Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Haar ma se prinses
warelewensdrama,waterhoofdigheid

Vir jare lank het sy gedroom van ’n dogtertjie van haar eie. Maar toe Rozanne Arendze (30) van Delft op die Kaapse Vlakte, tuisblyma van drie woelwaterseuns (12, 6 en 3 jaar oud), se gebede uiteindelik waar word, was dit nie die sprokie waarna sy uitgesien het nie.

Trouens, menige ma sou al teen dié tyd geknak gewees het deur alles wat sedert haar dogter, Lemicah, se geboorte gebeur het. Rozanne voel nie regtig gemaklik daaroor om met die media te praat oor haar dogter nie. Maar omdat haar ma ’n groot Kuier-leser is, het sy ingestem.

“Sy is my prinses. Ek is onvoorwaardelik lief vir haar, al van die begin af. Ek sal enigiets doen om haar te beskerm,” sê Rozanne sommer uit die staanspoor oor Lemicah, wat onlangs ses maande oud geword het.

Lemicah is letterlik een uit ’n duisend. Sy is kort ná geboorte gediagnoseer met waterhoofdigheid of Hydrocephalus, ’n toestand waar vloeistof opbou in die ventrikels diep binne-in die brein. Hierdie oormaatvloeistof vergroot die ventrikels en plaas druk op die brein. Dit kan ook lei tot skade aan die breinweefsel en kan intellektuele, ontwikkelings- en fisiese gebreke en gestremdheid veroorsaak. Die oorsaak van hierdie toestand is meestal onbekend en langtermynkomplikasies is moeilik om te voorspel.

Voordat Lemicah in Mei vanjaar op amper vyf maande ’n ventrikuloperitonale (VP) shunt gekry het om die vloeistowwe uit haar brein te dreineer, was haar kop-omtrek ongeveer 96 cm, waar dit eintlik onder normale omstandighede rondom 42 cm moes wees. Ongeveer 1,5 uit ’n duisend babas word só gebore. Haar kop is nou ongeveer 83 cm.

Tog was Rozanne nog nooit skaam vir haar dogter nie. “Sy is my blessing. Ek gee nie om wat ander mense sê nie. Daar sal seker mense wees wat nasty goed sê oor haar voorkoms, maar dit pla my niks. Die dag wat ek die hospitaal met haar verlaat het, het ek geweet dis óns tyd hierdie en ek moet doen wat die beste is vir haar.”

alles nie pluis nie

Met Kuier se besoek aan Rozanne was Lemicah besig om tande te kry, maar selfs al is haar babadogter ’n bietjie knieserig en slaap maar min in dié huishouding, straal Rozanne onvoorwaardelike liefde uit vir haar unieke dogtertjie. “God het my met haar geseën, al is dit op ’n ander manier. Ek het tot twee dae ná haar geboorte nie geweet daar skort iets nie,” vertel sy ernstig.

Ná die stilgeboorte van haar vierde seun in 2017 toe sy reeds sewe maande swanger was, was dokters baie bekommerd oor haar hoë bloeddruk toe sy weer swanger word met Lemicah vroeg in 2018. Rozanne moes elke twee weke vir ’n check-up gaan omdat dit as ’n hoë risiko-swangerskap geag is. Sy was ook vir drie skanderings tydens haar swangerskap en mediese personeel het haar elke keer verseker alles is normaal.

Op 39 weke het dokters vir Rozanne geïnduseer om kraam aan te moedig. Sy het vir twee dae kraampyne ervaar voordat hulle besluit het om ’n noodkeiser te doen drieuur daardie oggend in Desember verlede jaar. “Ek het net diep binne in my gevoel iets is fout en het dokters gesmeek om gou te maak. Alles was nie pluis nie,” onthou sy.

Die hele storie het hartverskeurende herinneringe na vore gebring van die dood van haar seun en sy het nie geweet wat om te verwag nie. Mediese personeel het gesukkel om Rozanne se baba uit te haal, maar niemand het op daardie stadium nog geweet hoekom nie. Dis eers ná haar geboorte wat die chaos begin het.

Dis asof daardie oomblik ná Lemicah se geboorte nog vars in Rozanne se geheue is. Die baba het nie ’n geluid gemaak of gehuil soos onder normale omstandighede nie. Die mediese personeel was doodstil en daar was ’n onheilspellende gevoel in die teater. Rozanne se stiefma, wat by haar was tydens die geboorte, het ook nie ’n woord gesê nie en is later uit die vertrek gestuur. Rozanne het aanvaar dit was nóg ’n stilgeboorte, soos met haar vorige swangerskap en het haarself daarby berus. Ná die tyd het sy gehoor Lemicah het nie asemgehaal ná geboorte nie. Haar hart het ook gaan staan. Dokters het vir 20 minute gespook om haar weer aan die lewe te kry.

“Ná al daardie tyd het ek haar uiteindelik hoor huil. Dit was vir my so amazing. Net om te dink sy was weg en toe doen God ’n wonderwerk. Lemicah ís ’n wonderwerk,” glimlag sy.

Kort nadat sy die soete klanke van haar dogter se gehuil vir die eerste keer ervaar het, het dokters vir Rozanne morfien gegee vir haar pyn van die traumatiese geboorte, en eers twee dae later was sy weer ten volle by. Sy het tot op daardie stadium nog nie vir Lemicah gesien nie en niemand het nog ’n woord gerep oor haar toestand nie, behalwe om te sê dat sy siek was.

Reagan, Rozanne se kêrel en Lemicah se pa, het haar in die hospitaal besoek en sy het hom gevra om te gaan kyk hoe dit gaan met hul dogtertjie. “Hy het ook nie geweet nie. Ons was nie voorbereid vir haar toestand nie. Ons het nie geweet hoe sy lyk of wat fout is met haar nie. Toe hy terugkom nadat hy haar gesien het, het hy nie ’n woord gesê nie,” onthou sy. Dít was al aansporing wat sy nodig gehad het.

Rozanne het onmiddellik, met haar seer lyf en al, opgestaan en haar dogter gaan soek. “Die verpleegsters het gesê ek kan haar maar sien, maar hulle het steeds nie vir my gesê wat is fout met haar nie. Toe ek haar uiteindelik sien, was ek verbysterd. Ek was so geskok. Haar kop was 48 cm waar dit gewoonlik rondom 38 cm is. Sy het 4,2 kg geweeg. Ek het net gedink sy is siek. Niemand het vir my gesê wat om te verwag nie. Ek was doodstil. Ek het net daar gestaan en vir haar gekyk en gedink, ‘dankie Jesus dat U my geseën het met hierdie dogtertjie wat ek nog altyd wou gehad het. Sy ís my blessing,” glimlag sy met oë wat glinster. “Wat ook al oor my pad kom, ek moet vrede daarmee maak.”

Hoewel sy steeds daagliks met ’n mallemeule van emosies worstel, het Rozanne nog nooit gedink Lemicah was ’n fout nie. Eerder die teenoorgestelde.

Drie weke ná haar geboorte is Lemicah ontslaan sonder dat Rozanne enige terapie of opleiding ontvang het om haar te ver-sorg. Dit was sodat die gesin ’n band met die baba kon vorm. Dokters het nie gedink baie tyd met haar is vir hulle beskore nie.

“Ek het vir al die dokters gesê hulle moet met haar pa praat. Ek wou niks hoor nie. Ek wou net by haar sit. Ek dink hulle het vir hom gesê wat is fout met haar, maar dat hulle niks meer vir haar kon doen nie. Ek was baie ontsteld, maar hy (en sy beduie na haar kêrel) het vir my gesê dis nie in dokters se hande nie, maar in God s’n. Hý het die laaste sê.”

geen hoop nie

Volgens haar het dokters gesê hulle sien nie ’n rede om vir Lemicah ’n shunt te gee om die vloeistof te dreineer nie, dat sy nie lank gaan lewe nie en dat Rozanne daarmee moet vrede maak. Hoewel dit vir haar gevoel het die mediese personeel stel nie belang om te help nie, het Rozanne voet by stuk gehou en aanhou teruggaan hospitaal toe. Sy het aangedring op die VP-shunt-operasie totdat haar dogter dit uiteindelik in Mei vanjaar ontvang het.

Volgens Rozanne is die ventrikels wat vloeistowwe in haar brein moet dreineer, in Lemicah se kop geblokkeer. Dié shunt dreineer die oorskotvloeistowwe tot in haar maag en dan piepie sy dit uit. Teen daardie tyd was haar kop reeds dubbeld die grootte wat dit was met geboorte.

“Dit was so moeilik om haar vas te hou, enigiets met haar te doen of haar te versorg. Haar kop was so groot dit was ’n gesukkel om haar op te tel. Sy het ook bedsere in hierdie tyd ontwikkel. Ek was die enigste een wat met haar kon werk en dit was nie maklik nie,” erken sy.

Rozanne is ’n fyn vroutjie en Lemicah weeg op ses maande reeds 15 kg, waar ’n normale baba van haar ouderdom ongeveer 9 kg weeg. Dit is verbysterend om te dink dat daar ’n stadium was wat Rozanne amper nie haar arm om Lemicah se kop kon kry nie. Sy voel steeds soms skuldig dat haar dogter so baie van haar tyd opneem en dat haar seuns soms agter in die ry moet staan vir haar aandag. “Ek het deesdae nie eintlik tyd vir hulle nie. Sy vat al my aandag,” erken Rozanne.

Gelukkig is Reagan, ’n koerier, haar steunpilaar en tel op waar sy laat val. Saam maak hulle ’n gedugte span.

Sedert die operasie het Lemicah se kop-omtrek reeds met meer as 13 cm gekrimp en is dit gelukkig nou al ’n bietjie makliker om haar te hanteer. “Haar kop was in ’n stadium so swaar en dit het ’n bietjie maneuvering gevat. Ek moes eers haar kop optel met beide hande en haar dan reg teen my lyf posisioneer voordat ek haar klein lyfie kon opraap en teen my arm laat leun. Eers dán kon ek haar optel,” beduie sy. Dit was vir haar baie moeilik, veral omdat sy geen opleiding gehad het oor haar dogter se toestand nie. “Dit was ’n groot struggle, want ek was die enigste een wat haar eintlik kon hanteer en versorg. Ek weet net God het my die krag gegee om aan te gaan en op my eie te manage.”

Deesdae, al is Lemicah se kop steeds groot, is dit vir Rozanne baie makliker om haar te versorg, al is dit nog lank nie soos ’n normale baba s’n nie. “Die shunt het beslis ons lewens verander en ek is so dankbaar ek het daarop aangedring en dat dokters uiteindelik geluister het.”

Dit voel vir Rozanne of sy nog nie werklik antwoorde by haar dogter se dokters kon kry oor die volle omvang van Lemicah se gestremdheid nie. Al wat hulle vir haar gesê het, is dat sy dalk ’n bietjie “stadiger” gaan wees as ander kinders van haar ouderdom. Dit is moeilik om te bepaal hoe die vloeistof op haar brein haar groei en ontwikkeling sal beïnvloed.

haar wonderwerk

Lemicah is ’n normale baba wat beweeg en giggel en al dieselfde goed doen as wat ander babas van haar ouderdom. Sy is mal daaroor om drukkies en soentjies te kry en lag te lekker wanneer haar ouers of haar broertjies haar kielie. Maar as gevolg van die enorme druk wat die vloeistowwe op haar brein veroorsaak, het Lemicah “sunset eyes” wat beteken haar ogies kan nie heeltemal oopgaan nie. Daar was ’n stadium wat dit glad nie kon oop nie en hoewel dit nou beter is, is Rozanne steeds nie seker of Lemicah kan sien nie.

Sy hoop dokters sal met hul volgende besoek vir haar meer sal kan sê oor Lemicah se toestand, maar niks sal dié mammie se liefde en oorgawe vir haar dogter stuit nie. “Ek wou so graag altyd ’n dogtertjie van my eie gehad het. En dis amper asof die een wat ek gekry het, ekstra spesiaal is.”

“Elke keer wat ek na haar kyk, is ek net weer oorbluf met vreugde. Dis ses maande later en sy leef steeds! Sy ís ’n wonderwerk – my wonderwerkbaba,” sê Rozanne opgewonde. Haar drie broertjies is net so mal oor hul sussie en wil haar heeltyd optel en met haar speel, maar Rozanne is versigtig om dit toe te laat. “Nie nou nie, nie in haar toestand nie. Ons sal maar sien op die langtermyn. Maar sy is definitief die prinses van ons familie,” verduidelik sy.

’n Mens is ook nie seker hoe en wanneer sy seerkry en of sy ongemak ervaar nie omdat sy nog nie kan praat nie. In die vreemde, onsekere omstandighede doen Rozanne maar net haar bes.

Lemicah begin kerm waar sy nou in haar bed lê. Rozanne gee vir haar medisyne vir tandesny, gooi haar knus toe met ’n kombersie, streel haar kop en probeer alles wat sy kan om haar dogter rustig te maak. Maar dis eers wanneer sy haar optel en styf teen haar hart vasdruk, dat Lemicah kalmeer. “Dis al wat sy ooit wil hê – net haar mammie,” vertel Rozanne met ’n trotse glimlag.

Oor die toekoms, wil Rozanne nie bespiegel nie. Sy is tevrede daarmee om die beste van elke dag te maak wat sy met Lemicah het. Dié twee verwyl die dae deur te sing, te speel en stories te vertel. Rozanne weet nie wat vir hulle voorlê nie en is vasbeslote om haar dogter te geniet en te bederf soveel as wat sy kan.

“Ek kan nie daaraan dink nie. Dit is te oorweldigend, selfs ná ses maande. Wat ook al moet gebeur, moet gebeur. Ek lewe net dag tot dag. Ek wil net hê sy moet gemaklik en gelukkig wees, net soos ander kinders. Lemicah is my wêreld, sy is my prinses. Sy is my alles en ek sal enigiets vir haar doen,” sê sy terwyl sy haar dogter streel en saggies op haar kop soen. 

Die onbreekbare band tussen ma en dogter, die onvoorwaardelike liefde en Rozanne se onverskrokke geloof in God, sal dié gesin help om enigiets wat oor hul pad kom, te kan aanvaar en hanteer, maak nie saak wat nie.

Meer oor:  Kuier  |  Kaapse Vlakte  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.