Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Vrou al vir 40 jaar agter taxi se stuur
25 Junie 2020


Baie taxibestuurders het ’n reputasie as onverskillige padvarke wat mal is daaroor om hul hooters te druk, ander motoriste te ontstel of stil te hou net waar hulle wil.

Daarom is die verrassing groot wanneer antie Amina Shabodien (71) van Belhar op die Kaapse Vlakte voor jou te staan kom of liewer in haar taxi voor jou tot stilstand kom. Dis háár eie taxi wat sy al vir vier dekades bestuur. Ja, jy het reg gelees – antie Amina is al van 1978 af ’n taxibestuurder! Antie Amina is dit eens dat taxibestuurders beslis nie almal se gunstelingpadgebruikers is nie en sy het ook nie veel simpatie met baie van hulle nie, want volgens haar bring hulle dit oor hulself.

Antie Amina is beslis nie jou gewone 71-jarige wat by die huis wil sit en aftrede geniet nie. Sy is ook nie jou gewone antie wat heeldag vir mense wil bak en brou nie, want as jy gewoonlik douvoordag vir antie Amina soek, sal jy haar in haar gunstelingplek kry – agter die stuur van haar minibustaxi.

Vir meer as vier dekades is Amina al 06:00 elke oggend uit die huis uit om haar eerste kliënte teen 06:25 by Bellville taxi rank op te laai. Dís dalk te vroeg vir baie van ons, maar antie Amina sê dis juis die rede hoekom sy nog so hups is. Sy hou nie van stilsit nie. Volgens haar moet sy aan die gang bly en al het sy al een of twee keer dit oorweeg om haar sleutels op te hang weens die toenemende misdaad op die Kaapse Vlakte, sê antie Amina sy is al so ’n ou gesig dat selfs die bendes haar nie pla nie.

“Ek is al so lank op die pad dat gangsters al uit die tronk gekom het en vir my gevra het of ek dan nog nie afgetree het nie,” sê sy terwyl sy lekker uit haar maag uit lag. Antie Amina vertel toe sy tydens apartheid grootgeword het, kon haar ouers nie bekostig om haar te laat swot nie en sy het ook nie regtig belanggestel in verpleeg of onderwys nie. Om geld te verdien, het sy eers in ’n fabriek gaan werk, waar sy haar eerste man, oorle’ Salie, ontmoet het.

Tydens apartheid moes ons lang wit jasse dra en ons was gereeld deursoek.Geen uitdaging is ooit permanent nie.

Vind haar wiele

Haar skoonpa, Kader (nou in sy 90’s), het ’n taxi gehad en sy het hom gereeld gaan help. Hy het haar die “besigheid” van die taxibedryf geleer en haar belangstelling is geprikkel. Sy het vir ’n lang tyd eers vir haar skoonpa taxi gery en toe sy dit kon bekostig, het sy haar eerste taxi in 1985 by hom gekoop. Van toe af doen sy haar eie ding . . .

Almal in haar omgewing ken haar as antie Amina, omdat sy baie van hulle al skool toe, winkel of werk toe gery het. In sommige families het sy al van generasie tot generasie gesien hoe kinders later groot werkende volwassenes word. Maar sy glo dit is juis hierdie band met haar gemeenskap wat haar nie net oor die jare veilig gehou het nie, maar ook haar besigheid al vir so lank aan die gang hou.

Om betroubare en veilige vervoer te verskaf, is die belangrikste vir antie Amina. Maar al doen sy haar werk so lank, is daar nog baie mense wat soms verbaas is om ’n vroue-taxibestuurder te sien en dan boonop iemand wat ouer is. Maar dit pla haar glad nie. Sy is trots om een van net 2% van Suid-Afrika se vroue-taxibestuurders te wees en sê sy hoop meer vroue sal by die bedryf aansluit.

Vir meer as 40 jaar ry sy al tussen die strate van Parow, Bellville en Belhar en al verander die strate, gemeenskap en die mense, sal baie van haar kliënte vir jou sê sy is steeds dieselfde saggeaarde mens met haar vriendelike persoonlikheid en groot glimlag wat jou in die oggend en middae in haar taxi verwelkom. Maar moenie dink daardie glimlag en grappies verdwyn nie oombliklik as jy dit waag om in haar taxi te rook of drink nie. Antie Amina is ernstig wanneer sy verduidelik dat sy glad nie geduld het vir kansvatters nie. Sy vat nie nonsens in haar taxi nie.

Omgeemens

Al was sy baie op die pad, was sy altyd daar vir haar kinders en het sy niks in hul skoolloopbaan gemis nie. Sy maak nou nog tyd hulle. Maar dit was ook belangrik vir haar om haar dogters groot te maak met die mentaliteit dat hulle enigiets kan doen. En daardie boodskap het haar kinders al van Dubai tot Amerika geneem soos wat hulle hul eie passies en drome najaag.

Antie Amina by haar eerste taxi.

En volgens haar dogter Fay Shabodien (40) is dit is waarvoor hulle as kinders baie dankbaar is. Sy beskryf haar ma as haar grootste inspirasie en die persoon wat vir haar geleer en gewys het dat jy meer as gelukkig kan wees in ’n man se skoene en wêreld. “Die taxibedryf is male dominated, maar my ma het vir almal wat gesê het sy sal dit nie maak nie, verkeerd bewys. Sy het ook vir ons gewys hoe jy klein kan begin en ’n groot sukses van jou besigheid kan maak as jy net die tyd en passie daarin sit,” sê sy bewonderend.

“My ma is een van die onselfsugtigste mense wat ek ken en sy het ’n groot hart. Ek dink dit is hoekom sy so bekend en gelief is in die gemeenskap, maar moenie dink dat sy jou nie op jou plek sal sit nie.” sê Fay. Dit is juis daardie geen-nonsens-denkwyse wat Amina gehelp het om haar besigheid te laat groei en te beskerm tydens moeilike tye soos apartheid en resessies.

“Tydens apartheid moes ons lang wit jasse dra en ons was gereeld deursoek, maar vandag klim ek in die oggende met my gemaklikste skoene, ’n broek en ’n toppie in my taxi en voel dit asof dit altyd só was. Geen uitdaging is ooit permanent nie,” voeg antie Amina by. Oor die jare het haar prys nie te veel van 15c na R12 gestyg nie, sy het net ’n bietjie meer kleingeld om te hanteer, grap sy. Maar op ’n meer ernstige noot is sy dankbaar om oor die jare vir haar familie te kon sorg met ’n werk wat nie aldag deur mense goedgekeur word nie.

“Ja, daar is baie taxi-bestuurders wat ons bedryf ’n slegte naam gee, maar daar is ook baie van ons wat maar net ’n honest living probeer maak om vir ons gesinne te sorg. Maar ook om seker te maak dat jy, jou kinders of die werkende mense in ons gemeenskap veilig van punt A tot B kom.” Sy het deur dit alles taxi gery, maar het besluit om vir veiligheidsredes nie kanse te vat tydens die corona-pandemie nie, maar sy glo haar besigheid sal ná die lockdown weer op die been kan kom.

“Hierdie is dinge wat jy nie kan keer nie. Dinge gaan gebeur en tye gaan verander, jy moet net saam met die tye kan verander. As jy dit nie doen nie, sal jy dit nie maak nie,” sê sy. Antie Amina wys vroue dat hulle nie moet toelaat dat dinge soos vrees of seksisme in die pad van hul sukses staan nie. Kyk na haar. Sy het ten spyte van uitdagings en wat mense gesê het, aangehou en vandag pluk sy en haar besigheid die vrugte van haar uithouvermoë!

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Taxi-Bestuurder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.