Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
In rolstoel: Meisie bereik hoogtes in dans & atletiek
17 September 2020


Ná twee miskrame was Esmeralda Bailey (51) van Primrose Park in Athlone in die Kaap, net te dankbaar vir ’n babadogtertjie wat lewend gebore is. En vandag styg haar dogter, Cassidy (15), uit bo haar omstandighede en dans sy die wêreld vol vanuit ’n rolstoel.

Haar swangerskap met haar eersgeborene, Andrew (24), was swaar en Esmeralda het baie siek gevoel. Twee hartverskeurende miskrame het ná Andrew se geboorte gevolg en Esmeralda het besluit om die saak in God se Hande oor te laat. Daarom het sy voordat sy swanger was met Cassidy vrede gemaak dat sy dalk nie die dogtertjie sou kry waarna haar hart so gesmag het nie.

“Cassidy was ’n wonderwerk en ’n verrassing vir ons,” vertel Esmeralda. Toe sy uiteindelik swanger word (met Cassidy), was dit ’n vreedsame ervaring en sy het tot amper op die laaste dag gewerk. “My bestuurder het my eintlik huis toe gejaag,” lag sy. Dit was eers ná die geboorte dat Esmeralda begin besef het alles is nie soos dit moet wees nie. Sy het aanvanklik gedink dit was ’n stilgeboorte omdat dokters nie die babatjie op haar bors kom neerlê het nie.

“Kort ná haar geboorte het ek net gebid: ‘Here, wat ook al U plan vir my, ek is tevrede.’ ” Terwyl dokters vir haar Cassidy se toestand verduidelik het, is al wat sy kon dink: “Dank die Here sy lewe”.

Sy bly veg

Cassidy (15), ’n lewenslustige buksie van net oor die 1 m lank, is gebore met spina bifida en hydrocephalus. Spina bifida is ’n geboorte-defek waar die rugstring en membrane rondom die spinale koord nie heeltemal toegegroei het nie. Hy-drocephalus is ’n toestand waar daar ’n abnormale hoeveelheid spinale vloeistof in die brein versamel.

Een van haar eerste operasies was om ’n ventrikuloperitonale (VP) shunt te kry om die vloeistof uit haar brein te dreineer. Die kleine babatjie het die eerste vyf maande van haar lewe in die hospitaal deurgebring en het net een keer huis toe gegaan sodat haar ouers haar kon doop. “Ek was so dankbaar vir haar lewe dat ek haar in die kerk aan God wou opdra,” onthou Esmeralda.

Hoewel die meeste mense wat gebore is soos sy oor die algemeen ’n beperkte leeftyd het, weet Esmeralda haar borrelende dogter gaan ’n lang en vol lewe lei. Cassidy loop swaar en is van kleins af aan ’n rolstoel vasgekluister. Sy het ook ’n gehoorapparaat, ’n urien- en stoma-sakkie en is gedurig in intense pyn.

Maar met haar lewenslustigheid het Cassidy groot drome, veral om eendag die beste danser in die heelal te word! Selfs al moes Cassidy al 51 operasies in haar kort lewe ondergaan, sewe daarvan binne die eerste ses maande ná haar geboorte, is daar nie veel wat hierdie vrolike tiener kan onderkry nie. “Ek is mal daaroor om te dans! Dit maak my so gelukkig. Ek geniet die energie op die dansbaan,” vertel Cassidy.

Ek is mal daaroor om te dans! Dit maak my so gelukkig. Ek geniet die energie op die dansbaan.
Cassidy Bailey
Sy het SA kleure in dans en atletiek.

Dit is amper asof sy die hele wêreld aan haar voete het. Toe sy maar sewe jaar oud was, het sy Latynse en ballroom-danse op die televisie gesien en dadelik, met ’n bokspring in haar klein kinderhartjie, het sy geweet dít is wat sy wil doen. Kort daarna het Esmeralda toevallig ’n vrou met ’n kind in ’n rolstoel in die winkel raakgeloop.

Die twee het ’n geselsie aangeknoop en só het Esmeralda uitgevind van ’n plek naby hulle wat rolstoeldansklasse aanbied. En nou, agt jaar later is Cassidy goed op pad om die wêreld van dans te verower. Sy het reeds meer as 170 trofees en medaljes, asook Westelike Provinsie en Suid-Afrikaanse kleure verwerf met nie net haar dansery nie, maar ook haar atletiek.

Cassidy neem deel aan diskus, spiesgooi en gewigstoot. In haar vrye tyd beoefen dié tiener ook belly dancing en doen spi- ritual dancing by hul kerk. “Met al ons harde werk en deursettingsvermoë, kan ek myself al op die toppodium sien!” lag sy uitbundig. So opgeruimd soos wat sy is, is Cassidy se lewe nie net maanskyn en rose nie. Haar toestand het vele daaglikse uitdagings. Sy moes al talle operasies ondergaan om haar lewensgehalte te probeer verbeter.

Toe sy maar ses jaar oud was, moes sy 11 maande in die hospitaal deurbring, vyf daarvan in die intensiewesorgeenheid en het agt breinoperasies ondergaan. “Daardie jaar het ons gedink ons gaan haar verloor,” erken Esmeralda.

Cassidy kan loop, maar dit is nie baie gemaklik nie. “Ek noem haar my klein penguin,” lag Esmeralda. Hoewel haar toestand die meeste ander mense sal kelder, laat Cassidy nie haar fisiese beperkinge toe om haar te keer om so aktief moontlik te wees nie, al kan sy eintlik net haar arms en bolyf met gemak gebruik en selfs dít veroorsaak soms intense pyn.

Sy en haar ouers, Angus en Esmeralda.

Baie aandag nodig

Toe sy vyf jaar oud was, moes Cassidy ’n uriensakkie kry. Tot en met Mei hierdie jaar moes sy daagliks doeke dra, maar nadat sy amper nierversaking gekry het, het dokters ook vir haar ’n stoma-sakkie gegee.

Esmeralda vertel sy moet haar kind dag en nag met ’n valkoog dophou, want sy kan oornag dodelik siek word. “Ek kan nie rondspeel met ’n koors of iets nie. Dit moet dadelik aandag kry. Dokters het gesê as ek haar twee dae later ingebring het, kon dit baie erger gewees het.” Voor daardie operasie was dit die eerste keer in amper 15 jaar wat sy haar kind naby breekpunt gesien het.

“Sy was so hartseer en bang vir die operasie. Sy was vreesbevange haar tyd op aarde is verby.” Esmeralda het haar daar en dan verseker God het ’n plan met haar lewe en dat daar nog baie is wat sy moet vermag voor die einde van haar lewe. “Sy wil nog verlief raak, trou, ’n klomp kinders kry en ’n Latin- en ballroom-dans-instrukteur word. God sal haar nie faal nie en hierdie beproewinge maak haar net sterker.”

Al die toerusting en goed wat die Bailey-gesin nodig het om Cassidy se lewe gemaklik te maak, ruk maar swaar aan hul sakke, erken Esmeralda. Een paar spesiale skoene kos byvoorbeeld R7 000! Esmeralda werk by ’n slaghuis en haar man, Angus (54), is werksaam by die bakkery. “Mense vra hoe oorleef ons, en party maande is dit maar broekskeur. Maar ons weet God voorsien. Nie in ons tyd nie, maar in Sy tyd.”

Wanneer Cassidy 17 is, sal sy moet gaan vir ’n heup-operasie om te kyk of hulle haar meer reguit kan laat loop. Dit voel ook vir Esmeralda asof haar een been langer of skewer is as haar ander been. Maar daar is min terugslae wat hierdie gesin nie kan deurstaan nie. “Ek weet God sal nie iets oor ons pad stuur wat ons nie kan hanteer nie. Ons is spesiale ouers en daarom het ons ’n spesiale kind gekry.”

Esmeralda hou nie daarvan as mense haar kind bejammer nie. “Ek hou nie daarvan as mense sê ‘shame’ as hulle haar storie hoor nie. Moenie jammer voel vir haar nie. Sy is ’n seëning van God.” Esmeralda en haar man behandel haar dieselfde as ander kinders en dit is moontlik waar haar veggees, onafhanklikheid en lewenslus vandaan kom.

Nog ’n droom wat Cassidy baie na aan die hart lê, is om volgende jaar, wanneer internasionale reise weer toegelaat word, aan die Holland Dans Spektakel in Cuijk, Nederland deel te neem in die amateur-afdeling van die rolstoeldanswêreldbeker. Verder werk sy hard om deel te word van die volgende Paralimpiese span. Sy wil ook eendag Disney World besoek. Dit is vir haar lekker om te weet sy kan ander kinders inspireer om ook hul drome te bewaarheid. Met haar potensiaal, dryfkrag en optimistiese lewensuitkyk, is daar min wat vir Cassidy Bailey gaan keer om te doen presies wat sy wil!

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.