Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Ma help ander om hul matriek te kry
6 Augustus 2020
Angelina Baartman het op 30 teruggekeer skool toe om haar matriek te voltooi.

'n Mens hoor nie elke dag van ’n kind en ouer wat dieselfde tyd op skool is nie. Maar dít is presies wat Angelina Baartman (56) amper 30 jaar gelede gedoen het om haar matriek klaar te maak. Angie het toe op 30-jarige ouderdom haar trots in haar sak gesteek en in volle skooluniform kompleet met ’n stywe ponytail elke oggend saam met haar graad een-dogter op die bus geklim om skool toe te gaan.

En terwyl haar oudste dogter, Stephanie (nou 35), toe haar skoolloopbaan saam met haar portuurgroep begin het, was Angelina, beter bekend as Angie, twaalf jaar ouer as háár matriekklasmaats. Glo dit of nie, maar Angie was op haar ouderdom geboelie en onder meer die “ou girl” genoem, maar selfs dít kon haar nie keer nie!

Matriek wou sy hê sodat sy verder kon gaan leer en ’n beter lewe vir haarself, haar man en drie kinders kon gee. Angie het in 1994 besluit het om terug te keer skool toe, want as ’n skoolverlater het sy destyds te veel gesukkel om ’n werk te kry wat ordentlik betaal. Sy moes tevrede wees met wat sy kon kry en vir ’n gesin van vyf, was dit eenvoudig nie genoeg nie. Haar man het daai tyd maar tussen R75 en R150 per maand verdien.

Angie en ’n groep suksesvolle matrikulante by haar training centre.

Terug skool toe

Toe besluit Angie dis letterlik terug skoolbanke toe. Dit sou te lank vat om haar matriek deeltyds te doen, daarom het Angie besluit sy gaan die real deal in ’n regte skool doen. Sy was selfs matriekafskeid toe met haar man, Stephanus (60), as haar partner én het in die skoolkoor gesing!

Vandag op 56 pluk Angie die vrugte van haar deursettingsvermoë! Want nie net het sy haar matriek voltooi en menslike hulpbronnebestuur studeer nie, maar sy het ook ’n NPO, Rehoboth Training Centre, op Humansdorp gestig.

Dié organisasie maak ’n groot verskil in die lewens van mense, wat soos sy, nie matriek kon klaarmaak nie. Nadat sy haar tersiêre kwalifikasie gekry het, het Angie uiteindelik haar werktuiste by Transnet gevind waar sy tot en met haar aftrede in 2016 as ’n menslike hulpbronpraktisyn gewerk het. Dit is ook hier waar sy elke dag gesien het hoe mense weggewys word omdat hulle nie matriek of ander kwalifikasies het.

En net daar het sy besluit sy wou ’n verskil maak, want sy ken die pyn van ’n werksdeur wat in jou gesig toeklap. En só het sy die Rehoboth Trai- ning Centre in 2018 gestig. Tot dus-ver het haar program al meer as 60 mense gehelp om hul matriek te kry. Angie is al vir meer as 15 jaar ook ’n pastoor. Haar drie kinders, Stephanie, Angelo (33) en Madeleine (31) is almal getroud en ook suksesvol in hul eie beroepe.

Ek het besef matriek is meer as net ’n papiertjie, dit kan jou van jou drome en volle potensiaal beroof.

Maar dit was nie ’n maklike pad of besluit om terug skool toe te gaan nie. Angie is op Humansdorp in die Oos-Kaap gebore en het op plase in die omgewing grootgeword waar haar ouers ge-werk het. Sy vertel van ’n sorgelose lewe gevul met dae van speel saam met haar sibbe tot die son gesak het. Maar daar was ook ’n donker kant – dit was in die vorm van die drankduiwel wat haar ouers in hul kloue beetgekry het. Dit het Angie uiteindelik so geaffekteer dat sy teen haar ouers begin rebelleer het.

Haar skoolwerk het daar onder gely en Angie het net tot graad 11 gevorder en twee keer die graad verlaat, voor sy gebly en geslaag het. “As ek nou kyk na alles wat kinders moet deurmaak, was ek regtig net stout en het ek myself ’n groot disservice gedoen. Hierdie besluit sou my vir die res van my lewe agtergehou het as ek nie iets daaraan gedoen het nie. Dit was die grootste motivering vir my om terug skool toe te gaan, want ek het besef matriek is meer as net ’n papiertjie, dit kan jou van jou drome en volle potensiaal beroof,” sê Angie. Nadat sy skool verlaat het, het haar broer haar gehelp om ’n tikkursus te voltooi.

Sy het hierna vir ’n bietjie meer as ’n jaar adminwerk in ’n hof gedoen. Sy is twee jaar later met haar man getroud en hulle het saam Kaapstad toe getrek, waar sy meestal in vrugtewinkels, fabrieke en in ander klein adminposte gewerk het. Maar oral waar sy gegaan het, moes sy met minder betaling tevrede wees omdat sy nooit haar matriek klaargemaak het nie. En dit is hoe sy op 30, ’n ma van drie en ’n pastoorsvrou daarby, haarself in ’n skoolbus en klaskamer vol kinders bevind het.

Maar Angie glo alles gebeur vir ’n rede en dit is nooit te laat om jou storie te verander of te herskryf nie. Só het sy toe eendag by Kleinvlei Sekondêre Skool naby Eersterivier in die Kaap, ingestap en vir die hoof van haar plan vertel om matriek saam met die ander leerders binne ’n jaar te voltooi. Hy kon dit nie glo nie. “Maar hy het gesê hy sal dit met die personeel en kringbestuurder bespreek om te kyk of hulle my kan akkommodeer,” vertel antie Angie terwyl sy uit haar maag uit lag van lekkerkry. Die antwoord was gelukkig ja.

Toegewyd en braaf

Ten spyte daarvan dat sy veel ouer was en dikwels daaroor gespot was deur die kinders, het sy die kans aangegryp. “Ek het aan die begin nie ’n skooluniform gedra nie, maar moet erken dit het my baie meer uit plek uit laat voel. Toe die kinders begin kla oor hoekom hulle uniform moet dra en ek nie, was dit die perfekte geleentheid vir my om myne af te stof.

Die vroue in die gemeenskap het hul kinders se ou uniforms geskenk,” vertel sy. “My hare kon skaars ’n ponytail maak, maar dit was styf gekam en toe ek eers daardie uniform aanhet, kon niks my keer nie. Ek het aan alle aktiwiteite by die skool deelgeneem en selfs saam met die koor gaan toer. Ek onthou spesifiek hoe ons amper een keer verloor het, omdat die beoordelaars my (trou)ring gesien het en gedink het ’n onderwyser tree saam met die kinders op!”

Sy en haar man by haar matriekafskeid in 1994.
Tydens haar gradeplegtigheid in 1999 by die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie.

Van 8:00 tot 15:00 was sy in leerder- mode en van 3:00 tot 4:00 die nag het sy haar skoolwerk gedoen. Die res van die dag was aan haar man, kinders en gemeenskap toegewy. Saans het sy nog saam met haar man huisbesoek gedoen. Dit was altyd ’n kwessie van tyd en dinge juggle, maar sy het dit gedoen. Stephanus sê al was dit vir ander vreemd, was hulle nog altyd ’n familie wat daarvan hou om dinge anders te doen.

“Ek was baie trots op hoe sy haar matriek met soveel passie en toegewydheid aangepak het. Dit is hoekom dit vir my ’n groot eer was dat sy my gekies het om haar partner na die matriekafskeid te wees. Ek het nie matriek klaargemaak nie, so dis ’n spesiale herinnering,” sê hy met ’n glimlag. “Min het ons geweet dit wat sy destyds vir ons gesin gedoen het, sy vandag nog in praatjies en in haar bediening sal kan gebruik,” voeg hy by.

Stephanie is netso trots op haar ma. “Ek was baie jonk en het nie besef hoe ongelooflik en braaf dit was wat my ma gedoen het nie. Ek weet nie of ek nou in ’n skoolbank sal kan inskuif nie, maar dis iets wat my baie inspireer. My ma het aan ons bewys jy kan enigiets doen wat jou hart begeer én ’n sterk vrou en ma wees.”

Ná jare in Kaapstad, het die vryheid en kalmte van die platteland haar in 2010 teruggeroep Humansdorp toe, waar sy en haar man begin bedien het. Toe Angie haar matriek wou doen, was haar motivering haar familie en noudat almal onafhanklik is, is dit vir haar ’n seëning om vir ander deur haar opleidingsentrum te kan help om vir hul families ook ’n beter lewe te kan skep. Sy is ’n voorbeeld dat jy nooit te oud is om (letterlik) te leer nie!

Meer oor:  Matriek 2020  |  Inspirasie  |  Kuier  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.