Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Die brandweervrou met 'n brandende passie vir haar werk
19 September 2018


Toe sy net meer as twee jaar gelede amper veroorsaak het dat hul familiehuis in Strandfontein buite Kaapstad afbrand, het dit Baigum Abrahams (23) geïnspireer om ook ’n brandbestryder te word soos een van die vele helde wat hul huis op daardie amper rampspoedige aand gered het.

Sy het daardie aand olie op die warm stoof gesit en aan die slaap geraak terwyl sy gewag het dat dit warm word. Toe sy iets hoor wat klink soos hout wat kraak, het sy gehoop die geluid kom van buite af. Maar toe sy opspring om na die olie te gaan kyk, was die kombuis reeds in vlamme.

Sy het vinnig die brandweer gebel en die hoofkragboks afgeskakel. Sy onthou net hoe bang sy was dat die hele huis sou afbrand. Sy het buite die huis gaan wag en gekyk hoe die brandweer vinnig speel om die vuur te blus wat hul huis en al hul besittings bedreig het.

Vir Baigum was dit ’n groot skok en iets wat sy nie gedink het sou met haar gebeur nie. Maar dinge gebeur vinnig en toe sy sien hoe die brandweermanne en -vroue saam werk en vinnig die vlamme blus om hul plek te red, het haar hart oorgeloop van respek en dankbaarheid vir hul werk. Sy het toe besef sy wil ook ’n verskil maak in haar gemeenskap soos hulle.

Baigum het nie gras onder haar voete laat groei nie en kort ná die brand het sy onmiddellik by die brandweerstasie gaan uithelp om te sien wat werklik daar gebeur. Sy was ywerig en wou alles weet van hul werk en hul daaglikse verantwoordelikhede. Deur dit te doen, wou sy vasstel of dit regtig is wat sy wou doen, want sy wou nie iets halfhartig doen nie. En ná die eerste paar dae tussen haar helde het haar liefde vir die beroep net dieper geword.

REDDINGWERKERS

Sy kom uit ’n familie van reddingwerkers met haar broer, Zakaariyah (22), wat as lewensredder op die strand werk en haar pa, Clint (58), wat al meer as 30 jaar vir die Nasionale Seereddingsinstituut werk.

Baigum het gereeld as kind saam met haar pa op die see uitgevaar en saam met hom werk toe gegaan, so sy het nog altyd ’n groot respek vir noodwerkers gehad en die belangrike rol wat hulle in mense se lewens speel. Sy het net nie, tot daardie Sondagmiddag in Augustus 2016 toe haar gesin se kombuis byna tot as verbrand het, besef dat sy ook in hul voetspore wou volg nie.

“Ek het groot respek vir die werk wat reddingwerkers doen en is van kleins af geleer dat dit jou nie noodwendig gaan ryk maak nie, maar dat dit ’n baie belangrike werk is. My pa is my held en dit is deur hom en my sibbe dat ek ook al van skooldae af as lewensredder op die strand tydens skoolvakansies gewerk het,” sê sy. “Daardie dag toe ek sien hoe die brandweer so vinnig, vreesloos en doeltreffend ons brand blus, was dit genoeg inspirasie vir my om ook deel te wil wees van daardie span.”

Nadat sy vir ’n ruk by dieselfde brandweerstasie uitgehelp het wat hul huis gered het, het sy as ’n vrywilliger begin werk by die eenheid wat veldbrande blus. Ná ’n jaar se seisoenwerk het sy die kursus van 18 maande begin om ’n voltydse brandbestryder te word.

Ná 18 maande van tawwe opleiding en klasse, was dit vir haar ’n droom om by die Mitchells Plain-brandweerstasie ’n pos te kry. En al was dit moeilik om te swot, te oefen en nog ’n vierjarige by die huis te hê, was dit vir haar nooit moeite nie. Dit was iets wat sy met haar hele hart wou hê en iets wat vir haar elke dag steeds die opoffering werd is.

“Toe ek die pos ’n maand gelede by die Mitchells Plain-brandweerstasie gekry het, het dit vir my gevoel asof alles full circle uitgewerk het. Dit is dieselfde span wat my huis gered het en wat my droom gespark het. Dit is die stasie wat die mense in my gemeenskap help en nou is ek deel van daardie span,” sê sy trots.

“Ek staan elke dag op met die wete dat ek heel moontlik ’n verskil in iemand se lewe gaan maak en iemand in my eie gemeenskap gaan help. Dit is ’n gevoel wat jy nie met geld kan koop nie en ’n trotse gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Omdat my familie ook reddingswerk doen, was dit vir hulle en veral my pa ’n groot oomblik van trots toe ek my kwalifikasie kry. Hulle verstaan die gevare, maar hulle verstaan ook hoekom ek dit doen.”

Baigum sê dit is daardie verhouding en begrip met haar familie wat dit vir haar makliker maak om haar werk te doen. Sy weet haar ouers sal haar altyd help met haar seun en as sy ná ’n moeilike dag by die huis kom, weet sy sy kan met mense praat wat verstaan waardeur sy gaan.

Ek staan elke dag op met die wete dat ek heel moontlik 'n verskil in iemand se lewe gaan maak...
Baigum Abrahams

NIE BANG NIE

Sy meen as ’n mens die heeltyd met daardie vrees gaan werk dat jy dalk nie sal terugkeer huis toe nie, sal jy nie jou beste kan gee nie.

“Ek kan nie aan my seun of familie dink wanneer ek werk nie. Jy kan nie toelaat dat jou emosies oorvat nie, want dit stel jou en jou span in gevaar, want jy moet net konsentreer op dit wat jy doen. As jou aandag nie heeltemal daar is nie, word dit gevaarlik.”

Baigum sê dis ook hoekom sy weer glad nie aan werk dink wanneer sy by die huis is nie, want dan is haar aandag by haar seun, familie en vriende. En hoewel sy ’n brandweervrou is en dit grootliks as ’n beroep vir mans gesien word, sal jy haar meestal net in hakskoene en rokke sien wanneer sy nie werk nie.

Sy begin lekker lag wanneer sy vertel dat mense altyd verstom is om uit te vind dat sy vir die brandweer werk omdat sy heeltemal ’n girly girl is.

“Ek hou van blomme, rokke en hakke. Ek dra nie baie grimering nie, maar ek sal altyd iets op my lippe dra. Ek is glad nie ’n tomboy nie, al gee ek glad nie om om aktiwiteite saam met my broers in die buitelug te doen nie,” sê sy.

Sy het pas met haar loopbaan begin, maar sy is reeds besig om naam te maak. Sy het onlangs die titel van Toughest
Firefighter in die Toughest Firefighter
Alive SA-kompetisie deur Fire & Rescue International gewen.

Dit was vir haar ’n groot eer om die titel te wen nadat sy teen 30 vroue en mans meegeding het.

“Ek het nooit veel tyd gehad om ’n opleidingprogram te volg soos ek sou wou nie. Ek het ook nie baie tyd gehad om my voor te berei nie, maar ek het seker gemaak ek wy ’n week aan die kompetisie,” sê sy.

“Ná werk het ek dummy drags geoefen, want ek het meestal daarmee gesukkel en die trappe van die civic-sentrum geklim. Vir die kompetisie moes ons ’n gelaaide waterlyn sleep oor sowat 30 m. Toe moes ons ’n 25 kg-drom deur ’n tonnel vat, ’n dummy (om ’n persoon te verteenwoordig) sleep vir 80 m en oor ’n muur wat 4 m hoog is, klim. In die derde fase moes ons ’n 25l-trommel vyf verdiepings hoog dra.”

Sy sê die kompetisie was moeilik, maar dit het haar trots gemaak om die titel te kon wen en om ook te bewys dat vroue net so goed soos mans is.

Sy weet nie wat die toekoms behels nie, maar sy is opgewonde om elke dag haar deel te doen om haar mense en gemeenskap veilig te hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.