Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ingrid Jones sê haar sê
19 September 2018

Ingrid Jones (57) is nie op haar bek geval nie. Sy sê haar sê, come hell or high water. Maar sy was nie altyd só nie en sy moes leer om haar stem te vind. En noudat sy een van die formidabele vroue is wat op kykNET&kie se nuwe, opwindende geselsprogram, Tussen Ons, gesels oor dit wat vir Suid-Afrikaanse vroue saak maak, hoop sy ander vroue sal ook húl stem vind . . .

“Selfs nog op universiteit was ek te skaam om alleen kafeteria toe te loop. Ek sou eerder honger bly!” vertel sy laggend. Volgens haar het sy ’n swak selfbeeld gehad en vir haar plattelandse Bonnievale-hart was Kaapstad baie intimiderend. Sy het altyd eerder geskryf as gepraat.

Op Tussen Ons, aangebied deur Tracey Lange, laat Ingrid saam met haar “mede-geselsers”, Success Lekabe, Kay Karriem en Zelda la Grange, kykers se monde oophang oor wat hulle soms kwytraak, maar niemand kan wag om te hoor wat hulle volgende gaan sê nie.

Ingrid is ’n besigheidsvrou, uitvoerende bestuurder, redakteur, TV-persoonlikheid, pionier, ’n aktivis en een van die eerste bruin vroue wat begin práát het en só ook ’n rolmodel (hoewel sy nie haarself só wil beskryf nie) geword het.

“Ek weet nie eintlik hoe dit gebeur het nie. Die bedoeling is nie om ’n icon te wees nie. I just do what I do. Ek wou mos eintlik ’n predikant gewees het, so enige seepkissie is vir my lekker!” terg sy.

As sy vroue kan inspireer om te begin praat, soveel beter, maar sy wil nie ’n rolmodel wees nie. “Mense sal goed in hul vriendekringe sê, in ’n beskermde omgewing, en ek dink omdat ons maar sê wat ons dink en wil, praat mense deur jou. Hulle vind aanklank by wat jy sê. Hulle sal dit dalk nie self sê nie, maar acknowledge darem daar is ’n gesprek wat besig is om te gebeur,” verduidelik Ingrid.

Dis vir haar lekker om te sien hoeveel moeite die vroue doen wat deel is van die gehoor.

“Jy kan die energie in die gehoor voel as hulle met jou saamstem en dit is nogal vir my verstommend,” meen sy. En miskien, as “rolmodelle” goed aanspreek wat jy nie wil nie, gaan vroue dalk meer bemagtig begin voel om dieselfde te doen.

PRAAT NIE UIT NIE

Vroue praat oor die algemeen nie sommer uit nie. Die “silent generation” het daardie nalatenskap gelos. “Ek dink dis ons legacy. Ons was altyd aan die onderkant – as jy trou, word jou man die hoof van die huis, dan moet jy na die kinders omsien, so jy is eintlik altyd heeltemal laaste op jou lys,” verduidelik sy.

Dit raak gelukkig al minder omdat die “millennials” (diegene wat tussen 1983 en 2000 gebore is) nie regtig omgee wat hulle doen of sê nie, maar daar is mense wat steeds te bang is hulle gaan aangeval word as hulle sê wat hul regtig dink.

So as ’n vrou nie ’n kompliment kan gee nie, dan bly sy eerder stil.

“Dis vir my sad dat mense steeds nie vry genoeg voel nie. Daar is nou political vryheid, maar individuele vryheid is iets heeltemal anders en jy moet dít self aanvaar.”

Ingrid vertel sy het self eers haar eie stem gevind in 1986 toe sy begin skoolhou. “Dit was in die hitte van die politieke stryd en ons skool was midde-in die goed. Excelsior Sekondêr (in Belhar in die Kaap) was in daardie tyd die ‘skool of shame’ as gevolg van die bendegeweld wat rondom die skool aangegaan het. Ek het net eendag besef ek kan mos nie stilbly en sien wat met my kinders gebeur nie. Dis nie reg nie. En as jy eers die eerste keer gepraat het, dan is jy fine,” onthou sy. Nie lank daarna nie het sy ’n gesprek tussen die ouers en die skool gelei om bendegeweld aan te spreek. Van toe af het sy nog nooit weer stilgebly nie.

Die issue wat die naaste aan haar hart lê, is jong meisies wat nie ’n stem het nie, wat uit agtergronde kom waar verskriklike dinge met hulle gebeur. Ingrid se dogter is nou 19 en sy slaap nie snags nie, want sy is bekommerd oor haar dogter se veiligheid.

Tog maak gewone mense haar trots om Suid-Afrikaans te wees. “Net sodra jy dink ons kan actually nie erger as dit nie, dan is daar iemand of iets wat gebeur, wat so amazing is dat jy weet dié is die enigste land vir jou,” sê sy opgewonde.

Vir haar is dit belangrik om te onthou dat die nuwe Suid-Afrika nou maar eers 21 jaar oud is en, soos mense ook, gaan daar nog baie struggles wees voordat die land “volwasse” kan raak. “Daar wag nog ’n paar storm-en-drang jare, want ons is almal besig om onsself te vind,” sê sy. Solank mense mekaar net nie “bedoos” nie. Dít is ’n woord wat Ingrid, ’n Afrikaanse onderwyser, self opgemaak het vir die eerste episode van Tussen Ons, wat intussen soos ’n veldbrand versprei het. Hiermee verwys na hoe mense mekaar altyd in boksies wil druk.

LOS DIE BOKSE

Ingrid self word ook nog baie bedoos, selfs deur haar familie.

“Ek word baie ge-typecast as die ernstige een wat die swaar inhoud bring. Ek lag blykbaar nie baie nie. Maar eintlik lag ek baie, niemand vang my net ooit met ’n foto nie. Ek dink ek is eintlik hilariously funny,” skerts sy. In die verlede het dit haar baie gepla, maar sy gee nie eintlik meer om nie. Sy is wie sy is en klaar. “Jy kan mos nie help as jy slim is nie, man! Ek kan mos nou nie myself bedoos omdat ander mense dit doen nie,” lag sy.

Net soos gewone vroue, is Ingrid onlangs hard getref deur leënessindroom. Sy vermoed dis dalk omdat sy eers op 38 ma geword het.

“Dit was glad nie beplan nie. Ek het ’n halwe eierstok oorgehad en die dokter het gepraat van aanneem,” onthou sy.

Kinders was nooit deel van haar plan nie. Nou kan sy nie haar lewe sonder haar dogter indink nie.

“Ons lewens het toe half daarom gedraai. Sy was twee weke oud toe gaan sy saam met ons na ’n jazz-konsert toe. Sy was altyd daar en nou skielik niks en niemand nie en wat moet jy nou maak?” wonder sy.

Sy moes haarself herdefinieer en ander maniere vind om sinvol te wees om die leemte te vul. Deesdae oorweeg sy dit om ’n kinderboek te skryf vir jong meisies – geïnspireer deur haar dogter – om issues aan te spreek soos hoe om onafhanklik te wees, dat jou hare en jou klere jou nie definieer nie en dat jy ’n mens in eie reg is.

Die straight versus sogenaamde kroes-hare pla haar ook steeds. “Op sekere plekke is hare steeds ’n kwessie – dat straight hare ’n aanduiding van klas is en dat jy eintlik ’n bietjie beter is as ander mense as jou hare glad is.” Sy hoop jong mense sal begin besef jy is nie jou hare of jou klere nie – jy is jy. “Dit is die amazing ding van nou lewe – jy kan net jy wees.”

Ingrid se grootste wens is dat die jeug sal begin opstaan vir en aandring op gehalte-onderwys. “As jy opgevoed is, kan niemand met jou kop mors nie,” meen sy.

“Stel jouself bloot aan goed wat jou ongemaklik maak. As jy ’n reaksie het oor iemand wat gay is, want jy kom uit ’n agtergrond waar mense sê dis verkeerd, expose jouself daaraan. As jy ’n vrou is wat mishandel word by die huis, gaan na goed toe waar hulle vir jou beter oor jouself laat voel, sodat jy empowered kan word om te sê genoeg is genoeg. Stel jouself bloot aan goed wat jou jouself laat bevraagteken,” verduidelik sy.

“Dit help nie jy het vriendinne wat net soos jy is nie, want dan gaan jy niks leer nie. Wees vriende met mense wat jou kwaad of ongemaklik maak, want dít gaan jou laat groei. Droom groot en as jy een droom bewaarheid, is dit goed!”

En met haar lewensmotto “go big or go home” is Ingrid Jones beslis bestem vir nog groot dinge!

Ingrid Jones is een van die gasvroue op Tussen Ons, elke Donderdag om 20:00 op kykNet&kie, DSTV-kanaal 145. Stuur ’n e-pos aan gehoor@tussenons.tv om deel te wees van die gehoor.
Meer oor:  Tussen Ons  |  Ingrid Jones  |  Kyknet  |  Vroue  |  Geselsprogram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.