Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Haar alles vir armes
09 Januarie 2019

Op 31 het Mandy Stevens (36) ’n suksesvolle werk in die korporatiewe wêreld gelos om weer te gaan studeer, maar hierdie keer onderwys. Dit het nie vir Mandy saak gemaak dat sy nie ’n groot salaris sou verdien nie, sy wou net ’n verskil in kinders se lewens maak. En ’n verskil maak sy beslis, want Mandy vat haar roeping baie verder as net les gee...

Mandy van Parow in die noordelike voorstede van Kaapstad, het met haar man, Peter (39), se ondersteuning in 2011 besluit om haar passie te volg en onderwys te gaan swot. Sy wou iets doen wat haar motiveer om met vuur uit die bed uit op te staan, want haar voormalige werk in die bankwese het dit eenvoudig net nie meer gedoen nie.

Mandy sê sy het geweet dit sal nie maklik vir haar of haar gesin wees nie, maar sy het net aan haar hart gevoel dat geld nie ’n motivering moet wees nie. Sy moes haar hart volg.

Maar nooit in haar wildste drome het hierdie ma van twee gedink haar eerste pos as onderwyser sou in Manenberg op die Kaapse Vlakte wees nie. Mandy sê al wat sy van Manenberg geweet het, is die stories wat sy op die nuus gehoor het. Stories van geweld, bende, koeëls wat daagliks rondvlieg en mense wat selfs in hul huis moet wegkruip of platlê wanneer die skietery buite begin.

Sy erken met ’n skaam glimlag toe sy drie jaar gelede ná haar studies op soek was na werk, was sy bang om vir die onderhoud te gaan toe die skoolhoof van Talfalah Primêr in Manenberg haar bel.

“Ek het nie geweet wat om te verwag nie en my man was natuurlik glad nie gemaklik met die idee dat ek elke dag Manenberg toe moes ry nie. As jy nooit in ’n omgewing kom nie, vorm jy ongelukkig maar jou opinies met dit wat jy van daardie omgewing hoor. En dit wat ’n mens van Manenberg hoor, is gewoonlik die slegte stories en bitter min van die suksesstories,” sê sy.

“Maar die hoof het my oortuig om die onderhoud te doen en minstens te kyk hoe dit by die skool is.” Mandy sê hoewel sy nie seker was nie, het sy geweet dit is belangrik dat sy weer ’n inkomste begin verdien om haar gesin te ondersteun, want tydens haar studies het haar man alleen gewerk. Dit was finansieel ’n groot opoffering vir haar gesin, maar tog het sy geweet die Here sal voorsien.

HOOFFOTO: Mandy Stevens help die behoeftige leerders in haar skool.

Nie ’n gewone onnie

Toe Mandy daardie dag van Talfalah Primêr af wegstap, het sy besluit om die werk te aanvaar indien sy dit sou kry. Vir Mandy was die skool soos enige ander skool en dat die kinders net iemand nodig het om hul potensiaal te ontwikkel. En sy wou graag deel wees daarvan.

Maar Mandy het nie net ’n gewone onderwyser geword nie. Sy is ’n onderwyser met ’n groot hart en iemand wat al op haar eie en met die hulp van haar kollegas ’n verskil in talle kinders se lewens gemaak het. Mandy meen as jy net skool toe wil gaan om die kinders te leer en dan huis toe gaan, is dit dalk nie die beroep vir jou nie. Want al verwag ’n mens dat ’n onderwyser se werk slegs is om jou kind te leer, werk dit ongelukkig nie so by alle skole nie.

Mandy sê sy onthou haar eerste week by die skool as of dit gister was. Sy het onmiddellik besef die leerders het meer as onderrig het. Persoonlike higiëne onder leerders was ’n probleem en sy wou op haar eie manier help. En al dink ’n mens ’n waslap of tandepasta is iets klein en iets wat in elke huis behoort te wees, is die realiteit dat nie almal by die skool dit kan bekostig nie.

“Ek kon vinnig agterkom dat baie van die kinders nie gewas word nie en dat hulle soms nie eens die basiese goed het wat ’n mens dikwels as vanselfsprekend aanvaar nie. Van die kinders het nie tandeborsels by die huis nie, hulle kry net een maaltyd ’n dag en hul skoolskoene het groot gate in. Dit is dinge wat niks met die skool te doen het nie, maar tog het dit ’n groot impak op hul skoolwerk. Wanneer ’n kind honger of sonder skoene rondloop, het dit ’n uitwerking op hul konsentrasie en hul selfvertroue en dit kan dan maklik in hul werk deurkom.”

Mandy het besluit selfs as sy net een kind ’n jaar kan help om hul beste te kan doen, gaan sy dit doen. Sy glo wanneer ’n kind goed voel en lyk, sal hulle met minder kwade gevoelens rondloop en meer trots het. Dit help hulle om in die klas hul beste te wil gee en help dan ook om hul punte en kanse om goed te doen, te verbeter.

projekte

Met haar heel eerste projek, het Mandy saam met haar vriende en familie skoolskoene ingesamel. Hulle het altesaam 50 paar skoene ingesamel en dit was die eerste van drie skoenprojekte. Haar volgende projek was vir sanitêre produkte wat sy saam met haar kollegas aangepak het. Hulle het ook hul vriende en familie gevra om hand by te sit en saam kon hulle vir elke meisie in graad 5, 6 en 7 ’n pakkie maak. Mandy sê dit is nie altyd baie nie, maar dit is iets om die kind te help. En veral met projekte soos die sanitêre projek, probeer hulle om vir die meisies ook te leer oor hul liggaam en die veranderinge waardeur dit gaan wanneer hulle maandstonde begin kry.

“Nie almal kry ondersteuning by die huis nie, so as ons nie vir hulle daarvan leer en vir hulle verduidelik hoekom dit gebeur en hoe jy na jou self moet kyk nie, sal baie van hulle nie weet nie. Dit is klein dinge wat ’n groot verskil in daardie kind se lewe en toekoms kan maak. Veral as ons dinge soos tienerswangerskap ook kan verhoed,” meen Mandy.

Mandy het in Desember verlede jaar met die hulp van haar kollegas ’n Santa shoebox-projek gedoen. Hulle het vir die behoeftigste kinders in die skool ’n pakkie vir Kersfees en die skoolvakansie gegee. Elke pakkie het ’n waslap, tandepasta, -borsel, iets lekkers, ’n speelding en iets waarmee hulle die skooljaar mee kon begin, bevat. Hoewel sy graag vir elke kind ’n boks wou gee, kon sy net vir 500 kinders gee. Dit beteken dat minstens helfte van die skool ’n boksie gekry het.

Maar vir die projekte soek sy nie dank of erkenning nie. Sy sê wanneer sy sien hoe daardie kind oor ’n jaar verander, is dit die enigste dank wat sy nodig het.

“My ouers het vir ons geleer om altyd vir ander te gee en dit is iets wat nog altyd by my gebly het. My ma kom van ’n klein dorpie naby Oudtshoorn en ons het elke jaar saam met my ouers en familie pakkies vir daardie mense gepak.

“Ons doen dit steeds en nou leer ek my kinders ook, want dit laat hulle besef hoe gelukkig hulle is en ek hoop dat hulle ook eendag ’n verskil in ander se lewens sal maak.” Mandy is ’n bewys ouderdom hoef jou nie af te skrik om ’n loopbaanskuif te maak nie en sy leer ons om uit te kyk vir die behoefte om ons en te help waar ons kan.

Meer oor:  Kuier  |  Skoolprojekte  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.