Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
#Jerusalema: Dié challenge laat die wêreld gons
17 September 2020
Kgaogelo Moagi (Master KG) is die kunstenaar agter die liedjie “Jerusalema”.

In 2020 beleef ons almal uitdagings weens die Covid-19-pandemie, of dit nou by die werk, in jou persoonlike lewe of weens gesondheidsredes is. Maar vir die laaste paar drie weke is daar net een uitdaging wat mense wêreldwyd met ope arms verwelkom, en dit is die Jerusalema-dansuitdaging.

Ja, soos talle voor dit, is die #JerusalemaDanceChallenge ’n sosialemediadans-challenge wat volgens die sosialemedia-app Tik Tok al meer as 185 miljoen video views op dié platform gehad het.

Daar was al baie uitdagings soos die eier-sluk en “Don’t Rush”-grimering-uitdagings, wat oornag soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het. Maar wat die Jerusalema-dansuitdaging so spesiaal maak, is dat ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, bekend as Master KG, se trefferliedjie mense regoor die wêreld verenig met ’n bietjie pret in hierdie moeilike tye wat ons tans beleef.

Wie is hy?

Kgaogelo Moagi (24), professioneel bekend as Master KG, kom van ’n baie klein dorpie buite Limpopo en het nog altyd ’n passie vir musiek gehad. Hy sou homself nie juis as ’n sanger beskryf nie, maar was meer behep met die produksie en DJ-gedeelte van musiek.

Nadat sy oom vir hom ’n rekenaar gegee het, het by begin rondspeel en beats begin maak. Hy het in 2015 sy eerste musiek bekendgestel en hoewel dit op sy dorpie en in die Limpopo-gebied gewild was, kon hy dit nooit op ’n radiostasie kry nie.

Maar dit het verander toe hy in 2016 met Open-Mic Productions as kunstenaar ’n kontrak geteken het en sy liedjie “Skeleton Move” skielik gewild geraak het. Hy het besluit om skool in matriek te verlaat om op sy musiekloopbaan te konsentreer.

“Ek het ’n paar gigs by die plaaslike taverns gekry en al het ek geweet skool is belangrik, wou ek help om geld in te bring. My ma is die enigste een in ons familie wat buite die dorp by ’n hotel werk. My ouma het ons grootgemaak en dit maak my hartseer om te sien hoe hard en ver my ma moet werk, so ek wou suksesvol wees en die gigs doen om haar te help.”

Toe sy musiek in 2017 uiteindelik op radio gespeel word, het sy gewildheid net begin groei dat hy later na Europa en Amerika genooi is om te speel. “Skeleton Move” het in 2018 die SABC Summer Song-toekenning gewen vir liedjie van die jaar en dit is ook by die Limpopo Musiektoekennings as die beste dansliedjie van die jaar aangewys. Hy is ook by die African Muzik Magazine Awards (Afrimma) in Dallas, Texas in Amerika aangewys as die beste kunstenaar in die African Electro-kategorie. In 2019 is hy ook by die Afrimmas vereer as die beste manlike kunstenaar.

Ná dit het mense hom ’n one hit wonder begin noem en toe begin hy rondspeel met nuwe musiek, wat toe “Jerusalema” geword het en einde 2019 uitgereik is. Nou het die #JerusalemaDanceChallenge die wêreld op hol, met die amptelike video vir die liedjie wat al meer as 100 miljoen keer op YouTube gekyk is. Maar snaaks genoeg word die gewilde dans glad nie in die musiekvideo gedoen nie.

Volgens Master KG het hy aan die begin van die pandemie in Maart ’n video gedeel van ’n groep seuns in Ghana wat die dans op sy liedjie gedoen en ’n video daarvan gemaak het. “Dit het vir ’n tydjie die rondtes gedoen en mense het my daarvan vertel, maar toe ek dit self sien, was dit vir my cool en het ek dit op my sosialemediaplatforms gedeel.

Toe ek vir hulle vra hoe hulle by die dans uitgekom het, het hulle gesê dis deur die Suid-Afrikaanse dans wat by troues gedans word, geïnspireer,” sê ’n besige Master KG laggend. En as jy nog nie daarvan gehoor het nie, is jy definitief nie op sosiale media of WhatsApp nie. Want selfs ons verpleegsters, dokters en skole het nou al hul beurt gehad met hierdie dans wat baie na aan die Bart Simpson-dans is, wat gewoonlik in ’n groep by Suid-Afrikaanse troues en funksies gedans word. Maar dit is nie net plaaslik waar die #JerusalemaDanceChallenge gedoen word nie.

Van die strande in Europa tot die strate van Jerusalem en Frankryk word hierdie dans deur jonk en oud gedoen. Selfs monnike en nonne in Italië wou dit nie misloop nie en het hul eie video gedeel, waarin hulle ook hul eie weergawe van die dans doen. Die afgelope ses maande was van die moeilikste vir die meeste mense regoor die wêreld weens die pyn, leiding en werkloosheid wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Maar selfs in die donkerste tye bring musiek mense bymekaar en die #JerusalemaDanceChallenge bewys dit, want al ken mense nie almal die Zulu-woorde in die liedjie nie, voel hulle die musiek en kry hulle genot daaruit. “Dit is nie ’n gospelliedjie nie, maar die woorde sê God beskerm ons asseblief, lei ons en wees met ons. So dit is definitief gepas vir alles wat tans gebeur. Dit is hoekom dit vir my so lekker is om te sien hoe dokters, verpleegsters, polisie, brandweermanne en onderwysers almal so lekker saamdans. Ons frontline workers het al baie pyn deur hierdie pandemie gesien en is moeg, so as my liedjie vir hulle ’n bietjie vreugde kan verskaf, is dit vir my ’n eer,” sê Master KG.

#JerusalemaDanceChallenge
’n Groep onnies van Saldanhabaai.
#JerusalemaDanceChallenge
Personeel van Somerset-hospitaal.

Verenig mense

En plesier verskaf dit beslis! Suster Venti Vermeulen, wat in beheer is van kliniese opvoeding by Somerset-hospitaal in Kaapstad, sê sy speel al sedert die begin van die pandemie musiek vir die personeel in die hospitaal sodat hulle nie net na Covid-19-berigte hoef te luister nie.

“Covid-19 is heeldag op ons gedagtes, maar ’n mens het ook daardie afleiding nodig, sodat jy in die regte mind frame kan wees om jou werk te doen. Musiek is een manier hoe ons as personeel altyd mekaar kan uplift en beter laat voel. Ons doen elke jaar iets spesiaal vir die hospitaal se verjaarsdag en toe die Jerusalema’-liedjie nou so gewild word, het ek geweet ons moet ook by die challenge inspring,“ sê sy.

“Personeel van alle departemente in die hospitaal het drie weke gelede ingestem om onder Covid-19-reëls en -regulasies saam te kom dans buite. Dit was so lekker!”

Berthlynne Dirkse (35) van Diazville in Saldanhabaai aan die Weskus buite Kaapstad sê sy kan glad nie dans nie, maar toe hul skool aankondig dat hulle die dansuitdaging vir Vroueweek in Augustus gaan doen, was sy ook in. “Die morale onder personeel raak soms baie laag, want dit is ’n moeilike jaar vir ons almal. Maar deur so iets te doen, kon ons weer voel asof ons saam is.” Al is die liedjie in November bekendgestel, het dit uit die bloute einde Maart gewild begin raak met dansvideo’s wat gedeel word.

Volgens Boniswa Sidwaba, bestuurder van inhoudsbedrywighede (content operations manager) vir Tik Tok in Afrika, kan ’n dansuitdaging of videouitdaging wat gewild is, enigiets van ’n paar dae tot ’n paar weke op dié platform trend. “Dit hang net af van hoe kreatief en pret mense daarmee kan wees. Ons sien dat baie meer kunstenaars nou hul musiek eers op Tik Tok met ’n video bekendstel, omdat ons direk met iTunes gekoppel is. So dit help vinnig om musiek gewild te maak.”

Ons almal kan doen met ’n bietjie afleiding en daar is niks beter as musiek om jou van jou probleme te laat vergeet nie en mense te verenig, maak nie saak wat jou taal, ras of geslag is nie. So stof jou dansskoene af en #Jerusalema saam!

Stap vir stap: Jerusalema

1. Tik vier keer op die grond met jou linkervoet, vier keer met jou regtervoet en dan spring jy op jou tone vir vier tellings voordat jy vorentoe stap vir vier tellings.

2. Op die laaste telling klap jy jou hande en verander rigting. (Wanneer jy rigting verander, draai jy 90 grade vorentoe.)

3. Jy stap dan vir vier tellings links met ’n handeklap op die laaste telling, en dan drie tellings agtertoe en op die vierde telling tik jy weer jou voete vir vier tellings om die dans te herhaal totdat die liedjie klaar is.


Foto’s: verskaf 

Meer oor:  Jerusalema-Dansuitdading  |  Kuier  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.