Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Verlamde meisie skilder met mond
11 Desember 2019


Die feestyd is ’n tyd vir almal om lekker te kuier, maar dit is belangrik om nooit te vergeet om dit op ’n verantwoordelike en nugter manier te doen nie. Elke jaar word daar gewaarsku teen drink en bestuur, maar elke jaar is dít die oorsaak van talle botsings en sterftes. Só was Ciska Klein (nou 9) ook vermoedelik die slagoffer van ’n dronk bestuurder.

Sy is twee jaar gelede verlam gelaat nadat hy haar met sy motor getref het. Ciska se ma, Louwtjie Klein (40) van die plaas Altydgedacht buite Durbanville, vertel sy moes in Maart 2017 ’n ouer se ergste nagmerrie beleef toe haar dogter een middag op pad huis toe gestamp is en amper nie die ongeluk oorleef het nie.

Ciska en haar ouer suster was op pad terug van die winkel af toe hulle ’n pad oorsteek en sy deur die motor getref word. Haar nek is tussen haar C4- en C5- rugmurgwerwels gebreek wat veroorsaak het dat sy vandag verlam is. Louwtjie sê die familie bly al vir jare op die plaas en omdat hulle nie vervoer van hul eie het nie, moet hulle winkels toe stap of taxi’s vat om êrens te kom.

Louwtjie vertel sy het al dikwels gedink as hulle net nie daardie middag gestap het nie of as die bestuurder net ’n bietjie meer verantwoordelik op die pad was, sou haar prinses en woelwater vandag nog kon loop. Maar sy weet ook dinge kon veel erger gewees het. Aanvanklik het Louwtjie haarself voorberei op die ergste toe sy haar dogter se bebloede lyfie ná die ongeluk sien en veral nadat dokters by die Rooi Kruis-kinderhospitaal vir hulle gesê het dit lyk nie goed nie. “Ek onthou bitter min van daardie dag. Ek was in skok en ek kon dit nie glo nie. Dit was alles net so onwerklik.

Om jou kind met al die pype en bloed te sien, is ’n prentjie wat ek nie wil onthou nie. Daar was baie woede, omdat ’n volwassene nie besef het hul optrede kan ’n gesin se lewe tragies verander nie,” sê sy. Verlede jaar het meer as 1 612 mense hul lewe in die feestyd op die land se paaie verloor, volgens ’n verslag wat in Januarie vanjaar deur die nasionale verkeersdepartement uitgereik is. Die verslag beklemtoon dat 2 223 van die 8507 bestuurders wat in dié tyd gearresteer is, weens dronkbestuur was, terwyl 775 vasgetrek is omdat hulle te vinnig gery het.

Vegter

Toe Ciska ná die ongeluk in die hospitaal wakker word, het sy nie meer beheer oor haar arms en bene gehad nie. Sy is vandag steeds aan ’n permanente ventilator gekoppel, omdat haar diafragma nie effektief werk nie en sy nie op haar eie kan asemhaal nie. Hul tweevertrekhuis was ook glad nie vir ’n gestremde kind ingerig nie.

Ciska het ook ’n kateter en spesiale bed nodig en sy moes ook ’n eyegazer teen R60 000 vir haar skoolwerk kry. Die eyegazer is ’n spesiale toestel waarmee sy woorde kan tik en haar skoolwerk kan doen deur die letter te kies met haar oë.

Maar Louwtjie was vasbeslote dat haar kind skool toe gaan en ten spyte van haar gebrek ’n vol lewe kan lei. Danksy die hulp van onder meer die gemeenskapsorganisasie The Storybook Project is geld ingesamel om in Ciska se behoeftes te voorsien (ook om ’n elektriese rolstoel vir haar te koop) en vandag is sy ’n gelukkige graad 3- leerder by die Paarl Skool vir gestremdes in Brackenfell.

Ons was glad nie gereed vir die impak wat haar ongeluk op ons lewens sou hê nie, maar ons het geweet dat ons self vir haar wil sorg.

Ciska is baie positief en dít sien jy dadelik raak in haar groot glimlag wanneer jy haar ontmoet. Dis hierdie ingesteldheid wat haar dryf om die beste uit die lewe te kry al is sy nog baie jonk. Maar dit was beslis nie maklik om by haar nuwe lewe aan te pas nie. Voor sy haar rolstoel gekry het, kon sy byvoorbeeld niks doen behalwe lê nie. Dit gee haar meer stabiliteit en ’n bietjie onafhanklikheid, omdat niemand haar hoef te stoot soos met ’n gewone rolstoel nie. Sy beheer die stoel met haar ken.

Skool het ook baie gehelp omdat Ciska as deel van haar klasse ook fisioterapie en arbeidsterapie kry. Sy het eers in 2018 by haar nuwe skool begin, omdat sy vir maande ná haar ongeluk in die hospitaal was. Sy kon nie na haar vorige skool terugkeer nie en haar ouers het besluit om haar in ’n skool vir gestremdes te sit sodat sy die beste onderrig vir iemand met haar behoeftes sal kry.

Ciska saam en haar fasiliteerder, Ria Wagner, wat haar by die skool help.

As deel van haar terapie by die skool het sy verskillende dinge probeer. Sy is tans deel van die boccia-span by die skool. (Boccia is ’n sport soortgelyk aan rolbal, maar die bal word vanaf ’n platvorm met jou ken gestoot.) ’n Paar maande nadat sy by die skool begin het, kon onderwysers sien hoe baie Ciska die kunsklasse geniet. Hulle het haar begin leer hoe om met haar mond die pen vas te hou en nou, ’n jaar later, teken sy al baie goed met haar mond. Haar fasiliteerder sit alles reg voor haar en sit dan die pen of potlood in haar mond sodat sy kan teken.

Wanneer sy klaar is, haal iemand dit weer uit. Ciska het al so goed gevorder dat een van haar kunswerke as deel van ’n kunskompetisie by die Zeitz Mocaa-meusem vir kontemporêre kuns in die Waterfront in Kaapstad uitgestal is. Haar tekening van ’n walvis is as een van 16 werke deur leerders deur die departement van onderwys vir dié uitstalling gekies.

“Ek het dit baie geniet en ek hou daarvan om te teken. Ek hou van walvisse, want dit is die grootste in die see. My gunstelingdeel van die prent is die glitter, omdat dit blink. Dit is baie maklik vir my om my skoolwerk te doen,” vertel Ciska. Sy lyk baie trots wanneer ons by haar klaskamer instap om foto’s van haar te neem. Sy glimlag breed wanneer een van die kinders vra of mense weer daar is om van haar ’n foto te neem.

Volgens haar fasiliteerder, Ria Wagner (wat haarself as Ciska se arms en bene beskryf), is Ciska die brein en help sy net om seker te maak Ciska het alles wat sy nodig het om haar werk te kan doen. Ciska was juis besig met ’n toets tydens ons besoek en dit het glad nie gelyk asof die ventilator waaraan sy gekoppel is, haar pla nie. Die oogstelsel wat sy gebruik help mense met ’n gestremdheid om ’n rekenaarstelsel met hul oë te beheer en gee hulle ’n bietjie onafhanklikheid. Louwtjie sê Ciska inspireer hulle almal en sy is net bly die ongeluk het nie haar dogter se gees gebreek nie.

Sy voeg by die ongeluk het haar laat besef daardie bietjie wat jy oor die alkohol- of speed limit gaan, is glad nie die moeite werd nie, want dit kan lewens verwoes. “Ciska se ongeluk het ons heeltemal geknak,” vertel sy. “Dit het beslis ’n emosionele impak op ’n gesin wanneer tragedie jou ruk, maar die finansiële impak is selfs groter. Ons is maar plaaswerkers wat in ’n tweevertrekhuis bly. Ons was glad nie gereed vir die impak wat haar ongeluk op ons lewens sou hê nie, maar ons het geweet dat ons self vir haar wil sorg en dat ons haar nie iewers in ’n tehuis wil gaan los nie.”

Daarom is dit Louwtjie se grootste wens vir die feestyd dat almal op die pad die reëls sal nakom sodat ’n ander familie nie moet deurmaak wat hulle oorgekom het nie.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Gestremdes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.