Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hildegardt se 'Bonita' laat haar ly
19 Februarie 2020


Bonita Meintjies is waarskynlik tans die mees gehate vrou op televisie. En as daar nou een karakter is waarsonder ’n goeie sepie nie kan doen nie, dan is dit ’n villain. In die gewilde sepie 7de Laan op SABC2 is dit nie ook anders nie.

Vir die afgelope 11 jaar sedert Bonita haar verskyning op die kassie gemaak het, laat sy amper met elke storielyn kykers se hare rys en hul bloed kook. Maar dit is wanneer jy met Hildegardt Whites (33), wat die rol van Bonita vertolk, sit en gesels dat jy besef wat die emosionele impak van só ’n uitmergelende storielyn op dié borrelende akteur en sanger het.

Nie net het haar onlangse storielyn haar opnuut laat besef hoe kosbaar die lewe is nie, maar dit het ook haar ergste nagmerrie weerspieël – die seer van ’n moederhart wanneer jy jou kind aan die dood moet afstaan en tot watter uiterste ’n ma sal gaan om haar kroos te beskerm.

Emosionele tol

Bonita is gebroke by haar kind, Daniel, se begrafnis in 7de Laan.

Die onlangse emosionele storielyn in die Laan het gesorg vir groot drama en klomp trane! Bonita moes haar seuntjie, Daniel, aan die dood afstaan en ook dié se pa, Xander (gespeel deur Theodore Jantjies).

Voor Daniel se afsterwe het Bonita se beste vriendin, Vanessa (gespeel deur Ingrid Paulus), ingestem om Bonita se surrogaat te wees. Dié kind was Daniel se enigste hoop op oorlewing. Hy het egter voor die geboorte van die nuwe baba gesterf. Kykers van wyd en syd het Bonita op sosiale media gekruisig. Dié fiktiewe storielyn het egter nie net op verknogte kykers ’n emosionele impak gehad nie, maar het ook op Hildegardt sy emosionele tol geëis en ’n versmorende vrees by haar laat ontstaan.

Hildegardt is self ook ’n ma en sê haar grootste vrees is om haar amper driejarige seuntjie, Miles, te verloor. “Toe ons besig was met die storielyn, het ek letterlik elke dag gehuil. Baie mense sê: ‘ja, dit is net ’n sepie en dit is nie die werklikheid nie’, maar daar is soveel ma’s en pa’s wat tog die pyn ervaar. Wat elke dag daarmee moet saamleef. Hulle staan kinders aan die dood af en moet dit verwerk en aangaan met hul lewens.

Soveel keer worstel ek met vrae soos: hoe gaan jy aan? Hoe verwerk jy die verlies van ’n kind? Hoeveel pyn kan ’n moederhart dan nou regtig hanteer? En op geen van die vrae het ek antwoorde nie . . . “

Sy haal diep asem en die trane sit vlak in haar oë. “Weet jy, ek kan nie my lewe indink sonder my seuntjie nie en die gedagte dat ek hom dalk kan verloor, laat my vreesbevange om eerlik te wees.” Soos haar karakter, Bonita, het Hildegardt en haar man, Kuba Silkiewics, ook al deur diep waters gegaan as ouers.

Hul seuntjie, Miles, is kort ná sy geboorte met ’n lek in sy hart gediagnoseer. Hildegardt haal eers ’n paar keer diep asem voor sy sê dat sy geleer het om God te vertrou in haar donkerste tye.

“Die Here sal nie iets op jou pad sit as jy nie die vermoë het om dit te hanteer nie. Ek het so hulpeloos gevoel omdat jy eintlik niks kan doen om jou kind te help nie, maar as jy jou vertroue in die Man van Bo sit, kan niks verkeerd gaan nie. If God is for you, who can be against you?” Op dié noot erken Hildegardt tog dat dinge nie altyd maklik is nie, veral omdat haar man baie uitstedig is en sy nie eintlik ’n ondersteuningstelsel in Johannesburg het nie.

Hildegardt werk dikwels 12 ure per dag en dan moet sy nog haar skoene as ma en vrou ook volstaan. En hoe hou sy al haar balle in die lug veral wanneer haar man uitstedig is? “Haal net asem en hou by ’n roetine! Dit is wat ek altyd doen. Wanneer ek saans by die huis kom, moet ek sy sakkie pak, wasgoed was, kosmaak en natuurlik die skottelgoed – ek kan nie saans aan die slaap raak as die skottelgoed nie gewas is nie!” lag Hildegardt lekker. “Dit is net hoe ek grootgemaak is. So tussendeur al die huishoudelike takies deur leer ek my lyne vir die volgende dag, want ek glo ek moet altyd goed voorbereid wees. En dan spandeer ek en Miles ’n bietjie tyd saam.”

Hildegardt kyk die lewe vierkantig in die oë en sy wil haar kind teen enigiets beskerm.

Verlange

Hoewel sy by nou al gemaklik haar balle in die lug kan hou, vertel sy met heimwee dat sy tog soms die huis mis, veral vir die nabyheid van haar familie. Vir ’n rukkie maak Hildegardt haar oë toe en sê sy kan amper die see ruik met die gedagte aan die huis en haar familie aan die Weskus. “Die eerste gedagte wat by my opkom, is kos,” sy lag voor sy met ’n breë glimlag vertel dat sy die Desember-vakansie by die huis spandeer het.

“As ek dink aan die huis ruik en proe ek kos. En net lekkerte, lag, geluk en vreugde. Dit is die tye wanneer ons almal in die kombuis om die tafel sit en gesels wat ek die meeste mis van die huis. Daai ondersteuning en om te sien hoe my seuntjie dit geniet. Hy hardloop letterlik op en af en skree van vreugde – dis die beste!” Hildegardt se stem raak sag wanneer sy oor haar seuntjie praat.

“Ek het so lank gewag vir my kind en nou is hy hier en ek kan nie my lewe indink sonder hom nie. Dit is hoekom wanneer ek dink aan mense wat sukkel om swanger te raak of hoor van mense wat hul kinders aan die dood moes afstaan, is dit asof my bors toe trek. Jy kan nie anders as om te dink dit kan ook met jou gebeur nie. As ek net dink daaraan is dit asof die wind uit my seile geneem word. My hart gaan uit aan ouers en voornemende ouers.”

Weet jy, ek kan nie my lewe indink sonder my seuntjie nie en die gedagte dat ek hom dalk kan verloor, laat my vreesbevange om eerlik te wees.

Sy vertel verder dis hoekom sy hoop die storielyn oor surrogaatskap waarin Bonita en Vanessa tans gewikkel is, sal kykers se oë oopmaak vir ’n hele nuwe wêreld. “Om eerlik te wees, was dit ook glad nie maklik vir my om destyds swanger te raak nie. Inteendeel, voor ek met my seuntjie swanger geword het, was daar die intense verlange om swanger te word, maar elke keer as ek my periods gekry het, moes ek vrede maak met die feit dat ek nie swanger is nie.” Dit is asof sy die gevoel van teleurstelling steeds kan ervaar, maar dan is daar skielik ’n sprankel in haar oog.

“God werk op Sy tyd en jy kan hom nie aanjaag volgens jou tydlyn en verwagtinge nie. Dit is een van die moeilikste dinge as vrou om te aanvaar, maar dit is deel van die lewe.” Volgens Hildegardt het sy ook altyd surrogaatskap as ’n opsie beskou. “Ek het baie gesprekke rondom dit gehad. Dit was nog altyd my siening dat as dit die enigste opsie is wat ek tot my beskikking sou hê om my eie bondeltjie vas te hou, is dit beslis iets wat ek sal oorweeg. As ’n mens op daai punt kom, oorweeg jy alle opsies.” En kan ons nog ’n pienkvoet van Hildegardt en haar man verwag in die toekoms? Dit is ’n laggende Hildegardt wat sê sy het in spanning gewag vir dié vraag.

“Al wat ek daaroor kan en wil sê: dit is op die tafel! Om ’n kind te hê, is soos jou hartklop buite jou liggaam en my grootste vreugde en vrede in die lewe is ma-wees. Daar is niks wat die gevoel beat nie!” Hildegardt sê lesers en kykers kan uitsien na nog vele drama vir haar karakter, Bonita, en ook vir haarself. “Ek is gelukkig en lewe voluit. Ek gaan nie veel verklap nie, maar ek moet tog sê dat die planke my roep – ek lus vir ’n bietjie teater! En daar is baie wat dié jaar in die pyplyn is – so kyk uit, want ek gaan ytstiek! Dis immers ook 7de laan se 20ste verjaardag.”

Sy wil vroue bemoedig wat ’n kind aan die dood afgestaan het of sukkel met swangerskap. “Vra die Here vir krag en Hy sal dit vir jou gee. Lê jou pyn en stryd voor Sy voete neer. Niks is onmoontlik in Sy naam nie!” Met dié bemoedigende woorde herinner Hildegardt ’n mens geliefd weer dat in tye van nood jy na die Man van Bo moet kyk vir genade.

* Foto’s: Pieter du Toit en verskaf

* Grimering en stilering: Suna Robberts

* Klere en skoene: MRP en Forever New

Meer oor:  Kuier  |  Hildegardt Whites  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.