Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Helpende hand: Boer voed armes in lockdown
25 Junie 2020
Rossouw Cillié


Op die groenteplaas Laastedrif op Ceres het die naasbestaandes van Irene Cillié presies 50 stoele uitgepak vir haar roudiens in die tuin waarvoor sy so lief was. Die gemaskerde rouklaers neem een vir een hul stoele in en die laaste een wat gaan sit, is haar seun, Rossouw.

Rossouw (55) is die eienaar van dié plaas in die Witzenberg-distrik van die Wes-Kaap. Die trane blink op sy wange, want sy 93-jarige ma was soveel meer as die matriarg van die boerdery. Sy was ’n moederfiguur vir die wye gemeen-skap, ook vir die plaaswerkers. Dít is hoekom Rossouw vanoggend, terwyl hy besig was om die laaste reëlings in plek te sit vir sy ma se begrafnisdiens, nog tyd gemaak het om bykans 800 hulpbehoewende gesinne te voed as deel van ’n voedingsprojek saam met Agri SA.

“My ma was ’n buitengewone mens,” sê Rossouw, wat in 2013 as Landbouskrywers SA se boer van die jaar aangewys is. “Sy was die koningin van Laastedrif, die hoeksteen van die plaas. Ons gesinswaardesisteem kom van haar. Sy het omgegee en geglo dat dit meer salig is om te gee as om te ontvang.”

Groot hart

Terwyl die Cillié-familie aandagtig luister na die trooswoord van ds. Pierre Marais van die Ceres Moedergemeente, is vrywilligers 104 kilometer verder besig om Rossouw se groenteskenking te uit te deel. Daar is tonne blomkool, broccoli, botterskorsie, wortels, uie, beet, soetpatats en soveel meer. Die skenking word oor agt gemeenskappe in die Wes-Kaap versprei, onder wie mense van so ver as Prince Alfred Hamlet.

Sedert die corona-virus-inperking twee maande gelede ingeskop het, het die nood omtrent verdubbel, sê Terence Crowster, gemeenskapsleier van die Restorative Youth Development. ’n Steekproef wat sy organisasie gedoen het, het bevind dat 85% van die mense in Scottsville, Kraaifontein werkloos was lank voor die ekonomiese tragedie van Covid-19 kop uitgesteek het. Hy sê: “Dit is baie hartverskeurend om te sien hoe mense leef. Om te sien hoe hulle ly.

Maar dit is nog meer hartseer om te sien hoe hulle nie Covid-19 ernstig opneem nie. Baie mense dra nie eens maskers nie en handhaaf ook nie sosiale afstand nie. Ons huil letterlik daaroor; om hul hongerte en desperaatheid só te sien. Hulle wil regtig net buite wees. Hulle wil net hul normale lewens probeer leef. As hulle buite is, sou hulle ten minste vir kos kon skarrel of in ’n lyn vir kos kon staan.”

Oomblikke vroeër het die vrywilligers, wat al douvoordag by die Scottsville Sekondêre Skool in Kraaifontein byeen is, in ’n kring gestaan om die Cillié-familie in gebed op te dra. Biskop Robert Natal van die organisasie You, Me and Us het sy hande in die lug gehou en gebid: “Vader, ons bid U seëninge oor die familie van Laastedrif. Troos hulle asseblief terwyl hulle van hul moeder afskeid neem. Mag hulle voorspoedig wees. Hou hulle veilig. Vader, seën ook alle ander boere waar hulle vandag mag wees en help hulle om met die goeie dade aan te hou. En maak hul plase vrugbaar . . .”

Rossouw se oorle’ ma, Irene.

Die vrywilligers het nog nooit van Laastedrif of die Cillié-familie gehoor nie, maar hulle is self sigbaar aangedaan dat ’n familie in hul donkerste uur ’n liefdesdaad vir soveel mense kon doen. ’n Ouma wat ’n paar strate van die skool woon, het in trane uitgebars toe sy ’n boks vol vars groente ontvang. Haar familie het gisteraand niks gehad om te eet nie, en hulle was te skaam om vir hulp te vra. Eldoret Ferreira van Outside the Bowl Africa, ’n armoedeverligtingsprojek, sê sy dink nie Rossouw besef die impak van sy skenking nie. “Voor die Covid-19-pandemie was ons fokus op die voeding van kinders via ons vroeëkinderontwikkelingsprojekte.

Ons vervaardig en versprei ons eie pap by ons fabriek in Wellington. Maar nou, tydens die inperking, is die behoefte amper surrealisties. Dikwels is die leerders se enigste maal die pap wat op skool bedien word. Nou, met die toemaak van die skole, moet ons verder gaan om te help waar ons kan, en daarvoor het ons hulp nodig.”

Ook ds. Marais, wat ’n jarelange band met die uitgebreide Cillié-familie het, getuig van die oorledene en Rossouw se omgeehart. Hy sê: “Die laaste jare was nie sulke wonderlike jare vir tannie Irene nie, maar die Here, haar Herder God, het haar ook deur hierdie tyd gedra. En daardie baie mooi beeld in Jesaja van die herder wat die lammers optel en teen sy bors vasdruk, dit het nou gebeur toe Hy haar kom haal het.” Die Cillié-familie word in landboukringe as pioneers van vrugteboerdery in Suid-Afrika beskryf.

Die 55-jarige Rossouw het kort ná sy studies by die plaas ingeval, en hoewel hy baie mediasku is, spreek sy bydrae tot nasiebou vanself. Onder Rossouw se leiding is 60% van die eienaarskap van die Morceaux-plaas al aan plaaswerkers oorgedra om vir hulle ’n beter toekoms en uiteindelike aftrede te skep. Rossouw het ook al bykans 30 huise vir werkers gebou, terwyl hy hulle aktief help om hul besigheidsvaardighede te slyp.

Onder die begunstigdes tel Anna van Rooi, wat in 1987 as ’n algemene werker op die plaas ingeval het. Rossouw het haar potensiaal raakgesien en haar in so ’n mate opgelei dat sy vandag ’n maatskappydirekteur is. Hy wil tydens die familie se routydperk nie veel oor sy suksesse sê nie, maar het in ’n vorige onderhoud met Fin24 gesê: “Ons neem die fisiese welstand van ons mense baie ernstig op, en bied ook geestelike begeleiding en ondersteuning aan ons personeel. Ons het ook die mandjie produkte wat ons by Laastedrif verbou, verhoog met die doel om jaarlikse werk aan seisoenwerkers te bied. Ons doen wat ons kan om die sosiale belange van ons personeel te ondersteun.”

Rossouw kan wel nie uitgepraat raak oor sy ma nie. Hulle het ’n besonderse band gehad. “Vir baie mense was sy ’n ikoon, en hulle sou graag soos sy wou wees. Sy was ’n formidabele vrou en merkwaardig. ’n Ekspert. Min dinge het haar soveel plesier verskaf as om te sien hoe almal aan haar heerlike kos weglê. Omdat sy so mooi van binne was, het sy gesoek na die mooi in die lewe. Mense van alle ouderdomme het sy na haar aangetrek. Die buurt se kinders, skoolkinders, ou vriende, bejaardes en veral studente was haar spesialiteit . . .

Saam met haar eie kinders het hulle vriende ook kospakkies van haar huis af ontvang: ’n Moeder vir vele,” sê hy. Dié wenboer onthou haar ook as die brugbouer in familieverhoudings, en as ’n ouma wat selfs in haar later jare haar kleinkinders geesdriftig langs die sportveld aangepor het. “Sy was ons speler 23! Om ’n gelowige ma te kon hê wie se lewe die praatwerk gedoen het, het vir ons die standaard gestel. Ons maak Psalm 112 ons erekode. In ons harte en geheue sal ons haar altyd liefhê en onthou as een van God se kosbaarste besittings aan ons.”

Vrywilligers staan reg om Rossouw se skenking uit te deel aan behoeftiges.

Hulp vir armes

Intussen sê Christo van der Rheede, die adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, dat Rossouw en die groter Laastedrif-familie al jare lank hulpbehoewende gemeenskappe help. Enkele weke voor sy ma se sterfte het hy ook tonne groente geskenk om mense in Ravensmead, Uitsig, Cravenby, Bonteheuwel, Bishop Lavis en Parow te help. Monica Witbooi, ’n gemeenskapsleier, sê sy kan Rossouw se groot hart nooit vergeet nie.

“Ek het dit baie duidelik gemaak vir die mense in my omgewing. Ek het vir hulle gesê: ‘Luister, dit is nie die regering wat ons vandag help nie. Dit is die boere wat ons help in ons uur van nood.’ ”

Christo sê ook dat boere regoor die land sedert die inperking ingespring het om mense te help. “Die laaste ding wat ons nou nodig het, is sosiale onstabiliteit of mense wat die strate invaar om voedsel te eis, soos in Zimbabwe en in ander wêrelddele gebeur. Ons is gelukkig dat ons kommersiële boere die ekstra myl loop, nie net deur kos vir die mark te produseer nie, maar ook deur skenkings vir mense in nood.”

’n Nuwe verslag van die World Resources Institute sê dat soveel as 265 miljoen mense wêreldwyd aan voedselonsekerheid ly en dat hongersnood deur Covid-19 vererger word. Die Wêreldvoedselprogram waarsku ook teen hongersnood van “Bybelse proporsies”.

Foto’s: Landbouweekblad, Ivor Price en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Lockdown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.