Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Hy maak flieks se klankbane
13 November 2019


Wanneer jy liedjies soos “I’ve had the time of my life”, “My heart will go on” of “I will always love you” hoor, kan ’n mens nie anders as om ook sommer dadelik aan die trefferfliek te dink waarin jy dit die eerste keer gehoor het nie. (In bogenoemde gevalle is dit Dirty Dancing, Titanic en The Bodyguard.)

En só het elke fliek wat jy al oor en oor gekyk het, ’n klankbaan wat jou vir ewig sal bybly omdat dit jou lekker laat saamsing, -dans of -huil het. ’n Goeie fliekklankbaan is egter meer as net musiek, dit is ’n gevoel – en Kyle Shepherd (32) van Belhar in Kaapstad, is een van die mense wat verstaan hoe om daardie gevoel te skep.

Hy is in Augustus bekroon met ’n kykNET Silwerskermfees-toekenning vir die beste oorspronklike klankbaan vir die klankbaan van die nuwe weergawe van die ikoniese fliek Fiela se Kind, wat in September in fliekteaters begin draai het. Sy klankbaan het jou emosioneel gemaak toe Fiela Komotie en haar “optelseun” Benjamin weer mekaar gevind het.

Die musiek het jou ook angstig gemaak toe Benjamin van sy biologiese familie probeer ontsnap het en op dieselfde manier het dit jou kwaad en hartseer laat voel toe Fiela se biologiese kinders nie meer teen hul ma se woede (omdat Benjamin weg was) kon baklei nie. Kyle is ook die man agter die musiek wat jou ’n bietjie laat sweet en jou op die punt van jou stoel gehou het in die 2016-trefferfliek Noem my Skollie.

Musiek in sy bloed

Toe hy op nege met musieklesse begin het, het dié musikant en komponis nooit gedink hy sou eendag sy talente gebruik om die agtergrondmusiek te skep vir flieks nie. Kyle het ook nie gedink musiek is iets wat hy sy loopbaan sou kon maak nie. Hy begin lag wanneer hy terugdink aan sy beginjare op skool en hoe erg dit vir hom as 10-jarige was om elke dag vir ’n uur musiek te oefen.

“As jy ’n professionele musikant wil wees, moet jy ure en ure insit. Dit gebeur nie net sommer oornag nie en omdat my ma self as deel van talle orkeste opgetree het, het sy geweet hoe hard ’n mens moet werk om iewers te kom,” vertel hy. “Maar weet jy hoe moeilik is dit om vir ’n jong seun te sê hy moet binne bly en vir ’n uur viool oefen wanneer hy eerder buite met sy vriende in die straat wil speel? So vir my het dit soos torture gevoel, maar my ma het geglo dit leer jou dissipline en dis ’n goeie vaardigheid om in die lewe te hê,” sê hy.

As hy nou daaraan terugdink, is dit ook seker die rede hoekom sy ma, Michelle, ’n musiekonderwyser, hulp van buite af moes kry om hom te leer. Sy het dit nie nie self gedoen nie, want hulle het aanhoudend vasgesit, veral omdat hy kanse met haar gevat het. Dit is danksy haar invloed dat hy vandag sy drome agter die skerms van flieks en op die verhoog kan uitleef, want voordat hy sy eerste asemteug geneem het, is hy al aan die musiek van legendes soos Bach, Beethoven en Mozart blootgestel.

Agter die skerms

Kyle komponeer die meeste van sy musiek digitaal.
Kyle en die bekende SA komponis Trevor Jones.

“My ma was ’n enkelouer wat selfs toe sy swanger was, in konserte as deel van die orkes viool gespeel het. En selfs ná my geboorte het ek oral saam met haar gegaan. Sy vertel altyd hoe sy vir my in my carry cot oral saam met haar geneem het en ek glo dit is hoekom hierdie leefstyl van toer en jouself vir ure in ’n kamer toesluit, nie vir my vreemd is nie,” sê Kyle.

En hy bedoel dit wanneer hy sê hy sluit homself vir ure in ’n kamer toe wanneer hy besig is met ’n projek. Sy kantoor by die Atlantic Film Studios in Montague Gardens voel soos ’n klein woonstel. Dit is een vertrek, maar aan die een kant is daar ’n gemaklike sit-area met banke waarop jy ’n lekker middagslapie kan vang.

Teen die mure is daar plakkate van die flieks waaraan hy gewerk het en ’n kas met al die toekennings wat hy al verower het. Daar is ook ’n Xbox, ’n yskas en koffiemasjien, wat Kyle bieg baie, baie belangrik is. Dís die goed wat hom laat ontspan wanneer hy net ’n breuk nodig het van die musiek, wat hom soms tot 14 ure per dag vir drie maande op ’n slag besig hou.

Aan die anderkant van die kamer is ’n paar rekenaarskerms met ’n klaviersleutelbord, waarop hy sy musiek skryf. Kyle sê met tegnologie het dinge só verander dat alles deesdae digitaal gedoen word en hy enige instrument in sy klankbaan kan gebruik met die druk van ’n knoppie op sy skerm.

“Verby is die dae dat jy met die instrumente en ’n papier moet sit. Digitaal maak dit ook makliker vir jou om terug te gaan en dinge te verander, sonder dat jy van vooraf op die papier moet begin. Maar dit is ook goed wat ek moes aanleer, want om deesdae ’n komponis op ’n fliek te wees, moet alles digitaal gedoen word en ’n mens sien al hoe meer hoe kinders in hul kamer sommer hulself leer hoe om groot treffers aanmekaar te sit,” sê hy.

Kyle tree al sedert die ouderdom van 18 op en al was hy nie as jong seun baie geïnteresseerd in musiek nie, het alles verander toe hy vir die eerste keer op 14 agter ’n klavier inskuif. Om viool soos sy ma te speel, het hom nie baie opgewonde gemaak nie, maar die klavier het iets anders binne in hom wakker gemaak. Om met emosie oor die klawers te streel en die emosies binne mense te ontlok, was iets wat hy geniet het. Maar dit was ook makliker om musiek vir ’n klavier te skryf as vir viool. Vir die eerste keer wou hy vir daardie uur elke dag oefen en vandag het hy ’n meestersgraad in musiek.

Leef sy drome uit

Hy het ook al in meer as 22 lande opgetree, insluitend by die beroemde Carnegie Hall in New York. Dit was ’n persoonlike droom wat hy gehad het en iets wat min mense kan sê hulle al gedoen het. As ’n solo-kunstenaar het hy vir meer as 10 jaar regoor die wêreld gereis en in al wat ’n jazzklub is gespeel, maar noudat hy self ’n pa van twee is, is hy dankbaar vir sy loopbaan in die filmbedryf, wat vir hom nader aan die huis hou.

Maar makliker is dit glad nie, want selfs al is dit Kersfees, is hy soms in sy studio toegesluit, veral as dit na aan ’n deadline vir ’n fliek is. “Wanneer jy op ’n projek is, lees jy die draaiboek en dan begin jy al skryf. Ek skryf meer as 40 stukke musiek wat ek dink by die atmosfeer van die fliek sal werk.

Aan die einde van die dag werk ek dan saam met die regisseur en produksiespan – nadat die fliek geskiet is – om te verander en dit af te skaal tot die perfekte klankbaan vir daardie fliek, sepie of advertensie. Want die musiek is die ding wat die mense sal raak en die mood sal skep,” sê hy. So die volgende keer wanneer jy jou gunstelingfliek kyk, weet net daardie musiek wat jou waarsku hier kom ’n ding of ’n liefdestoneel gaan homself nou afspeel of iets komies gaan nou of is aan die gebeur, is nie net note nie.

Mense soos Kyle werk baie hard om jou kykervaring memorable en emosioneel te maak. Daar is nie ’n spesifieke kursus wat jy kan swot om ’n komponis te word nie, maar dit is wel een van die loopbaanopsies vir mense wat ’n musiekgraad het. Die meeste van die groot universiteite in Suid-Afrika, sowel as UNISA, bied studente die opsie om vir ’n musiek graad te swot.

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.