Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Genadedood: Siekes vra hof vir wettiging
3 Oktober 2018


In sy gloriedae was John van Dyk ’n kranige rugbyspeler. Hy het as senter vir WP Disa uitgedraf, en was tot kort voor sy diagnose met motorneuronsiekte die afrigter van die Elsiesrivier United-klub.

Sy weduwee, Yolanda van Dyk, van Kraaifontein buite Kaapstad, onthul nou dat John enkele weke voor sy dood in Februarie vanjaar vir ’n genadedood gevra het. Ná ’n siekbed van vier jaar was die pyn eenvoudig net te veel, en dis toe dat hy gepleit het: “Ek is gereed om te gaan. Help my, asseblief.”

Hoewel dié hulpkreet nie aldag in die openbaar gehoor word nie, is dit een waarmee die familie van terminaal siekes goed bekend is. Nou wend ’n Johannesburgse dokter Sue Walter, haar tot die Suid-Gautengse Hooggeregshof vir sterwendes se “reg” om deur genadedood van hul pyn verlos te word.

Daar is tans ook ’n voorgestelde “doods­wet” wat in die parlement ter tafel gelê is om terminaal siek pasiënte te help om medikasie te weier wat bedoel is om hul lewens te verleng. Dié wet het egter niks met genadedood te doen nie en baie water moet nog in die see loop voor só ’n wet in werking kan tree.

Dis dalk maklik om te oordeel as jy nog nie self in haar skoene gestaan het nie, maar Sue is bereid om tot haar laaste asem vir genadedood te veg.

Dit is ’n stryd wat sy dalk nie in haar leeftyd sal wen nie omdat sy self sterwend is. Haar bloedkanker-diagnose in Februarie vanjaar was vir haar ’n uitklophou – ’n siekte wat sy as “martelend” beskryf. Dokters reken sy gaan nog net ’n jaar lewe, dalk twee as sy gelukkig is.

VRA HOF

Yolanda van Dyk en haar man, John, kort voor sy dood.

Sue, ’n ouddirekteur van die Houghton Hospice, het as grootbaas van die 11 Angels-stigting eerstehandse ervaring van die pyn en lyding wat terminaal siekes in hul laaste dae beleef. Sy en ’n 69-jarige pasiënt, Diethelm Harck, het die hof saam genader vir die reg om hul eie lewe met die hulp van ’n dokter te beëindig.

Harck het motorneuronsiekte (MNS) – dieselfde siekte wat John en die oud-Bok-kaptein Joost van der Westhuizen, se lewens geëis het. MNS is ’n terminale siekte. Mense met dié siekte het nog ’n ruk om te ly voordat hulle gaan sterf. Dokters kan dus niks meer doen nie, buiten om hul pyn in hul laaste dae te verlig.

Yolanda vertel John het haar in sy laaste dae gevra om sy dokter te vra om hom te help “om aan te beweeg”. “Dit was een van die mees pynlike vrae wat hy my ooit gevra het, maar ek het verstaan. Vier jaar se pyn, lyding en depressie was genoeg vir hom.”

Hoewel Yolanda aanvanklik niks van haar oudrugbyman se versoek om bystanddood (geassisteerde genade- en selfdood) wou weet nie, het sy uiteindelik “met ’n swaar hart” na John se dokter gegaan. Hy het begrip gehad vir John se pleidooi, maar kon net belowe om sy pasiënt “so gemaklik moontlik” te maak.

“John het my angstig ingewag toe ek die aand ná werk by die huis kom,” onthou Yolanda. “Hy was so teleurgesteld toe ek die dokter se boodskap oordra. In my hart was ék bly daaroor, maar ek kon ook nie my man se lyding meer verdra nie. Dit het onbeskryflik seer gemaak tot en met hy sy laaste asem uitgeblaas het.”

’n Palliatiewe onkoloog, dr. Margie Venter, sê haar eie pasiënte vra soms oor die moontlikheid van genadedood. Dít spruit volgens haar uit mense se onsekerheid en vrese oor die proses van doodgaan.

“Daar is gewoonlik ’n vrees wat agter pasiënte se vrae oor genadedood skuil. Hulle is dalk bekommerd oor onbeheerbare pyn of afhanklikheid van hul families. Ek vind dat mense nie weer oor genadedood uitvra as hulle eers verseker is dat die pyn (van terminale siektes) goed beheer kan word, of dat ’n ondersteuningsnetwerk in plek is nie.”

Mense het, volgens haar, tans “die volste reg” om mediese behandeling te weier. “Behandeling, soos chemoterapie, word op niemand afgedwing nie. Dikwels is genesing self nie die doelwit in gevorderde terapie nie, maar eerder die verlenging van ’n lewe of pynverligting. Dit is anders as selfdood waar iemand aktief ’n manier soek om sy lewe te beëindig.”

Sy waarsku ook dat genadedood nie noodwendig minder ingewikkeld is nie.

“Emosies, beide vir die pasiënt en sy familie, is baie kompleks en genadedood is nie ’n maklike oplossing nie.”

Volgens Yolanda besef mense nie altyd hoe traumaties dit is wanneer ’n geliefde sterwend is nie. “Ek het in safe mode gegaan. John het my nóg ’n moeilike taak gegee. Hy het my gevra om sy susters een Sondagmiddag oor te nooi sodat hy hulle kon groet. En omdat hy nie meer kon praat nie, moes ek die boodskap oordra. ‘Ek het nie meer lank om te lewe nie,’ was die eerste deel van sy groetboodskap. Ek moes verduidelik watter soort begrafnis hy wou hê en dat ons nie moet bang wees nie, want hy is nie.”

Nou – enkele maande ná haar geliefde se dood – weet Yolanda steeds nie of sy bystanddood steun nie. “Ek het nie ’n antwoord nie, want dit maak nie saak of ek ja of nee sê nie. Jy staan nog altyd ’n geliefde aan die dood af. Jy kan aan niks anders dink as om te wonder hoe jy die lewe sonder die liefde van jou lewe sal aanpak nie; hoe die seuns sonder ’n pa gaan grootword nie. Jy kan aan niks anders dink as hoe sy susters die lewe sal aanpak sonder hul enigste broer nie, en hoe lank die leemte daar gaan wees nie.”

WAT VAN GELOWIGES?

Baie terminal siekes wil die reg hê om self oor hul dood te besluit.

Volgens dr. Chris Jones, teoloog en navorser by die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir morele leierskap, hoef gelowiges nie skuldig te voel as hulle genadedood vir terminaal siekes oorweeg nie. Hoewel hy twyfel of wetgewing vorentoe sal verander, is hy daarvan oortuig dat elkeen van ons die reg het om self te besluit wanneer ons wil sterf.

Jones sê: “Mens sou kon reken dat jy geregtigheid aan iemand wat terminaal siek en in ondraaglike pyn is, laat geskied, juis oor jy hulle uit liefde en deernis van ondraaglike pyn en lyding wil bevry. Dikwels help jy op hierdie wyse ook iemand om meer waardig te sterf.”

Maar is gelowiges nie besig om God te speel nie? Jones dink nie so nie. “Vra liewer: Is dit moreel aanvaarbaar om lewe aan die gang te hou as die lewe geen aanduibare lewensfunksie en -gehalte meer toon nie? Waar daar nie meer sprake van persoonlike lewe is nie, net biologiese funksies? As iemand terminaal siek is, erg ly en tot die dood afgetakel is, kan daar nie ’n sterk morele saak uitgemaak word dat dit in orde sou wees as só iemand, onder streng gereguleerde, medies-etiese omstandighede met die sterwensproses gehelp word nie?”

VEG VIR SORG

Emosies, beide vir die pasiënt en sy familie, is baie kompleks en genadedood is nie 'n maklike oplossing nie.
Dr. Margie Venter

Venter bewyer haar intussen vir groter toegang tot breedvoerdige palliatiewe sorg – iets wat nie nou behoorlik deur die staat of selfs siekefondse befonds word nie. Palliatiewe sorg fokus op die bestuur van pyn, angs en staking van liggaamsfunksies in ’n pasiënt se laaste dae.

Sy beskryf vroegtydige sorgbeplanning as ’n baie sinvolle proses. “Om besluite te kan maak oor ’n pasiënt se sorg, het ek vroegtydig ’n gesprek oor hul vrese en wense oor hul mediese sorg. Dit gee mense die gemoedsrus dat hulle self hul mediese sorg kan bestuur.”

Chemo- en radioterapie het steeds ’n belangrike plek in palliatiewe sorg, sê Venter. “Ek wonder wel of eerlike en ingeligte gesprekke tussen pasiënte, families en kankerdokters nie pasiënte die keuse sou gee om nee te sê vir aktiewe behandeling nie. Die fokus behoort nie te wees oor of hulle behandeling wil hê of nie, maar wat die beste onder die omstandighede vir húlle is, en hoe om daardie resultate ten beste te bereik.”

In Sue-hulle se hofaansoek word geargumenteer dat dit nie onwettig is om selfdood te pleeg nie, en ook nie vir ’n dokter onwettig is om medisyne voor te skryf wat vir selfdood gebruik kan word nie. Die pasiënt moet egter self dié medisyne inneem – sonder ’n dokter se hulp.

Sue en Diethelm vra dus dat die wet verander word wat tans genadedood met die bystand van ’n dokter verbied. Hulle glo dat dokters nie gestraf behoort te word as hulle terminaal siekes help om te sterf nie. Dis nie die eerste keer dat die genadedood-kwessie in die hof draai nie. Die Pretoriase hooggeregshof het in 2015 ’n aansoek om genadedood deur ’n voormalige advokaat, Robin Stransham-Ford, goedgekeur. Hy is egter ure ná die hof se groen lig oorlede. Die hoogste hof van appèl het dié beslissing omgekeer. Dit beteken genadedood is steeds onwettig.

Intussen sê Breederivier Hospice se mediabestuurder, Priscilla Cloete, dat palliatiewe sorg eerder ’n aanvaarbare opsie vir terminaal siekes is. “Palliatiewe sorg bevestig die waarde van lewe en beskou die dood as ’n normale proses. Ons wil nie die dood aanjaag óf uitstel nie. Ons glo elke Suid-Afrikaner het die mensereg tot palliatiewe sorg en dat genadedood nie deel van palliatiewe sorg is nie.”

Wat sê jy?
Sê vir ons wat jy dink van die storie.

Stuur 'n WhatsApp na 060 784 0589, gevolg deur jou mening.

Stuur 'n WhatsApp na 060 784 0589, gevolg deur jou mening.

  • In die nuutste verwikkeling oor genadedood, is prof. Sean Davison, stigter van DignitySA, wat hom beywer vir die “reg om te sterf”, onlangs op ’n aanklag van moord gearresteer nadat hy na bewering sy vriend Anrich Burger, ’n kwadrupleeg, in 2013 gehelp het om te sterf. Die staat voer aan dat Davison dalk by ander soortgelyke misdade betrokke was. Davison is op borgtog van

    R20 000 vrygelaat en het aangedui hy gaan skuld ontken, berig News24.

    R20 000 vrygelaat en het aangedui hy gaan skuld ontken, berig News24.
Meer oor:  Genadedood  |  Siekte  |  Wet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.