Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Hy doen dit pa-alleen
16 Mei 2018


Dis nie maklik om ’n enkelpa te wees nie, wat nog te sê ’n enkelpa van twee dogters.

Maar Voroshski Jansen (38) van Kraaifontein buite Kaapstad, het nie gehuiwer om die taak aan te vat toe sy twee dogters, Leromi Kooper (17) en Mckenzi Hael (12), permanent by hom moes bly nie. As jy so na hulle huis kyk, sou jy verwag dat Voroshski hulp met sy huishoudelike take soos skoonmaak het, maar op dié vraag antwoord hy vinnig “nee”.

Hy doen alles self en is ’n ware Mr Mom. Terwyl hy in die middel van sy twee dogters in hul sitkamer sit, vertel hy dit was nie ’n maklike aanpassing nie. Leromi en Mckenzi het verskillende ma’s en die twee het op verskillende tye by hom ingetrek. Mckenzi het in 2011 ingetrek, nadat Voroshski en haar ma hul verhouding verbreek het. Voor dit het sy slegs naweke by hom gekuier.

As Kuier en Son se sirkulasiebestuurder in Kaapstad, ’n veeleisende werk, het hy natuurlik homself vroeg klaargemaak en kantoor toe gegaan.

Toe Mckenzi intrek, moes hy alles doen wat ma’s gewoonlik Sondae vir hul dogters doen. Haar hare moes gewas en gevleg word vir skool. Voroshski skerts hy het self haar hare relax en gewas. Om haar hare te vleg, kon hy egter nooit regkry nie en het haar na iemand gestuur wat dit gedoen het.

“Dan was dit Maandae-oggende die stryk van skoolklere en om haar wakker en klaar te maak vir skool.” Mckenzi moes ook aanpas. Waar sy gewoonlik 07:00 kon opstaan vir skool, moes sy nou ook 05:30 saam met Voroshski opstaan. Hy het dan gesorg dat sy eet, haar kosblik gepak is en sy by die skool afgelaai is. Sy dae van laat werk was verby. Hy moes seker maak hy tel haar 17:00 op sodat hy haar kon help met huiswerk, kosmaak en nog genoeg rus kry.

“Om die balans tussen my werk en kind te kry, was my uitdaging toe sy na my toe kom. My steunpilaar was my oudste suster, Anesto (40). Ek het baie met haar gepraat en sy het baie vir my gesê ek moet net uithou, want dit is miskien net moeilik vir nou. In die eerste drie maande was dit baie uitdagend, maar dit het makliker geword en ná ses maande was dit asof sy nog heeltyd by my gebly het,” vertel Voroshski met ’n glimlag. Mckenzi se ma bly ook in Kraaifontein en sy sien haar gereeld.

My steunpilaar was my oudste suster, Anesto. Ek het baie met haar gepraat en sy het baie vir my gesê ek moet net uithou, want dit is miskien net moeilik vir nou.

Meer uitdagings

Die pa en dogter was nou gewoond aan ’n roetine, maar toe Leromi begin vanjaar ingetrek het, het dit wéér uitdagings gebring. Leromi het by haar ouma en oupa op Vryburg in die Noordwes gewoon.

Voroshski, wat tussen Postmasburg in die Noord-Kaap en Vryburg grootgeword het, het ’n ooreenkoms met haar ma bereik toe sy met ’n ander man getrou het dat Leromi eerder by haar ouma en oupa sou bly. Dit was sodat hy maklik toegang tot haar het en nie afsprake hoef te maak om haar te sien nie.

Voroshski, wat toe in Johannesburg gewoon het, sê dié ooreenkoms het lekker gewerk. “As ek Vryburg toe gegaan het, het ek direk na haar ouma gegaan of sy het vakansietye by my kom kuier.”

Leromi se ma is in 2011 in ’n motorongeluk oorlede. Voroshski en haar ouma het toe ooreengekom dat sy by hom sal intrek wanneer sy met hoërskool begin. “Omdat ek in ’n metrogebied is, is dit makliker vir universiteite en skoolgeleenthede.” Leromi, nou in graad 10, moes verlede jaar ingetrek het, maar Voroshski het gesukkel om plek te kry in ’n skool en hy sê die vorige jaar haar ouma het nog ’n “bietjie vasgehou aan haar”.

Sy het egter vakansies by hom in die Kaap kom kuier. Toe Leromi intrek, was dit ’n uitdaging omdat Mckenzi voorheen al die aandag gekry en al die spasie in die huis gehad het. Mckenzi het toe altyd stil geword, vertel hy verder terwyl die twee voor hulle kyk.

“Dan vra ek vir Mckenzi wat is fout dan sê sy alles is oukei, maar alles was nie oukei nie. Dan het ons dit uitgewerk en herhaaldelik daaroor gepraat. Ek het vir hulle gesê niemand in die huis word voorgetrek nie. Dit is ons almal se huis. Daar is oral uitdagings so ons moet dit ten minste hier maak werk. En ons kan dit net doen as ons lief is vir mekaar.”

Hy is baie oop en eerlik met hulle en deel altyd as hy byvoorbeeld ’n moeilike dag by die werk gehad het. “Dan sit ek met hulle en vertel hulle van my dag. Ek sê dan ek mis vandag my ouers wat ek kon bel en dan sou my ma en pa net vir my sê alles gaan oukei wees.” En net omdat hulle meisies is, beteken nie Voroshski skroom wanneer dit by dissipline kom nie.

“Ek slaan as daar geslaan moet word en probeer hulle verantwoordelik grootmaak. En hulle weet, oor boyfriends en goed praat ek altyd met hullle.”

Dis oënskynlik dat hy baie oop is met sy kinders, maar ’n mens wonder oor gesprekke wat ma’s gewoonlik eksklusief hanteer, soos wanneer hul dogters begin menstrueer. “Dit was altyd my grootste vrees,” erken Voroshski. Hy sê toe Leromi jong meisie word, was sy by haar ouma. “Haar ouma het daai gesprek met haar gehad.

Wanneer Mckenzi se tyd kom, dink ek Leromi gaan daardie gesprek met haar lei en haar deur die proses help. Ek hoef nie vir iemand te gaan soek en sê help die kind nie.”

Hegte band

Dis duidelik dat dié drie ’n hegte band het en die twee dogters dit geniet om by hul pa te woon. “Ek wou altyd hier gebly het. Toe die vakansies eindig en ek terug (Vryburg toe) moes gaan, het ek altyd hartseer geword. Dit was lekker daar ook, maar ek wou altyd by my pa wees,” vertel Leromi wat nog vakansietye by haar ouma en oupa gaan kuier. Op haar beurt vertel Mckenzi haar pa is haar steunpilaar.

Hy help sy dogters met hul huiswerk.

“Hy is die een by wie ek kan huil. Ek kan hom enigiets vertel.” Jy kan jou net indink watter tipe ouers dié man gehad het wat sy dogters so mooi grootmaak. Dis dalk omdat sy ouers nie meer hier is nie dat hy sy werk as pa (en ma) soveel ernstiger as sommige pa’s beskou. Hy sê hy was veral baie na aan sy ma, Mietha (48), wat in 2001 aan ’n onbekende siekte gesterf het. Voor haar afsterwe was sy vir drie maande siek en was Voroshski wat drie susters het, altyd die een vir wie sy geroep het. Hy het vir haar kos gemaak, gebad, haar hare gewas en haar pille gegee.

“Toe sy sterf, was dit baie moeilik vir my. Dit wat ek vir haar in daardie kort tydjie en deur die jare gedoen het, was so vervullend, want ek kon ten minste sê ek was ’n kind vir my ma.” Hy onthou ook hoe sy ma probeer het om haar pyn en lyding vir haar kinders weg te steek.

Voroshski maak hul kosblikke vir skool.

“Toe sy siek was, het ons in dieselfde kamer geslaap. Ek het gehoor hoe ly sy saans en daai pyn was vir my erg. Sy het altyd probeer om dit weg te steek dan sê ek vir haar ek hoor dan hoe kreun sy saans. En die dag toe sy weg is, dink ek ons was almal uitgehuil, alhoewel ons haar steeds baie mis.” Oor sy pa, Isaac (60), wat in 2014 oorlede is, vertel Voroshski dat hy altyd probeer het om “vrede te bewaar”.

“In ’n stryery het hy altyd my ma haar sin gegee. Hy wou net sy kinders gelukkig sien. Hy was die een wat ons die minste geslaan het, maar as hy jou een keer ’n jaar geslaan het, het hy jou hard geslaan.” Hy sê dis sy ouers wat hom daardie openlikheid geleer het wat hy vandag met sy eie kinders toepas en wat steeds onder sy sibbe toegepas word.

“Ek en my susters was ook baie oop. Ons steek niks vir mekaar weg nie. Die liefde is oop en ek dink dis wat ek by my ma en pa geleer het.” En nes sy ouers hom in ’n goeie man grootgemaak het, doen hy nou dieselfde met sy kinders.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Enkelouer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.