies en het baie toegang tot kinders. Dit is baie belangrik vir ouers om waaksaam te wees en kinders te glo wanneer hulle sê iemand of iets het hulle ongemaklik laat voel.”

Willem Breytenbach is ook van seksuele dade met minderjariges beskuldig.

Sy beklemtoon ook dat dié misdaad nie net deur mans gepleeg word nie, maar dat dit vir kinders baie moeiliker is om sake aan te meld wanneer dit deur ’n vrou gepleeg word.

“Grooming word beslis ook deur vroue gepleeg, maar dit word nie so gereeld aangemeld soos wanneer mans die oortreders is nie. Vroue word dikwels gesien as die primêre versorger en kinders dink dat hul ouers of naasbestaandes hulle nie sal glo as hulle uitpraat nie en hulle bly dan liewer stil.”

Edith waarsku ouers om ten alle tye op hul hoede te wees vir veranderings in hul kind se gedrag of wanneer die kind iets verklap. “As jy ’n verandering in jou kind sien – praat met hom of haar en vat hul woord. Baie van die oortreders gaan in ’n spesifieke werk omdat hulle weet dit gaan hulle toegang gee tot kinders. Sexual grooming vind gewoonlik oor ’n tydperk plaas en as jy die tekens optel, kan jy dit in sy spore stuit en aanmeld voor seksuele omgang plaasvind.”

Na bewering het grooming ook dalk ’n rol gespeel in ’n ander saak wat ook laat verlede jaar groot opslae gemaak het. Die vermeende seksoortreder Willem Breytenbach, ’n voormalige bestuurder van Media24, onderwyser en digitale entrepreneur, is deur die Johannesburgse kopieskrywer, Deon Wiggett, van verkragting beskuldig.

Willem was destyds ’n joernalis by Die Burger en was verantwoordelik vir ’n skoolkoerantprojek vir Media24. Breytenbach word ook daarvan beskuldig dat hy verskillende skoolseuns by minstens drie skole waar hy van 1989 tot 1994 onderrig gegee het, waaronder Grey-kollege in Bloemfontein, seksueel gemolesteer het. Teen druktyd het 26 mans glo al na vore gekom met aantygings dat hulle seksueel deur Willem aangerand of gegroom is.

Wat sê kurrikulum?

'n Bladsy uit die departement se lewensoriënteringhandboek vir graad 4-leerders wat tans in die loodsfase is. Volgens die departement bied die CSE ouderdoms-toepaslike lewensvaardighede wat kinders se selfvertroue en vermoë om vir hulself op te staan, bou en te weet wanneer hulle seksueel mishandel word.

Intussen heers daar groot onsekerheid oor hoe die departement van onderwys voortaan beplan om seksopvoeding aan te bied. Aan die einde van verlede jaar was Suid-Afrikaanse ouers warm onder die kraag toe stories die rondte begin doen oor veranderings aan die seksopvoeding-kurrikulum. Van die wilde bewerings het onder meer ingesluit dat graad 4-leerders mekaar se “privaat dele” sal moet identifiseer.

Een van die illustrasies, glo uit die nuwe kurrikulum, wat oral versprei is, wys volwassenes in die bed met baie grafiese details. Daar is ook beweer die departement gaan vanjaar kondome uitdeel saam met skryfbehoeftes.

Ouers en die media het woedend begin vuiste bal en bontspring oor dié beweerde veranderings, maar die onderwysdepartement ontken

Niemand weet wie het die skokkende en grafiese beelde en wilde gerugte oor die CSE -kurrikulum op sosiale media versprei wat die land aan die gons gehad het nie. Die oorsprong van die boonste foto is onbekend, maar die onderste beeld is uit ’n Deense boek wat in 1975 gepubliseer is. Die onderwysdepartement ontken egter dat hierdie beelde ooit in hul kurrikulum verskyn het.

ten sterkste dat die veranderings ooit deel van hul plan was. So erg was die ontsteltenis egter onder die publiek dat niemand gehoor het toe die departement van basiese onderwys herhaaldelik sê daar steek absoluut geen waarheid in hierdie bewerings nie.

By verdere navraag het Elijah Mhlanga, hoofwoordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, aan Kuier gesê “die hele storie is leuens en fake news”, wat deur sekere groepe vir hul eie belange aangevuur word. Volgens hom is die storie nou al so ver versprei dat mense glo hierdie veranderings het reeds plaasgevind, terwyl die departement niks verander het nie.

“Ons het ons bes gedoen om inligting te verskaf, maar sekere orga-nisasies weier om te verstaan en gaan voort om verwarring, misleiding en paniek te saai.”

Volgens hom is die enigste ding wat verander, die bekendstelling van geskrewe lesplanne vir seksopvoeding (CSE) wat sedert 2015 in die “loodsfase” (in vyf provinsies by 1 500 skole) ingestel is en eers op ’n latere stadium ten volle geïmplementeer sal word.

Die CSE, wat sedert 2000 deel van die lewensoriëntering-kurrikulum is, se geskrewe lesplanne leer oor die kognitiewe, emosionele, fisiese en sosiale aspekte van seksualiteit. Volgens die departement moedig die CSE juis onthouding (abstinence) aan en is dit juis daarop gemik om verantwoordelike seksuele gedrag te kweek by leerders wat op ’n al hoe jonger ouderdom seksueel aktief raak.

Dis ook ’n feit dat die meeste ouers nie met hul kinders hieroor (seks)gesels nie, wat kan lei tot eksperimentering en riskante seksuele gedrag.

Volgens Daniela Ellerbeck, ’n advokaat van Freedom of Religion SA (FOR SA), een van die drukgroepe wat fel kritiek uitgespreek het oor die leerplan, hou egter vol dat die departement wél sulke planne gemaak het. Volgens haar was hulle al van die begin af betrokke by die saak en het hulle al ’n hele paar keer met die departement van basiese onderrig ontmoet om dit te bespreek. Dis uit hierdie vergaderings wat FOR SA hul inligting en die foto’s van die inhoud (insluitend sketse) verkry en gepubliseer het.

“FOR SA verwerp die verklarings deur die departement en verskeie media-artikels dat ons die publiek mislei en verwar het oor die CSE aangesien dit regte foto’s van die geskrewe lesplanne was wat die departement self op 17 September 2019 aan lede van die parlement verskaf het.”

Sy verduidelik as die inligting wat die departement verskaf het verouderd was, het hulle, of aspris of nalatig mislei deur foutiewe inligting te verskaf. Verder hou sy vol selfs al ontken die departement sekere aspekte – soos dat masturbasie nie deel uitmaak van die kurrikulum nie – wel verskyn in die onderwyshandleiding vir graad 7.

Volgens Daniela is daar sekere beelde, insluitend een van twee volwassenes in ’n bed wat op sosiale media die rondtes doen, maar dat dit verkeerdelik aan FOR SA toegeskryf word. “Gegewe die departement het ’n grondwetlike plig om in die beste belange van die kind op te tree, is dit onaanvaarbaar dat hulle aanhou om hierdie problematiese materiaal aan leerders af te smeer.”

Hul grootste klagtes teen die departement is dat ouers en onderwysers nie behoorlik geraadpleeg is nie; ouers se regte om kinders volgens hul oortuigings te leer, ontken is; dit ouers nie die opsie gee om te weier dat hul kinders die CSE volg nie; nie deursigtig was in die proses nie en nie genoegsame navorsing gedoen het daaroor nie.

FOR SA dring daarop aan dat die departement die kurrikulum heroorweeg en aanpas volgens die wense en behoeftes van Suid-Afrikaners. Jaco Deacon, adjunk-uitvoerende hoof van Fedsas, die nasionale verteenwoordigende organisasie van skoolbeheerliggame, meen die departement het die hele sage verkeerd hanteer deur nie van die begin af op die regte manier met rolspelers te konsulteer nie.

Fedsas wag tans vir die departement om hulle in kennis te stel oor die beoogde CSE-raadplegingsproses. Saou, ’n onderwyservakbond, sê in ’n nuusbrief hulle ondersteun ouderdomsgepaste seksualiteitopvoeding soos in die huidige lewensoriëntering-kurrikulum en is nie ten gunste van eksplisiete seksopvoeding nie en verwerp ten sterkste enige “one-size-fits all”-benadering van die departement.

Tussen April 2017 en Maart 2018 was daar tienerswangerskappe (2 716 tussen 10 en 14).

Hulle verwerp die voorgeskrewe lesplanne, voorgeskrewe onderwysergidse en handboeke. Saou verkies dat skole se bestuurspanne en onderwysers die keuse gegun moet word oor hoe die inhoud aangebied word en dring aan op meer as een handboek om van te kies. Navorsing het egter bevind meer as ’n derde van Suid-Afrikaanse kinders (35,4%) ervaar seksuele geweld voor hulle 17 is.

Juis hierom voel die departement dis nodig om ouderdomsverwante onderrig te bied oor die voorkoming van kindermishandeling – veral by dié wat baie keer nie eens weet hulle word mishandel nie. Volgens die departement eksperimenteer kinders al hoe vroeër met riskante seksuele gedrag wat kan lei tot mental issues soos depressie en vatbaarheid vir geweld.

“Teen 13 begin die meeste kinders emosionele en fisiese veranderinge ervaar. Dis ook ’n feit dat die meeste ouers nie met hul kinders hieroor gesels nie, wat kan lei tot eksperimentering en riskante seksuele gedrag.” Verder bly tienerswangerskappe onaanvaarbaar hoog en slegs een derde van meisies bly in die skool tydens ’n swangerskap en keer terug ná die geboorte.

Tussen April 2017 en Maart 2018 was daar 117 010 tienerswangerskappe (2 716 was tussen die ouderdomme 10 en 14). Gegewe al die voorvalle van seksuele wangedrag deur onderwysers en syfers oor tienerswangerskappe, is dit duidelik dat iets aan die saak gedoen moet word, maar dis ’n ope vraag of die onderwysdepartement se benadering vrugte gaan afwerp.

Met die Babelse verwarring wat heers oor seksopvoeding in Suid-Afrikaanse skole is dit onmoontlik om te sê wie het die kat aan die stert beet, maar een ding is seker dis beslis ons kinders wat aan die kortste ent gaan trek as iets nie vinnig gedoen word nie.

* Foto’s: Huisgenoot, Gallo Images/Getty Images en Verskaf

* Bykomende bronne: News24; https://bit.ly/2E3fHRB; https://bit.ly/35bc87z

Meer oor:  Grooming  |  Bishops-Seksskandaal  |  Kuier  |  Willem Breytenbach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.