Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hoofkos: Maak allerhande heerlike potjiekos
25 Junie 2020

Beesskenkelpotjie

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 1 kg beesskenkel
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • 1 koppie rooi wyn (of ekstra aftreksel)
  • 12 klein uie (piekelgrootte)
  • 12 klein babawortels, geskil
  • 12 klein dwergaartappels
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 teelepel wondersout (sien wenk)

METODE

Verhit die olie in die pot en verbruin die vleis daarin. Voeg die aftreksel en wyn by en pak die uie, geelwortels en aartappels laag vir laag bo-op. Geur met sout en peper na smaak en voeg die wondersout by.

Bedek die pot met sy deksel en laat stadig prut vir 1½ tot 2 uur of totdat die vleis van die bene af val en die groente sag en gaar is.

WENK:

Om jou eie wondersout te maak, maal die volgende fyn: 1 teelepel growwesout, 7 eetlepels swartpeperkorrels, 2 eetlepels fyn naeltjies, 2 eetlepels fyn neutmuskaat, 2 eetlepels fyn kaneel, 3½ eetlepels droë basiliekruid, 3 eetlepels fyn foelie (mace) of wonderpeper (allspice), 3 eetlepels koljander en 3 lourierblare (bay leaves).

Jy kan ’n speserymeultjie gebruik of dit in jou voedselverwerker maal totdat dit die tekstuur van fyn sout het. Bêre dit in ’n skroeffles en gebruik ’n teelepeltjie op ’n slag om enige gereg op te kikker. Dit hou tot ses maande lank.


/

Varkvleis-en-groente-potjie

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 250 g spekvleis, swoerd verwyder en in stukkies gesny
  • Sout en varsgemaalde peper na smaak
  • 1 kg varkskenkels, in stukke gesny
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 1 knoffeltoontjie, gekap
  • 115 g tamatiepasta
  • ½ koppie hoenderaftreksel
  • 3 selderystingels, gesny
  • 3 preie (leeks), skoongemaak en die wit dele in skywe gesny
  • 2 koppies kopkool, gekerf
  • 250 g bruin-sampioene, in skywe gesny
  • 250 g portobello-sampioene, in skywe gesny
  • 1 teelepel droë salie (sage)
  • 1 teelepel droë gemengde kruie

METODE

Verhit die olie in die pot. Braai die spekvleis en geur met sout en peper. Voeg die skenkels by, braai en geur met sout en peper. Voeg die ui, rissie en knoffel by en braai vir ’n minuut of twee saam.

Meng die tamatiepasta en aftreksel en giet oor die vleis. Sit die deksel op en laat stadig prut vir 30 minute. Skep die groente in lae bo-op – seldery, preie, kopkool en dan die sampioene. Geur met die salie en gemengde kruie en nog sout en peper.

Bedek die pot en laat vir ’n uur stadig prut of totdat die vleis murgsag en die groente gaar is.

WENK:

Vervang die spekvleis met gewone ontbytspek.


/

Jogurt-hoenderpotjie

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Marinade

  • 1 koppie gewone, ongegeurde jogurt
  • 1 koppie appelbier (cider) of Appletiser
  • 2 teelepels droë tiemie
  • Gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 1 teelepel varsgemaalde swartpeper
  • 3 lourierblare (bay leaves)
  • 1 teelepel vinkel (fennel)

Hoenderpotjie

  • 10 hoenderstukke
  • 3 eetlepels olie
  • 1 groot groen soetrissie, wit gedeeltes en sade verwyder en in stukke gesny
  • 3 groot geelwortels, geskraap en in muntstukkies gesny
  • 4 groot aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • 1 groenappel (Granny Smith), geskil, stronk verwyder en in stukke gesny
  • 1½ koppies groenbone, gekerf
  • 250 g wit knopiesampioene, in skyfies gesny
  • Sout en peper na smaak
  • 1 eetlepel botter
  • 1 eetlepel koekmeel

METODE

Marinade:

Meng al die bestanddele goed saam. Potjie: Pak die hoender in ’n glasbak en giet die marinade oor. Gebruik jou hande en meng goed sodat elke hoenderstuk met die marinade bedek is.

Bedek die bak met kleefplastiek en marineer vir minstens twee ure. Verhit die olie in die pot. Haal die hoender uit die marinade (hou die marinade eenkant vir later) en braai ’n paar stukke op ’n slag tot goudbruin. Skep die stukke met ’n gaatjieslepel uit en hou eenkant op ’n bord terwyl jy die volgende sarsie braai. Sit al die hoender terug in die pot.

Voeg die soetrissie by en braai ’n paar minute saam met die hoender. Pak die wortels, aartappels, appel, groenbone en sampioene in lae op die hoender. Geur met sout en giet die marinade oor.

Maak die pot toe, sit dit op ’n driepoot oor die kole en laat stadig prut vir 2 ure. Hou die kole dop en sorg vir vars kole terwyl die potjie prut. Jy kan dit ook in ’n voorverhitte oond van 200 °C vir ’n uur lank gaarmaak.

Moenie roer voordat die hoender en groente gaar is nie. As daar te veel vloeistof in die pot is, kan jy ’n pasta aanmaak van die botter en koekmeel. Roer dit by die pot en laat prut vir 5 – 7 minute of tot die sous in die pot dik word. Geur met sout en peper na smaak.

WENK:

Die appelbier kan ook met gewone appelsap vervang word as jy nie met alkohol wil kook nie. Jy kan ook die helfte droë witwyn en die helfte appelsap in plaas van appelbier gebruik.


/

Lamsnekpotjie

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 1 kg lamsnek
  • 1 middelslag-ui, fyngekap
  • 1 rooi-ui, fyngekap
  • 6 groterige aartappels, geskil en in kwarte of kleiner, gesny
  • 2 koppies groenbone, gekerf
  • 250 g wit knopiesampioene
  • 1 groot eiervrug, in stukkies gesny
  • 4 tamaties, geskil en in stukkies gekap
  • 4 groterige murgpampoentjies, in muntstukkies gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 koppie droë witwyn (of ekstra aftreksel)
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • 1 teelepel droë origanum
  • 3 vars takkies roosmaryn
  • Gerasperde skil van 1 lemoen

METODE

Verhit die olie in die pot en braai die vleis en gewone ui saam totdat die vleis begin verkleur en ’n sousie vorm. Pak die rooi-ui, aartappels, groenbone, sampioene, eiervrug, tamaties en murgpampoentjies in lae op die vleis.

Voeg die res van die bestanddele by en geur met sout en peper. Bedek die pot en laat vir 2 uur lank prut. Hou dop om seker te maak daar is genoeg vloeistof in die pot.

WENK:

Vervang die vars roosmaryn met 2 teelepels droë roosmaryn.

As daar te veel vloeistof in die pot aan die einde van die kooktyd is, kan jy ’n pasta maak van 1 eetlepel koekmeel en 1 eetlepel botter.

Roer dit by die pot en laat dit vir 5 minute prut of tot die sous begin dik word.

/

Paella-oor-die-kole

Genoeg vir 6 – 8

BESTANDDELE

  • 5 eetlepels olie
  • 4 hoenderborsies, in happie-groottes gesny
  • 2 groterige varknektjops, bene verwyder en in happiegroottes gesny
  • 1 groot ui, in dun skyfies gesny
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 groot rooi soetrissie, in repe gesny
  • 1 1/3 koppie rou rys
  • ½ teelepel borrie
  • 1 teelepel paprika
  • 4¼ koppies hoenderaftreksel
  • 1 kg stokvismootjies, grate en vel verwyder en in happiegroottes gesny
  • 4 tamaties, gekap
  • 1 koppie bevrore ertjies, ontdooi
  • 12 rou garnale, koppe, doppe en ontlastingpypies verwyder
  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Verhit die olie in ’n groot vlak pan en verbruin die hoender- en varkstukkies daarin. Skep dit uit met ’n gaatjieslepel en hou eenkant. Braai die ui en knoffel in dieselfde olie totdat die ui sag en deurskynend is.

Voeg die soetrissie by en braai vir nog ’n paar minute. Sit die hoender en vark weer terug in die pan en voeg die rys by. Meng dit goed met die panmengsel. Sprinkel die borrie en paprika bo-oor en giet die aftreksel in die pan.

Laat die pan so onbedek prut vir 15 minute. Pak die visstukkies bo-op. Voeg die tamaties, ertjies en garnale by en kook vir nog 10 minute tot alles gaar en deurwarm is. Sprinkel die suurlemoensap bo-oor en geur met sout en peper na smaak.

WENK:

Maak jou paella in ’n groot oop pan of vlak pot oor die kole. As jy gelukkig genoeg is om ’n skottel, gemaak van ’n ou ploegskaar, in die hande te kry – dit werk die beste. As jy dit so verkies, kan jy die garnale netso in hul doppe hou. Dis net effens moeiliker om te eet.

HET JY GEWEET?
 In Valencia, Spanje word paella tradisioneel oor ’n oop vuur gekook.
/

Potbrood

Maak een baie groot brood

BESTANDDELE

  • 1 kg broodmeel
  • 2 teelepels suiker
  • 4 eetlepels sout
  • 10 g kitsgis (instant yeast)
  • 4 eetlepels botter
  • Ongeveer 650 ml louwarm water

METODE

Meng die broodmeel, suiker en sout goed in ’n groterige mengbak en voeg die gis by. Voeg die botter by en vryf dit met jou vingerpunte in die meelmengsel. Voeg die water geleidelik by, net genoeg totdat jy ’n lekker hanteerbare sagte deeg het. (Jy sal waarskynlik nie al die water gebruik nie. As jou hand glip en jy het te veel water bygegooi, kan jy altyd nog ’n bietjie broodmeel byvoeg totdat die deeg reg voel.) Knie die deeg vir 10 minute. Smeer ’n glasbak en besprinkel dit met meel.

Skud die bak sodat dit oral met ’n dun lagie meel bedek is en gooi die oortollige meel af. Sit die deeg daarin en bedek die bak met kleefplastiek en ’n kombers. Laat staan die deeg op ’n warm plek vir 50 minute.

Knie die deeg af en vorm ’n bal (of in die vorm van jóú ysterpot). Sit die deegbal in ’n gesmeerde gietysterpot, bedek met kleefplastiek en ’n kombers en laat staan vir 20 – 25 minute om te rys. Sit die pot op ’n driepoot oor die kole en gooi oor ’n paar kole op die deksel. Wanneer die kole afkoel, moet jy dit met vars, gloeiende kole vervang. Bak vir ongeveer 45 minute of tot goudbruin.

Die brood moet hol klink wanneer jy met jou vingers daarop klop. As jy die brood in die oond wil bak, moet jy dit oophou, sonder deksel. Bak vir 45 minute in ’n voorverhitte oond van 190 °C.

WENK:

Jy moet eers die sout saam met die ander droë bestanddele meng voordat jy die gis byvoeg. My ouma het altyd geglo as die sout net so aan die gis raak, haal dit sy fut uit. Ek het nog nie die moed gehad om te kyk of dit net ’n ouvrou-storie is nie.


Hoender-en-varkvleispotjie

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 1 kg hoenderboudjies
  • 500 g stowevarkvleis
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 3 groot uie, fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 1 x 3 cm-knoets vars gemmer, geskil en fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 van elk rooi, groen en geel soetrissies, wit gedeeltes en sade verwyder en in repe gesny
  • 8 heel kruienaeltjies
  • ½ koppie droë appelkosies, gesnipper
  • ½ koppie sultanas
  • 1½ koppies gemmerbier of semi-soet witwyn

METODE

Verhit die olie in die pot. Verbruin die hoenderboudjies en varkvleis in sarsies daarin en geur met sout en peper na smaak. Haal die hoender en vark uit en hou eenkant. Soteer die uie tot goud en deurskynend.

Roer die rissie, gemmer en knoffel by en braai ’n minuut of twee saam. Voeg die soetrissies by en braai vir ’n minuut voordat jy die naeltjies byvoeg en die hoender en vark terug in die pot sit. Voeg die res van die bestanddele by en geur met sout en peper. Maak die pot toe en laat prut vir 1 – 1½ ure of totdat die hoender gaar is.

WENK:

Jy kan ná 45 minute vars pynappel wat geskil, stronk verwyder en in stukkies gesny is, byvoeg en die pot vir nog 45 minute laat prut.


/

Dadelpotpoeding

Genoeg vir 6 – 8

BESTANDDELE

Sous

2 koppies water

1 koppie suiker

1 koppie korente (currant)

Gerasperde skil en sap van 1 lemoen

Poeding

  • 4 eetlepels botter
  • 1 koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 1 eier
  • 2 teelepels koeksoda
  • 1 koppie melk
  • 2 koppies koekmeel
  • 2 teelepels fyn gemmer
  • 1 teelepel kaneel
  • ½ teelepel sout
  • 1½ koppie dadels, fyngekap
  • 2 eetlepels fyn appelkooskonfyt

METODE

Sous:

Verhit al die bestanddele in ’n platboompot.

Poeding:

Verroom die botter en strooisuiker. Klits die eier by. Los die koeksoda in die melk op. Sif die droë bestanddele saam en roer dit beurtelings met die melk by die botter-suiker-eiermengsel. Meng goed ná elke byvoeging.

Meng die dadels en konfyt by. Skep die deeg in die pot met die warm sous. Sit die deksel op en bak vir 1¼ ure oor die kole. Skep ook ’n paar kole op die deksel. Bedien warm met room, roomys of vla.

WENK:

Sit die platboompot met sy deksel op in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir so 1 uur. Foto’s: dale fourie, gallo images/getty images

* Bykomende bron: https://bit.ly/3cyxMWd

* Stilering: Dale Fourie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Potjiekos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.