Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geldsake: Hanteer jou skuld só
7 Augustus 2019
geldsake,skuld


Deesdae is daar drie tipes mense in die wêreld: die haves, die have-nots en die have-not-paid-for-what-they-haves. En solank as wat mense kan skuld maak, sal hulle dit doen – selfs al kan hulle dit nie bekostig nie.

Skuld is soos ’n klippie in jou skoen. Dit is heeltyd daar. Dit maak nie saak waarmee jy besig is nie, dit krap en irriteer jou die heeltyd. Skuld kan jou grys hare en slapelose nagte gee. Dit maak van ’n vry, gelukkige persoon ’n bitter, gespanne mens – veral as jou krediteure jou afdreig.

Volgens die nuutste TransUnion-verslag oor insigte in die bedryf in die eerste kwartaal van 2019, bly Suid-Afrikaners se behoefte aan krediet hoog. Die uitstaande bedrae in alle kredietkategorieë is boonop heelwat hoër as verlede jaar hierdie tyd. Die toename in geleende geld is moont­lik deels gedryf deur die uitdagende ekonomiese toestande wat tans heers. Verbruikers moet skuld maak net om van dag tot dag te oorleef.

Kredietburo’s se rekords dui aan teen Desember 2018 was daar meer as 25 miljoen aktiewe kredietverbruikers, van wie meer as 10 miljoen ’n swak kredietrekord het. (’n Kredietrekord is soos jou finansiële CV.) Altesaam 1 171 768 van hierdie mense het tussen September en Desember verlede jaar in die moeilikheid beland.

“Dit voel of ek drie jaar laas geslaap het,” erken Jerome Fielies* (39) van Broadwood in Port Elizabeth. Hy praat onder ’n skuilnaam omdat hy al langer as wat hy kan onthou, skuldeisers probeer ontwyk.

“Ek is te bang om my phone te antwoord of my pos oop te maak. Ek is in so ’n diep gat van skuld, ek dink nie ek gaan ooit daaruit kom nie.”

Jerome is sowat vier jaar gelede geretrench. Sedertdien doen hy hier en daar los werkies. Om te oorleef, het hy lenings begin uitneem en by verskillende winkels rekeninge oopgemaak. Maar die geld wat inkom, is nie eens genoeg vir sy daaglikse behoeftes nie, wat nog te sê van die skuldeisers wat in sy nek blaas. Dit het hom gedwing om geld te begin leen om sy lenings af te betaal. Jerome het nou al ’n stelsel: hy probeer elke drie maande vir iemand iets gee. Dit help nie, want die rente op sy lenings dompel hom net al hoe dieper en dieper in die skuld. Vir hom voel dit al of daar geen lig aan die einde van hierdie tonnel is nie.

In gevaarlike water

“Baie Suid-Afrikaners is onder die indruk daar is ’n ‘blacklist’, maar in werklikheid is daar nie so iets nie,” verduidelik Carla Oberholzer, skuldadviseur en woordvoerder van DebtSafe. Die woord “blacklist” word, volgens haar, soms steeds gebruik om mense bang te maak. Kredietburo’s het dié konsep egter lank terug geskrap.

“Die term ‘blacklisting’ is gebruik in ’n tyd toe kredietburo’s net negatiewe data oor verbruikers se kredietgedrag op rekord gehou het. Sedert 2011 verskyn daar ook positiewe data op iemand se krediet­profiel,” verduidelik Carla verder.

Die probleem kom in wanneer jy ’n swak kredietrekord of -profiel het. ’n Mens se kredietrekord ly skade wanneer jy rekeninge laat betaal – byvoorbeeld ná langer as 30 dae of as jy meer as 90 dae nalaat om betalings te maak. Dit is dan dat jy op jou kredietprofiel gemerk word as ’n slegte betaler. Dit kan daartoe lei dat jy nie verder krediet kan kry nie.

“Onthou, krediet is nie noodwendig sleg nie. Maar hoe jy jou rekeninge bestuur en betaal, kan jou kredietprofiel positief of negatief beïnvloed,” verduidelik Carla.

As jy ’n slegte kredietrekord het, moet jy onmiddellik ’n afskrif van jou kredietverslag kry en uitvind hoekom, sê Anna-Rita Celliers van die krediet-inligtings­buro XDS. Elke Suid-Afrikaanse burger is geregtig op een gratis kredietverslag elke 12 maande.

Maak seker al die inligting is korrek, dat net rekeninge wat daar hoort daar is en dat al die betalings daar is. As enige inligting foutief is, bespreek dit met die kredietburo. Besluit wat reggemaak moet word en maak werk daarvan.

Jou kredietverslag wys ook wat tot jou slegte rekord gelei het, hetsy onbetaalde rekeninge, hoë kredietkaartskuld of skuld­invorderings. Verander dadelik jou slegte geldgewoontes en moenie nog skuld maak nie.

“’n Slegte kredietrekord hoef nie vir altyd te wees nie. Jy kan jou kredietwaardigheid weer opbou deur jou krediet meer verantwoordelik te hanteer,” sê Anna-Rita.

Jy kán jou kredietrekord verbeter. “Jy is die kaptein van jou finansiële skip. Dis jou verantwoordelikheid om jou kredietprofiel weer in die groen te kry. Jý het daardie ooreenkomste geteken. Jý moet dus by jou betalings bly of seker maak jy kom weer op dreef daarmee,” beklemtoon Carla.

Haar raad is eenvoudig:

• Maak seker jy betaal jou skuld betyds en soos ooreengekom. As jy jou skuld betaal het, vra die krediteur om in jou guns ’n brief aan die kredietburo’s te skryf. Van die bekende kredietburo’s is TransUnion, XDS, Compuscan en Experian. Sorg dat hierdie buro’s ingelig word sodat jou kredietrekord aangepas kan word.

• Kyk weer na jou kredietrekord. As jy dink dis onregverdig, kontak die Kredietburovereniging. Jy kan ’n e-pos stuur na enquiries@cba.co.za.

• Indien nodig, kry ’n regskenner se hulp. Maak seker jy ken en verstaan te alle tye jou regte as verbruiker.

• As jy diep in die skuld is, maar ’n vaste inkomste verdien, oorweeg dit om ’n skuldberader te nader om jou te help om die skuldbult uit te klim.

Raak weer geanker

Die Nasionale Kredietreguleerder beveel skuldberading aan vir mense wat oorver­skuldig is en agter is met hul paaiemente. Dis egter nie ’n quick fix nie; dis ’n gereguleerde proses om jou uit te skuld te kry.

Eerstens sal jou skuldberader ’n assessering doen om te kyk of jy oorverskuldig is en of jy kwalifiseer vir skuldberading. Jy is oorverskuldig as jy nie aan die einde van elke maand al jou skuld- en finansiële verpligtinge kan bybring nie.

Daarna sal uitgewerk word wat jy maandeliks moet betaal aan die National Payment Distribution Agency.

Terwyl jy onder skuldberading is, sal jy onder geen omstandighede toegelaat word om nog skuld te maak nie. Daar sal ook met jou krediteure onderhandel word, veral ook om te keer dat hulle jou heeltyd dreig en teister.

Aan die einde van die proses sal jy ’n sertifikaat of “vorm 19” ontvang. Jy kan dit aan die kredietburo’s stuur om te bewys jy is nie meer onder skuldberading nie en kan ’n gerehabiliteerde kredietverbruiker word. Iemand wat werkloos is en geen inkomste het nie, kan nie hierdie roete volg nie.

Maar voordat jy hierdie opsie kies, is daar ’n paar goed wat jy kan doen om jou finansiële druk ’n bietjie te verlig.

• Print jou laaste drie maande se bankstate en besluit wat onnodige luukshede is soos wegneemetes en uitverkopings. Sny dit onmiddellik uit.

• Stel ’n begroting op en bly daarby. Dis nie maklik nie, maar dis die moeite werd!

• Kyk na belangrike uitgawes soos jou mediese fonds, versekering, huur en selfoonkontrakte. Bepaal of jy hier kan sny of iewers anders ’n beter aanbod kan kry.

• As jy agterkom jy raak in die moeilikheid, praat met jou krediteure. As jy nie probeer nie, sal jy nooit weet nie. Vra ’n paar maande ruskans. Hou in gedagte dat jy steeds die een of ander tyd die volle bedrag sal moet terugbetaal.

• Nog ’n nuttige wenk is om die paaiement van iets wat jy klaar afbetaal het, daarna te gebruik om van jou ander skuld te delg.  Jy het byvoorbeeld R400 per maand op jou kredietkaart spandeer, maar dit is nou afbetaal. Stoot nou daai R400 oor na jou klererekening toe en sit dit by die huidige R200 wat jy daarop betaal. Met daai R600 sal jy jou klererekening baie vinniger agter die rug kry.

Moenie moed opgee en in jou skuld verdrink nie. Raak ontslae daarvan – hoe gouer, hoe beter. Dit is nie maklik om jou skuldskip om te draai nie, maar op die ou end kan jy nie net klaarspeel met skuld en jou gesin help nie, jy sal ook jouself met ’n goeie nagrus beloon. 

*Skuilnaam

 

Meer oor:  Skuld  |  Kuier  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.