Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Droomdebuut! Nou wink WB vir Herschel Jantjies
7 Augustus 2019
herschel jantjies,springbok


Groot opgewondenheid en tot ’n sekere mate groot onsekerheid heers in Suid-Afrika oor die Springbokke se kanse by die Rugbywêreldbeker wat volgende maand in Japan afskop. Die verkorte Rugbykampioenskap-toernooi en ’n toets op 17 Augustus teen Argentinië in Pretoria is die laaste kans vir spelers om die Springbok-afrigter Rassie Erasmus te beïndruk vir ’n plek in die wêreldbekergroep.

Die Bokke het die seisoen met ’n sege van 35 – 17 oor Australië in Johannesburg begin. Die 23-jarige Herschel Jantjies het sy debuut vir die Springbokke in dié toets gemaak en sodoende die 913de speler geword om die gesogte groen-en-goud-trui oor sy kop te trek.

Herschel het heel tuis gelyk op toetsvlak en twee drieë gaan druk. Met dié vertoning is hy ook as speler van die wedstryd aangewys. ’n Prestasie wat ’n jaar gelede slegs ’n droom was.

Skrumskakels

Verlede jaar dié tyd was hy die reserwe-skrumskakel vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-toernooi en aan die begin van 2019, was dit nie ’n uitgemaakte saak dat hy in die Stormers-groep vir die Superrugby-reeks sou wees nie. Die span van die Kaap het verskeie ander opsies vir die no.9-trui gehad, maar ’n besering aan die ervare Jano Vermaak en die jong Justin Phillips wat nie op vorm was nie, het die deur vir Herschel oopgemaak en hy het die geleentheid met albei hande aangegryp.

Hy het week ná week vir die Stormers uitgeblink. Na afloop van die Superrugby-reeks is Herschel saam met twee ander skrumskakels, Faf de Klerk en Cobus Rei-nach, vir die Springbok-oefengroep gekies. Dit is egter Herschel wat gekies is om in die eerste toets teen die Aussies op Ellispark die no.9-trui te dra. Ná sy puik vertoning in die wedstryd is daar nou ook sprake dat Rassie hom in die Rugbywêreldbekergroep vir die skouspel in Japan kan insluit.

Herschel, wat in die hart van die Boland op die klein dorpie Kylemore net buite Stellenbosch gebore is en aan die bekende rugbyskool Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het, was ná die wedstryd teen die Aussies nog sprakeloos oor sy vertoning. Hy het wel gesê hy sou dit nie sonder sy spanmaats kon doen nie.

“Op die oomblik wil ek net my rugby geniet. Dit was ’n lekker ervaring en ek hoop om nog baie toetse in die Springbok-trui te speel.”

Hy voeg by: “Senior spelers soos kaptein Siya Kolisi en Eben Etzebeth het my van die begin laat welkom voel, ek het ook die geleentheid gehad om ’n speler soos Vincent Koch (wat vir Saracens in Engeland speel) beter te leer ken.” Oor sy twee drieë in sy debuuttoets het ’n beskeie Herschel net gesê: “Ek was maar net op die regte plek op die regte tyd.” Hy het wel bevestig dat die tweede drie waar hy die Aussies se verdediging aan die slaap gevang en met breekslag om die steelkant van ’n skrum gehardloop het om agter die pale te gaan kuier, sy gunsteling-een was.

Ná die wedstryd teen Australië het Rassie ook Herschel se vertoning geloof. “Ek dink Herschel het gewys dat hy gemaklik is op hierdie vlak, ek dink die ervaring wat hy vanjaar op Superrugby-vlak opgedoen het goed was vir hom.”

In die Bokke se tweede wedstryd van die jaar, ‘n wegwedstryd teen die magtige All Blacks in Wellington, is Herschel deur Rassie beloon en op die bank gekies om teen die wêreldkampioen te speel.

Sy mense se trots

Sammy en Adeline Jantjies, trotse ouers van Herschel.

Sy ouers het die wedstryd op Ellispark bygewoon en oorgeborrel van trots oor hul seun se vertoning. Sy pa, Sammy Jantjies, erken hy het nooit gedink sy seun sal so gou vir die Springbokke speel nie.

“Vanjaar toe Herschel sy Superrugby-debuut teen die Sharks maak, was dit al klaar ’n groot prestasie vir ons, maar toe hy in die Bokgroep vir die Rugbykampioen-skap ingesluit is, kon ons dit nie glo nie!”

Herschel was as kind sportmal en het verskeie sportsoorte beoefen, maar is die eerste een in sy gesin wat op dié vlak presteer. “Ek het sokker gespeel en sy broer, Sammy-Joe, speel rugby vir die plaaslike klub hier op Kylemore,” sê Sammy.

Herschel se ma, Adeline, het haar eie persoonlike verhouding met hom en is die een wat altyd sal seker maak alles is reg en in plek vir sy rugbywedstryde. Hoewel sy nie die “rugbytaal” praat of goed verstaan nie, ondersteun sy haar seun 100% en straal sy behoorlik van blydskap oor sy prestasies.

Die feit dat Herschel nou die rugbywêreld aan die gons het, is ook geen verrassing vir van sy voormalige afrigters nie. Frans van Niekerk wat nou die pos van adjunkhoof by Paul Roos beklee, was destyds hoof van rugby toe Herschel in graad nege by die skool aangesluit het. Volgens hom het Herschel as ’n heelagter begin voordat hulle hom skrumskakel toe geskuif het. Hy het nie net in rugby op skool presteer nie, maar akademies ook baie goed gedoen.” Frans noem ook met trots dat Herschel die 54ste Springbokspeler is wat die skool opgelewer het.

Maar dit was tydens die 2017-seisoen wat Herschel ook in die Varsitybeker-skildtoernooi vir die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) uitgeblink het. Hier moet die span se afrigter, die voormalige Springbok-vleuel Chester Williams krediet kry. Chester het Herschel na UWK gelok nadat hy hom in ’n klubwedstryd op Pniel sien speel het.

“Baie mense het my van hom vertel en hy het my onmiddellik beïndruk. Ek was op soek na ’n skrumskakel wat vinnig die bal kan versprei en ook die opponente aan die raai hou. Dit is alles eienskappe waaroor Herschel beskik. Hy het tydens sy tyd by UWK byna in elke wedstryd uitgeblink en was ’n groot deel van die span se sukses toe ons so goed in die skild-afdeling gedoen het,” bevestig Chester.

Oor Herschel se briljante vertoning in sy eerste toets teen Australië, was Chester nie verras nie. “Ek het geweet wat in hom steek en ek is net bly hy het die geleentheid gekry om op toetsvlak te beïndruk. Ek dink die drie skrumskakels wat tans in die groep is, is net die regte balans, jy het die ervare Faf de Klerk, Cobus Reinach wat ook weer terug is en stabiliteit bring, dan het jy die jong Herschel Jantjies wat ek dink beslis ingesluit moet word om Rugbywêreldbeker toe te gaan. Die ervaring daar sal net goed wees vir hom,” voeg Chester by.

Dit was ook ná sy puik seisoen in 2017 vir UWK dat Herschel deur die Walliese rugbyspan Scarlets in die Pro14-reeks raakgesien is en in hul wedstryd ingesluit is om teen die Cheetahs in Bloemfontein te speel. Dít voordat hy sy debuut vir die WP in die Curriebeker gemaak het.

Vir sy pa is die Rugbywêreldbeker nie nou belangrik nie.

“As jy my ’n jaar terug gesê het Herschel sou vandag ’n Springbok wees, sou ek jou nie geglo het nie. My advies aan hom was nog altyd, fokus op die hier en nou – of dit Curriebeker, Superrugby of vir die Springbokke is – moenie te ver vooruit dink nie. As hy vir die Rugbywêreldbeker gekies word, sal dit ’n bonus wees, maar hy moet nou net dié fase van sy lewe geniet en ons sal hom bystaan wat ook al gebeur.” 

Meer oor:  Kuier  |  Sa Rugby  |  Springbok  |  Herschel Jantjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.