Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jong danser se dood skok gemeenskap
9 Julie 2020


Kirvan Fortuin. ’n Naam wat in die gemeenskap van Macassar in die Kaap ingeëts is.

Sy skielike en ontydige dood het die breë gemeenskap in rou gedompel en met talle vrae gelaat – hoekom hý? Sy hele toekoms het nog voor hom gelê en sy lewe was vir so baie minderbevoorregte kinders ’n spieëlbeeld vir wat jy kan vermag wanneer jy aanhou droom en hard werk aan jou toekoms.

In die vroeë oggendure van Saterdag 13 Junie is Kirvan (28) twee keer met ’n mes in sy bors gesteek ná ’n stryery met ’n 14-jarige meisie. Dié tiener het na bewering haar humeur verloor nadat Kirvan en sy vriende haar geterg het. Sy het glo in die huis gehardloop, ’n mes gegryp en Kirvan twee keer daarmee gesteek.

Die meisie, wie se identiteit beskerm word omdat sy minderjarig is, is intussen in hegtenis geneem en word in ’n plek van veiligheid aangehou. Die flambojante Kirvan was nie net hier op tuisbodem bekend vir sy werk as choreograaf en danser nie. Hy was internasionaal bekend en het verhoë regoor die wêreld aan die brand gedans en gehore keer op keer bekoor met sy ritmiese bewegings en gebruik van sy liggaam om die kunste te bevorder. Die LGBTQI+- en kunstegemeenskap is steeds in skok oor die dood van dié invloedryke danser, choreograaf en aktivis.

Hy was ook die direkteur van ’n NPO, The Kirvan Fortuin Foundation, wat dans gebruik om kinders uit minderbevoorregte gemeenskappe bewus te maak van maatskaplike kwessies.

Kinders van Macassar en elders in die Kaap, Oos-Londen, Mthatha en Bloemfontein het baat gevind by Kirvan se stigting, luidens dié stigting se webtuiste. Ná sy skielike dood het mense wyd en syd hul medelye betuig en vertel van watter invloed Kirvan nie net op die kunste gehad het nie, maar ook op die lewens van so baie mense. In 2019 het dié boorling van Macassar ’n ministeriële toekenning by die Wes-Kaapse Kultuurtoekennings ontvang vir sy uitstaande bydrae tot die behoud en bevordering van die inheemse kunsvorm.

Dit was een van vele toekennings. Hy was bekwaam in kuns- en sport-bestuur, uitvoerende kunste, choreografie, onderrig en drama. Met ’n BMus Honneurs in choreografie van die Universiteit van Kaapstad en ’n BA-graad van die Codarts Universiteit vir die kunste in Nederland, waar hy vir vyf jaar gebly en werk het, het Kirvan nie net hard gewerk nie, hy het kliphard geleer ook. En niks en niemand kon in die pad van sy drome staan nie.

Macassar is in rou gedompel ná Kirvan se skielike afsterwe. Hier eer hulle hom met blomme.

Sy ma se seer

Charlotte Claassen (49) sê haar hart is diep seer omdat haar kind op so ’n wrede manier van haar weggevat is. Kirvan is een van vyf kinders en Charlotte se oudste seun.

“Kirvan was my oudste en ek en hy het maar altyd ’n baie close verhouding gehad. Hy was ’n baie spontane kind – hy het baie gelag en gesels en hy was nie soos ander kinders wat sou huil wanneer jy hulle vir iemand gee nie. Nee, my kind was mal vir mense. Van geboorte af was hy ’n mense-mens.” Sy onthou hoe Kirvan se graad R-onderwyser al daai tyd vir haar gesê het dat haar kind hoogtes in die lewe gaan bereik. “Hy was ’n slim kind, hardwerkend. Hy moes altyd uitstaan bo die ander, harder werk as die ander.

En daai tyd sou ons nooit eens kon raai wat hy in sy lewe sal bereik nie, maar dit is al daai tyd oor sy lewe uitgespreek. My kind was destined vir greatness.” Charlotte onthou die dag voor haar kind se dood asof dit gister was. “Ek het nog daardie Vrydagaand sy foto’s afgestof en dit in nuwe frames in die voorkamer gesit. Ek was baie trots op my kind en alles wat hy in sy lewe vermag het en ek het altyd seker gemaak dat hy dit weet. Ek het hom ook altyd daaraan herinner dat ek hom onder die bloed van die Here toetrek. Hy was in sy kamer besig en ’n vriend van hom het hom daar kom roep.”

Volgens Charlotte is haar kind toe daar weg. “Ek het nog gesê: ‘Wees nou versigtig en loop veilig’, en dit was die laaste wat ek my kind lewend gesien het. Toe ek hom weer sien, was hy dood.” Omstreeks 12:30 daardie nag het Charlotte ’n oproep ontvang. “Die vriend het my gebel en gesê Kirvan is gesteek en hy het aan sy wonde beswyk. Ek kon dit nie glo nie en het net daar op my knieë geval en gebid. Dit is al wat ek kon doen. My hart is so seer. . .”

Charlotte kan die trane nie meer keer nie. Oor die 14-jarige wat na bewering vir haar kind se dood verantwoordelik is, het Charlotte die volgende te sê: “Sy het glo ’n week voor sy hom gesteek het, ook moeilikheid kom soek en toe kom sy terug en maak my kind seer. Ek is kwaad omdat ek iemand verloor het wat so baie vir my en baie ander beteken het, maar ek kan haar nie op die hart dra nie. Ek kan haar nie haat nie. Waardeur moes daai kind ook nie in die lewe gaan om só iets op 14-jarige ouderdom te doen nie. Dit is dan nog net ’n kind, sy het haar hele lewe voor haar. Ek het haar vergewe en ek bid vir haar. Elke dag.”

Ek het nog gesê: ‘Wees nou versigtig en loop veilig’, en dit was die laaste wat ek my kind lewend gesien het. Toe ek hom weer sien, was hy dood.
RUS IN VREDE 1991 - 2020

Groot verlies

Belinda Jackson, die vrou wat Kirvan se talent raakgesien het toe hy nog op laerskool was, sê Suid-Afrika het ’n groot gees verloor. Sy het Kirvan ontmoet toe die Field Band in Macassar begin en hy as jong seun daar kom aansluit het. Hy wou toe die tromme slaan. Sy lag voor sy vertel dat hy nie die tromstokke reg kon vashou nie. “Daar is toe besluit om hom as een van die voorlopers te gebruik. Dit is dáár waar sy talent raakgesien is,” vertel sy.

Volgens haar het sy elke keer emosioneel geraak wanneer sy Kirvan sien dans het. “Daar was net iets aan hom en die manier hoe hy beweeg het. Hy het jou bekoor en jy kon met elke dansbeweging en passie sien dat hy besig is om ’n storie te vertel. Hy het altyd harder gewerk as die ander kinders. Hy wou meer doen en meer vermag, maar dit is hom nou nie meer beskore nie. Dit is ’n groot verlies vir die kunste, maar sy memory sal vir ewig voortleef in ons harte.”

Een van Kirvan se beste vriende, Tatijana Lopez, sê Kirvan se dood is nie net ’n skok en verlies vir die kunstegemeenskap nie, maar ’n ook groot een vir die LGBTQI+-gemeenskap. “Hy was unapologetically homself. En hy het nie geveg vir sy regte nie, hy het geveg vir die regte van soveel ander. Hy was ’n baanbreker en hy het nooit toegelaat dat sy omstandighede of enige iets hom onderkry nie.” Tatijana vertel Kirvan wou altyd sy skills en passie met ander deel. “Dit is hoekom hy so baie vir ons gemeenskap van Macassar gedoen het. Hy het dansklasse aangebied in die skoolsaal en het kinders aangespoor om beter te wees en beter te doen. Dit is wat dit so hartseer maak – hy het so baie teruggeploeg en daar is nie ’n mens wat daarteen kan stry nie.”

Dr. Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Artscape, sê: “Kirvan was trots oor waar hy vandaan gekom het en het teen alle adversities baklei om sy drome na te streef. Hy het aktief gewerk om die lewens van jong mense in Macassar te verbeter. Hy was ook ’n aktivis teen homofobie. Hy gaan verskriklik gemis word en sy heengaan is ’n ware verlies vir die kreatiewe en kunstebedryf in Suid-Afrika.”

Maar dis Charlotte, wat met ’n gat in haar moederhart, bedroef dog trots opmerk haar kind het altyd gesê hy gaan haar eendag trots maak en dit het hy beslis gedoen. “Hy het dinge vermag waarvan baie mense net kan droom. Hy het mylpale vir ons as familie behaal en ek sou die oomblikke met daai kind van my vir niks verruil nie. Ek hoor nog partykeer sy stem en daai hoë Engels wat hy gepraat het. Die vermisting is groot en dit is met ’n swaar hart wat ek my kind ter ruste gelê het, maar ter wille van hom, moet ek sterk staan en ook dié storm trotseer . . .”

Meer oor:  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.