Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Jong man wíl gaan leer en babas deliver
15 Oktober 2020


Al woon hy in ’n hok in ’n informele nedersetting, het Tashreeq Perry van Heinz Park in Philippi op die Kaapse Vlakte groot drome – vir homself én vir sy gemeenskap wat so swaarkry.

Bo alles sien hy homself as ’n paramedic wat hoofsaaklik die babas vang van die baie tieners wat in sy omgewing swanger raak. Hy hét immers al sonder veel opleiding suksesvol die geboorte van vier babas, insluitend dié van sy bababoetie, behartig. Maar vir hierdie droom het die werklose Tashreeq matriek nodig – en iemand wat hom kan sponsor om daar uit te kom nadat hy weens omstandighede buite sy beheer vroeg uit die skool is.

Tashreeq was self nog maar ’n tiener toe hy op 16 die eerste keer pa geword het. Vandag, op 24-jarige ouderdom, is hy getroud en die pa van drie kinders tussen die ouderdomme van agt en een. Hy voel veel ouer, vertel Tashreeq.

En dis omdat hy net 12 was toe sy ma en pa geskei is en hy as die oudste van vier broers volwasse pligte moes oorneem om sy ma se las te verlig. Dit het ook beteken dat hy net graad 8 op skool voltooi het. Tashreeq woon sy lewe lank nog in Heinz Park. Hy het ’n tydjie in ’n Wendy agter in die jaart van sy ma se Hophuis gebly voordat hy in 2019 in ’n informele nedersetting daar naby huis opgesit het. Dis hier waar hy, sy 24-jarige vrou,

Mishka, en sy drie kinders in ’n lekkende hokkie met twee slaapkamers, ’n voorkamertjie en kombuisie ’n bestaan probeer maak. Hulle leef hoofsaaklik van sy kinders se staatstoelae, vertel Tashreeq. “In vandag se lewe het almal maar probleme. Ons het nie krag of water of toilets hier nie. Ek het al getry om suicide te commit. Ek is bright. Ek is ’n go-getter, maar dis of niks heeltemal reg vir my uitwerk nie.”

Hy het nog altyd ’n passie vir die mediese bedryf gehad, sê Tashreeq, en vertel hoe hy van kleins af sy niggies en nefies se wonde skoongemaak het. ’n Hoogtepunt was toe sy een uncle drie jaar gelede vir hom betaal het om ’n first aid-kursus by die Helping Hands Academy te gaan doen en hy sy level one certificate aansienlik vinniger as in die gewone tyd voltooi het.

Dit was egter veral die meer gevorderde deel in die manual oor emergency home child birth wat hom geïnteresseer het. Sy instructor het dit met hom behandel, maar weens omstandighede buite sy beheer het dit nie verder as dit gegaan nie.

Hy en sy bababoetie, Naeem Charles. Hy was die eerste baba wat Tashreeq deliver het.

Vang self babas

Toe sy ma, Waashiela Charles, in hierdie tyd op 41 swanger raak, was hy vreeslik opgewonde. “Ek het vir haar gesê: ‘Mammie, ek wil Mammie se kind by die huis vang!’, ” vertel hy. “Is jy mal?” was haar antwoord, min wetend dat dit presies só sou gebeur.

Hy was 21 jaar oud toe Tashreeq se broertjie hom een oggend vroeg kom roep het met die woorde: “I think Mommy is in labour.” Hy het dadelik uit die kooi gespring en by die Wendy uitgestorm, vertel Tashreeq. Met die omkom by die voordeur het sy ma geskree sy moet by die hospitaal uitkom.

Tashreeq is onmiddellik straat toe, maar die neighbour wat hy gevra het vir ’n lift wou R200 gehad het en hy kon voorlopig net R20 gee. Terug in die huis het hy besef die baba kroon al; daar is geen ander genade as om met die bevalling te help nie. “Ek het nog nooit so iets experience nie. Ek het op daai moment gesien hoe my ma beg om gehelp te word. Die pyn was unbearable.”

En, ja, hy het aanvanklik gepanic, maar het toe besluit om net na die beste van sy vermoë te doen wat hy kan. “Ek het my broertjie in my hande gevang. Die trane het uit my oë geloop,” vertel hy van die geweldige emosie wat met daai oomblik gepaardgegaan het. Toe die paramedics opdaag, was die kind reeds aan sy ma se bors, die naelstring met ’n skoenveter afgebind en geknip, en die plasenta in ’n Shoprite-sakkie. Hul woorde aan sy ma was: “Wow, your son did an excellent job.”

Sy ma is hospitaal toe geneem en was ses uur later terug. Oral waar Tashreeq daarna gekom het, het die community hom geprys. “Little did I know that wasn’t my last child,” lag hy. Sedertdien is hy nog drie keer inderhaas kom roep om met ’n bevalling te help, met niks meer as handdoeke, ’n swartsak en plastiekhandskoene byderhand nie.

“Ek het almal alleen gevang en daar was niks complications nie.” Met die laaste babatjie was daar wel amper komplikasies van ’n ander aard. “Nadat ek hom deliver het, exactly om vieruur die oggend, is ek gou huis toe om ’n handdoek te gaan kry. Onthou, ek bly in ’n informal settlement. En daar kom drie jongens uit ’n gang uit en vra my op gunpoint: ‘Wie is jy?’”

Hy glo net die feit dat hy bekend was as die ou wat babies deliver, het hom van ’n gewisse dood gered. Oor die jare het Tashreeq – wie se first aid-sertifikaat intussen verval het – op Facebook ’n stewige following opgebou onder die naam Tashreeq Yalmaz Perry. Was dit nie vir hierdie mense se support vir hulle as gesin nie, weet hy nie waar hy vandag sou gewees het nie, sê hy.

Het hy hulp nodig – soos met sy eenjarige klong se severe asma – post hy net op Facebook en is daar altyd iemand wat help. Dit is waarskynlik omdat hy so ’n mensemens is, sê hy. “Ek chat personal goed op Facebook, soos dat die hokkie waarin ek bly soos ’n rys-strainer lek. Ek het nog nooit die meeste van my followers ontmoet nie, maar hulle sal selfs op WhatsApp bel en vra hoe dit gaan.”

Daar is ’n midwife course vir paramedics. Al vier babas wat ek deliver het, is fris en gesond. Ek sal ’n groot asset wees vir die community.

Help gemeenskap

Tashreeq het nog altyd ’n hart vir sy gemeenskap gehad. In 2012 het hy ’n youth club begin wat onder meer ’n dramagroep en support groups ingesluit het. “Omdat ek mature moes raak op ’n baie jong age, het ek baie experience in die lewe in. Ek het nog altyd gevoel ek kan teenagers advice gee van die lewe,” sê hy passievol.

Hy wou ook nog altyd ’n voedingskema vir sy omgewing bedryf. Nadat ’n onderhoud vroeër vanjaar op die radiostasie The Voice of the Cape met hom gevoer is, het daar wel skenkings ingekom. Hy sou egter graag op ’n meer permanente en groter grondslag iets soos ’n ordentlike sopkombuis wil bedryf. “Ons mense is honger.

Almal hier is mos maar teenagers wat kinders verwek het,” sê die jong man wat so duidelik as ’n leier uitstaan. ’n Paar maande gelede het hy dit selfs bewerkstellig dat ’n storie van ’n jong parapleeg in sy omgewing in ’n plaaslike koerant gepubliseer word. “Hulle het daarna ’n hele makeover gekry. Daar is even nou nog mense wat hulle assist. Ek try maar soos ek kan om mense voor te sit.” Hy wil ’n paramedic en professional midwife word sodat hy sy gemeenskap kan bystaan, sê Tashreeq amper desperaat.

“Daar is ’n midwife course vir paramedics. Al vier babas wat ek deliver het, is fris en gesond. Ek sal ’n groot asset wees vir die community.” As iemand net kan help dat hy eers matriek behaal . . .

Bel of WhatsApp Tashreeq by 068 216 7798 as jy kan hand bysit.


Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.