Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ware lewensdrama: Sy help ander heel ná die seer
16 Mei 2018

Nie alle slegte ervaringe hoef ’n negatiewe impak op jou lewe te hê nie.

Wilhelmina Flandorp (49) van Retreat in die Kaap het die slegte herinneringe en gebeure van haar lewe aanvaar en gebruik daardie ervaring nou om ander families te help.

Wanneer sy oor die seer in haar lewe praat, kan ’n mens sien haar verlede is nog ’n teer punt vir Wilhelmina wat al drie sibbe, ’n kind en haar ouers aan die dood moes afstaan. Sy het vir ’n baie lang tyd gevoel asof sy nêrens behoort nie. Maar vir hierdie ma en berader, is dit juis daardie pyn en hartseer wat vir haar die wonderlike ma en vrou gemaak het wat sy vandag vir haar gesin en gemeenskap is. Toe Wilhelmina gebore is, het haar ma reeds 11 kinders gehad. Soms is dit moeilik vir ’n ouer om hul aandag tussen twee kinders te verdeel wat nog te sê van 12.

Sy en haar man, Kenneth.

En vir Wilhelmina het dit gevoel asof daar net nooit genoeg tyd was vir haar ma om haar aandag tussen al die kinders te verdeel nie. Dit is een van die groot redes hoekom Wilhelmina ook vroeg as volwassene besluit het sy wou nie meer as twee kinders hê nie. Haar ma, Susan, het ook baie vir ander omgegee.

Toe Susan se suster siek word en sterf, het sy nie twee keer gedink om haar suster se kinders ook in te vat nie. Die huis was nog voller en al was Wilhelmina net drie jaar oud, het sy verlang om ’n hegte verhouding met haar ma te hê, vertel sy.

Sy is op vyf met bloedkanker gediagnoseer en kon nie altyd dinge saam met haar sibbe doen nie omdat sy altyd siek was, vinnig naar geword het of versigtig moes wees om nie haarself te beseer nie. Dit het haar nog meer alleen laat voel en veroorsaak dat sy baie teruggetrokke en stil geword het. Sy raak effens hartseer wanneer sy erken dat haar oudste suster na haar moes kyk en sy vir ’n baie lang tyd eensaam gevoel het.

“Ek onthou net dat ek altyd my eie ding moes doen. Almal was besig en het hul eie dinge gehad waarmee hulle besig was. Ek was ook die jongste, so die ouderdomsverskil was groot. Ek weet my familie was lief vir my, maar ek het dit nie altyd ervaar nie,” sê sy.

Intussen het albei haar broers in verskillende bendes beland en lank tronkstraf gekry vir verskillende misdade. Haar suster Jennifer is toe ook oorlede. Sy was sewe maande swanger toe sy omgestamp word terwyl sy met haar ma in die straat geloop het.

Ma dryf verder weg

Met elke kind wat haar ma verloor het en met elke probleem, het sy ’n stukkie van haar ma verloor wat sy nooit weer regtig teruggekry het nie, sê Wilhelmina hartseer.

Wilhelmina tydens ’n beradingsessie.

Hul verhouding was wankelrig en Wilhelmina sê omdat sy haar ma so baie aan haar suster herinner, het die verlange net te erg geword en dit het gevoel asof sy haar nog verder wegstoot. Toe Wilhelmina haar man, Kenneth (48), ontmoet, het sy vir die eerste keer in haar lewe gevoel asof daar iemand is wat net vir haar omgee en haar belange op die hart dra. Wilhelmina het daarvan gedroom om ’n familie saam met Kenneth te begin en toe hulle ná twee jaar van hul huwelik swanger word, was dit een van die beste tye van Wilhelmina se lewe. Alles waaroor sy gedroom het, was besig om waar te word en sy het geglo sy sou vir haar kind ’n gelukkige huis skep waar hy liefde en aanvaarding voel.

Maar op 35 weke het Wilhelmina gevoel iets is nie reg nie en sy het onmiddellik hospitaal toe gejaag. “Ek het nie geweet my water het al die oggend gebreek nie en ek was nie bewus van wat om in ’n noodgeval te doen nie.

Ná ure se wag by die daghospitaal, moes ek geboorte skenk aan my oorlede seun,” sê sy met trane in haar oë. Dit was Wilhelmina se breekpunt en die jare van hartseer het haar in ’n inrigting laat beland waar sy vir die eerste keer haarself leer ken het en waar sy baie van haar pyn uit die verlede kon verwerk.

Toe sy ontslaan is, het Wilhelmina besluit sy gaan ander help sodat hulle nie dieselfde hulpeloosheid soos sy het, ervaar nie. “Ek wou hulle sterk maak en vir hulle sê dit is orraait om vir ondersteuning te vra.”

Wilhelmina het ’n kursus bygewoon by die Early Learning Resource Unit en nou werk sy daar as ’n familie- en gemeenskapsmotiveerder en -berader. Sy help vroue deur die eerste 1 000 dae van hul kind se lewe en maak seker hulle weet hoe om na hul families en hulself om te sien. Sy help ook families om deur probleme soos geweld, drankmisbruik en siektes te werk.

Sonder haar dink ek nie ek sou die krag gehad het om weg te stap nie en kon dinge vir my en my kinders erg uitgedraai het.

Maak ’n verskil

“Ek wou ook vir mense die tools gee om hulself en hul families te kan help. Ek wou seker maak dat mammas nie deur dieselfde trauma gaan soos ek nie. Maar ook wanneer hul kind gesond gebore is, sodat die familie weet hoe belangrik dit is om met ’n kind te speel en hulle veilig te laat voel. Alles het ’n effek op die kind se lewe, maar ’n mens besef dit nie altyd wanneer kinders klein is nie.”

Daar is baie vroue wat kan getuig van die verskil wat Wilhelmina in hul lewe gemaak het. Charlotte (45) van Lansdowne in die Kaap sê sonder Wilhelmina sou sy nie geweet het hoe om haar kinders te beskerm nie en hoe om haar man te los toe hy hulle begin slaan nie.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar Wilhelmina het vir my raad gegee oor hoe om my huwelik te los en wat ek kon doen om myself en my kinders te beskerm. Sy het ons ondersteun en was daar vir ons. Sy het selfs aangebied om vir ons vir twee dae blyplek te gee sodat ek ’n plan kon maak. Sonder haar dink ek nie ek sou die krag gehad het om weg te stap nie en kon dinge vir my en my kinders erg uitgedraai het.”

Elenore (38) van Retreat sê Wilhelmina het vir haar en baie ander enkelouers in die gemeenskap gehelp deur werkswinkels aan te bied oor hoe om vir hulself en hul babas te sorg.

“Nie almal weet dis gevaarlik om jou baba te skud nie en soms raak ’n mens gefrustreerd en doen jy soms dinge wat jy dink onskuldig is, maar eintlik baie skade kan doen. Wilhelmina is altyd daar om jou te help en raad te gee en sy behandel ons almal en ons kinders met soveel liefde. Sy is regtig ’n engel en help ook mense om werk te vind.”

Vandag is Wilhelmina die ma van ’n 18-jarige jong man. Sy sê dit is die beste ding wat al ooit met haar gebeur het. Sy het nooit die kans gekry om dinge met haar ma uit te klaar nie, maar deur briewe wat sy aan haar ma en oorlede familielede geskryf het en deur die liefde wat sy vir haar seun gee, het sy oor die jare vrede daarmee gemaak en geleer om mense te vergewe.

“Ma-wees het my verander en my hart sagter gemaak. Ek het met baie pyn en seer rondgestap, maar vandag borrel my hart van liefde en probeer ek om my seun meer kere as wat dit nodig is, te herinner dat hy belangrik is en dat ek hom liefhet. Alles wat in my lewe gebeur het, het my die persoon gemaak wie ek is en daarvoor is ek vandag dankbaar en lewe ek elke dag om ’n verskil in my gemeenskap en my familie se lewe te maak.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.