Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jolene leef weer voluit
09 Januarie 2019

Toe die aktrise en TV-aanbieder Jolene Martin (39) die beskrywing van die karakter Beatrice Abrahams in die telenovela Arendsvlei sien, het sy instinktief geweet sý moet daardie rol vertolk.

Jolene vertel sy het haar voorbehoude oor telenovelas gehad oor die oordrewe drama wat daarmee gepaardgaan, maar Beatrice se storie van abuse agter geslote deure móés sy eenvoudig vertel. Want, sê Jolene, sy was ook ’n Bea­trice . . . Van buite af uiters suksesvol en sterk, maar wanneer sy haar voordeur toegemaak het, was sy vasgevang in ’n verhouding van abuse waaruit sy nie geweet het hoe om te ontsnap nie.

Dan het sy ook geworstel met die geloofsoortuiging dat God nie van egskeidings hou nie. Jolene is ’n pastoorskind; albei haar oupas is pastore en haar ma ’n worship

leader in die kerk. Hoe kon sy die “skande” van ’n egskeiding oor hulle bring?

Maar danksy die insig en wysheid van haar ouers, Joe en Charlene, kon Jolene die krag vind om los te breek uit die bose kringloop van abuse. Hulle het haar die emosionele ondersteuning gegee wat sy daardie tyd so broodnodig gehad het.

Dit was veral een spesifieke vraag van haar pa, “Jolene, lewe jy voluit?”, wat haar laat besef het hy wil die beste vir haar hê. En daardie beste was beslis nie om dag in en dag uit fisiek en emosioneel van haar waardigheid as vrou gestroop te word nie.

Pa Joe was so bekommerd oor sy dogter se veiligheid dat hy ’n werkskontrak in Pretoria aanvaar het. Hy het dié geleentheid gebruik om elke beskikbare oomblik saam met Jolene te spandeer om haar te ondersteun. Haar ma, wat toe in die Kaap agtergebly het, was konstant met Jolene op die foon om emosioneel daar te wees vir haar.

So, toe Jolene in onderhoof Beatrice se skoene moes klim vir haar rol in Arendsvlei, kykNET&kie se eerste telenovela, moes sy terugkeer na ’n diep, donker en traumatiese tyd in haar lewe.

“Toe ek my oudisie tape sien, kon ek nie glo dis ek nie. Ek het Beatrice gewórd in daardie oudisie. Ek was in ’n abusive verhouding en sommige mense wou my nie glo nie. Hulle het gesê, ‘jy is sterk’ en ‘jy kan mos terugbaklei’. Ek moes wys abused vroue is nie altyd van die Cape Flats nie; dit gebeur met sterk vroue wat deur mans afgebreek word,” sê Jolene.

Sy vertel haar ma huil wanneer sy Arendsvlei kyk, omdat sy weet na watter plek diep binne in haar Jolene moes gaan om Beatrice in haar mees brose en hulpelose oomblikke te vertolk.

Ter voorbereiding vir die rol, het sy baie tyd alleen spandeer, sê Jolene. “Ek het die trauma herbesoek en opnuut die gevoelens ervaar – die eensaamheid daarvan om ’n sterk front voor te hou terwyl ek deur alles gegaan het. Dis ’n uiters eensame space om in te wees, maar Beatrice het nodig gehad dat ek dit doen.”

Jolene sê egter sy sou dit nie op stel kon aanhou doen as dit nie was vir die ondersteuning van Oscar Petersen (wat haar abusive man, David, gespeel het), sowel as die regisseur en res van die crew nie. “Daar was scenes waarna ek nie kon ophou huil nie. Ek het hul emotional support gevóél. Die boodskappe wat ek sover gekry het van die publiek is so mooi en strek oor ouderdom- en rasgrense, en dit maak dat ek meer wíl gee,” sê Jolene dankbaar.

Jolene op die Arendsvlei-stel as Beatrice met Oscar Petersen as haar man, David.

haar lewe nou

Hoe gaan dit deesdae, want trauma is nie iets wat ’n mens oornag verwerk nie?

Sy lag beslis meer, want daar was ’n tyd in haar lewe toe sy nie eens meer geweet het hoe dit klink nie; toe sy toegelaat het dat haar abuser haar lag steel, al het sy dit nie onmiddellik besef nie. Sy moes hard werk om haarself weer te vind en noudat sy dit gedoen het, gaan sy dit nie prysgee nie.

“Ek het herstel en ek is gesond, maar die werk is nog nie klaar nie,” sê Jolene eerlik. “Ek moes myself weer leer lag, daarom het ek in my herstelproses so baie stand-up comedy gekyk. Ek het vir kickboxing-klasse gegaan sodat ek my vermoë om myself te kan verdedig, kon herwin. Ek het alleen op vakansies gegaan sodat ek myself weer kon ontdek.”

Daarom sal sy nie haar borrelende persoonlikheid weer onder ’n maatemmer plaas nie. Sy sal aanhou lag en sommer kliphard ook. En wanneer sy ’n vertrek binnestap, doen sy dit met grasie en selfvertroue en command al die aandag, maar nie op ’n intimiderende manier nie. Sy doen dit op ’n manier wat jou wil laat deel wees van daardie positiewe energie.

En dis met dieselfde positiewe energie dat Jolene besluit het, al was sy op laerskool geboelie, sy gaan kies om die mooi dele van haar skooljare te onthou. Dis juis Arendsvlei, waarin sy ’n onderwyser speel, wat haar laat onthou hoe haar hoërskoolonderwysers haar talent raakgesien het en haar selfvertroue help bou het.

Ek het Beatrice geword in daardie oudisie. Ek was in 'n abusive verhouding en sommige mense wou my nie glo nie.
Jolene Martin

Met ’n glimlag vertel Jolene hoe van haar hoërskoolonderwysers haar “ongelooflike skryftalent en leierskapeienskappe” geprys het. Van hulle het gesê sy het “baie om die wêreld te bied” en dat sy “eendag ’n aktrise gaan word”. Hul voorspellings was in die kol.

Jolene, wat in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte grootgeword het, het juis in Desember by een van haar ou laer­skole, Thornton Primêr in die Kaap, ’n praatjie gedoen om haar onnies te bedank vir wat hulle vir haar beteken het.

Jolene voel ook passievol daaroor dat volwassenes vir die jeug moet doen wat destyds vir haar gedoen is. Sit kinders in aktiwiteite soos ballet of sang buite skooltyd en in vakansieprogramme, sê sy.

“Ons het nie vakansies by die huis gebly nie. Ons community centres kan hiervoor gebruik word. Die politieke partye moet geld eerder hierop spandeer; goed moet in gemeenskappe plaasvind en nie net by die Artscape nie, want mense het nie nog geld om te travel ook nie.”

HOOFFOTO: Jolene Martin leef positief en wil ’n voorbeeld wees vir jongmense.

leer lesse

As ’n kind van die Kaapse Vlakte, is dit ook vir Jolene hartseer om te sien wat kinders van hierdie gemeenskappe moet deurmaak. Sy noem dit “running the gauntlet of death” waar jy soveel struikelblokke moet oorkom – net om te oorleef.

“Op die Cape Flats moet jy daardie

uncle wat jou seksueel kan misbruik, ontsnap, so ook die gangsters, drugs en selfs law enforcement en dan verwag ons van kinders om oukei te wees. Ons moet begin om ons kinders te laat besef wie hulle is; ons moet hul identiteite herstel, want daar is iets bevrydend daaraan om te weet waarvandaan jy kom,” sê Jolene.

Een van die grootste lesse wat sy geleer het, was juis op skool en dis wat sy hoop jongmense uit haar storie leer. Jo­lene vertel sy was in graad sewe toe almal in die Afrikaanse klas moes sê wat hulle die volgende dag vir middagete sou bring. Sy het altyd ’n kompleks oor haar Afrikaans gehad en toe sê sy daai dag: “Ek gaan jam bring,” waarop sy

tereggewys is dat “jam” “konfyt” is in Afrikaans. Sy was diep skaam, maar die les bly haar vandag nog by.

“As ek toegelaat het dat daardie mis­take my onderkry, sou ek nie nou so geseënd gewees het nie. Foute is vital in jou sukses,” meen Jolene.

En oor haar persoonlike storie van abuse, sê Jolene: “Wat mense moet onthou, is soms gaan jy deur tragedie sodat dit jou getuienis kan word en jy moet praat oor daardie ge­tuienis.”

Meer oor:  Vrouemishandeling  |  Kuier  |  Aktrise  |  Arendsvlei  |  Jolene Martin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.