Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jesus is die weg en lewe
17 April 2019

Ter voorbereiding op ’n begrafnisdiens wat ek ’n paar jaar gelede moes waarneem, het ek die gedig van Linda Ellis, “The Dash”, raakgelees. Met die aanvanklike lees daarvan het ek besef dat twee dinge gewoonlik my aandag trek wanneer my oë vir die eerste keer op ’n grafsteen val: die geboorte- en sterfdatum. Daarna gebeur dit half natuurlik dat ek ’n som in my kop maak om vas te stel wat die persoon se ouderdom was ten tye van hul dood, en of die persoon na my mening ’n vol lewe gehad het al dan nie. Die ander inligting op die grafsteen was bloot bykomend, totdat ek “The Dash” gelees het.

In “The Dash” vertel Linda Ellis van ’n man wat ’n toespraak gelewer het by sy vriendin se begrafnis. Al het hy in die toespraak na haar geboorte- en sterfdatum verwys, het hy benadruk dat daar op enige grafsteen baie meer as net die geboorte- en sterfdatum gesien kan word – dat dié datums slegs ’n klein deel van ’n groter verhaal is. Die groter verhaal word vertel deur dit wat tussen die geboorte- en sterfdatum gesien word: ’n strepie.

Die strepie verteenwoordig die lewensverhaal wat op aarde afgespeel het. Al die foute wat in die lewe gemaak is, al die vreugdes wat gedeel is, al die seer wat beleef en al die lesse wat geleer is, word in die strepie opgeneem. Niks vind dus buite die strepie plaas nie. Verder lê die waarde van die strepie in die manier waarop daar geleef en in die liefde wat gedeel is en nié in al hul besittings nie.

“The Dash” is ongetwyfeld ’n oproep gerig tot elke mens om erns te maak met die lewe tussen hul geboorte- en sterfdatums. “The Dash” protesteer teen ’n oorwaardering van die lewe ná die dood en teen ’n onderwaardering van die lewe vóór die dood. Dit is ’n pleidooi en ’n uitnodiging om met liefde, warmte en respek teenoor ander mense te leef en om met groter waardering vir die lewe vóór die graf te leef.

Uiteindelik verwoord “The Dash” vir my iets van Jesus se evangelie. Die evangelie wat verkondig: Tussen die krip, die kruis en die leë graf is daar ’n strepie... Jesus se strepie. Jesus se aardse lewe!

In die krip ontmoet ons Jesus die Koning wat in eenvoud op aarde gebore is. By die kruis ontmoet ons die Koning wat op ’n vreemde manier gekroon is. Voor die leë graf ontvang ons die eerste teken dat die Koning inderdaad in die hemel en op aarde regeer. Tog sal die diepste betekenis van dit alles verlore gaan sonder Jesus se strepie. Soos die krip, die kruis en die leë graf onlosmaaklik deel is van mekaar, só is Jesus se strepie ook.

Suid-Afrika smag na volgelinge van Jesus wat bereid is om hul stepies met warm liefde en wedersydse respek te vul
Ds. Quentin S. Minnaar

In Sy strepie wys Jesus wat onvoorwaardelike liefde is en pleit Hy dat ons, gedring daardeur, mekaar ook só moet liefhê. In Sy strepie word alle vorme van mensgemaakte grense afgebreek en ontvang ons die opdrag om enige vorm van skeiding tussen mense ten sterkste te verwerp. In Sy strepie stuur Hy Sy volgelinge om lig te wees in ’n pikdonker wêreld, sodat die wêreld kan glo. In Sy strepie bid Hy vir eenheid onder Sy volgelinge en preek Hy vergifnis. In Sy strepie is Hy op ’n besondere wyse aan die kant van die arme, die noodlydende en die verontregte, en roep Hy Sy volgelinge om hom hierin na te volg. Só lyk Sy strepie!

Die krag van die krip, die kruis en die leë graf lê dus nie in die geskenke wat tydens Kersfees uitgedeel word of die kruisies wat om nekke gedra word of die Paaseiers wat Paasfees geëet word nie. Nee, die krag van die krip, die kruis en die leë graf lê in volgelinge van Jesus se bereidwilligheid om dit wat hulle in Sy strepie sien en hoor, in hul eie strepies uit te leef.

Ons strepies word gevul met honger kinders; met jong mense wat hul drome prysgee; met huisgesinne en familiestrukture wat disintegreer; met vroue wat mishandeling moet verduur; met korrupsie wat toegesmeer word; met diskriminasie en met politieke leiers wat skatryk word terwyl die kiesers moet bid: “... gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Suid-Afrika smag na volgelinge van Jesus wat bereid is om hul strepies met warm liefde en wedersydse respek te vul.

Mag ons hierdie Paasfees die strepie tussen die krip, die kruis en die leë graf herbesoek. Mag ons hierdie Paasfees ons eie strepies opnuut ondersoek. Eintlik het Jesus nie net ’n strepie nie… Hy is dié strepie! Hy is dié Lewe!

Geseënde Paasfees.

*Ds Quentin S. Minnaar is die leraar van VGK Malmesbury.

Meer oor:  Kuier  |  Jesus  |  Paasfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.