Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tikverslawing: Help tog net!
1 Mei 2019
verslawing, tik, crystal meth


Metamfetamien, beter bekend as tik, is berug vir sy skadelike newe-effekte op sy gebruikers. Tik is hoogs verslawend en affekteer die sentrale senuweestelsel en hart. En nie net is die fisiese effekte ernstig nie, maar dié wat tik gebruik, is dikwels aggressief, gewelddadig en het hoërisiko seksuele gedrag wat tot MIV/vigs en seksueel-oordraagbare siektes kan lei en misdaad.

Die storie van Ellen Pakkies het in 2007 wêreldwyd opslae gemaak toe sy haar dwelmverslaafde seun, Abie, vermoor het. Ná jare van mishandeling het Ellen Abie doodverwurg. Mense van wyd en syd het die hofsaak gevolg en gewonder of sy vir haar seun se dood vervolg sou word. Sy is vrygespreek van alle klagte teen haar weens die trauma wat sy onder haar geharde dwelmverslaafde seun moes verduur.

Maar landwyd gaan gemeenskappe steeds gebuk onder die tik-euwel. Die roof van die seer was opnuut weer oopgekrap toe Sedick Abrahams (62) in 2018 aangekla is vir die moord op sy seun. Sedick, wat beskryf is as ’n sagmoedige en liefdevolle man, het sy seun Clinton (28) doodgesteek tydens ’n gestryery ná dié hom glo met ’n mes gedreig het. Sedick is ook in Maart vanjaar in die Mitchells Plain-landdroshof vrygespreek van enige klagte.

Nóg ’n ouer wat nie meer die mishandeling van haar tikverslaafde dogter kon verduur nie, is Veronica Dunn van Eldorado Park in Johannesburg. Veronica het in Desember 2018 haar 24-jarige dogter, Venolia, vermoor. (SEER & SPYT)

Dié voorvalle is voorbeelde van hoe desperaat tik-situasies kan raak.

verslawing, sigaret
Sedert 2014 is 'n intervensiedienste aan meer as 30 000 mense verskaf

Tawwe stryd

Maar hoe gemaak as jy breekpunt bereik het met jou tikverslaafde geliefde en nie meer weet watter kant toe nie? Kan die wet jou help? Elizabeth Kriel (43) van Kleinvlei in die Kaap sê sy weet nie meer wat om te doen met haar 18-jarige dogter nie. Dié het begin tik toe sy 15 was. “?’n Mens wil nie ander mense blameer nie omdat elke mens sy eie wil het en sy eie besluite kan neem, maar sy het deurmekaar geraak met die verkeerde groep vriende.”

Volgens Elizabeth het haar kind eers dagga gerook voor sy begin tik het.

“Ek het haar geslaan, gaan haal daar waar sy was, maar jy kan nie iemand help wat nie gehelp wil wees nie. Dit het ek op die harde manier geleer. Sy bly nie meer hier by die huis nie omdat ek haar uitgegooi het, maar elke dan en wan kom sy hier, maak moles en vat ons goed.” Met ’n swaar sug en trane wat vrylik vloei, vertel dié bedroefde ma haar kind het haar al telkemale gedreig en aangerand. “Dit is een van die swaarste dinge vir ’n ma. Ek sal dan liewer my kind aan die dood afstaan as om te sien hoe sy haarself vergooi aan dwelms en prostitusie.”

Elizabeth sê haar tikverslaafde dogter is ook verskriklik jaloers op haar twee sibbe.

“Sy het eendag haar sussie met ’n mes gedreig en haar selfoon gevat en gaan verkoop. Nou hoe maak jy as ma as jou ander kinders se lewens bedreig word? En dit nog boonop deur jou eie kind?”

Dié ma meen die ergste was toe haar kind haar op en af in die straat gejaag het met ’n mes nadat sy haar betrap het terwyl sy besig was om die koskaste leeg te steel.

“Ek het haar gevra waarheen gaan jy met my kos. Sy het geantwoord, ‘Hou jou bek jy. Ek maak jou vrek.’ Toe gryp ek die sakke en sy hol na die laai en gryp ’n mes. Ek het nog nooit so groot geskrik nie, my hart het in duisend stukkies gebreek, want ek kon sien hoe ek aan my einde gaan kom en dít aan die hand van my eie kind. Daar en dan het ek geweet ek het my kind verloor.”

Haar dogter kon haar gelukkig nie bykom met die mes nie omdat bure gekeer het. “Wat as sy my doodgesteek het? Wat van my ander kinders?” vra sy ontsteld.

Sy sê haar dogter dien tans drie maande tronkstraf uit vir diefstal by winkels. “Sy het my gebel vir borggeld. Ek kon nie eens my hart sterk maak om hof toe te gaan nie. As sy nie wil hoor nie, moet sy voel. Met haar in die tronk weet ek ten minste waar sy is.”

verslawing, dagga
Die gebruik van dwelms lei dikwels tot meer ernstige en geweldadige misdade.

Hulp vir jou kind

Cayla Murray, ’n woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap, sê die departement ondersteun ouers wat sukkel met dwelmverslaafde kinders.

“Die departement finansier onder meer gemeenskapsgebaseerde organisasies wat dienste aan skole lewer.” Sy sê die departement het in die 2018/19 finansiële jaar meer as R104 miljoen toegeken aan die voorkoming en rehabilitasie van dwelmmisbruik.

“Sedert 2014 het ons intervensiedienste aan meer as 30 000 mense en nasorg- en herintegrasiedienste aan byna 9 000 mense verskaf. Binnepasiënt-behandeling is aan meer as 5 000 dwelmverslaafdes verskaf en buitepasiënt-behandeling aan byna 10 000 mense. Ons het ook ’n netwerk van betaalde rehabilitasiebehandeling, van sewe in 2009 tot 51 op 76 verskeie plekke in die provinsie vir 2017.”

Volgens die Suid-Afrikaanse gemeen-skaps-epidemiologienetwerk vir dwelmgebruik (SACENDU), is van die 3 182 mense wat in 2018 by verskeie rehabilitasiesentrums behandel is, die meeste behandel vir dagga, alkohol en tik.

André Kirsten van André Kirsten Attorneys in die Kaap, sê geliefdes moet buite die boks dink wanneer hulle dié situasies benader. “Die verhouding tussen die verslaafde en klaer is belangrik. As dit ’n ma se kind is, kan die Wet op Gesinsgeweld beskerming bied.”

Die verhouding tussen die verslaafde en klaer is belangrik. As dit 'n ma se kind is, kan die Wet op Gesinsgeweld beskerming bied.
André Kirsten

Volgens André is dit ’n redelike vinnige proses. “Die klaer kan ’n interdik kry by hul landdroskantoor wat in werking tree sodra die SAPS dit bekragtig het. As die oortreder dan enigiets aan die klaer sê of doen, kan die klaer die polisie inlig. Hulle sal sonder om vrae te vra die oortreder toesluit. As die oortreder meer as een of twee keer die interdik oortree, kan hy/sy tot effektief drie jaar tronkstraf gevonnis word.”

Volgens hom kan familie as laaste opsie die verslaafde onder dwang by ’n rehabilitasiesentrum laat opneem onder die Substance Abuse Act.

“Die familie kan die senior aanklaer nader en sê dat die verslaafde byvoorbeeld al hul geld en huisraad steel en verkoop. Die beskuldigde word dan voor die hof gebring en die formele aansoekproses begin.” André sê die verslaafde word  deur verskeie deskundiges geassesseer om te kyk of daar wel ’n probleem is. “Die hof sal vasstel of die beskuldigde wel ’n probleem het, indien wel sal hy of sy onder dwang opgeneem word.”

André waarsku egter dat dié proses lank is en dat die aansoek ook betwis kan word. “Dis nie iets wat baie gedoen word nie omdat dit so lank neem om die beskuldigde te laat opneem. Die beskuldigde gaan ook elke keer saam met die familie huis toe voor die hof tot ’n beslissing kom.”

Kolonel André Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê dwelmmisbruik en dwelmverslawing word as misdaadopwekkers beskou. “Die gebruik van dwelms lei dikwels tot meer ernstige en gewelddadige misdade.”

Volgens Traut kan konfrontasie met ’n dwelmverslaafde lei tot geweld en/of mishandeling.

“Gewelddadige optrede moet aan die polisie rapporteer word sodat ’n ondersoek geloods word en die gepaste aksie of straf toegepas word.”

Meer oor:  Tik  |  Kuier  |  Raad  |  Metamfetamien  |  Dwelmverslawing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.