Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oorslaap: Alles wat jy as ouer moet oorweeg
09 Januarie 2019


Baie kinders geniet dit om by maatjies oor te slaap, want hulle beskou dit as ’n avontuur en ’n goue geleentheid om weg van die huis af te wees. Maar met al die gevare wat in ons misdadige samelewing skuil, moet ouers baie versigtig wees en besluit of hul kinders oud genoeg is en of dit veilig is.

’n Mens lees daagliks van kinders wat vermis word of seergemaak is, dikwels deur diegene naaste aan hulle, so dis nie altyd maklik om iemand anders met jou kind se sorg te vertrou nie. Boonop sê kenners maak nie saak watter voorsorgmaatreëls jy tref nie, geen plek is 100% veilig nie – en dit sluit jou eie huis of familielede s’n in.

Maar wat moet ouers alles in ag neem voor hulle toestemming gee dat hul kind by maatjies of familie kan oorslaap?

Dessie Rechner, direkteur van die Pink Ladies, wat help om vermiste kinders op te spoor, meen die wêreld raak al hoe gevaarliker vir kinders, maar selfs by jou eie huis kan kinders ook die teiken word, so elke ouer moet self besluit waarmee hulle gemaklik voel. Sy dink egter kinders (van so 10) kan self oordeel of hulle veilig voel in iemand anders se huis.

Hulle moet egter ook weet wat die tekens is dat hulle in ’n gevaarlike of ongesonde situasie is. Dis selfs belangriker dat hulle dan weet hoe om op ’n veilige plek te kom en ook die vrymoedigheid het om hul ouers te vertel as hulle onveilig of ongemaklik in iemand se teenwoordigheid voel. Dessie sê dis dus baie belangrik dat ouers hul kinders bewus maak van gevare en vir hulle leer hoe om in gevaarlike situasies op te tree.

“Ons weet nooit wanneer ons kinders in gevaar gaan wees nie, maar ons kan hulle voorberei sodat hulle ten minste weet wat om te doen as hulle ongemaklik of in gevaar is. Die heel belangrikste is dat jy ten alle tye weet waar jou kind is. Al is dit familie of vriende, moet jy verkieslik die mense ken en al voorheen by hul huis gewees het,” sê sy.

“Maak seker dat jy jou kind self aflaai, want dit gee jou die geleentheid om te sien hoe die huis lyk en om weer met die huismense te skakel. Jy as ouer sal gewoonlik voel of jy gemaklik is om jou kind daar te los of nie. As iets vir jou ongemaklik laat voel, moet jy eerder jou kind huis toe vat. Jy moet ook albei oorbly-ouers se nommers hê om seker te maak jy kan jou kind kontak.”

Dessie sê dit is ook belangrik dat jou kind noodnommers ken en dat hulle jou selnommer, jul huisnommer en adres ken. Sy voeg by die kinders moet weet dat hulle slegs binne die oorbly-huis moet bly en dat hulle vriende se ouers (of jou familie) eers jou toestemming moet vra as hulle jou kind weg van hul huis gaan neem – al gaan hulle net winkel toe.

GEVARE IS ORAL

Judy Mbobo, ’n Gautengse sielkundige, sê hoewel dit belangrik is dat jy jou kind bewus maak van die gevare buite ’n ander huis, moet hulle ook bewus wees van die gevare binne ’n vreemde huis.

Sy sê dit is belangrik dat jy jou kind leer dat geen kind of ouer persoon aan hul privaat dele mag vat sonder hul toestemming nie. Dit is ook belangrik dat hulle weet hulle hoef nie mense te soen of langs hulle te lê as hulle nie wil nie.

Elizabeth Hansen (57) van Eersterivier in die Kaap sê sy het altyd haar kinders toegelaat om by mense oor te slaap, maar het eers jare later uitgevind van ’n skokkende geheim van haar dogter en nou verstaan sy hoekom haar kleinkinders (dié dogter se kinders) nie mag uitslaap nie.

“My dogter is nou 27 en getroud met twee pragtige kinders. Maar tydens haar graad nege-jaar op hoërskool is sy tydens ’n studie-oorslaapsessie (by ’n skoolmaat se huis) deur een van die kinders se ouers seksueel mishandel.

“Sy het nooit vir ons vertel nie, want sy was skaam en het gedink sy het iets verkeerd gedoen. Dit was eers jare later toe sy op universiteit was en geleer het van verkragting, dat sy besef het wat met haar gebeur het en dat dit nie haar skuld was nie.

“Ons was natuurlik geskok en kwaad toe sy vir ons vertel, want ’n mens verwag nie dat mense wat jy ken, dit aan jou kind sal doen nie. Ek was ook kwaad omdat ons nie daarvan geweet het nie en toe niks daaraan kan doen nie. Ek het ook skuldig gevoel omdat my kind seergekry het toe ek haar toegelaat het om uit te slaap,” vertel Elizabeth hartseer.

Maar Elizabeth sê dit het haar laat besef hoe maklik dinge kan gebeur en dit het vir haar sin gemaak hoekom haar dogter nooit weer daarna wou uitslaap nie. Sy het ook verstaan hoekom haar dogter nie gemaklik voel daarmee dat haar kinders by mense anders as familie mag oorslaap nie.

MAAK JOU EIE REËLS

Abigail Josephs (32) van Somerset-Wes sê sy laat haar kinders van nege en tien toe om by vriende oor te slaap, maar slegs as dit ’n partytjie is en sy die ouers ken.

As sy nie die ouers ken nie, kan hulle nie oorslaap nie, maar maatjies is meer as welkom om by hul huis te kom oorslaap sodat sy die kinders kan leer ken.

“Ek weet baie sal vra hoekom ouers my moet vertrou as ek nie toelaat dat mý kinders by ander se huise slaap nie. Maar dit is net hoe ek voel. Dit is ook die enigste manier hoe ek my man kan oortuig om toe te laat dat my kinders mag oorslaap. Die lewe is so gevaarlik deesdae, maar dit is belangrik dat ons steeds vir ons kinders ’n opwindende lewe skep. Dit is veral belangrik tydens hul grootword­jare,” sê sy.

“Kinders mag nie meer alleen na hul vriende toe stap nie en hulle kan ook nie meer fiets in die strate ry soos ons as kinders dit gedoen het nie. Soms voel ek so jammer vir hulle, maar dit is die realiteit waarin ons lewe. So as ek vir hulle nog ’n bietjie opgewonde kan kry met ’n oorslaapaand by ’n maatjie, sal ek dit vir hulle doen,” sê sy.

Lesley Andrews (62), van Eersterivier in die Kaap, sê God gee ons die vryheid en wysheid om te besluit wat die beste is vir ons gesinne en kinders. Maar wat jy besluit, weer­spieël nie noodwendig goeie of slegte ouerskap nie.

Sy sê in hul huis mag haar kinders slegs ná hoërskool oorgeslaap het en dit was ook net as hulle laat iewers gekuier het. Toe haar kinders op skool was, mag hulle laat gekuier het, maar sy of haar man het hulle altyd gaan oplaai al was dit twee-uur in die oggend.

“Met hierdie ooreenkoms kon die kinders steeds deel wees van die pret, maar ons het geweet hulle is veilig terug by ons voordat ons gaan slaap. Ek kon nooit slaap wanneer my kinders nie in die huis was nie,” sê Lesley.

Judy, die sielkundige, sê ouers kan nie altyd hul kinders beskerm nie en dit is belangrik om vir hulle die ruimte te gee om onafhanklikheid te bou met die verstandhouding dat vryheid ook met verantwoordelikheid kom.

“Dikwels as ouers niks toelaat nie, sal kinders ’n manier vind om dinge in elk geval te doen en dit kan gevaarliker wees, want dan weet jy nie altyd waar hulle is en of dit ’n veilige omgewing is nie.

“Die werklikheid is dat ons kinders enige plek die slagoffers van misdaad kan word ten spyte van al ons pogings om hulle beskerm. Die beste raad is om hulle bewus te maak van wat ’n gevaarlike situasie is en wat hulle in ’n gevaarlike situasie moet doen.”

Meer oor:  Raad  |  Oorslaap  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.