Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Onnie voer rugby uit
24 Januarie 2018
Alfredo wys sy slag met een van sy spanne in Shanghai.

Op die Suid-Afrikaanse platteland is rugby gróót. Dit is die een aktiwiteit wat almal op die dorp bymekaar bring. Baie van die trotse manne wat al vir hul dorp op die veld uitgedraf het, koester ook groot drome om eendag hul land soos Ashwin Willemse van Caledon en Breyton Paulse van die Koue Bokkeveld te verteenwoordig.

Hoewel dié drome nie altyd waar word nie, is daar elke nou en dan een of twee sportmanne wat uitblink. Dit is presies wat ’n talentvolle rugbyspeler van Saldanha in die Wes-Kaap nou besig is om te doen. En dit nogal in ’n vreemde land met ’n vreemde taal . . . Alfredo Barends (30), oorspronklik van die woonbuurt Diazville, toer deesdae regoor China om mense aan rugby bloot te stel en die sport te ontwikkel.

Plaaslik het hy hom oor die jare as ’n belowende speler bewys en nou vat hy as afrigter Chinese rugby na nuwe hoogtes. Alfredo, wat Suid-Afrika al op provinsiale en nasionale vlak verteenwoordig het, het agt maande gelede besluit om eerder op afrigting te fokus. Op 30 het hy gevoel hy kan eerder oor die volgende tien jaar ’n loopbaan as afrigter probeer bou pleks daarvan om te wag tot sy speeldae verby is en dan eers oor te gaan na afrigting.

Geleentheid oorsee

Tot Mei verlede jaar was hy nog ’n onderwyser by Diazville Senior Sekondêre Skool in Saldanha, wat tussendeur rugby gespeel en met rugbyontwikkeling gehelp het, maar die volgende maand is hy China toe om sy loopbaan daar te bevorder.

Alfredo is aanvanklik oorsee vir die geleentheid om as ’n koördineerder van sport by ’n skool in Shanghai (die grootste stad in China) aan te sluit, maar deur sy natuurlike aanvoeling en liefde vir die sport is sy talent vinnig deur die Chinese rugbybase raakgesien. Hy is binne drie maande ’n nuwe pos as hoofafrigter van Shanghai-rugbyklub aangebied.

Deesdae word hy beskou as een van die top-afrigters in Shanghai en nou wil hierdie voormalige onderwyser ander jongmense op die platteland wys jy hoef nie net in jou omstandighede te bly nie en dat enigiemand enige droom kan bereik. Hy werk steeds gedurende die dag by die Shanghaise skool, waar hy as direkteur van sport help met rugbyontwikkeling.

Maar wanneer hy nie by die skool is nie, sal jy hom by die Shanghai-rugbyklub kry waar hy die hoofafrigter is. Vir Alfredo voel dit alles nog soms soos ’n droom, maar dit is sy nuwe realiteit. Hy is tans ook deel van ’n komitee wat geïdentifiseer is om rugby in China by alle skole te ontwikkel en seker te maak die land sal ook ’n sterk span hê wat hulle by die 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan, kan verteenwoordig. Hy is ook die afrigter van China se sewesspan asook die tegniese adviseur en ontwikkelingsbeampte vir rugby in die hele China.

Hoewel hy nog net ’n kort rukkie aan die stuur van die Shanghai-rugbyklub is, het hy al reeds sy merk begin maak. Onder sy leiding het die hoofspan al drie trofeë gewen. Toe Kuier onlangs met hom via video-oproep gesels, was dit reeds laat in die aand in China. Maar omdat hy deesdae baie min tyd vir homself het, was dit die enigste tyd wat Alfredo vir ons kon afknyp. Al was dit laat, was hy vol entoesiasme en het met sy span gespog.

Hulle het oor die afgelope paar maande die China 15’s Cup, Sino 10s Cup asook die Sino 10’s Elite Cup in China gewen. “Ek was verstom dat dinge so vinnig gebeur het. Ek het nie beplan om so vinnig by sport buite die skool betrokke te raak nie, maar die Here het ’n plan met alles. Toe ek die geleentheid kry om meer betrokke by Chinese rugby te raak, het ek onmiddellik geweet dit is iets wat ek baie graag sou wou doen,” vertel Alfredo.

Ek het nie beplan om so vinnig by sport buite die skool betrokke te raak nie, maar die Here het ’n plan met alles.

Wil sy merk maak

Hy het baie selfondersoek gedoen voordat hy die skuif van onderwyser in Suid-Afrika tot rugby-afrigter in China gemaak het. “Voordat ek China toe gekom het, het ek vir myself gevra waar ek oor tien jaar wil wees. Ek het nog altyd ’n liefde vir rugby gehad, maar ek is nou al oud in spelerjare so ek het geweet ek sou eerder my merk as ’n jong afrigter wil maak. In Suid-Afrika is rugby al by die advanced stage en dit is moeilik om ’n naam vir jouself as afrigter te bou omdat daar reeds soveel goeie afrigters is. In China sou dit veel makliker wees omdat hulle nog besig is om die sport te ontwikkel en ek ’n groter rol daar kan speel.”

Alfredo glo China is ’n goudmyn vol talent. Dit raak soms moeilik veral met die taal, maar hy is tans besig om Mandaryns te leer en glo hulle sal teen 2023 ’n sterk rugbyspan kan vestig wat hopelik vir die Wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk sal kan kwalifiseer. Hy meen die feit dat Chinese mense baie toegewyd is en in alle sport wil kompeteer, ook baie gaan help om hul doel te bereik.

Maar vir eers konsentreer hulle op die Olimpiese Spele in Tokio en beoog hulle ook om meer werksessies rondom China te hou. “Dit is nog vreemd vir mense en ons moet hulle nou eers gewoond maak aan die sport. Ons gaan klein begin met tag en touch rugby vir eers. Ons wil hê kinders moet eers gewoond raak aan vang en pass en dan kan ons regtig daaraan begin werk.

Maar ek is baie opgewonde,” sê Alfredo. Alfredo sê hoewel hy baie na sy familie en verloofde, Nisha van Kolver (24), verlang, is hulle sy grootste ondersteuners. Nisha is van Vredenburg en doen haar meestersgraad in radiografie. Sy beplan om aanstaande jaar by Alfredo in Shanghai aan te sluit sodat hulle saam ’n nuwe opwindende hoofstuk daar kan begin.

Rugby word al vir generasies deur die mans in sy familie gespeel en nes sy oupa, pa en neefs het Alfredo al sedert laerskool daarin uitgeblink. Hy het deur sy hele skoolloopbaan rugby gespeel en het vinnig sy provinsiale kleure verwerf, wat hom gehelp het om met ’n sportbeurs op universiteit te gaan studeer.

Sy familie het nie altyd geld gehad om Alfredo finansieel te ondersteun nie, veral wanneer dit by sy studies kom, maar emosionele ondersteuning was altyd daar. Dit het hom gehelp om in sport uit te blink en gebring tot waar hy vandag is. Hierdie entoesiastiese sportman het al onder meer vir Saldanha, die Wellington-rugbyklub en vir die Vrystaatse Griffons gespeel. Hy het ook vir die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus uitgedraf, in die Super A-liga vir Primrose (Kenilworth) gespeel en was ook ’n Boland-Kavalier.

Hy was in 2015 en 2016 die kaptein van die SA Tigers wat in Maleisië aan die internasionale tiene-toernooi deelgeneem het. Hy was ook betrokke by skolerugbyontwikkeling vir SA Rugby se elitegroepe vir 16- tot 18-jariges. Hy hoop om hierdie ervaring nou in sy werk in China toe te pas. Alfredo het in ’n nederige huise grootgeword saam met sy ouers en twee susters.

Hulle het nie met baie geld grootgeword nie, maar sy pa het vir hom van kleintyd af geleer om rugby te speel en sy ma het hom altyd aangespoor om groot te droom. Nou is hy besig om sy drome uit te leef en wil hy ander inspireer om dieselfde te doen. Alfredo glo as jy God die middelpunt van jou lewe maak en in jou drome glo, het elke persoon die potensiaal om suksesvol te wees.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Lesersverhaal  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.