Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Blinde vrou bou eie klere-besigheid
19 Februarie 2020


Vir Caroline van Rooi (48) van Delft in die Kaap is niks onmoontlik nie. Dié blinde vrou neem groot spronge al het sy nie meer bene nie en meen sy kan alles doen wat sy wil, want met haar kop skort daar mos absoluut niks!

Toe Caroline, wat lank as ’n masjinis in ’n fabriek gewerk het, haar bene en sig weens diabetes verloor, het sy gedink haar lewe is verby. Sy moes egter haarself afstof en uit die donker gat van depressie lig sodat sy vandag nie net haarself nie, maar ook ander vroue kan bemagtig.

Nou is Caroline die trotse eienaar van Red Pilot Clothing Manufacturers in Delft. Deesdae bemagtig sy vroue in haar gemeenskap deur vir hulle werk te skep en wil sy deur haar storie wys wat bruin vroue kan bereik as hulle net die kans gegun word. “Ons hoort lankal nie meer net in die fabriek nie, ons is nou aan die stuur van ons eie toekoms. Ons kan ook ons eie besighede besit met ons vaardighede en kennis!” sê sy passievol.

Caroline is in 2007 met tipe 1-diabetes gediagnoseer, maar sy wou niks daarvan hoor nie. “Vir een of ander rede bestaan die stigma dat diabetes ’n oumenssiekte is. Soos baie ander het ek ook só geglo. Toe die dokter dus in 2007 vir my sê ek het diabetes, het ek net daai dag geluister wat hy sê, maar nooit pille daarvoor gebruik nie, want volgens my was ek blakend gesond.”

Begin van verlies

’n Jaar of twee later het sy ’n eelt onder haar voet gekry wat swart getrek het. “Dit was baie seer en ongemaklik, maar ek het regtig nie veel daarvan gedink nie. Op ’n stadium was dit baie ongemaklik en dis toe ek besluit om dokter toe te gaan om te hoor of hulle dit nie kan afsny nie.” Dié proses was egter nie so eenvoudig soos Caroline gedink het nie.

“Die dokter het na die eelt gekyk en my suikervlakke getoets en gesê hulle kan ongelukkig nie die eelt verwyder nie, omdat die suiker al te ver gevorder het. Hulle moes my hele voet afsit.” Caroline was stukkend. “Ek het net gedink hoe gaan ek aangaan sonder my voet. Daar gaan op daai stadium soveel dinge deur ’n mens se kop. Jy voel mismoedig en hopeloos.”

Een van haar permanente masjiniste.

Caroline was klaar in sak en as en toe kry sy nog boonop gangreen. Gangreen word veroorsaak as weefsel doodgaan omdat daar nie genoeg bloed daarheen vloei nie. ’n Mens kan simptome kry soos vel wat rooi of swart word, gevoelloosheid, swelling en pyn. Die voete en hande word die meeste aangetas. Die gangreen het veroorsaak dat dokters Caroline se linkerbeen moes afsit.

“As ek gedink het dit was moeilik om my voet te verloor, sou ek nooit kon raai watter impak dit fisies en emosioneel op my sou hê om my hele been te verloor nie.” Sy het toe depressief geraak. Sy sug diep voor sy vertel dit was waarskynlik een van die moeilikste tye in haar lewe. “Dinge wat gewoonlik maklik was om te doen, was nou moeilik. Dit is ook net daai ding van selfbejammering – jy voel net nie goed oor jouself en jou toekoms nie. En soos ons almal weet, het selfbejammering nog vir niemand ’n sent in die sak gebring nie.”

Vyf jaar nadat Caroline haar linkerbeen weens diabetes verloor het, het sy ook haar sig verloor. “Ek het nooit gedink die siekte sou my hele lewe so handomkeer verander nie. Om ’n been te verloor was een ding, maar my sig?” Die vrou met die aansteeklike glimlag raak skielik stil en haal vir ’n rukkie diep asem voor sy sê lees is een van die dinge is wat sy die meeste mis. “Die gevoel van ’n boek in my hand. Om met my vingers van een bladsy na ’n ander te blaai. Dit is een van die dinge wat ek die meeste mis . . .”

Caroline het toe wel haar sig en been verloor, maar midde haar depressie het sy besluit om haarself uit die donkerte te lig. “Ek moes dit doen, want ek kon voel hoe ek besig is om myself te verloor. En glo my as ek sê dit is een ding wat ek nie kon bekostig om te verloor nie – myself.” Sy het besluit om ’n kursus te doen om te leer om ’n braille computer te gebruik.

“Ek het al die jare as ’n masjinis in ’n fabriek gewerk en dit was nie vir my maklik of lekker om ledig te wees nie. Van kleins af is ek geleer dat ledigheid die duiwel se oorkussing is.” Nadat sy die kursus voltooi het, het sy ook ’n kursus in projekbestuur gedoen. “Die studies het my weer hoop gegee. Dit het my weer laat besef daar is meer in die lewe as om myself te bejammer en ledig te wees. “

Skep werk

Ná haar studies het Caroline aanvanklik besluit om klere aan te koop en dan te verkoop. “Vir ’n maand of twee het dit gewerk, maar dit het my nie gestimuleer nie. Hier sit ek dan toe nou met al die kennis om self klere te maak, so hoekom kon ek nie dit gebruik nie?” Sy het vir Monique Saib en ’n masjinis aangestel en in 2017 is Red Pilot Clothing Manufacturers begin.

“Toe Monique by my kom, het sy niks geweet van lap sny en hoe om op ’n overlocker te werk nie. Ek het haar alles geleer wat sy ken.”

Ek voel of dit die regte snit is, of die sakke diep genoeg is sodat mense se hande daarin kan gaan, of die stitching van die produk reg is en ook die hem daarvan. My sintuie is baie skerp, so ek kan letterlik alles voel!

Verlede jaar het Caroline ook haar regterbeen verloor. “Ek wil nie sê ’n mens raak gewoond daaraan nie, maar dit is beslis nie so moeilik soos die eerste keer nie. Dis moeilik om te aanvaar, veral omdat ek weet hoe die lewe is met bene en met sig. Nou is dit net anders. Ek doen steeds al die huishoudelike takies en ek kap aan by Red Pilot Clothing Manufacturers. Ek het ’n baie goeie ondersteuningstelsel en Red Pilot hou my op my voete – figuurlik natuurlik!” Caroline lag lekker vir haar eie grappie.

Caroline is die ma van ’n 21-jarige seun en sê haar seun en man, Roger, se ondersteuning het ook die wa deur die drif help trek. “Hulle het my met alles gehelp tot ek self aangepas het. Ek moes my huis van vooraf leer ken en daar is sekere dinge wat aangepas moes word om dit vir my meer gemakliker te maak en nie een keer het hulle gekla daaroor nie. Vir beter ondersteuning kon ek nie vra nie.” Red Pilot Clothing Manufacturers het begin met net een masjien en besit vandag 12 masjiene, het twee voltydse masjiniste en ’n lapsnyer.

Caroline kan self nie meer fisies klere maak nie, maar daar is nie ’n produk wat nie deur haar hande gaan nie. “Ek gaan koop self al die materiaal. Ek voel elke produk en verduidelik hoe ek dit wil hê en wat die look en feel daarvan moet wees.” Met Kuier se besoek aan Red Pilot Clothing Manufacturers is Caroline juis besig om ’n kledingstuk te ondersoek.

Elke item word persoonlik deur Caroline ondersoek voordat dit uitgaan.

Sy voel kundig aan die stitching van die baadjie, die sakke en verduidelik entoesiasties wat sy besig is om te doen. “Ek voel of dit die regte snit is, of die sakke diep genoeg is sodat mense se hande daarin kan gaan, of die stitching van die produk reg is en ook die hem daarvan. My sintuie is baie skerp, so ek kan letterlik alles voel!” Sy lag voor sy sê Red Pilot Clothing Manufacturers maak alles wat klere betref behalwe skoene! “Party mense sal seker nou sê ek het ’n vendetta teen skoene, maar dit is maar nou wat dit is!”

Caroline sê trots dat sy nou ’n vaste inkomste verdien uit haar besigheid en ook bly is dat sy vir ander mense werk kan skep. Volgens Caroline is dit belangrik vir vroue om hul vrese te oorkom en uit hul koppe te klim. “So baie keer gebeur dinge met ons en dan oordink ons die situasie. Daar is mense wat nie die geleentheid het om nog ’n dag te lewe nie en dit is hoekom dit my missie is om elke dag beter te wees as wat ek die vorige dag was. Jy kan enige iets vermag waartoe jy jouself in staat stel!”

* Foto’s: Dale Fourie

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.