Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Arendsvlei se Daniel deel sy seer
4 Maart 2020
Cantona


Die jong akteur Cantona James (21) mik nie net hoog nie, hy vlieg ook hoog! Die talentvolle Cantona, wat die rol van Daniel Lafras in kykNET&kie se gewilde telenovela Arendsvlei vertolk, laat kykers weekliks met ’n knop in die keel en trane in hul oë.

En net soos sy karakter in dié telenovela moes Cantona ook al verskeie storms in sy lewe trotseer. Hy moes deur moeilike tye gaan om te kom waar hy is, maar hy sê dis juis dié storms wat hom motiveer om die beste weergawe van homself te wees. Die hawelose Daniel het vinnig in kykers se harte gekruip, maar dis wanneer jy na Cantona se lewensverhaal luister dat jy besef hy het ook al die seerste seer in die lewe ervaar en het steeds sterker aan die anderkant uitgekom.

Cantona wat in Randburg, Johannesburg, gebore is en tans op Stellenbosch bly, sê soos ’n palmboom ken hy van sterk staan deur die wind en die reën. Terwyl ons in die Kaapse middestad stap, beduie hy opgewonde na ’n hoë palmboom voor hy voortgaan om te verduidelik hoekom hy homself met dié boom vergelyk. “Kyk daar – daai boom staan jaar in en jaar uit daar. Deur die wind, sand, reën – alles. Nou dis presies hoe ek myself sien.

Steeds staande ná alles wat ek in my lewe moes deurmaak.” Cantona weet waarvan hy praat, want sy grootwordjare was beslis nie die maklikste nie. In 2012 is sy lewe tot stilstand geruk toe hy eendag by sy ma se huis aankom. Sy stiefpa het sy ma, Althea, en sy half-broer en -suster, Cruise (3) en McKenzie (5), doodgeskiet. Hy het toe homself ook geskiet.

“Ek het geweet die verhouding is toxic en het gewonder hoekom my ma bly, maar het ek gedink dit sou lei tot my ma se dood? Nee.” Twee dae ná die voorval het sy stiefpa gesterf en twee weke later sy ma. Sy boetie en sussie is noodlottig gewond. Cantona was net 13 toe sy ma sterf. “Toe dié tragiese voorval gebeur, was ek in graad agt en dit het my diep geruk om die minste te sê.

Daai boom staan jaar in en jaar uit daar. Deur wind, reën – alles. Dis hoe ek myself sien. Staande ná álles wat ek moes deurmaak.

Mense praat met jou en gee vir jou tips oor hoe om met so ’n tragedie te deal. Hulle steek ’n kers op en sê jy moet ’n brief skryf om uiting aan jou emosies te gee, maar dis nie so maklik nie.” Dié beheersde klong haal vir ’n paar keer eers diep asem voor hy sê sy stryd met depressie het ná dié voorval begin. “Ek het gesukkel met vrae soos op wie se bors gaan ek nou slaap? Waar gaan ek die moederliefde wat elke kind benodig en na smag vandaan kry? Dit is goed wat jou tot op die grond afbreek. Hier is ek toe nou ’n 13-jarige kind wat binne ’n oogwink ’n man moes word.”

Hy vryf afgetrokke met sy hand oor sy gesig terwyl hy sy lip byt. Dan vra hy skielik: “Weet jy hoe moeilik dit is om aan iets te ly waarvan jy niks weet nie? Iets wat niemand wil verstaan nie? En jy kan niemand eintlik blameer nie, want jy weet ook nie wat regtig aan die gang is nie.” Cantona is met erge depressie gediagnoseer en op medikasie gesit. “Ek was in ’n donker gat. My gedrag was self-destructive. Ek het allerhande goed gedoen om my te laat vergeet, maar dit was ongelukkig nie die geval nie. Ek het weer onthou en weer en wéér . . .” sê hy terwyl sy stem breek. Oor sy ma kan hy nie uitgepraat raak nie. “Ek en my ma het ’n baie hegte verhouding gehad. Dis daai tipiese ma-en-seun-liefde. Sy was my alles.”

Cantona en sy oorlede ma, Althea.

Cantona sê hy het sy liefde vir die kunste van sy ma geërf. “Sy was ’n beautiful vrou, ’n model en aspirant- aktrise. Ons kon met mekaar resoneer – ek het haar verstaan en sy het my verstaan.” Die tragiese voorval het egter ook gelei tot die begin van baie groot dinge. As deel van die proses om sy seer te verwerk, het Cantona ’n monoloog geskryf waarin hy beskryf hoe sy ma aangerand en geskiet word. “Dit was my manier om dinge te verwerk. Ek moes aan my ma ’n stem gee.”

Die monoloog het die een prys ná die ander ingeryg. In 2016 het hy kykNET se nasionale toneelkompetisie gewen en ook ’n beurs om die daaropvolgende jaar by Universiteit Stellenbosch te studeer. Ná sy ma se afsterwe het Cantona darem nog sy biologiese pa gehad, maar hul verhouding is nog tot op hede nie maanskyn en rose nie. “My pa is nie ’n baie emosionele mens nie. Hy is nie affectionate nie.

En die feit dat ek die kunste as ’n loopbaan gekies het, is iets wat tot vandag nie tot hom deurdring nie.” Hy vertel daar was soveel tye waar hy net sy lewe wou beëindig en hy het dit al baie ampertjies reggekry. “Om jou ma te verloor, is een ding en dan om steeds jou pa te hê, maar nie emosioneel met hom ’n verhouding te hê nie, is iets heeltemal anders. Veral as dit voel of jy nie deur jou eie pa aanvaar word nie. Ek was al soveel keer op rock bottom, maar dit was my verantwoordelikheid om myself daaruit te kry – met of sonder sy ondersteuning.”

Hy mik hoog

Hy is passievol oor die vermaakbedryf.

Cantona meen rock bottom is die beste plek om jouself te bevind as jy al soveel in die lewe verloor het. “Jy is teen die grond, jy het niks meer om te verloor nie en al manier is opwaarts. Dan veg jy vir jou lewe. Jy besluit om jouself onvoorwaardelik te aanvaar en lief te hê. Dan begin dinge gebeur. Niemand kan dit vir jou doen nie.” Hy bly egter nie net staande nie, hy werk hard daaraan om sy kuns te verfyn en sy naam te vestig in die vermaakbedryf.

Sy harde werk is in Februarie beloon met die Fiësta-toekenning vir die beste opkomende akteur. “Ek het gevoel asof al my harde werk, sweet en trane die moeite werd was. “Ek het altyd laatnag gesit en met myself gesels oor wat ’n Fiësta vir my sal beteken. En dit beteken dat dié kunstenaar in homself moet glo, want baie ander doen.”

Dié talentvolle Gautenger is beloon vir sy uitmuntende spel in die teaterstukke Slawenhuis 39 en Jakkals en Wolf Onbeperk. En as jy na hom luister, weet jy – dit is net die eerste van vele toekennings! “Ek het die leuse aangeneem dat God my agent is. Hy sal vir my deure oopmaak wat niemand kan toemaak nie. Hy het my geskape en geseën met dié talent. My God is ’n God van wonderwerke!” En wat is volgende vir dié toegewyde en hardwerkende akteur? “Ek mik hoog, so internasionaal! Ek wil in ’n Netflix-reeks speel. The sky is not the limit, aim higher and live among the stars. Maak julle gereed, julle gaan sommer nog baie van my sien!”

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Arendsvlei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.