Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Huur of koop?: Wat om in die pandemie te doen
6 Augustus 2020


Die sêding “there’s no place like home” het deesdae vir baie mense ’n nuwe betekenis noudat die meeste van ons al vir maande nie veel uit die huis kom nie. Die groter waarheid is dat die corona-pandemie ’n enorme impak op Suid-Afrika se ekonomie het – talle mense sit sonder werk, baie mense se pay-pakkies is drasties gesny, besighede maak links en regs toe en almal draai versigtig hul sente om.

Baie huiseienaars moet ook nou noodgedwonge dringend hul huise verkoop en dít bied aan kopers die gulde geleentheid om eiendom te bekom. Maar is dit nou die regte tyd om ’n huis te koop, al is daar baie mense wat nou uit desperaatheid ’n laer aanbod sal aanvaar as voorheen? “Ek droom al jare daaroor om vir my gesin ons eie huis te koop. Ek verpes dit om elke maand my huur te betaal.

Dit voel soos geld in ’n gat gooi,” erken Karel Johnson (42), ’n motorwerktuigkundige van Parow in die Kaap. Hy en sy gesin van vier woon al drie jaar in dieselfde huis en betaal tans R6 600 huur per maand, maar raak nou moeg daarvoor om elke paar jaar te moet trek.

“Ek sal graag vir ons ’n huis in die area wil koop sodat ons permanente wortels kan skiet. Ek is gelukkig dat my werk redelik seker is, maar ek voel bang om die groot stap te neem. Dis ’n huge commitment . . .”

Hoewel Karel moontlik goedgekeur sal word vir ’n huislening, is hy bang vir die twintig jaar wat hy elke maand ’n groot gros van sy inkomste sal moet spandeer aan afbetalings, wat vir hom baie min finansiële beweegruimte sal gee. “Miskien is die pandemie net die regte hupstoot wat ek nodig het om my bankbestuurder te gaan sien,” glimlag hy.

Omdat die rentekoers so laag is, kan jy kwalifiseer vir meer krediet met jou selfde salaris én jou betalings sal laer wees.

Groot verpligting

Mike Greeff, uitvoerende direkteur van Greeff Christie’s International Real Estate, sê beide kopers en verkopers is maar baie katvoet om nou groot finansiële besluite te neem. “Maar dis belangrik to strike when the iron is hot as jy nie dié geleentheid wil misloop nie. Rentekoerse is die laagste wat dit die afgelope 50 jaar was en as jy enigsins in ’n posisie is om te koop, is dit nou die gulde geleentheid, veral vir first-time buyers.

“Omdat dit so laag is, kan jy nou kwalifiseer vir meer krediet met jou selfde salaris én jou betalings sal laer wees.” Paul Stevens, uitvoerende direkteur van Just Property, verduidelik “verkopers word grootliks gemotiveer deur ekonomiese druk en wantroue in die regering. Kopers word weer gemotiveer deur die lae rentekoerse en die geleenthede wat daar is as gevolg van desperate verkopers.”

Maar, waarsku hy, finansiële instellings (soos banke) het toestemming by die regering gekry om hul uitleen-kriteria te hersien en daarom moet jy versigtig wees om nou ’n groot lening aan te gaan wat jy eintlik nie kan bekostig nie. “Wanneer jy ’n eiendom koop, gaan die grootste deel van jou salaris vir die volgende 20 jaar gebruik wod vir die afbetaal aan jou huislening. Dit is 240 maande van suiwer commitment. Maar anders as om te huur en iemand anders se verband af te betaal, is jou huislening eintlik ’n manier om jouself te forseer om te ‘spaar’, ” verduidelik Paul.

Aan die ander kant, is die huurmark vinnig besig om oorlaai te word met addisionele eiendomme wat in die verlede geoormerk is vir korttermyn- of vakansieverblyf, asook al hoe meer huurders wat nie meer elke maand kan betaal nie, voeg Paul by. Dít beteken baie landlords kies om nie huur te verhoog nie, wat weer in huurders se guns tel.

Dit bied jou die geleentheid om met jou landlord te onderhandel vir ’n beter tarief, veral as jy nie tans in ’n posisie is om te koop nie. Careen Mckinon, hoof van verkope by ooba Home Loans, sê veral first-time buyers maak op die oomblik gebruik van die situasie.

“Baie mense besef dit is ’n geleentheid vir hulle om nou hul eie huis te koop. Maar jy moet realisties wees oor jou werksekerheid. Hou die sektor waarin jy werk in gedagte en bepaal jou eie risiko vir werkloosheid.” Sy verduidelik verder, hoe laer die rentekoers, hoe hoër is die lening waarvoor jy goedgekeur kan word.

“Voor Covid-19 was die tariewe by 9,25%, wat beteken ’n koper moes meer as R30 000 per maand verdien om te kwalifiseer vir ’n R1 miljoen-verband. Met die verlagings in die rentekoers hoef jy nou net meer as R26 000 te verdien vir dieselfde lening.”

Behuisingskrisis

Careen se raad is duidelik: as jou huur meer is as wat jy maandeliks sou betaal aan die verband van dieselfde eiendom, is dit tyd om te oorweeg om te koop. Hoe gouer, hoe beter!

Wendy Carolison (48), ’n klas-assistent, bly al vir die afgelope amper agt jaar in haar uncle se Hop-huis in Bloekombos naby Kaapstad. “Ek is trots op my huis. My tuin lyk so mooi met al die reën en ek koop elke maand ietsie om die binnekant nog meer cosy te maak. Ek sal dit so graag wil koop, veral noudat dinge so ’n bietjie crazy is. Maar ek is nou nie seker of ek met my pay-pakkie ’n loan kan kry by die bank nie.”

Voordat sy in haar uncle se huis gaan bly het, het Wendy amper elke jaar getrek omdat haar huur aanhou styg het en haar salaris sukkel om by te bly. Sy het nog nooit die vrymoedigheid gehad om aansoek te doen vir ’n huislening nie omdat sy maar aanvaar sy verdien nie genoeg nie. Hop-huise is deur die regering gebou en word gegee aan lae-inkomste families.

Die huise word deur die ontvangers besit en nie gehuur nie. Die eienaar van die Hop-huis kan dit ná agt jaar verkoop. Daar is egter, volgens Quinton Adams van die Shackbuilder-projek, ’n behuisingskrisis in die Wes-Kaap en ’n agterstand van meer as 500 00 huise. “Die behuisingsbegroting is tussen R2 en R3 miljard per jaar en daar word tans tussen 10 000 en 16 000 huise per jaar gebou. Op dié trant sal dit 27 jaar neem om die behuisingsagterstand uit te wis.”

Volgens hom is die begroting vir behuising te klein. Dít veroorsaak dat talle mense geforseer word om in ander mense se jaarts, in plakkershutte of by familie te bly. “En omdat die behuisingbegroting so laag is, moet die gesondheidsbegroting soveel hoër wees (ongeveer R23 miljard per jaar) omdat hierdie lewensomstandighede jou gesondheid ernstig kan affekteer,” verduidelik hy.

Volgens hom is tot 50% van protesaksie in die Kaap juis oor hierdie kwessie. “Ons sal altyd ’n rustelose land hê alvorens die behuisingsituasie opgelos word.” Wendy kan oorweeg om gebruik te maak van FLISP (finance linked individual subsidy programme), ’n regeringsprogram wat Suid-Afrikaanse first-time buyers oor 18 wat tussen R3 510 en R22 000 per maand verdien, voorsien van ’n subsidie om ’n huis te koop wat jy nie hoef terug te betaal nie.

Maar jy moet eers kwalifiseer vir ’n huislening by ’n finansiële instelling en jy moet getroud wees, saam met iemand bly of enkellopend met minstens een afhanklike. Afhangende van jou maandelikse inkomste kan jy kwalifiseer vir ’n subsidie van tussen R27 960 en R121 626.

Die aansoekproses neem ongeveer sewe dae. Dit is beslis op die oomblik ’n “kopersmark”, maar daar is baie dinge om in ag te neem, veral in die huidige chaos. Soos die kenners sê, dis altyd ’n goeie idee om eiendom te koop, eerder as om iemand anders se huis af te betaal met jou huurgeld. Tog is dit belangrik om seker te maak jy is finansieel gesond genoeg om jouself onder daardie ekstra druk te plaas.

Kontak:

Vir meer inligting oor FLISP, besoek www.nhfc.co.za of stuur ’n e-pos aan flisp@nhfc.co.za.

Meer oor:  Kuier  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.