Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Plaaskind smaak sukses!
6 Maart 2019


Die lewe is soos ’n kaartspel, jy moet speel met die hand wat aan jou gedeel is. En vir die plaasklong Johan Phillips (23), beter bekend aan sy vriende en familie as Joey, was daar nooit ’n ander opsie as om sy kaarte tot die beste van sy vermoë te speel nie.

Joey van Koekenaap in Vredendal in die Wes-Kaap moes al harde klippe kou, maar dis juis dít wat hom as mens en nou ook onnie help vorm het. Joey se grootste tragedie was op die ouderdom van 12 toe sy ma sy pa voor hom en sy vier susters (toe tussen 7 en 18) met ’n mes doodgesteek het.

“Ek is ’n plaaskind – uit en uit. Vir 17 jaar van my lewe het ek op die plaas gewoon en dis daar waar ek van die beste en ook van die slegste tye in my lewe gehad het,” sê Joey met heimwee aan sy kinderdae.

“Dit was nooit vir my ’n issue om die enigste seun te wees nie. Ek het baie by my susters geleer en hulle by my. Ons het altyd mekaar ondersteun.” Hoewel die gesin op die oog af ’n vreedsame lewe gelei het, was dit egter nie altyd maanskyn en rose nie. “Jong, ons het sommer baie swaargekry” vertel hy met ’n swaar sug. “My pa was die enigste broodwinner en daar was baie aande wat ons honger gaan slaap het. Net water. Water en liefde. Maar ons het elke oggend opgestaan met nuwe hoop, hoop vir ’n beter lewe en ’n suksesvolle toekoms.”

Volgens Joey het sy ouers soos menige ander plaasmens baie gedrink, veral oor naweke. “Ons ouers het ons grootgemaak met goeie waardes en respek, maar hulle het ook hul foute gehad. Naweke het hulle baie gedrink en dan het ’n skellery en ba-kleiery gevolg.” Hy verwys na die gebeure as die wrede kringloop van die plaaslewe wat al soveel lewens verwoes het. “Dis ’n bose kringloop wat van generasie tot generasie oorgedra word. Jou ouers doen dit en dan val jy ook daarin as jy ouer raak. Die lewe op die plaas is uitsigloos en as jy nie ’n droom voor oë hou nie, gaan jy verval in ’n siklus wat al menige ingesluk het.”

Wil ’n beter lewe hê

Dit was egter nooit die geval met Joey nie.

“Hoewel my ouers ongeskoold was, was my pa baie gesteld op my opvoeding en ’n wyse man. Hy het my altyd aangepor om hard te leer sodat ek kon wegbreek en dis presies wat ek wou doen. Ek kon nie myself dieselfde lewe sien lei as hulle nie. Die omstandighede waarin ons gebly het, was haglik. Ons het in ’n tweevertrekhuisie gebly met geen toiletgeriewe nie. Ek moes saans by kerslig leer en hoewel dié goed my net ’n sterker mens gemaak het, was dit net weereens bevestiging dat dit nie die lewe was wat ek vir myself wou hê nie.”

Die spreekwoord lui, “when it rains, it pours...” en dít ken Joey alte goed. Op 12 tref die koue hand van die dood die Phillips-familie soos ’n vuishou in die maag. Die gesin se lewe neem ’n tragiese en noodlottige wending toe Joey se ouers tydens een van hul drinksessies aan die baklei raak en sy ma sy pa doodsteek.

Joey haal diep asem voor hy vertel.

“Dit was die mees traumatiese tyd in ons lewens. Ons was nie kwaad vir my ma nie oor ons in ’n mate geweet het waardeur sy gegaan het. Dit het dinge nie makliker gemaak nie oor my pa ons enigste broodwinner was. Hoewel ons voorheen swaargekry het, het ons dié keer krepeer van armoede.”

Joey het daarna alles probeer om sy toekoms te verbeter, maar deure is telkens in sy gesig toegeklap. Hy kon opgee, maar dié jong man met die aangename persoonlikheid, het geweier en in 2018 het hy sy onderwysgraad cum laude geslaag!

Joey en sy susters het vakansietye op die plaas gewerk om geld te verdien sodat hulle skoolboeke en ander noodsaaklikhede kon bekostig. “My pa se dood het ons geskend en ewige letsels gelaat. Ons gesin was gebroke en ek het met selfmoordneigings geworstel. Dit het ons lewe verander, maar het my op ’n vroeë ouderdom afhanklik, selfstandig en volwasse gemaak. Ek moes op my eie voete staan.”

Joey se ma moes drie jaar hof loop ná die voorval. (Joey wil nie sy ma se naam gee nie omdat hy bang is mense gaan haar judge.) “Dit was drie uitmergelende jare. Drie jaar waarin ek met emosies, vrae en die Here geworstel het. ‘Wat as my ma tronk toe gaan? Hoekom ons gesin?’ Dís vrae wat my nagte wakker gehou het. Die kinders was ook baie wreed en het my telkemale toegesnou met die aakligste opmerkings.” Sy stem bewe effens voor hy een so ’n herinnering oproep.

“Een dag het een van die kinders op die skoolbus vir my geskree, ‘Kyk hier! Sy ma het mos sy pa se derms uitgesteek!’ Dit was nie waar nie, maar ek kon niks sê nie. Die lewe was moeilik. Kinders is wreed.” Sy ma was van alle klagte vrygespreek en het nie tronkstraf uitgedien nie.

Vir baie ander kinders sou so ’n gebeurtenis dalk ’n terugslag wees, maar nie vir Joey nie. Dit het hom meer vasbeslote gemaak om sy drome te bereik.

“Op hoërskool was ek die toppresteerder en hoewel my omstandighede nie die beste was nie, moes ek die beste daarvan maak. Ek het aansoek gedoen by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) en was aanvaar. ’n Politieke party het my matriekafskeid gefinansier en hulle het ook beloof om my studies vir die daaropvolgende jaar te betaal. Dit het egter nooit gebeur nie.”

Joey beskryf dié as een van die mees vernederende jare van sy lewe. “Almal het van my verwag om te gaan swot, ek inkluis. Ek kon dit nie doen nie oor ons nie finansieel daartoe in staat was nie. In daai jaar het ek by ’n ouetehuis gewerk en toe as assistent by die plaaslike skool. Hier het ek my liefde vir onderwys herontdek en wéér aansoek gedoen. Ek het verskeie plekke genader om my studies te finansier, maar dit was of die ondernemings wou hê ek moes in ’n rigting studeer waarby hul maatskappy kon baat vind of ek het geen terugvoering ontvang nie.”

Ek moes saans by kerslig leer en hoewel die goed my net 'n sterker mens gemaak het, was dit nie die lewe wat ek vir myself wou hê nie.
Joey Phillips

Nadat verskeie deure in sy gesig toe-geklap het, was daar uiteindelik ’n lig aan die einde van die tonnel. ’n Mynboumaat-skappy het sy registrasie en ook boekrekening betaal. Die juffrou vir wie hy assisteer het, Er Saal, het hom ook finansieel bygestaan. “Die vier jaar op Wellington as student was moeilik. Baie maande kon ek nie my maandelikse huur by die plek waar ek loseer het, betaal nie en ander kere was daar nie kos nie.” Daar was nie plek op die koshuis nie en Joey moes by mense op die dorp loseer. “Ek wou al baie opgee, maar ek kon nie. Daar was te veel mense wat op my staatgemaak het. Ek moes aanhou en ek is nie vir een oomblik spyt nie, veral nie toe ek cum laude gradueer nie!”

Joey onthou skielik hoe een van sy susters hom destyds weggestuur het.

“Sy het gebid ‘Here, ons stuur vir Johan met niks van die huis af nie, maar ons stuur hom met geloof.’ Dis presies wat ek gehad het – geloof. Toe hulle my naam roep en ek op daai verhoog loop, het my nekhare gerys. Ek kon hoorbaar fluister, ‘Dankie, my God.’ Ek het almal wat nie in my geglo het nie, verkeerd bewys en diegene wat al die tyd bankvas agter my staan, met trots laat straal.”

Joey was die eerste en enigste familielid wat tot dusver universiteit toe kon gaan en graad gevang het.

En hoe beplan hy om staande te bly in ’n stelsel wat telkens onder die soeklig is oor geweld teen onnies? “Ek glo kinders wat aggressief optree, deal met ’n underlying issue en ek probeer altyd uitvind presies wat dit is. Ouers moet leer om ook die kinders by die huis waardes en respek te leer en dan sal dinge soveel makliker wees in die klas.”

Oor sy nabye toekoms sê dié ambisieuse klong van Koekenaap: “Ek wil volgende jaar my honneursgraad voltooi en daarna is die moontlikhede eindeloos!” 

Meer oor:  Cput  |  Studies  |  Kuier  |  Ksut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.