Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
In lockdown: Hulp om met verslaafdes saam te leef
25 Junie 2020


Die jaar 2020 is in alle opsigte een vir die boeke. Vir talle Suid-Afrikaners is dit beslis die moeilikste jaar wat hulle nóg beleef het. Almal moes oornag aanpas by ’n nuwe realiteit wat die wêreld voor die koms van die corona-virus soos ’n droom laat lyk het. Maar baie mense suffer egter nog meer as die res omdat hulle tydens lockdown saam met ’n verslaafde ingeperk is. Dié situasie is vererger nadat die regering op kort kennisgewing die verkope van nie net sigarette nie, maar ook alkohol verbied het.

En hoewel die lewe saam met ’n verslaafde nooit maklik is nie, het die lockdown dinge verseker nog baie moeiliker gemaak. “Ek het so twee jaar gelede agtergekom my man, Gregory* (38), het ’n probleem met drank en pynpille,” vertel Laurie Witbooi* (34) van Brackenfell in die Kaap.

Sy wil nie hê hul name moet bekend wees nie, uit vrees vir haar man. Net voor lockdown het Gregory belowe hy sal hulp kry nadat hy aggressief begin raak het as hy onder die invloed was. “Hy moes egter êrens opgestash het, want ek het een dag tien bottels hardehout in die garage gekry onder ’n klomp gemors. Daar was ook ’n klomp bottels bier. Ek was toe reeds bewus daarvan dat hy te veel pynpille ook drink.”

Hanteer hulle só

Laurie het besef almal struggle met die inperking, so sy het maar op haar tong probeer byt. “Maar die atmosfeer in die huis was baie stram en ongemaklik . . .” erken sy. Gregory was altyd in ’n bui uit die hel, veral nadat sy hom gekonfronteer het. “Hy het my daarvan beskuldig dat ek sy privaatheid invade het en gesê ek moet hom uitlos.”

Daarna het hy openlik begin drink en was al heelwat kere aggressief, gemeen en hardhandig. “Ek probeer uit sy pad bly. Ek is so bang hy verloor weer sy kop. Ek maak vir mense van buite of alles oukei is, maar ek lewe in vrees. Hy het ook kontant uit my sak begin steel om meer drank te koop. Ek weet nie wat om te doen nie.”

Leandie Buys, ’n verhoudingsterapeut van Port Elizabeth, waarsku jy moet onthou iemand in “aktiewe verslawing” sal chaos skep omdat sy of haar wêreld reeds in totale chaos is. “Verslaafdes is meester-manipuleerders, so moenie vasgevang word hierin nie.”

Haar raad is om nie die verslaafde te “enable” nie. Dit is om byvoorbeeld vir iemand geld te gee of te leen. Ook om iemand te red uit ’n situasie wat geskep is weens die misbruik, soos borgtog uit die tronk, verskonings en leuens namens hulle, deur voor te gee niks is fout nie en om stil te bly om konflik te vermy.

“Wees baie ferm met jou grense. Verduidelik aan die verslaafde wat jy sal verdra en wat nie. Sê ook wat die gevolge sal wees indien hul jou grense aanhou oorskry. Ek raai gewoonlik aan om drie waarskuwings te gee wanneer grense getoets word.

Die derde waarskuwing is om die gevolge te implementeer.” Volgens haar is dit belangrik om professionele hulp te kry. “Verslaafdes is skaam oor hul verslawing en sal dit ’n geheim wil hou. Hoe langer dit geheim bly, hoe langer sal die verslaafde siek bly.” Herinner ook jouself jy is nie die oorsaak van sy of haar verslawing nie, al probeer die verslaafde jou ook blameer.

“Maak seker jy het ’n back-up plan vir wanneer die verslaafde heeltemal buite beheer raak – ’n plan van hoe jy gaan veilig bly tydens die chaos. Steek jou huissleutel en karsleutel weg en maak seker jy het ’n nommer op speed dial wat jy kan bel as dinge handuit ruk.” Leandie sê selfs rokers wat nou noodgedwonge moes ophou, kan erg geïrriteerd raak as gevolg van onttrekkingsimptome wat daartoe kan lei dat hulle moeilikheid gaan soek. “Die feit dat hulle nie meer hul ‘drug of choice’ kan kry nie, maak dat hulle voel hul lewe is in chaos.”

Die ander realiteit wat ’n mens ongelukkig ook in die gesig staar, is dat baie verslaafdes ’n alternatief sal soek as hulle nie hul verkose dwelm in die hande kan kry nie. Theresa Rossouw, bestuurder van die Toevlug-rehabilitasiesentrum op Worcester, meen dit is belangrik vir familielede van afhanklikes om goed te luister en te kommunikeer. “Wanneer daar ’n gesprek is met die gebruiker, vermy blaam. Wees kalm en rustig. Kies die regte tyd – dit help nie om met iemand onder die invloed te probeer redeneer nie.”

Ondersteuning

Maar selfs verslaafdes wat ophou gebruik het lank voor lockdown, het swaar getrek tydens inperking. Angela Altern (34) van Durban is ’n addiction recovery facilitator. Sy self is al twee jaar in recovery nadat sy aan voorskrif-medikasie verslaaf was wat gelei het tot verskeie gedragsprobleme. “Ek het ’n soliede roetine wat my veilig hou, ek woon ondersteuningsgroepe by en ek werk konstant aan my herstel.”

Met die aanvang van die lockdown is haar lewe in chaos gedompel. “Ek moes ’n nuwe roetine vind en ook met my vrese rondom finansies, werk, ons kinders en my gesondheid worstel. Ek kon ook nie meer ondersteuningsvergaderings bywoon nie. En isolasie is een van my triggers . . .” Angela se man, Tyron (36), het haar nog altyd ondersteun – soms selfs ten koste van homself. Maar tydens haar herstelproses het hy geleer hoe om weer na homself om te sien en dit het goed gegaan, totdat die lockdown ingestel is.

“Tydens lockdown het ek gesien hoe worstel my vrou met gevoelens van isolasie, frustrasie en vrees – alles triggers vir ’n relapse. Ek het weer begin om my emosies onder die mat in te vee. Ek was vreesbevange sy gaan weer gebruik en ek wou haar nie verloor nie.” Tyron erken soms raak hy ’n enabler omdat hy sy vrou wil beskerm. Tydens lockdown het hy haar fyn dopgehou om te probeer uitfigure wat aangaan en dit het hom amper teen die mure uitgedryf. “Ek moes myself toelaat om bang te voel . . . Ek moes ophou om my vrou te probeer fix en eerder vir myself sorg. Ek moes myself toelaat om my emosies ten volle te voel en te vra vir hulp as ek sukkel om te cope.” Tyron het ’n sterk ondersteuningsnetwerk van ander geliefdes van verslaafdes.

“Project Exodus het spesifieke groepe vir geliefdes van verslaafdes en dit help om ’n plek te hê waar jy eerlik kan wees oor jou gevoelens en ervarings.” Hoewel dit aanvanklik ’n baie spanningsvolle tyd was, waar Angela se cravings baie intens geraak het en Tyron weer ’n muur om homself gebou het, het hulle gelukkig weer hul ritme in lockdown gevind. Angela het begin om Project Exodus se aanlyn-herstelvergaderings by te woon. “Hulle het elke dag ’n nasionale meeting via Zoom en dit was beslis ’n lifeline gedurende lockdown.”

Theresa vergelyk verslawing met die gevreesde Covid-19. “Beide is ’n siekte. Beide plaas ’n mens in ’n staat van inperking. Beide kan lei tot werkloosheid of finansiële verliese. Beide verg radikale aanpassings om te oorleef . . .” Gelukkig vir verslaafdes en hul geliefdes ís daar hulp en behandeling vir afhank-likes, jy moet dit net kry.

*Skuilnaam

Cope met cravings

Ilze Duvenhage, ’n arbeidsterapeut by Toevlug se raad is die 4-D-tegniek:

Distract: Wanneer jy intense cravings ervaar, probeer aktiwiteite wat jou aandag aftrek van rook of drink. Oefen, kry ’n stokperdjie, werk in die tuin, kook of bak, speel bordspeletjies saam met jou gesin of kyk flieks.

Delay: Jou cravings hou gewoonlik ’n paar minute aan. Sê vir jouself dit sal verbygaan. Dink aan ’n horlosie en verbeel jou hoe die tyd van die craving verbygaan. Dink aan ’n golf en hoe jy dit “surf” totdat dit weer breek.

Drink water: Drink drie tot vier glase terwyl jy ’n craving ervaar. As jou maag ongemaklik vol is, gaan die craving vinniger verby en water is beslis beter vir jou as ’n groot klomp kos!

Diep asemhaling: Probeer ontspan tydens die craving. Haal diep asem, gaan vat ’n warm stort of doen yoga sodat jou craving nie so oorweldigend voel nie.


KRY HULP
Vir meer inligting oor Project Exodus kontak 031 563 9605 of stuur ’n e-pos na info@projectexodus.net.
Meer oor:  Gesinsgeweld  |  Verslawing  |  Verhoudings  |  Kuier  |  Lockdown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.