Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: In die staatskas
20 Maart 2019

Die woord “begroting” is ’n gróót een wat nooit deel was van die gesprekke in ons huis gedurende my grootwordjare nie – nie eens nadat my pa gesterf het toe ek nege was en my ma kinder-pay van die staat begin kry het nie.

Dit het wel beter begin gaan: Ons het meer gereeld iets gehad om te eet en Mammie kon bekostig om vir ons klere en skoene op skuld by die winkel te koop. Selfs toe ek begin werk het, was ek egter een van daai wat gekla het oor ’n begroting wat nie klop nie; en geldmors is ’n dúúr lewensles...

Miskien kan individue nog met hierdie soort ongeërgdheid oor geldsake wegkom, maar dié “luukse” is beslis nie ’n land se regering beskore nie. ’n Land se begroting móét eenvoudig klop – en as dit nie die geval is nie, plof die land maatskaplik én polities ineen.

Wie gaan sorg vir onderwys, vir behuising en welsynstoelae as daar nie geld in die staatskas is nie? In die ou dae het ons gesê die gesiglose “Pretoria” sal sorg. In die nuwe bedeling, sedert Trevor Manuel, het “Pretoria” ’n naam én ’n gesig gekry.

Die nege jaar wat Jacob Zuma aan bewind was, het hy egter alles uitgehaal om homself en sy trawante met staatskontrakte en op allerhande obskure wyses te verryk. En as jy veral sy reaksie op besteding van miljoene rande op sy eiendom op Nkandla in ag neem, lyk dit asof dit hom nie in die minste gepla het nie.

Ons almal ly egter onder staatswanbesteding as jy kyk na wat die land se skuldlas is, hoe Eskom in ’n proesende kragopwekker ontaard het, hoe SAL se vlerke geknip is en die SAUK oor sy eie onbeholpenheid verslag moet doen. Gelukkig braai die kaiings nou behoorlik uit by die sittings van die Zondo-kommissie na staatskaping.

Ons almal ly egter onder staatswanbesteding.

Dag in en dag uit hoor ons hoe daar gesteel is, maar die poppe het al klaar begin dans deurdat die Valke reeds vermeende oortreders aangekla en in hegtenis geneem het.

Dis teen hierdie agtergrond dat Tito Mboweni, ons minister van finansies, in Februarie die 2019/2020-begroting gelewer het. Wat my die meeste getref het, was die volgende:

Onderwys: Uit die totale R386,4 biljoen wat aan onderwys bestee word, is sowat R30 biljoen bewillig vir die bou van nuwe skole en om infrastruktuur by bestaande skole in stand te hou. Maar hoeveel hiervan sal aangewend word vir die struktureel-disfunksionele skole waarna Danie van Wyk van die SA Onderwysontwikkelingstrust gereeld verwys? Dis skole wat meer as dertig jaar gelede gebou is, heelparty van asbes, en wat huil vir opknapping. En hoeveel van die geld sal in die sakke van tenderpreneurs en kansvatter-kontrakteurs verdwyn?

Behuising: Menslike nedersettings, water- en elektrifiseringsprogramme kry altesaam R56,4 biljoen en ander menslike nedersettings en munisipale infrastruktuur ontvang R39,6 biljoen uit die begrote R208,5 biljoen vir plaaslike ontwikkeling en infrastruktuur. En infrastruktuur in plakkerskampe gaan teen R14,7 biljoen oor die volgende drie jaar verbeter word.

Maar wat beteken dit vir mense wat in agterplase woon? Sal hulle van daai geld kry om hul bestaande “shacks” of wendyhuise op te knap, of moet jy op ’n oop stuk veld vir jou ’n plek opslaan om voordeel uit dié geld te kry? Hoe lank wag mense nie al op waglyste vir huise nie? En dan moet hulle toekyk hoe “nuweling inwoners” voorkeur geniet.

Welsynstoelae: Daar is ook altyd groot afwagting op die aankondiging oor verhogings in ouderdomspensioene, ongeskiktheid en kindertoelae. Dis omdat Suid-Afrika seker loshande voorloop wat die aantal ontvangers van sulke toelae in ontwikkelende lande betref – maklik tussen 17 en 19 miljoen. Maar die hartseer wat saam met die opgewondenheid oor die verhogings in toelae kom, is dat soveel van die begunstigdes dié geld op rookgoed en drank verkwis, soos wat my oorle’ ma ook maar destyds met ons kinder-pay gedoen het.

Meer oor:  Begroting 2019  |  Staatskas  |  Kuier  |  Begrotingsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.