Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Atlantis-vrou smaak sukses in die regte
17 September 2020


As jy vir Kim Carlse van Atlantis buite Kaapstad as jong meisie sou sê dat sy eers ma sou word, daarna sou trou én skei, en dán die mal perd sou opsaal om voltyds regte te gaan studeer, sou sy jou sekerlik uitgelag het.

Maar dis presies hierdie agterstevoor-pad wat sy met sukses gevolg het. Vandag ploeg sy nie net terug in Atlantis, haar hartsgemeenskap waar armoede, geweld en middelmisbruik baie mense op moedverloor se vlakte het nie, maar is sy ook ’n sprekende voorbeeld dat ’n mens ondanks jou omstandighede nooit hoef op te hou droom nie.

Kim se ouers het ’n beskeie lewe gelei en in 1981 van Houtbaai na Atlantis getrek omdat daar by die destydse Atlantis Diesel Engins ’n werkgeleentheid vir pa Edward Stephens, ’n mechanic, was. Dit was toe maar nog ’n baie skralerige plekkie, vertel sy, en hulle het by ’n huis in Avondale ingetrek.

Dis in daardie einste huis wat die 47-jarige Kim, ’n enkelouer van vier en ’n jeugdige ouma van twee, vandag saam met al haar kinders en kleinkinders woon nadat sy dit uit haar oorlede pa se boedel gekoop het.

Bestem vir meer

Kim het in 1991 aan Proteus Senior Sekondêr gematrikuleer, as naasjongste die eerste van hul ses kinders wat hierdie mylpaal behaal het. Sy wou baie graag vloot toe gaan, maar net die volgende jaar – nog voordat sy behoorlik oor haar toekoms kon nadink – het sy ma geword. Dinge het vinnig ontwikkel en die jaar daarna het sy getrou met die pa van haar seun, ook ’n Avondaler.

Net vier jaar later het hulle egter in die egskeidingshof gestaan nadat ook ’n meisiekind uit daardie huwelik gebore is. Terwyl Kim nog getroud was, het sy by ’n plaaslike fabriek gewerk wat elektrisiteitsbokse vervaardig het. Daar het sy besef dat sy nie die res van haar lewe ’n fabriekswerker wil wees nie en met haar skoonsuster se hulp ’n ontvangspos by Nedbank gekry.

Een oggend het sy oudergewoonte die koerant deurgekyk voordat sy dit na haar baas se kantoor toe geneem het. “En ek sien dat die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) nog aansoeke vir LLB aanvaar.” Net daar het Kim – pas geskei en met haar jongste toe nog in doeke – besluit om die kans te vat. Dit was die een keer wat haar “gevorderde” ouderdom van 23 in haar guns getel het.

Hoewel sy matriek met ’n C-gemiddeld geslaag het, het sy nie universiteitstoelating gehad nie. Daardie jare was die vereiste dat jy vier van jou ses vakke op hoër graad moes geneem het en dat geeneen van daardie vier in dieselfde kategorie moes geval het nie, wat met haar die geval was. Op grond van haar ouderdom kon sy egter van dié vereiste kwytgeskeld word.

Kim was in ekstase toe sy verneem het sy het LLB-toelating gekry. “Nie in my wildste drome het ek gedink ek gaan op universiteitsgrond loop nie.” Haar ouers was egter onbewus van als en Kim het haar ma, alombekend as antie Connie, gevra om saam met haar UWK toe te ry. Eers daar het sy haar van haar planne vertel. “Is jy seker jy wil vir vier jaar gaan studeer?” wou haar verbaasde ma weet. “Hoekom doen jy nie net ’n secretarial kursus nie?” Waarop Kim geantwoord het: “Ek wil nie die secretary wees nie, ek wil die baas wees.”

Haar ma het omtrent gelag. Hoekom juis regte? “LA Law was destyds op TV,” lag Kim eers, maar vertel dan dat dit al die jare nog haar passie was om met mense te werk. “Ek haat injustice en wou nog altyd ’n verskil in mense se lewe gemaak het. My groot inspirasie was sekerlik my egskeiding. Dit was baie pynlik en het my laat besef wat alles ’n vrou in die proses moet deurmaak.”

Ek haat injustice en wou nog altyd ’n verskil in mense se lewe gemaak het. My groot inspirasie was sekerlik my egskeiding.

Sy wou ook aan haar kinders gee wat sy nooit gehad het nie. “Ek sal nie sê ons het arm grootgeraak nie, maar ons moes maar tevrede wees met wat daar was,” onthou Kim, wat ook ’n gestremde broer het. “As ons kaas of ’n stukkie koek gekry het, was dit ’n bonus. Ek was byvoorbeeld tevrede met my niggie se skoolskoene omdat daar nie genoeg geld was om vir my skoene te koop nie.”

Sy is baie dankbaar vir alles wat haar ouers vir hulle gedoen het. “Maar ek het gevoel ek wil nie my kinders grootmaak met handouts nie.” Só het haar nuwe pad begin. En, nee, universiteit het haar nie geïntimideer nie. Sy het net vir haarself bly sê: Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, dis waarheen jy op pad is.

Haar ouers het haar deurentyd baie met haar kinders gehelp en sy was ook gelukkig om baie support van hul pa te kry. Maar die res het van haar afgehang. Vier jaar lank het sy op weekdae tussen Atlantis en UWK gependel met die karretjie wat sy met haar egskeidinggeld gekoop het. Kim het gereël dat studente saam met haar ry om die brandstofkoste af te bring.

Vrydagaande moes die studente egter ’n ander plan maak omdat Kim oor naweke halfdagskofte by ’n supermark in Table View gewerk het om onder meer haar registrasie- en losiesgeld te betaal.

En toe, in haar finale jaar, raak sy swanger met haar derde kind. “Ek het nog die Dinsdag en die Donderdag hoogswanger eksamen geskryf en die Sondagaand is daai enetjie gebore,” onthou sy. Daar was nog een eksamenvak oor, corporate law, wat sy toegelaat is om in Januarie te skryf, maar ongelukkig het sy dit gedruip. Kim was baie teleurgesteld, maar dit het haar nie ondergekry nie.

Werk werp vrugte af

Sy het by die Universiteit van Kaapstad (UCT) aansoek gedoen vir legal practical training, wat ses maande sou duur en haar articles van twee jaar met ’n jaar sou verminder, en ook om die vak wat sy gedruip het deeltyds by UWK oor te doen. Weer het sy deurgedruk, al het sy ’n babatjie tuis gehad. Om betyds by UCT te wees – en hulle was báie ernstig daaroor – moes sy soggens vyfuur die bus uit Atlantis vat. Einde 2002 het sy by albei universiteite geslaag en in Maart 2003 het sy graad gekry.

Toe sy in Desember 2004 toegelaat is as prokureur, was dit ’n groot oomblik vir almal. “Fantasties!” beskryf sy daai gevoel. “My ma en pa was by. Hulle was verskriklik trots.” Vandag kan sy net so trots noem dat haar naasoudste in haar regsvoetspore gevolg het en dat haar naasjongste onderwys studeer. Kim se loopbaan het in Legal Aid op Atlantis begin.

Ná ’n senutergende eerste verskyning in die landdroshof, het sy wye ondervinding daar opgedoen en mettertyd ook in die streekhof opgetree. Oor die jare het sy ook as kontraklanddros, by ’n debt review-onderneming en vir twee munisipaliteite gewerk, hoewel haar hart altyd getrek het prokureurs-beroep toe. ’n Tydjie in ’n ander prokureur se privaat praktyk op Atlantis het hartseer geëindig toe hy weens persoonlike probleme van die rol geskrap en sy retrench is ’n maand voor die geboorte van haar vierde kind.

In Februarie vanjaar het sy uiteindelik daarin geslaag om haar eie praktyk op Atlantis te vestig. “Vandag het ek ’n baie goeie kliëntebasis daar,” sê Kim, wat die afgelope vyf jaar in ’n vaste verhouding is. Dis belangrik vir haar om terug te ploeg en te wys dat selfs iemand wat in ’n staat-skool op Atlantis was, kan uitstyg.

Een dag ’n week staan sy aan gratis konsultasies af. As sy weet kliënte sukkel finansieel, sal sy hulle boonop ’n verminderde regstarief vra en laat afbetaal. Sy beplan tans plaaslike inligtingsessies sodat mense kan weet wat hul regte is en skryf reeds een keer ’n maand vir ’n plaas-like koerant iets hieroor. Sy wil ook baie graag die verhouding tussen die plaaslike polisiekantoor en Atlantis se inwoners verbeter.

Maar haar grootste droom is om ’n NGO te stig waarby rolspelers spesifiek uit Atlantis betrokke sal wees, soos sakelui, gemeenskapsleiers en veral professionele mense. Die beginpunt sal wees om minderbevoorregte kinders wat die potensiaal het om hul drome te verwesenlik, finansieel by te staan.

Die gedagte is dat dit ’n kettingreaksie sal ontlok sodat daardie studente ook weer later betrokke sal raak, meer kinders in die plaaslike gemeenskap bereik kan word en meer geleenthede vir die volgende generasie geskep word. “Ek wil Atlantis se kinders op universiteit kry en ver uitstuur.” Ja, Kim het full circle gegaan . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.