Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Sy verpleeg al langer as 40 jaar!
2 Oktober 2019


Nooit sal sy daaraan gewoond raak om te sien hoe die lewe ’n mens se liggaam verlaat nie, vertel suster Marge October (67) van Mamre buite Kaapstad.

Sy beskou egter haar werk as verpleegster die afgelope meer as 40 jaar as ’n eer, want sy kon mense bystaan tydens die beste én moeilikste tye van hul lewens.

Wanneer jy vir suster October, of Margie soos sy bekend is, ontmoet voel jy sommer onmiddellik die liefde en passie vir mense aan wat sy uitstraal. Sy is ’n fyn vrou, met lang hare in ’n ponytail wat altyd wip soos haar kollegas vinnig uitwys en haar warm glimlag laat jou onmiddellik welkom en gemaklik voel.

Dit is juis oor dieselfde glimlag en saggeaardheid dat sy ’n gunsteling onder baie pasiënte is, maar jy kom ook vinnig agter sy laat mense oor haar loop nie. En daardie streng kant is een van die redes hoekom pasiënte weet om nie vir moeilikheid te soek met hierdie verpleegster nie.

Marge sien ’n pasiënt.

Hartseer & geluk

Sy verpleeg tans by die Sister Pharo’s Clinic in Atlantis en kyk tydens die onderhoud elke nou en dan na haar horlosie, want hoewel sy baie opgewonde is om met Kuier te gesels, laat sy ons baie vinnig besef haar pasiënte kom eerste. Sedert sy in April 1973 begin verpleeg het, het Marge al bygestaan vir meer as 50 geboortes en moes sy al meer as 105 keer sien hoe mense hul laaste asem uitblaas. Vir Marge was geen twee dae ooit dieselfde nie in haar beroep nie en sy glo dít is een van die redes hoekom sy steeds verpleeg.

Ek het al saam met stukkende ouers gehuil wanneer kinders gebore is met erge abnormaliteite met geen hoop vir ’n toekoms nie en dan jare later weer gehuil wanneer dieselfde kind vir my kom besoek en heeltemal gesond is.

“Sjoe, ek het al dinge in al my jare beleef wat jy nie sal glo nie. Ek het al ouers gesien wat geboorte skenk, al het hulle gedink die kind is dood en dan lewe die kind. Ek het al gesien hoe ons iemand drie keer weer terugbring, maar dan vir die familie moet vertel die pasiënt is breindood en die masjiene moet afgeskakel word,” vertel sy.

“Ek het al saam met stukkende ouers gehuil wanneer kinders gebore is met erge abnormaliteite met geen hoop vir ’n toekoms nie en dan jare later weer gehuil wanneer dieselfde kind vir my kom besoek en heeltemal gesond is. Wanneer jy in ons beroep werk, kan jy nie in isolasie werk nie en jy kan jou ook nie regtig van die mense afsny nie. Jy loop ’n pad saam met jou pasiënte en soms is dit ’n pad van vreugde, maar baie keer is dit ’n pad van hartseer.”

Marge sê wanneer jy ’n verpleegster is, is dit nie maklik om jou werk en persoonlike lewe te skei nie, want baie van wie jy is, gaan in jou werk. Dit is jou hart, jou siel en jou menswees wat dit maklik maak vir jou om vir ander om te gee en sy glo ook dit is juis daardie dinge wat die goeie en die slegte verpleegsters laat uitstaan. Sy erken dat ’n mens wel baie stories van slegte verpleegsters hoor wat mense aaklig behandel en al is hulle onder baie druk, voel sy dit is nooit ’n rede om jou pasiënte sleg te behandel nie.

Doen haar beste

As een van ses verpleegsters in haar familie, is sy van ’n jong ouderdom af geleer dat jy ander met respek en waardigheid moet behandel. In die ou dae was daar nie baie opsies vir mense nie en het meeste vroue op Mamre óf ’n verpleegster geword óf by die onderwyskollege gaan swot. Haar oorle’ ouma, Margaret, was iemand wat altyd haar laaste vir ander sou gee en vir wie niks ooit te veel was nie. Sy het vir almal omgegee en was soos ’n ma vir almal op Mamre.

As ’n kind seergekry het of siek was, was sy die een na wie almal gekom het en haar oorle’ ma Mims was dieselfde, vertel sy. Die buurvroue het ook almal by die huis aan die kraam gegaan en dan het ouma Margaret gehelp. Marge het dit alles gesien en dis hoe sy later met die oë begin steel het en op haar poppe geoefen het.

“As kleuter was ek lief om poppe se bene met lap toe te draai en my ouma het altyd gesê ek gaan eendag ’n verpleegster word. Ek dink dit loop in ons gene, want uit ons familie het ons reeds baie verpleegsters en almal is trots op die werk wat hulle doen,” sê sy.

Wanneer ek mense help, dink ek aan die sterk vroue in my lewe wat my gewys en geïnspireer het om vir my medemens om te gee.

Sy raak passievol wanneer sy verduidelik dat jy nie altyd ’n “well done” gaan kry nie, maar dat jy dit ook nie vir die erkenning moet doen nie. Hierdie ma van twee voel sterk as jy nie ’n passie vir mense het nie en bereid is om lang ure en dikwels vir min geld te werk nie, moet jy dit nie doen nie. “Dit is soms dikwels ’n ondankbare werk, maar dis tog ’n liefdevolle werk. Baie verpleegsters sal uit hul pad gaan vir hul pasiënte en nie omgee om daardie ekstra myl te stap nie.

“Wanneer ek mense help, dink ek aan die sterk vroue in my lewe wat my gewys en geïnspireer het om vir my medemens om te gee. Ek dink aan my ma, my ouma en ek dink ook aan my kinders en my familie en hoe ek graag sou hoop iemand hulle sou behandel wanneer hulle siek word, in kraam gaan of hul laaste ure deurbring.”

Sy sê om ’n lewe te red en ’n geboorte te hanteer, is God wat deur jou werk en dit is ’n eer as jy vir iemand veilig hul eerste asemteug kan laat neem en nog meer ’n eer om iemand se hand vas te hou en hulle te laat weet hulle is nie alleen wanneer die einde kom nie. Sy het haar loopbaan by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad begin waar sy haar praktiese opleiding gedoen het en in die noodeenheid gewerk het. Sy beskryf daardie eerste jare as iets uit ’n fliek.

Want kyk, sê Marge, as jy ooit gedink het Hollywood is fake, moet jy net ’n dag by Tygerberg deurbring en jy sal die ongelooflikste goed sien. Van bottels en pale wat op verskeie plekke in mense se liggame gesteek is, tot groeisels en ongelukke wat jou van binne op ’n heel ander level sterk maak. “Dit is soms dinge wat jy slegs in ’n grusame horror fliek sal sien, maar dit is die werklike lewe en as jy Tygerberg survive, kan jy amper enige iets survive in jou loopbaan,” sê hierdie hups verpleegster terwyl sy lag.

“Dit sal jou regtig maak of breek.” Ná Tygerberg het sy na Caledon verhuis, waar sy vir langer as 15 jaar gewerk het, voordat sy terug Weskus toe is waar sy tans by die Sister Pharo’s Clinic werk. Marge sê as verpleegster moet jy altyd jou pasiënte eerste stel en die belofte wat jy afgelê het, uitleef. Sy is dankbaar vir ’n loopbaan van meer as 40 jaar en sê wanneer jy jou werk met liefde en passie doen, is die omgee wat daarmee gepaard gaan nog soveel meer.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Verpleegster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.