Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Dr. Mary veg vir geslagsgelykheid
13 November 2019


Die plakkate teen dr. Mary Hames se kantoormure sê alles. “My life, my story, my terms.” “Keep your culture off my body.” “Whore”, “slut”, “hoer” . . .

Almal het te doen met produksies wat studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se Geslagsgelykheidseenheid (GEU) op die planke gebring het om protes aan te teken teen die endemiese geweld teen vroue.

Dis op werklike ervarings gegrond, wat dit nie net ’n protes-aksie maak nie, maar ook ’n skeppende helingsdaad, verduidelik Mary. Met geen dramadepartement of teater op kampus nie, het hulle al die produksies self behartig.

“Ons het in byna al die belangrikste Kaapse teaters opgetree – selfs die Kaapse Konferensiesentrum – en jaarliks is ons ook by die nasionale kunstefeeste,” sê Mary trots. “Ons studente leer van verhoogbestuur tot beligting in ’n kort tydjie. En met hulle skryfwerk bring hulle wonderlike merkers uit.”

Daar was selfs al oorsese opvoerings. In 2015 het Mary die jaarlikse Nelson Mandela-lesing aan die Pennsylvania State University in die VSA aangebied. Ses studente het haar vergesel met hul bekroonde Reclaiming the P. . . Word – ’n produksie oor die terugeis van hul liggame en stories, en die uitbeelding van daardie stories op húl manier. Die GEU is in 1993 deur die menseregte-aktivis Rhoda Kadalie gestig. Mary is sedert 1999 betrokke en sedert 2000 die solo-direkteur.

Einde Augustus vanjaar – juis toe protes teen geslagsgeweld landwyd opgevlam het – was daar ’n voorval close to home toe die 19-jarige UWK-teologiestudent Jesse Hess saam met haar 85-jarige oupa in hul woonstel in Parow vermoor is. Tog weier Mary om te glo dat die stryd teen geslagsgeweld verloor word.

Al is die syfers steeds skokkend hoog, glo sy in haar hart dat sy en haar eenheid oor die jare deur veral hul dramagroep ’n noemenswaardige bydrae gelewer het om bewustheid teen geweld en selfvertroue onder vroue aan te wakker. In die week ná die moord op Jesse en haar oupa het hulle ook ’n belangrike bydrae gelewer deur helende sessies op kampus aan te bied.

Die GEU is nie net die eerste eenheid in sy soort by enige Suid-Afrikaanse tersiêre inrigting nie, maar waarskynlik die vlagskip-program in Afrika, sê Mary. Nou het dit ook wyer erkenning gekry. Met haar onlangse besoek aan Suid-Afrika het Meghan Markle, hertogin van Sussex en vrou van prins Harry van Brittanje, drie skenkings vir die bevordering van geslags-gelykheid bekend gemaak.

Een daarvan was vir die UWK-eenheid. “Dit kom op ’n geleë tyd met president Cyril Ramaphosa wat homself verbind het tot die totstandkoming van geslags-gelykheidskantore,” sê Mary. “Die land het vreeslik progressiewe wetgewing, maar interne beleidsrigtings hou soms nie daarmee tred nie. Met die skenking gaan ons bestaande beleidsrigtings hersien en dit meer geslagsinklusief en nie-diskriminerend maak. Dieselfde sal vir navorsers en hulle navorsingsprojekte geld.”

Die GEU-studente is almal vrywilligers wat kosbare vrye tyd opoffer om werksessies met ander studente te fasiliteer en skole en werkplekke te besoek. Hulle studeer in verskillende rigtings en probeer als balanseer deur Saterdagoggende hier byeen te kom. Hulle word nie ’n sent daarvoor betaal, soos so baie ander programme aan universiteite nie, benadruk Mary. “Dít beteken vir my iets. Dit gaan oor wat binne hulself is en om ’n verandering in die gemeenskap te bewerkstellig.”

Haar roeping

Mary (64), die derde oudste van ses kinders, was vroeg reeds bestem om by ’n eenheid soos dié op te eindig. Reeds as kind het dié gebore Namakwalander die ongelykheid op vele gebiede rondom haar opgemerk en vrae gevra. Haar pa was hoof van die Katolieke laerskool in Kamieskroon, waar haar ma ook skoolgegee het, en sy, haar drie broers en twee susters het daar skoolgegaan.

Toe ek op universiteit kom, was al die professore mans. Die hele studenteraad was mans. As ons destyds ’n eenheid soos hierdie een gehad het, sou dit vir my baie beteken het.

“Ek moes altyd met die seuns kompeteer vir iets soos gelyke sakgeld,” onthou sy. Haar broers is vir hoërskool stad toe gestuur, maar sy moes aan ’n plaaslike Katolieke skool matriek voltooi. “Ek het gedink dis heeltemal onregverdig.” Haar politieke bewussyn het verskerp toe sy biblioteekkunde aan UWK begin studeer het. Dit was net ná die eerste studenteprotes in 1973 op kampus.

“Ek het gevoel daar was baie onregte. Toe ek grootgeword het, was al die skoolhoofde mans. Toe ek op universiteit kom, was al die professore mans. Mans het die uitvoerende posisies beklee. Die hele studenteraad was mans.”

Nêrens op kampus kon ’n klag teen seksuele geweld of teistering ingedien word nie. “As ons destyds ’n eenheid soos hierdie een gehad het, sou dit vir my baie beteken het.”

Uiteindelik het die GEU ’n groot rol daarin gespeel om vroue op kampus in gesagsposisies te kry. Mary het nog studeer toe die groot Soweto-studenteprotes in 1976 losgebars het. Het sy self aan protesoptredes deelgeneem? “Ja! Ek sal altyd deelneem as iets nie reg is nie.”

Ná haar studie het sy vanweë haar beursverpligtinge vir die destydse Kaapse Provinsiale Administrasie (KPA) in Kaapstad gaan werk. Dis gevolg deur ’n tydjie as onderskeidelik bibliotekaris in die destydse Mafikeng en geskiedenisonderwyser by Manenberg Hoër voordat sy haar terug by die UWK bevind het as bibliotekaris.

Mary was honger vir lees en het reeds as kind boeke verslind. In haar jongmensjare was daar nog nie iets soos ’n teoretiese rigting vir geslagsgelykheid nie. “Ek het wonderlike ondervinding opgedoen deur in die UWK-biblioteek plat op die vloer te sit en my te omring met boeke wat deur feministe geskryf is.” Uiteindelik het sy deeltyds ook ’n honneursgraad in biblioteekkunde verwerf, en daarna ’n meestersgraad in politieke wetenskap en ’n doktorsgraad in genderstudie.

Vir laasgenoemde het sy uit ’n swart feministiese oogpunt na kritieke opvoedkundige teorieë en aktivisme gekyk. Haar hoofargument was dat onderrig nie net in die formele klaskamer plaasvind nie, maar ook in die onwaarskynlikste plekke daarbuite – soos met haar dramagroep. Mary glo haar twee oumas, Magrieta Damon en Miriam Hames, het die grootste rol in haar lewe gespeel.

Ouma Magrieta het vas geglo haar dogters moes geleerdheid kry. “My ma was seker een van die eerste nie-wit vroue met ’n standerd 8-sertifikaat in die 1940’s – ’n groot ding vir daardie tyd. Sy het op haar beurt sterk daaroor gevoel dat haar dogters moes gaan leer.” Ouma Miriam was ’n formidabele sakevrou wat onder meer gemmerbier verkoop het om hul inkomste aan te vul. Sy het nie net in hul huis nie, maar ook in die gemeenskap die leiding geneem. Eintlik, mymer Mary, het al die vroue in haar lewe groot leiding geneem.

“Ek dink soms ons skrywe ons vroue uit ons geskiedenis uit,” voeg sy by. Een van haar jongste projekte is om die ervarings van vrouestudente tussen 1970 en 1980 aan die UWK aan te teken. Omtrent 30 vroue-alumni is betrokke. “Die studente in ons koshuis het van heinde en ver gekom,” onthou sy. Uit Namakwaland, die ou Transvaal, Natal, die ou Suidwes-Afrika . . . Sterk vriendskappe is gebou.

“Ons reflekteer op wat ons bygedra het en wat dit vir óns beteken om in ons vyf-tiger- en sestigerjare daarop terug te kyk.” Wat beskou sy as die GEU se hoogtepunt? “Dat dit ná 26 jaar nog bestaan en steeds ongelykheid bekyk. Deesdae is daar groot geslagsgelykheid-projekte aan verskillende universiteite, maar die UWK was op baie gebiede die voorloper.”

En as sy net een boodskap kan oordra, wat sal dit wees? “Ons moet altyd paraat en voorbereid wees. Ons kan nie selfgenoegsaam raak nie. Sodra ons agteroorsit en dink ons het alles bereik, is dit net daar waar iets verkeerd gaan.”

* Foto’s: Dale Fourie

Meer oor:  Kuier  |  Geslagsgelykheid  |  Inspireerder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.