Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jonathan Rubain: Skitter op sy eie TV show!
2 April 2020


Daar was tye toe die gospelster Jonathan Rubain (34) gedink het sy loopbaan sal nooit meer as ’n optrede in hierdie kerk of ’n liedjie by daai basaar of skoolfunksie wees nie.

Daar was tye toe hy deur finansiële probleme moes werk en vrede daarmee moes maak dat persoonlike verhoudings nie uitgewerk nie. Maar dit was in donker tye soos dié dat koortjies en aanbiddingsliedjies soos “Roep Sy Naam” en “Halleluja Hosanna” hom staande gehou het.

En nou wil hy vir ander Suid-Afrikaners wat dalk hopeloos voel oor kwessies soos die corona-pandemie; misdaaad; bendegeweld op die Kaapse Vlakte; die toekoms van die jeug en die aanhoudende beurtkrag ’n lig in ’n baie donker tonnel wees. Hy wil die krag van geloof en koortjies herbeklemtoon in sy nuwe gospelmusiek- en geselsprogram, Koortjies met Jonathan Rubain.

Jonathan, wat al 18 jaar in die musiekbedryf is, was teen druktyd hard besig om dié program op te neem, wat op Sondag 5 April om 18:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) begin. Jonathan is dankbaar dat hy so ’n program kan doen, want dis iets wat so ’n integrale deel is van ons gemeenskappe en ook waarmee hy grootgeword het in Hanover Park op die Kaapse Vlakte.

Terselfdertyd wil hy vir jong mense wys wat jy kan bereik, al lyk dinge soms onmoontlik. Danksy die TV-program kan hy nou beide sy passies met gemeenskappe reg-oor die land deel. Jonathan raak nostalgies wanneer hy ’n koortjie hoor. Vir hom is dit meer as net ’n liedjie. Dit is ’n gevoel, ’n herinnering en ’n gevoel van samesyn.

Vir ’n stil, skaam outjie wat nooit kwaad gedoen het nie en altyd vier keer op ’n Sondag in die kerk was, voel hy sterk dat gemeenskappe weer nader aan die kerk moet beweeg om ons jong mense ’n toekoms te gee. Hy voel kinders het dalk te veel opsies vandag, want toe hy ’n kind was, het hy nie regtig ’n keuse gehad het nie.

“Jy moes skool toe gaan en jy moes kerk toe gaan, al het jy Saterdag tot laat gekuier en jy moes sport speel en in die gemeen-skap betrokke wees. Dit was net hoe dit was en dit was die lewe wat ons geken het. Ek speel vandag nog vir Hanover Park-krieketklub en ek glo dit is my betrokkenheid by die gemeenskap wat my plat op die aarde hou en ’n vuur binne my wakker maak,” sê hy.

Jonathan op die stel van sy nuwe show, Koortjies.
Saam met die groep Seuns van Sion.

Leiers en helde nodig

“Ek wil hê my mense en my gemeenskap moet succeed. Want wanneer een sukses behaal, is dit ’n wen vir ons almal en ’n inspirasie vir die volgende kind. Ek wil hê kinders moet regte helde kan hê soos Benni McCarthy, Vicky Sampson, Albert Fritz of dalk ’n gospelsanger soos ek en sien dat jy sukses op goeie maniere kan behaal en nie net deur ‘famous’ gangsters te wees nie.”

Toe hy as jong seun in sy huis voor die spieël met ’n borsel gestaan en sing het terwyl die ander jong manne buite in die straat sokker gespeel het, het hy nooit gedink hy sal eendag sy eie televisieprogram kan aanbied nie. En definitief nie ’n Afrikaanse gospelprogram op ’n nasionale kanaal nie - dalk iets op ’n gospelstasie ja, maar nie koortjies op mainstream televisie nie!

“Ek het grootgeword met programme soos YoTV met aanbieders soos Sade, Sipho en Carly wat toe groot was. Ek wou altyd soos hulle wees, maar ek het nooit gedink ek sal my eie show hê en oor iets wat so belangrik is vir my nie,” sê hy aangedaan. As jong mens was dit die figure in sy gemeenskap wat hom geïnspireer het, maar die kerk was en sal altyd sy anker wees.

Sy ouers was baie betrokke in die kerk. Sy pa was vir jare ’n diaken en musiekleier in die kerk. In hul huis was gospelmusiek altyd in die agtergrond en gewone mainstream musiek was daar, maar net nie deel van hul huis nie. Maar hy voel oor die afgelope dekade het gemeenskappe weg van die kerk af begin beweeg en die tradisionele aspekte van kerklewe begin verloor en daarom voel Jonathan dis een van die redes dat misdaad toegeneem het.

“Mense voel hopeloos en voel grootliks dat die leierskap in die kerke en ander geloofsplekke nie genoeg doen om gemeenskappe veilig te hou of misdaad te bekamp nie. Maar die kerk kan nie verantwoordelik gehou word vir ander se aksies nie en ook nie vir die ouers wat nie meer sorg dat hul kinders in die huis van die Here kom nie,” sê hy.

“Ons leiers is ook bang, maar tog probeer hulle doen wat hulle kan om te help. Maar die plig is by die ouers om seker te maak dat hulle die jeug in die kerk in kry. Toe ek jonk was, het ons nie ’n keuse gehad nie, jy moes gaan en dit was die kerk wat jou grootgemaak het. Jy het vir jou gemeen-skap omgegee. Daar was altyd misdaad, maar nie op die vlak wat dit vandag is nie.”

Mense het vir mekaar omgegee en hulle doen nog, maar soms is dit net nie genoeg vir slegs die ouer om te bid nie. Jonathan voel sterk dat kinders goeie invloede nodig het en hul geestelike lewe sterk moet hou. In die tye toe hy gesukkel het en die swaarste gekry het, was dit sy geloof en die gemeenskap in die kerk wat hom aangemoedig, ondersteun en hom sterk gehou het. Wanneer hy die Here geprys het of op huisbesoek ’n goeie woord by iemand gekry het, het dit vir hom daardie innerlike krag gegee om nie tou op te gooi nie.

Gospel gee hoop

Jonathan bekoor mense al van jongs af met sy musiektalent.

In sy gemeenskap het die antie wat nie kerk gaan nie, die Moslem-bure en jou kerkbroer almal saam gesing aan koortjies. “Dis iets wat mense saambring, al gaan dinge sleg en klap die skote.” Dit laat mense saam dans en glimlag van lekker kry en dit is wat hy hoop hierdie nuwe hoofstuk in sy musiekloopbaan vir kykers ook sal laat voel.

Koortjies is basies ’n show wat vir mense hoop gee en laat onthou wat belangrik is, veral wanneer dit by hul kinders kom. En dit maak hom hartseer dat kinders net nie meer smag na daardie samesyn nie.

“Kinders word voor Cartoon Network gesit terwyl die ouers kerk toe gaan, en ek voel dit is wat ons moet verander. Ja, die kerk verander aanhoudend en hulle probeer deur ander minder tradisionele kerke soos Hillsong die jong mense aanlok en dalk is dit die antwoord en waarnatoe ons moet beweeg, maar ek hoop deur ’n show soos myne sal mense in die gemak van hul eie huis die kerk vind.” Hy wil die kerk wat vir hom deur sy loopbaan en lewe gedra het na die mense toe bring en die Here op groot skaal prys! En daarop sê ons amen!

Foto’s: Dale Fourie, Ciryno W Jacobs Photography en Homebrew Films

Meer oor:  Gospel  |  Kuier  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.