Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Gestremde meisie lewe voluit
16 Oktober 2019

Sy was voor haar geboorte met ’n seldsame toestand gediagnoseer, maar dié sprankelende klein vegter staan vir niks terug nie! 

Sarah-Hope Berg leef voluit.

Met ’n sprankel in haar ogies en ’n skattige ondeunde glimlag, steel Sarah-Hope Berg (7) van Vredehoek in Kaapstad, sommer onmiddellik ’n mens se hart. Wanneer jy in haar teenwoordigheid is, is dit maklik om te vergeet sy is byna nie gebore nie, sy het nie arms nie en sy sukkel om te loop.

Leigh Berg (40) was skaars 13 weke swanger met haar en haar man, Richard (44), se eersteling toe hul ongebore bondeltjie liefde gediagnoseer is met die seldsame hydrops fetalis, ’n toestand waar vloeistof in minstens twee fetale kompartemente in die baarmoeder versamel. Daar vind ook geweldige swelling plaas in die baarmoeder.

Net ongeveer 20% van babas wat voor geboorte gediagnoseer word, oorleef tot geboorte en van daardie babas sal slegs 50% daarna oorleef. Sarah-Hope se toestand is veroorsaak deur TAR-sindroom, wat onder meer beteken sy het nie ’n radius-been in haar voorarm nie.

“Dit was soos om deur ’n trok getref te word – om te hoor ons perfekte dogtertjie se hele lyfie is erg opgeswel, haar longe is onder erge druk, dat die meeste van haar armbene weg is en dat dit moontlik is dat haar hart en ander organe nie reg funksioneer nie. Hulle het vir ons gesê dis ’n wonderwerk dat sy nog lewe, dat sy geen kans op oorlewing het nie en dit alles oor sal wees binne ’n paar weke – of selfs dae. Dit was oorweldigend,” onthou Richard. Die paartjie was onseker of hulle moet voortgaan met ’n swangerskap wat moontlik kon eindig in enorme hartseer.

“Wat as ons ons baba verloor, wat as sy oorleef, maar met mediese behoeftes groter as wat ons kan hanteer?” Die meeste mense sou knak onder dié verskriklike druk en onsekerheid, maar die Berg-paartjie het hul geloof in die Here geplaas. Ná talle gebede het hulle besluit om voort te gaan met die swangerskap, ongeag die uitkoms. En Sarah-Hope hét teen alle verwagtinge oorleef en is vandag haar ouers se sonstraal. Hulle leer elke dag by haar wat dit is om aan te hou probeer en ten spyte van jou tekortkominge, ten volle te lééf.

Spesiaal

Wanneer ’n mens Sarah-Hope ontmoet, vang dit jou ’n bietjie onkant omdat haar toestand nie iets is wat jy aldag sien nie. Jy wil half twee keer kyk om seker te maak jy het reg gesien. Daar is egter niks wat haar terughou nie. Sy seil so vinnig soos blits om van plek tot plek te kom en trek haarself op met haar kort handjies.

Van sukkel om te eet of te speel, is daar geen teken nie – sy gebruik haar voete om kos en speelgoed van die grond af op te tel en in haar handjies te sit. En haar aansteeklike lag is genoeg om enige hart te vermurwe. Omdat Sarah-Hope só gebore is, het haar liggaam natuurlik en merkwaardig aangepas en daar is so baie dinge wat vir haar normaal is, al is dit anders as wat ander mense dit doen.

Wanneer Leigh nou na Sarah-Hope kyk, besef sy hoe ver hulle gekom het en hoe kosbaar hul dogter is.Tydens haar swangerskap het Leigh se ginekoloog haar voorberei daarop dat die baba moontlik binne-in haar sou sterf en op ’n manier verwyder sou moes word. “Die dokter het vir my verduidelik die baba sou nie baie mooi lyk nie, en of ek dit regtig sou wou sien.

Ná ’n vinnige scan, het sy erken sy kan nie sien dat die baba gaan oorleef nie.” Iemand anders het later vir haar verduidelik die baba sal moontlik in stukke uitgehaal moet word en dat dit dalk nie is hoe sy haar kind sal wil onthou nie. Daardie aand was Leigh stukkend. Sy het haarself aan die slaap gehuil. “Toe voel ek die eerste keer hoe Sarah-Hope in my beweeg. Dit het my asem weggeslaan.

“Sy het my die hele aand ‘geselskap’ gehou en ek het God se liefde intens ervaar,” onthou Leigh. Elke oomblik met haar was kosbaar. “Ek het selfs haar hartklop tydens een van die scans opgeneem en gebruik as my foon se luitoon!” voeg Richard by. Die vertroue in God en die passie wat Leigh en Richard ervaar het vir Sarah-Hope, het egter nie haar geboortedag minder vreesaanjaend gemaak nie.

“Sy was veilig in my. Sodra sy sou uitkom, het ons geweet sy sou swaarkry en dít het ons harte gebreek,” meen Leigh. Op 36 weke het die dokter besluit as gevolg van komplikasies moes Sarah-Hope uit – óf hulle nou gereed is óf nie – en op 2 Desember 2011 het die bondeltjie liefde waarop hulle so lank gewag het, haar verskyning gemaak; “pink and feisty with a serious will to live!”, soos een van die dokters haar beskryf het. Sy het egter noemenswaardige fisiese uitdagings gehad.

Tog was die paartjie voorbereid dat hulle hul dogter net vir oomblikke, indien enigsins, in hul lewens sou hê. Soveel so dat hulle nie eens vir haar ’n bed by die huis gehad het nie. “Ek het haar eerste vasgehou terwyl dokters vir Leigh toegewerk het. Dit was ’n oomblik waar ’n hemelse liefde vir Sarah-Hope my hele hart oorgeneem het. Ek was totaal en al betower deur haar. Liefde was sterker as enige vrese of bekommernisse,” verduidelik Richard.

Ek was totaal en al betower deur haar. Liefde was sterker as vrese of bekommernisse.

Sterker saam

Hoewel Sarah-Hope die eerste ruk van haar lewe in-en-uit hospitale was en die nuwe ouers bekommerd was oor haar liggaam en hoe moeilik die lewe dalk vir haar gaan wees, was hulle opgewonde om die lewe saam met haar te begin in die hande van God. Dertien maande later is die gesin geseën met ’n pragtige blou-oogsussie vir Sarah-Hope, genaamd Libby.

Op omtrent drie jaar oud het Sarah-Hope begin agterkom sy is anders as haar sussie en ander mense rondom haar. “Sy raak steeds soms werklik hartseer – dis amper asof sy rou,” vertel Leigh saggies. “Maar ’n groot terugslag en hartseer was toe sy ’n paar jaar gelede nie meer op haar voete kon loop nie. Sy loop nou op haar knieë. En hoewel ons tans nog haar arms en bene kan wees, word die verskil tussen haar en haar portuurgroep ál groter, veral in terme van onafhanklikheid en fisiese vermoëns.

“En ons sal haar nie vir altyd kan dra nie, so ek weet dié hartseer gaan net vererger,” sê sy afgetrokke. Onlangs was die gesin op die strand toe Sarah-Hope sê: “Ek wens ek kon ook op die strand hardloop. Libby is so lucky . . .”

En dít raak al hoe meer. Leigh en Richard werk egter onverpoos om beide hul dogters te help om hul gevoelens en frustrasies te verwerk sodat hulle gelukkige, vervulde lewens kan lei. Hoewel die onsekerheid soms steeds dreig om hulle onder te kry, was die afgelope jare sedert Sarah-Hope se geboorte ’n ongewone leerskool vir die Berg-gesin, maar nie een wat hulle vir enigiets sou wou verruil nie.

Ja, Sarah-Hope is anders, verg baie aandag en hulp, en soms staan Libby heelagter in die ry en kry ook maar swaar, maar saam-saam verander die gesin die wêreld met hul liefde vir mekaar en hul deursettingsvermoë om te bewys enigiets is moontlik. “Sarah-Hope se lewe sover, het so ’n noemenswaardige impak gehad – nie net op my en Leigh nie, maar so baie ander wat ’n stukkie van die pad saam met haar gestap het. Ek is net soos enige ander pa wat – ten spyte van die min slaap, die doeke, die alles – sonder enige twyfel weet my dogtertjies is die oulikste en ja, die beste in die hele wêreld!” sluit Richard trots af.

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.