Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hulle vóél Afrikaans
19 September 2018
LINKS: Klavs Skovsholm, wat braille-boeke geskenk het (links agter), René Arendse (links voor), dr. Niel le Roux en leerders van die Pionierskool vir Siggestremdes op Worcester.

Op 30 Augustus 2018 was daar meer as genoeg rede om fees te vier by die Pionierskool vir Siggestremdes op Worcester. Op hierdie dag vol opwinding en verrassings, is ’n multisensoriese tuin op die skoolgrond bekendgestel.

’n Hele paar rolspelers het saamgewerk om die tuin ’n werklikheid te maak: die ATKV se Handevatprojek, die Hoërskool Brackenfell, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en Afrikaans.
com. Afrikaans.com se bydrae was ’n pragtige, kleurvolle muurskildery, soos dié wat hulle reeds by ander skole opgerig het. By Pionierskool het hulle hierdie projek ’n treetjie verder geneem met ’n paar idiome wat met klank te doen het, soos “speel tweede viool”, “blaas sy eie beuel” en “lui ’n klokkie”. Die doel met die muurprojek is om leerders, onderwysers en die gemeenskap daaraan te herinner om trots te wees op die uniekheid van hul kultuur, hul skool, gemeenskap en hul moedertaal, Afrikaans.

Die belangrikste deel van die multisensoriese tuin op die skoolterrein is “Tuinverse en Pionierstories”, ’n samewerkingsprojek van Byderhand van die Noordwes Universiteit. Ses digters het verse geskryf of gekies wat by die tuin pas. Deur jou selfoon te gebruik en die skandering van die QR-kode wat by bepaalde plekke in die tuin opgerig is, kan ’n mens daar sit en luister na die Tuinverse en Pionierstories. Hierdie stories is geskryf deur leerders, oudleerders en die personeel van die Pionierskool.

Die plante vir die multisensoriese tuin is gekies vir ’n besonderse reuk- en tas-ervaring. Behalwe vir die gedigte en stories waarna jy via selfoon of tablet kan luister, sorg die buitelugmusiekinstrumente wat deur die leerders van die Hoërskool Brackenfell gemaak is, vir nog iets om na te luister.

’n Groot verrassing was toe die rymkletser Hemelbesem, sy opwagting maak met ’n inspirerende boodskap en sy musiek. Hemelbesem is een van die ambassadeurs vir Afrikaans. Hy het onder meer gesê: “Afrikaans was die eerste woorde wat my ma my geleer het. My eerste liefde, my eerste pyne het alles in Afrikaans na my gekom.”

Die kletsrymer Hemelbesem het leerders geïnspireer en vermaak.

VERRAS MET BOEKE

’n Verdere verrassing het gewag op die graad 3- en 4-leerders wat elkeen ’n storieboek in braille ontvang het. Die skrywer van Die Kokerboom, Klavs Skovs­holm van Denemarke, het die boeke geskenk en oorhandig. Om hul eie boek in braille te besit, is vir hierdie kinders ’n heerlike voorreg. Die SBA, in vennootskap met Afrikaans.com, het agter die stuur van hierdie projek gestaan. Die skoolhoof van die Pionierskool, Hannes Byleveldt, het sy waardering uitgespreek vir die skenking van boeke in braille wat die skoolbiblioteek ontvang het.

Dr. Suna Verhoef, die projekkoördineer en onderwyser by Pionierskool, sê die Byderhand-projek is ’n besonderse plekspesifieke digitale literatuurprojek. Van die gedigte en stories waarna jy in die tuin kan luister, sal jy nie met gewone internetsoektogte kan opspoor nie. Jy sal wel by die Blindiana Barista by Innovation for the Blind in Kerkstraat, Worcester met QR-kodes na die stories kan luister.

By die kultuuraand het leerders van Pionierskool en Hoërskool Brackenfell met getoonsette gedigte, koorsang en instrument-items vermaak verskaf. Die Jaloersbokkies, met onder andere Jawaahier Petersen en Nedine Blom, Afrikaanse ambassadeurs, het die aand afgesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.