Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hoofkos: Kook bekende pa’s se gunstelinge
11 junie 2020

HemelBesem

Simon Witbooi, die kletsrymer bekend as HemelBesem, is die trotse pa van drie dogters.

Kos wat hy graag op sy Vadersdagbord wil sien, is lamskerrie, peri-peri beef ribs en goeie rooiwyn.

’n Ander gunsteling is “kerrie-afval soos gemaak deur ’n Namakwalander”. 


Lamskerrie

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • ¼ koppie koekmeel
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 teelepel droë gemengde kruie
  • 1 kg lamstowevleis
  • 3 eetlepels olie
  • 3 uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 lourierblaar (bay leaf), verkrummel
  • ½ teelepel fyn kaneel
  • 1 teelepel fyngemaalde koljandersaad
  • 1 teelepel fyngemaalde komyn (cumin)
  • 4 teelepels matige kerriepoeier
  • 1 teelepel borrie
  • 5 middelslagtamaties, geskil en fyngekap
  • 3 eetlepels chutney
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • 1 teelepel suiker
  • 3 eetlepels droë klapper

METODE

Geur die koekmeel met sout, peper en die gemengde kruie. Giet op ’n plat bord. Rol die stukkies lamsvleis daarin sodat dit oral bedek is. Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol en verbruin die vleis in sarsies.

Skep die vleis uit met ’n gaatjieslepel op ’n bord en hou eenkant terwyl jy die volgende sarsie braai. Braai die uie in dieselfde olie tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel by en braai ’n minuut of twee saam.

Sit die vleis weer terug in die pot en voeg die lourierblaar, kaneel, koljander, komyn, kerriepoeier en borrie by. Braai vir ’n paar minute saam voordat jy die res van die bestanddele, behalwe die klapper, byvoeg.

Meng deeglik, bedek die pot en sit in ’n voorverhitte oond van 150 °C vir ongeveer 1½ uur. Maak die pot oop en roer die klapper by. Bak vir nog 15 minute. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig. Bedien met rys, chutney en ’n lekker tamatie-en-uie-sambal.

Soetpatats

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 5 middelslagpatats, geskil en in groterige skywe gesny
  • ½ koppie suiker
  • ½ teelepel sout
  • 2 eetlepels suurlemoensap
  • ’n Paar repies nartjie- of suurlemoenskil
  • 1 koppie water

METODE

Verhit die botter en suiker saam in ’n swaarboomkastrol en karamelliseer dit.

Voeg die patats by en draai om sodat elke skyf alkant met die stroop bedek is. Geur met die sout en suurlemoensap en voeg die nartjie- of suurlemoenskil by.

Giet die water by en sit die deksel op. Laat die patats stadig van onder af bruin word.

Draai om met ’n plat skepding sodat die ander kant ook bruin kan word. Skep die patats in ’n mooi opdienbak op en giet die stropie, wat onderin die kastrol gevorm het, bo-oor. Bedien dit as bykos.


Smoorsnoek

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 3 uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 3 cm-knoets gemmer, gerasper
  • 1 teelepel suiker
  • ½ medium kopkool, gesnipper
  • 1 van elk rooi, groen en geel soetrissie, in repe gesny
  • 4 aartappels, klein gesny
  • ¼ koppie water
  • Sout en witpeper na smaak
  • 1 kg gaar vars snoek, gevlok

METODE

Verhit die olie en braai die uie tot sag. Voeg die knoffel, rissie, gemmer en suiker by en braai ’n paar minute.

Roer die kool, soetrissie, aartappels en water by. Geur met sout en peper.

Bedek die pot en laat prut totdat die groente sag is. Roer die snoek by en maak deurwarm.

WENK

Gebruik vars of gerookte snoek. Ek het vars snoek gebruik. Besprinkel die vis met olie, sout en peper. Bak dit by 200 °C vir 20 minute. Verwyder die vel en die grate en vlok die vis. Jy kan dit ook stoom.


/

Theodore Jantjies

Dié voormalige 7de Laan-akteur het twee jaar gelede vir die eerste keer pa geword.

Wanneer dit by kos kom vir Vadersdag, is hy mal oor ’n verskeidenheid, van seekospotjie met garlic-brood, tot gebakte aartappels, geelrys, soetwortels en gebakte groente.


Seekospotjie

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 2 eetlepels botter
  • 1 eetlepel olie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, naatjies en pitjies verwyder en fyngekap
  • 1 groen soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repe gesny
  • 1 groot tamatie, geskil en in stukkies gekap
  • ’n Handvol vars pietersielie, gekap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 eetlepels koekmeel
  • ½ koppie hoenderaftreksel
  • 400 g stokvismootjies
  • 400 g skelvismootjies (haddock)
  • 800 g bevrore seekosmengsel
  • ¼ – ½ koppie room

METODE

Verhit die botter en olie in ’n swaarboompot. Braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffeltoontjies en brandrissie by en braai vir ’n minuut of twee saam.

Voeg die soetrissie en tamatie by en braai totdat die soetrissie begin sag word. Voeg die pietersielie by en geur met sout en peper na smaak. Roer die koekmeel by. Voeg die hoenderaftreksel by en meng goed met die inhoud van die pot.

Sit die stokvis- en skelvismootjies in die pot. Laat prut vir ongeveer 3 – 5 minute. Spoel die seekosmengsel goed onder ’n lopende kraan af totdat jy van al die ysstukkies tussenin ontslae is.

Dreineer goed en voeg by die mengsel in die pot. Maak deurwarm – teen daardie tyd behoort alles lekker gaar, maar nie doodgekook te wees nie. Roer die room by en sit voor saam met ’n lekker rys en knoffelbrood.

As jy so ’n bietjie meer moeite wil doen, kan jy die knoffel-en-kaasbroodjie bak.

Oondgeroosterde groente

Genoeg vir 6 – 8

BESTANDDELE

  • 1 groot of 3 kleiner patats, geskil en in skywe gesny
  • 1 butternut, geskil, pitte verwyder en in skywe gesny
  • 3 middelslagrooi-uie, geskil en in skywe gesny
  • 1 van elk rooi, groen en geel soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in skywe gesny
  • 3 – 5 murgpampoentjies, gehalveer en weer in die lengte af gehalveer
  • 3 knoffeltoontjies, geskil en in skyfies gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 4 eetlepels olie
  • 2 eetlepels balsemieke asyn
  • 3 roosmaryntakkies

METODE

Pak die voorbereide groente in ’n oondroosterpan. Geur met sout en peper. Meng die olie en balsemieke asyn en giet bo-oor. Gebruik jou hande om die groente en geurmiddels goed te meng.

Rangskik die roosmaryntakkies bo-op. Sit die pan in ’n voorverhitte oond van 220 °C en rooster vir 35 – 40 minute. Roer die groente elke tien minute sodat alles gelyk gaar word.

WENK

Jy kan enige groente van jou keuse gebruik, solank die gaarmaaktye van elkeen min of meer dieselfde is. Jy kan ook gewone uie in die plek van rooi-uie gebruik. En jy kan ’n mengsel van tiemie- en roosmaryntakkies gebruik.

/

Knoffel-en-kaasbrood

Maak 1 standaard-grootte brood

BESTANDDELE

  • 4 eetlepels vars pietersielie (of 2 eetlepels droë), gekap
  • 2 eetlepels olie
  • 2¼ koppies koekmeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • ½ teelepel koeksoda
  • 1 teelepel sout
  • 1¼ koppies karringmelk
  • 2 eiers
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 150 g cheddar-kaas, in 10 – 12 skywe van ongeveer 2 mm dik gesny

METODE

Meng die pietersielie en olie in ’n klein bakkie en hou eenkant. Sif die droë bestanddele saam in ’n groterige bak. Meng die karringmelk, eiers en knoffel saam in ’n kleiner bakkie.

Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en giet die karringmelkmengsel daarin. Meng goed. Skep ’n derde van die deegmengsel in ’n gesmeerde broodpan en versprei eweredig.

Skep die helfte van die pietersieliemengsel bo-op en gebruik ’n mes om dit in die deeg in te marmer. Jy kan ook die deeg omdraai om dit goed te meng. Vat die helfte van die kaassnye en druk dit entjies van mekaar af in die deeg in.

Skep die res van die deeg bo-op. Skep die oorblywende pietersieliemengsel bo-op en marmer dit in die deeg. Druk die res van die kaassnytjies in die deeg, sodat ’n paar van die kaas se boonste puntjies effens bo die deeg uitsteek.

Bak die brood vir 45 – 50 minute in ’n voorverhitte oond van 180 °C. As jy bang is die brood bak te bruin van bo af, kan jy ’n stukkie foelie losweg bo-op die brood sit ná 30 minute. Keer die brood uit op ’n draadrakkie en laat afkoel.

WENK

Jy kan die kaas rasper en by die deeg roer net voordat jy dit in die broodpan skep. Jy kan Amasi in die plek van die karringmelk gebruik of jy kan gewone melk met ’n eetlepel asyn of suurlemoensap suur maak.


Skaapnekpotjie

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 3 middelslag-uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjie, fyngekap
  • 1 kg lamsnek
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 g sampioene, in skyfies gesny
  • 3 groot wortels, geskraap en in ringe gesny
  • 6 middelslag-aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • 300 ml vleisaftreksel
  • 3 eetlepels vars tiemieblaartjies
  • 3 lourierblare (bay leaves)

METODE

Verhit die olie in ’n swaarboompot en braai die uie, knoffel en lamsnek daarin oor matige hitte totdat die vleis effens verbruin en die uie sag word. Geur met sout en peper.

Voeg die sampioene, wortels en aartappels by, meng goed en braai vir ’n paar minute saam. Voeg die aftreksel, tiemie en lourierblare by. Bedek die pot, verlaag die hitte en laat stadig prut vir ongeveer 1½ tot 2 ure of totdat die vleis sag is en van die bene afval.

Bedien saam met lekker wit rys.


Hoenderbredie

Genoeg vir 6

BESTANDDELE 

  • ½ koppie koekmeel
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 teelepel droë pietersielie
  • 10 hoenderstukke
  • 5 eetlepels botter
  • 13 – 15 piekel-grootte uitjies, geskil maar heel gehou
  • 3 selderystingels, in stukkies gekap
  • 3 groot wortels, geskraap en in ringe gesny
  • 1 koppie bevrore ertjies
  • 2 koppies hoenderaftreksel
  • 1 lourierblaar (bay leaf)
  • Skil van 1 suurlemoen, gerasper
  • Vars pietersielie, gekap
  • Suurlemoenskyfies vir versiering

METODE

Meng die koekmeel, sout, peper en droë pietersielie. Giet op ’n plat bord. Rol die hoenderstukke daarin sodat dit alkant met die gegeurde meel bedek is. Hou die meel wat oorbly eenkant. Verhit die botter in ’n pan en braai die hoenderstukke in sarsies. Haal die hoender uit en pak in ’n oondvaste bak, wat met ’n deksel kan toemaak. 

Braai die uitjies, die seldery en wortelskyfies saam in dieselfde pan waarin jy die hoender gebraai het. Braai totdat die uitjies sag en deurskynend is en die groente begin sag word. Roer die ertjies by en braai nog vir ’n paar minute saam. Skep bo-op die hoender in die oondskottel. Roer die oorblywende gegeurde meel in die botterpan en voeg die aftreksel geleidelik by.

Bring tot kookpunt terwyl jy heeltyd roer totdat die sous begin dik raak. Giet die sous bo-oor die hoender en groente in die oondbak en voeg die lourierblaar en suurlemoenskil by. Geur met sout en peper. Bedek die bak en sit in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir ongeveer 1 uur of totdat die hoender sag en gaar is. Sprinkel pietersielie oor en versier met die suurlemoenskyfies net voor opdiening.

WENK: 

Die maklikste manier om piekeluitjies te skil, is om die uitjies in ’n bak met kookwater te bedek en die skilletjies met die hand af te trek sodra dit hanteerbaar afgekoel het. As jy nie klein uitjies in die hande kan kry nie, kan jy gewone uie skil en in kwarte sny.



/

Dr. Danny Titus

Dr. Danny Titus, die uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, hou van tradisionele hartskos.

Sy gunsteling-ding op Vadersdag is wanneer sy twee dogters hom wakker maak met ’n lekker ontbyt.

"Dis belangrik om die suiker en eiers goed saam te klits. Dit gee ’n bietjie lyf aan die poeding en help om die suiker op te los." 

* Foto’s: Dale Fourie, Peet Mocke en https://bit.ly/36qTQ3X

* Stilering: Dale Fourie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Vadersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.