Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ingrid en Denver: Dis baba nr. 2!
2 Oktober 2019


Ná ’n paar moeilike jare, gaan dit goed met Ingrid en Denver en hulle sien daarna uit om hul tweede kind te verwelkom. 

Daar is iets anders aan die akteurspaar Ingrid Paulus (42) en Denver Vraagom (47). Dít is die eerste gedagte wat by ’n mens opkom wanneer Ingrid, Denver en hul dogter, Skye (15), aankom vir die voorbladfotosessie.

Aan die een kant lyk dit asof die lewe en die klippe wat dit oor jou pad kan rol, hulle ’n bietjie beetgekry het. Maar wanneer ons teenoor mekaar gaan sit, rustig raak en soos ou vriende begin opvang, val ’n glans oor Ingrid se gesig en ’n kalmte oor Denver jou op.

Op haar beurt is Skye tipies tiener en stel nie veel belang in die grootmense rondom haar nie. Sy is veel meer geïnteresseerd in haar tablet waarop sy met oorfone Bollywood-flieks kyk. Die laaste keer toe Kuier al drie lede van die Vraagom-gesin bymekaar gehad, was in 2012 toe Ingrid en Denver op ons Valentyns-voorblad verskyn het.

Skye was toe sewe jaar oud. So Kuier stap al ’n lang pad met Ingrid en Denver en Skye het so te sê op ons blaaie grootgeword, want waar haar ma en pa is, is sy by. En dis juis omdat ons al soos familie geraak het dat Ingrid en Denver Kuier gekies het om groot nuus met ons en die hele Kuier-land te deel. Dís ook hoekom hulle so straal van geluk.

Ek was so gelukkig toe ek uitvind ek is swanger, want selfs voor ons uitgevind het ons is swanger, het ons van aanneming ook gepraat.

Ingrid, wat ons al vir jare as Vanessa in 7de Laan ken, is op 42 vir die tweede keer swanger. En dis weer ’n meisie! Ingrid, wat middel Oktober 43 word, sal na verwagting hul nuwe bondeltjie vreugde in Februarie volgende jaar verwelkom. Sy bars van geluk en kan nie ophou glimlag nie. “Kyk hoe mooi is sy. Jissie. Ek het haar nou die dag gesê: ‘Jy lyk so mooi, so vrou,’ ” fluister Denver in verwondering toe Ingrid later voor die kamera pronk.

Maar voor ons verder begin gesels, wil Ingrid en Denver dit duidelik maak die skinderstorie wat die ronde doen dat hulle gaan skei, is nie waar nie! Inteendeel, hulle is op ’n baie goeie plek in hul huwelik. Die skinderstories het waarskynlik begin toe Denver in Junie vanjaar alleen Kaap toe getrek het en Ingrid in Johannesburg, waar 7de Laan se stel is, agtergebly het. Maar dit was alles deel van die plan vir hul gesin. Skye woon reeds saam met Denver op Gordonsbaai en die plan is dat Ingrid ook in die nabye toekoms by hulle sal aansluit. Intussen het Denver reeds op Arendsvlei en Suidooster gewerk en hy en Ingrid maak beurte om tussen die Kaap en Johannesburg te reis sodat hulle tyd saam kan deurbring.

Opgewonde

Terug by die babagesprek en Ingrid en Denver het nogal verskillende weergawes oor of die baba beplan was of nie. Denver sê dit was, maar Ingrid voel haar liggaam het self besluit wanneer dit gereed was. “Ek was so gelukkig toe ek uitvind ek is swanger, want selfs voor ons uitgevind het ons is swanger, het ons van aanneming ook gepraat. Tog was ek bang om vir Denver te sê ek is swanger, maar ek dink hy het geweet, want hy het nog vir my gesê, ‘daar is iets wat jy vir my wil sê,’ ” voeg sy laggend by.

Toe Denver hoor wat die nuus is, was hy netso in die wolke, want hyself wou altyd nog ’n kind gehad het. Ingrid gaan egter nie voorgee dat sy nie senuweeagtig is nie, want om op haar ouderdom swanger te raak kom met baie risiko’s. Sy het juis op 11 weke begin bloei en gedink sy gaan die baba verloor. “Ek was een oggend toilet toe, toe ek die bloed sien. Ek het vir die Here gevra, ‘asseblief, ek wíl die baba hê.’ Ons is hospitaal toe, toe moes ek nog vorms invul en is boonop na verkeerde saal toe gevat,” beskryf Ingrid dié angswekkende tyd.

Denver bewonder sy vrou.

Sy was vir twee ure by die hospitaal, maar gelukkig het die Vader haar gebede verhoor en sy het nie haar baba verloor nie. Dié episode het haar baie groot laat skrik, maar ook opnuut laat besef watter kosbare geskenk dit is om nóg ’n lewe in hierdie wêreld in te bring. “Om te voel jy kan jou kind verloor, is een van die ergste goed ooit. En ek voel vir ma’s wat al dié pyn ervaar het,” voeg sy sag by. Ingrid is ook een van daai ma’s wat álles oplees daarom dat sy so senuweeagtig is die heeltyd.

“Met Skye was ek baie rustig, maar met my ouderdom is ek baie paranoïes nou, veral omdat ek onlangs die bloeding ook gehad het.” Maar dan sprei ’n glimlag oor haar gesig wanneer sy sê sover vorder die swangerskap goed. Die ginekoloog is gelukkig en die Downsindroomtoets het ook negatief teruggekom. Maar selfs as daar ’n kans was dat hul baba Downsindroom sou gehad het, sou sy en Denver voortgegaan het met die swangerskap. “Skye is outisties en ons het dit baasgeraak. En enigiets anders kan fout wees met die baba, maar ons gaan haar hou. So dis nie vir ons ’n bekommernis nie,” sê Ingrid.

Denver laat Ingrid uit haar maag lag wanneer hy vertel sy sukkel nie met oggendnaarheid en cravings nie, maar hý wel. “Oe en sy hét porridge brain. Sy moet nog net my naam vergeet!” Op haar beurt sê Ingrid sy weet nie wat met haar liggaam aangaan nie, “want mense en dinge irriteer my gou. Ek het my moments – goeies en slegtes”.

Terwyl Ingrid in die wolke is oor haar swangerskap, het Denver ook goeie nuus van sy eie – hy is al vir 18 maande sonder ’n druppel alkohol. Denver, ’n self-erkende “binge-drinker” was die laaste ruk openlik oor sy stryd met alkoholmisbruik op Facebook. Hy het ook ’n onderhoud daaroor met die tydskrif Rooi Rose en die kykNET&kie-program Klop! gedoen.

Daarom is elke dag wat hy dit deurmaak sonder om voor ’n drankie te swig, ’n oorwinning. So hierdie swangerskap kon nie op ’n meer gepaste tyd gekom het nie, want dis iets wat sy en Denver albei so bitter graag wil hê, voeg Ingrid by. Vir die afgelope 15 jaar het hulle al hul aandag en energie op Skye gefokus, wat outisties is. Maar dit gaan goed met Skye; sy is al baie onafhanklik en is oor die algemeen lief vir klein kinders, vertel haar ouers. So hulle weet sy sal ’n pragtige en beskermende ousus wees wanneer die baba kom. Selfs al het Skye vir Denver gevra of hy weet hy gaan 55 wees wanneer die baba eendag skool toe gaan. Hieroor skater Denver en Ingrid. Skye haal haar oorfone af en wil dadelik weet hoekom hulle lag.

Denver, Ingrid en hul dogter, Skye, deel ’n hegte band.

Oorwin saam

Denver raak vir ’n wyle stil en kyk sag na Ingrid en Skye wanneer hy sê: “Hierdie twee is my rots.” Ja, hul gesin is al deur diep, donker fases weens Denver se alkoholprobleem. Dit was die hele 12 jaar wat hy en Ingrid getroud is deel van hul lewens, maar veral Ingrid se onwrikbare liefde vir haar man het haar nie toegelaat om hom af te skryf nie. “I love this man to death,” sê Ingrid sag. “En ek wou my man terughê.”

Dis Denver wat kopskuddend sê, was dit nie vir Skye nie, was hy dalk steeds op ’n pad van selfvernietiging. Want dit was nie net drank wat hy misbruik het nie; hy het ook oor-die-toonbank-medikasie soos pyn- en slaappille saam met die drank gebruik. Met een van sy vele dronkepisodes het Skye vir haar ma gevra toe sy Denver vir die hoeveelste keer ’n kans gegee het nadat hy belowe het dinge sal verander, “Hoekom glo jy hom? Hy sal nooit verander nie.”

Haar woorde het beide Ingrid en Denver diep getref. As ma het Ingrid skuldig gevoel en dit het haar laat voel asof sy haar dogter in die steek laat. En vir Denver, wat nog altyd ’n baie hegte verhouding met Skye gehad het, het dit laat besef hy kan sy dogter verloor as hy nie iets daadwerkliks doen om weer die man en pa te word wat hulle leer ken het nie.

Skye het hom dus letterlik gered en ook net betyds, want dit het hom kans gegee om homself reg te ruk, betyds vir die nuwe baba wat op pad is en ’n nuwe hoofstuk in hul gesin se lewens. Wanneer sy nou daarop terugkyk, erken Ingrid hoewel Skye en die aandag wat sy benodig, die groot rede was hoekom hulle nie al vroeër vir ’n tweede kind probeer het nie, wou sy nie nóg ’n kind in ’n huis inbring waar alkohol probleme veroorsaak het nie.

“Ek dink nie ons sou hierdie baba kon hê as dinge nog dieselfde was nie,” begin Ingrid oopmaak oor hoe moeilik dit was om Denver vasgevang te sien in die kloue van alkoholmisbruik. “Ons al twee kom uit huise waar alkoholmisbruik ’n probleem was en ek wou by hom weet of dit regtig is wat hy wil hê vir ons.” Denver vertel hy drink al vandat hy 15 is en sê dit was nie as gevolg van groepsdruk nie. Hy wóú drink en was meer van ’n binge-drinker as ’n “elke-dag-drinker”. Hy sou niks in die week drink nie, maar naweke het dit woes gegaan.

“Toe ek begin vryskut, het ek red carpets gedoen en gekuier. Ek was nooit dronk op jobs nie. Maar ek het amper al ’n show verslaap en ’n amper aktrise laat val op die verhoog (omdat hy die vorige aand gedrink het),” vertel Denver. Hy het baie seer wat hy saam met hom dra. Dit spruit uit sy suster Valdene se dood in 1995, sy ma, Miriam, se afsterwe in 2013 en tussen 2016 en 2018 het hy vier van sy ma se sibbe (sy uncles Danny, Gerald en Henry Moodien en sy antie Yvonne An-drews) verloor. Hy het ook pyn saam met hom gedra omdat sy pa, John, destyds sy ma, vir hom en sy twee susters verlaat het. Sy ma moes daarna op haar eie regkom.

Soek vertroosting

Ingrid is swanger met hul tweede baba.

Op tye wanneer die hartseer oor al hierdie goed hom oorheers het, het hy vertroosting in drank gesoek. “Sulke goed het my getrigger. Ek sou in die garage gaan met ’n bottel whiskey en nie hoor tot die bottel half was nie. Ek het ook ’n vriend wat ’n drankwinkel het, soms het ek hom op pad huis toe gebel om die drankwinkel oop te hou sodat ek vir my iets kon gaan koop,” vertel Denver.

Waar hy besef het sy probleem begin groter raak, was toe hy drank op verskeie plekke in die huis begin wegsteek het, maar Ingrid het altyd daarop afgekom. Hy het ook nie meer goed gekommunikeer met haar en Skye nie. “Ek het net gedink Ingrid en Skye sit elkeen met hul eie struggles, ek wou nie nog myne ook op hulle sit nie. Ek het my werk gedoen en wanneer ek klaar was, het ek gekyk of daar rooiwyn in die yskas was. Ingrid het my gejoin om te probeer help (om matigheid voor oë te hou), maar waar sy ná een glas sou stop, het ek net aangegaan. Ek wou my pyn numb,” sê Denver.

Sy het geweet hy geniet ’n drankie, sê Ingrid, maar toe dit ’n probleem word, het sy met hom gepraat. Hy sou ophou, maar dan net weer begin drink. Dit het vir lank só aangegaan. Sy het al skeidreigemente gemaak, maar dit het nie gehelp nie. Denver onthou sy persoonlikheid het verander wanneer hy dronk was; hy was aggressief en luidrugtig, “en ek was net the belle of the ball by parties”. Hy het in die proses ook baie mense seergemaak en die berou hieroor sit vlak in sy oë waar hy by die venster uittuur oor die Kaapse hawe.

“Ek kon die seer in Ingrid en Skye en my pa se oë sien. Ek sou myself lankal geskei het as ek met myself getroud was. Ek en Skye was altyd so close, maar dit (sy alkoholmisbruik) het ons verhouding ook geaffekteer. Ek het myself verloor in daardie tyd. As akteur delf jy so baie in ander karakters, maar vergeet van jouself.” Ingrid onthou hoe sy en Skye uit Denver se pad gebly het wanneer hy dronk was. Die man vir wie sy so oneindig lief is en die goeie pa vir Skye en die dronk Denver het soos dag en nag verskil.

“Ek het by ’n punt gekom waar ek besef het hy is ’n groot man en moet self besluit wat hy gaan doen. Skye was kwaad vir my omdat ek Denver soveel kanse gegee het, maar ek wou ’n huis met ’n ma én ’n pa vir haar hê. Ek het ook altyd gebid hy sal rock bottom bereik,” vertel Ingrid voorts.

Toe Skye se woorde dat hy nooit sal verander nie hom tot stilstand ruk, het Denver teen einde Maart 2018 begin om drasties af te skaal en het geen-alkoholiese drankies begin drink. Op 9 April 2018 het hy homself by ’n rehabilitasiekliniek ingeboek, AA-vergaderings begin bywoon en het ’n sponsor wat hom ondersteun in tye wanneer hy swak voel. Dis letterlik een dag op ’n slag en daardie “een dag” trek nou al by 18 maande. Denver en sy pa het ook hul verhouding oor die jare herbou.

Sy pa is saam met Ingrid, Skye en vriende Hildegardt Whites (Bonita in 7de Laan) en haar man, Kuba, ook deel van sy ondersteuningsnetwerk. Sy pa is egter met prostaatkanker gediagnoseer en dis nóg ’n seer wat Denver moet verwerk. Maar dié keer is hy trots dat hy dit sonder drank kan doen. Wanneer Denver by dié punt van sy vertelling kom, is dit soos ’n gewig wat van sy en Ingrid se skouers af gelig word. Die verligting kan jy in hul oë sien. Hulle is deur ’n donker tydperk in hul lewens, maar met ’n nuwe klein Vraagom op pad sien hulle uit na ’n blink toekoms en die volgende hoofstuk van hul lewens . . .

Meer oor:  Kuier  |  Arendsvlei  |  7De Laan  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.