Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hulp vir matrieks: Sluit aan by Kuier se webklasse
6 Augustus 2020


Dis ’n understatement om te sê 2020 is op sy kop gekeer. En dis veral vanjaar se matrieks wat dit erg voel omdat hul laaste skooljaar basies deur die pandemie ingesluk is.

Hul matriekafskeid is daarmee heen en talle matrieks, veral in behoeftige gemeenskappe, sukkel omdat hulle in level vier en vyf van die lockdown nie kon skoolgaan nie.

En ja, baie van hulle wonder hoe hulle die eindeksamen gaan slaag as die pandemie steeds ontwrigting, paniek, angs en onsekerheid saai. Kuier het ongelukkig nie ’n towerstaf om die pandemie te laat verdwyn en alles na normaal te laat terugkeer nie, maar ons gaan beslis nie niks doen nie! 

Gratis hulp

Kuier, wat al sedert 2017 die Winterskool-program (’n bootcamp vir matrieks) aanbied, vat vanjaar hande saam met die Rapport Onderwysfonds (ROF), Netwerk24 en kykNET om matrikulante te help.

Dié projek heet amptelik die Kuier Rapport Matriekklas 2020 en word oudergewoonte in Afrikaans aangebied. Lesse word deur ervare onderwysers aangebied – van wie baie nasieners in die eindeksamen is – en in videoformaat opgeneem.

Die videoklasse is vanaf 17 Augustus tot 4 Desember gratis op Netwerk24 se #MySkool-blad beskikbaar. Dit is dieselfde blad waar Netwerk24 vroeër vanjaar aan die begin van die lockdown lesse vir hoërskoolleerders aangebied het.

Matrikulante en hul ouers moet net sorg dat hulle data of internettoegang het om op Netwerk24 se #MySkool-blad te gaan, maar die inhoud is gratis. Hulle hoef dus nie enige subskripsiefooie te betaal nie.

Wat om te verwag

Agt vakke (Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, wiskundige geletterdheid, besigheidstudies, lewenswetenskappe, toerisme en geskiedenis) word gedek in vanjaar se projek.

Matrikulante sal vanaf 17 Augustus tot 4 Desember wanneer die matriekeindeksamen min of meer tot ’n einde loop, toegang hê tot hierdie videoklasse op Netwerk24 se #MySkool-blad sowel as op hul YouTube-kanaal.

* KLIK HIER VIR MYSKOOL OP NETWERK24

Dit beteken matrikulante kan op hul eie tyd en soveel kere as wat hulle wil terugkeer na die betrokke lesse. Bronmateriaal sal as ’n bykomende hulpmiddel saam met die betrokke les beskikbaar gestel word.

Elke vak het 15 lesse met die uitsondering van toerisme en geskiedenis wat elk net agt lesse gaan bevat. Die inhoud van die videoklasse is ook so saamgestel dat dit matrikulante die beste moontlike kans gee om hul matriekeindeksamen suksesvol af te lê.

Behalwe die videoklasse gaan matrikulante ook toegang hê tot ’n tolvrye hulplyn (080 111 2234) waar onnies regstaan om te help as jy vrae het oor die vakke wat in die videoklasse gedek word.

En as die stres ’n bietjie erg raak, kan matrieks én ouers hierdie hulplyn skakel vir sielkundige hulp. Maar onthou die sielkundige bystand is net beperk tot matrieks en hul skoolwerk; niks anders nie.

“Toe die pandemie ons tref, was Kuier reeds aan die beplan om ons Winterskool-projek oudergewoonte tydens die Junie-vakansie aan te bied. Die skooljaar was op sy kop gekeer en die pandemie het fisiese klasse onmoontlik gemaak. Ons moes hard dink hoe ons matrikulante steeds kon help,” vertel Ernusta Maralack, artikel-redakteur van Kuier en ook projekleier van die Kuier Rapport Matriekklas 2020.

Volgens haar het dit ’n groot kopskuif en innoverende denke gekos om die projek in ’n baie kort tyd steeds te maak werk. Dit is hoekom daar uiteindelik op videoklasse besluit is sodat matrikulante minstens steeds na ’n onderwyser kon kyk in ’n klas-opset.

Soveel meer matrikulante sal ook bereik kan word omdat klasse nou digitaal aangebied word. Behalwe Kuier se Media24-vennote, is ons ook baie dankbaar vir Curro Durban-ville wat hul geriewe gratis beskikbaar gestel het om die videoklasse in op te neem.

Vir Rhuwayda Mitchell, ’n onderwyser by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein in die Kaap en ook koördineerder van die projek vir die afgelope drie jaar, kom die matrikulante nou eerste.

“Elke kind verdien ’n kans en vanjaar se matrikulante het so baie verloor. Covid-19 oorskadu alles van hul laaste skooljaar – ’n jaar waar hulle herinneringe moes opbou. Vir baie leerders is dit die laaste keer dat hulle ooit weer hul vriende gaan sien. Baie leerders se onderwysers is nie by skole nie as gevolg van onderliggende siektes. Baie skole is ‘gedwing’ om onervare opvoeders te gebruik sodat onderrig kan plaasvind.

“Die Kuier Rapport Matriekklas 2020 is dus van kardinale belang, want dit maak die ‘gap’ toe, want dis gesoute, kundige, entoesiastiese onnies (nasieners in die nasionale eksamen) wat die videoklasse aanbied. Dus weet hulle presies watter dele van die werk moeilik is en waar leerders wat gedurende die grendeltyd geen kontak met onderwysers gehad het nie, baat kan by vind.”

Meer oor:  Kuier  |  Matriekklas  |  Covid -19  |  Aanlynklasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.