Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
INSPIRASIE: Tuis in die kombuis
19 September 2018

Dié niggie en neef van Manenberg op die Kaapse Vlakte steel sedert Junie vanjaar Suid-Afrikaners se harte met hul kookvernuf, energie en positiwiteit op die M-Net-kosprogram My Kitchen Rules South
­Africa
.

Vir Ashley William van Heerden (25) en sy niggie Christin Daniels (35) was kos nog altyd die ding wat hul familie en gemeenskap bymekaar gebring het.

Daar is baie armoede in hul gemeenskap en hoewel mense nie altyd die duurste bestanddele of luukse kosse kan bekostig nie, is dit juis een van die dinge wat kos op die Kaapse Vlakte so uniek en smaaklik maak, meen hulle. Jy doen wat jy kan met dit wat jy in die huis het en die kos sal sonder twyfel op een of ander manier gerek word om almal in die huis (en sommer ander s’n ook) te voed.

Almal het ’n antie in hul straat wat die beste koe’sisters op ’n Sondag of die lekkerste bredie maak. Dit is juis sulke resepte waarmee hulle grootgeword het en waaraan hulle mense wou blootstel wat hulle aanvanklik laat besluit het om vir die kookprogram in te skryf. (Tien spanne ding mee om die groot prys van R1 miljoen.)

Maar vir Ashley en Christin gaan dit nie net oor die kos nie, hulle wil ook ’n klein deeltjie daarin hê om mense se persepsies te verander wanneer dit by ’n gemeenskap soos Manenberg kom.

Almal ken die skokstories van kinders wat op pad skool toe deur koeëls getref word; bendes wat in die straat op mekaar skiet en dit onmoontlik maak vir inwoners om buite of selfs binne hul huise te beweeg; die dwelms wat openlik op straathoeke verkoop word; en mense wat enige tyd van die dag of nag aangeval word. Maar nie almal en alles wat van die Kaapse Vlakte af kom, is sleg nie en dit is die grootste boodskap wat Christin en Ashley met ander mense deur hul kosreis wil deel.

Al het hulle nie met baie grootgeword nie, is Ashley en Christin twee van die suksesstories van Manenberg en is albei suksesvol in hul eie beroepe en kry hulle die geleentheid om die wêreld te verken. Iets wat nie een van hulle as kind ooit gedink het moontlik sou wees nie.

Ashley is ’n projekontwikkelingsbestuurder by Iris House Children’s Hospice, terwyl Christin ’n risikobestuurder by Old Mutual Wealth is.

Net soos baie ander families op die Kaapse Vlakte het hulle as een groot gesin onder hul ouma Evelyn se dak grootgeword. Dus het hulle nog altyd ’n broer-en-suster-verhouding gehad en vergeet hulle soms dat hulle eintlik niggie en neef is.

BUITE GEMAKSONE

Albei is ’n bietjie skaam, maar wou inskryf om aan hulself te bewys dat hulle iets buite hul gemaksone kan doen en as hulle dit kan doen, inspireer dit dalk iemand anders in hul gemeenskap om dieselfde te doen.

Van hul eerste en kosbaarste herinneringe van kos is as kleuters toe hul ouma as kok gewerk het by die kleuterskool waar hulle ook skoolgegaan het.

Ashley sê hy onthou nog sy trots en begeerte om soos sy ouma te wees. Vir hom was sy ’n supervrou in die kombuis en hy wou ook soos sy wees.

“Ek dink nie iemand anders kon naby haar kreatiwiteit in die kombuis kom nie,” vertel hy nostalgies.

Op haar beurt vertel Christin dat hulle as familie altyd in die kombuis besig was en gebrande sop die eerste dis is wat sy gemaak het.

“Dit was die eerste gereg wat my ma vir my gevra het om te kook, aangesien ek in elk geval altyd die groente gekap het, maar daardie dag moes ek dit ook kook. Ek kan nou nog onthou hoe ek vir my ouma in die kombuis gehelp het en hoe ek later vir my ma ook met die bak van pasteie en samoesas gehelp het,” sê Christin.

“My ma het ’n karavaan gehad waaruit sy kos verkoop het en ek het haar altyd gehelp. Om ons familie te ondersteun, het ons nie net die pasteie en samoesas verkoop nie, ons het ook boereworsrolletjies aan die mense by plaaslike danse verkoop.”

Volgens Ashley en Christin was kos altyd die manier hoe mense in hul familie en gemeenskap hul liefde, vertroosting en omgee teenoor mekaar gewys het.

As jy kyk na die ekonomiese omstandighede waaronder hulle moes grootword, het kos ’n beter lewe, nuwe kulture en ’n lewe buite Manenberg vir hulle beteken. Kos het hulle nog altyd op ’n reis gevat, veral toe hulle nie altyd fisies en weens finansies dit kon bekostig om te reis nie.

Maar hulle het groot gedroom en nou leef hulle nie net hul eie kosdrome uit nie, hulle wil ook ander inspireer en saam op hul kosreis neem.

Wanneer dit kom by kos, is hul styl baie anders, maar albei is mal oor groot en skerp geure. Ashley is mal oor Chinese kos, terwyl Christin, ’n ma van twee, lief is vir tuisgemaakte kos en probeer om weg te bly van olierige kosse.

“As ’n enkelouer is dit soms moeilik om my twee seuns te kry om gesond te eet, want elkeen het hul eie smaak. Maar ek hou daarvan om lam en seekos te kook en maak altyd iets soets by die kos. Ek is mal oor nagereg.”

Presies hoe mal sy is oor nagereg het sy bewys deur haar kaaskoek wat almal aan die praat gehad het tydens hul instant restaurant-aand op die program. Tydens die instant restaurant-aand moet hulle hul huis of die venue in ’n kitsrestaurant omskep.

DIE LEKKERSTES

Volgens haar is daar niks lekkerder as ’n goeie steak met ’n donker sjokoladesous en gebraaide groente nie. Op sy beurt sê Ashley hy is netso lief vir tuisgemaakte kos en is veral mal oor eenvoudige harts­kos soos kerrie en familie-pastageregte wat aangepas is.

“Lasagne wat oorstaan, is ook nooit ’n slegte idee nie,” grap hy.

Hoewel albei al na talle lande vir werk en plesier gereis het, sal hulle nooit die moeilike tye en waar hulle vandaan kom, vergeet nie.

Hul familie was nege mense in ’n tweeslaapkamerhuis en van misdaad en geliefdes verloor, kan jy hulle niks vertel nie. Ongelukkig ken almal iemand op die Kaapse Vlakte wat weens geweld en misdaad iemand aan die dood moes afstaan en dit is iets wat hierdie twee ook moes hanteer. Maar tog wil hulle vir mense sê al is dit uitdagend en moeilik om op die Kaapse Vlakte te woon, is dit juis hierdie uitdagings en die krag van familieondersteuning wat mense bo hul omstandighede laat uitstyg .

“Daar is goeie dinge wat in Manenberg gebeur en goeie mense. Daar is ook ’n veerkragtigheid onder mense en dit is wat ons mense suksesvol maak, selfs wanneer die wêreld vir ons vertel dat ons niks sal bereik as gevolg van waar ons vandaan kom nie,” sê Ashley passievol.

Christin stem saam en sê haar ouma was baie oorbeskermend en daar was tye waar jy nie as gevolg van misdaad buite kon loop nie, maar vir die meeste tye was dit ’n liefdevolle gemeenskap waar almal by mekaar se huis gespeel het en oorgeslaap het.

“Die algemene misverstand is dat suksesvolle mense nie van Manenberg kan kom nie. Baie glo nog intelligente, hardwerkende, talentvolle en gerespekteerde mense kan nie uit voorheen benadeelde gemeenskappe kom nie. Maar ons is hier om vir mense te wys ons kan lekker kos maak én om mense se denkwyse oor plekke soos Manenberg te verander,” sê Christin.

*Teen druktyd was Ashley en Christin nog in die wedloop om as die wenners van My Kitchen Rules South Africa gekroon te word.

Meer oor:  Kuier  |  My Kitchen Rules Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.