Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ja of nee vir dagga-doepas?
11 Julie 2018


Wanneer mense siek is, sal hulle enigiets probeer om gesond te word – selfs dagga!

Deesdae erken mense sommer openlik dat hulle ’n daggaproduk gebruik, of weet van iemand wat met behulp van dagga wat onwettig verkry is, van die een of ander ernstige siekte herstel het.

Kenners waarsku egter mense moet ligloop vir daggaprodukte en dat geen produk nét voordele inhou nie. Maar is die “holy herb” regtig goed vir sekere siektes?

Lorinda Rabe (44)*, ’n enkelma, sweer by die gebruik van dagga-olie vir kanker. Einde 2013 is sy met pankreaskanker gediagnoseer kort nadat sy geval en ’n been sleg gebreek het. Weke nadat sy vir die fraktuur geopereer is, was sy terug in die teater, dié keer vir die verwydering van twee-derdes van haar pankreas, haar milt en 19 geswolle limfkliere.

’n Jare lange roller-coaster van hoop, wanhoop, pyn, morfienverslawing en konvensionele behandelings het gevolg. Weens erge newe-effekte het sy eers bestraling en uiteindelik chemoterapie – wat sy onbepaald moes kry – gestaak. “Ek kon nie meer ’n ma vir my dogter wees nie en het besluit om alles te los en net dagga-olie te probeer.”

Kort ná haar eerste diagnose het sy ook daarmee geëksperimenteer. “Daardie tyd was alles nog nuut en mense het nie geweet wat die regte dosis is nie. Ek het iets soos 10 ml gevat en vir twee dae net uitgezone. Dit was nie ’n aangename ondervinding nie.” Dié keer het sy haar huiswerk op die internet gedoen en begin deur drie keer ’n dag dagga-olie te neem, maar nie meer as die grootte van ’n ryskorreltjie op ’n slag nie.

’n Jaar later was sy ’n ander mens. Sy het gewig opgetel en is weer haar aktiewe self. Van die kanker, sê sy, was daar nog geen spoor weer nie en tans gebruik sy die olie net elke derde dag ter voorkoming. Haar ma, wat artritis het, smeer ook deesdae met groot sukses ’n cannabisroom aan haar hande. En sy gee die olie nou selfs vir haar tienjarige hond wat nierkanker het nadat sy op die internet gelees het dat dit wondere vir diere verrig.

Bewyse

Lorinda is deel van ’n groeiende groep mense wêreldwyd wat oor die medisinale eienskappe van dagga swymel. Maar is daar bewyse dat dagga verligting of selfs genesing kan bring vir enigiets van pyn tot spierspasmas, psoriase en ernstige siektes soos veelvuldige sklerose en kanker, soos aangevoer word? Die antwoord is nie ’n eenvoudige ja of nee nie.

Aan die een kant is daar inderdaad bewyse dat dit vir ’n verskeidenheid van siektetoestande kan help. Dagga word, trouens, in verskeie lande soos Amerika en Kanada kommersieel gebruik. Navorsing is nog in sy kinderskoene nadat dit lank weens die wêreldwye verbod op dagga gekniehalter is.

En soos met enige produk is daar ook newe-effekte waarmee rekening gehou moet word. Die droë plantmateriaal bevat honderde verbindings. Kannabinoïede is die bekendste daarvan, sê dr. Gerbus Muller, kliniese farmakoloog, toksikoloog en ouddosent aan die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe van Universiteit Stellenbosch.

Volgens Muller bestaan daar redelik goeie bewyse dat hierdie kannabinoïede effektief as geneesmiddels gebruik kan word vir ’n variasie van siektetoestande soos chroniese neuropatiese pyn, wat dikwels by pasiënte met MIV en veelvuldige sklerose voorkom, en moontlik ook chroniese kankerpyn en rumatiek.

Dit kan ook met vrug ingespan word by spastisiteit, veral by veelvuldige sklerose; naarheid en braking weens die gebruik van teenkankermiddels; aptytsverlies by pasiënte met MIV/vigs of gevorderde kanker; spiertrekkings by Tourette-sindroom; vir newe-effekte by die gebruik van middels vir Parkinson-siekte; angs- en slaapsteurnisse; en ook Crohn se siekte (inflammatoriese dermkanaal).

Daar is ook aanduidings dat dit teenkanker-effekte het, veral by gliomas, en dalk die effek van teenkankermiddels kan versterk. Pasiënte moet egter onthou dat daar amper net soveel nadele as voordele is, beklemtoon Muller. Dit sluit in verhoogde hartklop, daling in bloeddruk, depressie, verwardheid, geheueverlies, hallusinasies en ’n afname in intellektuele vermoëns.

By tieners verdubbel dit boonop die risiko vir die ontwikkeling van skisofrenie en kan dit epilepsie aanbring. Dr. James Butler, ’n Kaapse neuroloog, wys daarop dat in ’n wetenskaplike studie bevind is dat een tipe kannabinoïede, kannabidiol, kinders met ’n sekere epilepsie – Dravetsindroom – matig kan help. Soos ander medici, maan hy egter dat mense nie oormatige hoop daarop moet plaas nie. “Ek het baie pasiënte wat al dagga probeer het,” sê hy. “Die oorweldigende meerderheid epilepsielyers is baie teleurgesteld.”

Steeds onwettig

Hoewel ’n uitspraak oor dagga in die Kaapse hooggeregshof verlede Maart baie Suid-Afrikaners laat glo het dat dagga nou vir medisinale doeleindes en terapeutiese gebruik tuis goedgekeur is, moet feit van fiksie geskei word. Die uitspraak was ’n stap in die rigting van wettiging, maar dagga is steeds onwettig in Suid-Afrika.

Dokters moet aansoek doen om dit in uitsonderlike omstandighede vir ’n pasiënt voor te skryf en niemand mag dit besit, kweek, gebruik of verkoop vir medisinale of nie-medisinale doeleindes sonder die nodige lisensie nie. Lt.kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat dit ook vir dagga-olie of enige ander daggaproduk geld. Op die vraag of enigiemand al op enige klagte rakende dagga-olie in hegtenis geneem is, het hy daarop gewys dat geen misdaadstatistieke nou bekend gemaak word nie. Sover Kuier se kennis strek, het dit egter nog nie gebeur nie.

Die Maart-uitspraak het beslis dat die Medisynewet ongrondwetlik is wat betref spesifiek twee artikels: Dat dagga as skedule 7-middel gelys is en dat enigiemand wat dagga besit, ’n permit van die direkteur-generaal van gesondheid moet hê.

Die Grondwethof moet hierdie uitspraak egter eers bekragtig voordat die parlement die wetgewing kan wysig, en daarvoor is 24 maande toegelaat. Intussen gedy veral die swartmark in daggaprodukte, met die prys wat oën-skynlik wissel na gelang van die aanvraag en die omgewing. Lorinda het vir haar eerste aflewering van dié taai, donker middel R3 000 betaal nadat sy dit deur ’n familielid bekom het. Dit was – getrou aan die swartmark – in ’n spuit en sonder gebruikaanwysings.

Sy het intussen na ’n ander provinsie verhuis en betaal vir dieselfde hoeveelheid R450. ’n Vriendin help haar met haar voorraad. Al is enige advertensies of verkoop van daggaprodukte tans nog streng verbode, word dit nie net op die swartmark gekry nie, maar ook by “betroubare” plekke. Op die aanlynwinkel van ’n gesondheidspa in Somerset-Wes word dagga-olie vir R1 700 in ’n netjiese glasbotteltjie geadverteer.

Daar is ook ander medisinale daggaprodukte, soos 30 kapsules teen R1 500 en ’n room (tussen R600 en R900 vir 120 ml) wat beloof om wondere te verrig vir rumatiek, artritis, inflammasie en pyn. Geen toksiese plaagdoders en kunsmis is by die kweek van hierdie plante gebruik nie, voer die spa aan. Vir baie desperate siekes is dit egter ’n kwessie van hoop en bid wat gehalte betref wanneer hulle swartmark-produkte gebruik. Butler is juis bekommerd dat mense geld uit desperate pasiënte probeer maak.

Ander medici wys op die gevaar van selfdiagnose en pasiënte wat self daggamiddels koop en gebruik, terwyl die inhoud onbekend is. Op sosiale media loop die emosies hoog. “Dagga red lewens,” spel een vrou dit uit. “Dit is hartseer dat mense dit onwettig moet gebruik om net te kan lewe en nie vasgekluister te lê in ’n bed vir maande weens siekte en pyn nie. Suiker verwoes meer lewens, om nie eens te praat van sigarette nie . . .”

Dagga-voorstanders voer ook aan dis ’n nie-toksiese produk waarvan niemand nog gesterf of ge-overdose het nie – soos wel die geval met ander medisinale produkte op die mark is nie. Hoe dit ook al sy, die nasionale gesondheidsdepartement het reeds aangedui dat hulle ten gunste van die regulering van daggaprodukte vir medisinale doeleindes is.

En hoewel die ratte stadig draai, was daar al veranderings. Die twee psigo-aktiewe bestanddele – tetrahidrokannabinol (THC) en kannabidiol (CBD) – is onlangs as onderskeidelik skedule 6 en skedule 4 geherklassifiseer. Hoopvolles doen ook reeds sedert Desember 2017 aansoek om lisensies by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (SAPHRA), wat in Februarie vanjaar die ou Medisynebeheerraad vervang het, vir die kweek van dagga vir medisinale gebruik en die verwerking daarvan tot ’n aanvaarbare farmaseutiese doseringsvorm.

Tot dusver is 23 aansoeke ontvang, sê mnr. Foster Mohale, SAPHRA-kommunikasiehoof. Laastens, is dagga-olie verslawend? Ja, afhangend van die wyse waarop dit vervaardig word en ook die deel van die plant wat gebruik word, sê Muller.  

Hy verduidelik dat THC die kannabinoïed in die daggaplant is wat mens op ’n “high” sit. In Suid-Afrika kan jy egter nie sê of en hoeveel THC in jou dagga-olie is nie omdat hier nog nie spesifieke komponente van die daggaplant vir medisinale doeleindes onttrek word nie, soos reeds in lande soos Engeland gedoen word.   

Gaan koop jy op die swartmark dagga-olie, het jy geen idee of die hele plant of net dele daarvan by die vervaardiging gebruik is nie. Jy weet ook nie watter onttrekkingsproses ingespan is nie.  As die hele plant gebruik is, sal jy – net soos met dagga wat gerook word – al die kannabinoïede kan inkry en dus ook die verslawende THC. As net die daggaplant se sade vir medisinale olie gebruik, kan THC ook teenwoordig wees, maar die konsentrasie is dan gewoonlik laag. Muller verduidelik dat die sade proteïene van ’n hoë gehalte bevat, met die hoogste konsentrasie THC in die saadwande. Maar hoeveel THC geabsorbeer gaan word, hang af van die wyse waarop die olie onttrek word.  

“Die groot probleem in Suid-Afrika is dat ’n onttrekkingsproses vir dagga-olie nog nie gestandaardiseer is nie en dat hier ook geen gehaltebeheer is nie,” sê Muller. “Niemand kan sê presies watter bestanddele in jou olie is nie. Daarom kan niemand ook voorspel hoe ‘hoog’ jy gaan raak op die dagga-olie wat jy gebruik nie en of dit enigsins dagga-olie is nie.”

*Skuilnaam

Só lyk die dagga-olie wat jy tipies op die swartmark kan bekom. Dit kom gewoonlik in ’n wasvorm, maar met hitte word dit ’n olie. Volgens ’n bron sal 2 ml jou sowat R250 in die Kaap kos.

Foto’s: Gallo Images/Getty Images en verskaf


Die artikel verskyn in die 11 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.